Die Georgiese nasionale rugbyspan (Georgies: საქართველოს მორაგბეთა ეროვნული ნაკრები, Sakartwelos moragbeta erownuli nakrebi) is die nasionale rugbyspan wat Georgië in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Dié span se bynaam Lelos is ontleen aan ’n tradisionele Georgiese rugbysport wat nou verwant is aan rugby. ’n Ander bynaam is Bordsjghalosnebi (“mans van die son”), afgelei van die Bordsjghali, ’n tradisionele Georgiese sonembleem. Rugby word in Georgië geadministreer deur die Georgiese Rugbyunie (GRU; საქართველოს რაგბის კავშირი, Sakartwelos ragbis kawsjiri) wat in 1964 gestig is en sedert 1991 op sy eie optree. Georgië word deur Wêreldrugby as ’n vlak twee-span erken. Daarmee behoort Georgië tot die beste Europese rugbyspanne naas die Sesnasies. Die Georgiese rugbyspan is tans (Maart 2026) 13de op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.

Georgië het in 1989, voor sy onafhanklikheid van die Sowjetunie, sy eerste nieamptelike toetswedstryd teen Zimbabwe gespeel; hul eerste amptelike toetswedstryd het twee jaar later plaasgevind. Hulle het tydens die Europese Rugbykampioenskap 17 titels ingepalm, vyf keer as naaswenner en twee keer in die derde plek geëindig. Die Georgiese span speel tradisioneel in wynrooi truie met wit broeke en wynrooi sokkies – wat aan die kleure van die vlag van Georgië ontleen is. Georgië se belangrikste internasionale verskyning is tydens die vierjaarlikse rugbywêreldbekertoernooi wat sedert 1987 beslis word. Sedert die Rugbywêreldbeker 2003 het die span aan al die toernooie deelgeneem en tydens die Rugbywêreldbeker 2015 met die derde plek in hul groep hul beste prestasie behaal.

Beheerliggaam

Die beheerliggaam vir rugby in Georgië is die Georgiese Rugbyunie (GRU; საქართველოს რაგბის კავშირი, Sakartwelos ragbis kawsjiri). Die GRU is in 1964 gestig en het in 1992 ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword. Daarbenewens het die Georgiese Rugbyunie in dieselfde jaar by die vastelandse beheerliggaam Fédération internationale de rugby amateur (FIRA; nou Rugby Europa, RE) aangesluit.

Die hoogste rugbyliga in Georgië is die halfprofessionele Didi 10 (“die groot tien”), waaraan tien spanne deelneem. Weens die beter finansiële moontlikhede verkies baie spelers egter ’n loopbaan op professionele vlak by ’n klub in Frankryk of ’n ander Wes-Europese land. Die meeste nasionale spelers wat nie by ’n Wes-Europese klub betrokke is nie, speel vir die professionele span Black Lion wat sedert 2021 aan die Rugby Europa Superbeker deelneem. Naas die amptelike nasionale span roep die GRU ook ander keurspanne byeen. Georgia XV is die tweede nasionale span van Georgië. Die Georgia Sevens is die Georgiese sewesrugbyspan en hulle neem aan internasionale toernooie soos Wêreldrugby se Sewesreeks, Sewesrugbywêreldbeker en Olimpiese Somerspele deel. Net soos ander rugbylande beskik Georgië oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Europese en Wêreldrugby o/20-kampioenskap deelneem. Kinders en jongmense word veral in klubs aan rugby bekend gestel, terwyl skoolsport minder belangrik is.

Geskiedenis Ontwikkelinge in die Sowjetse tydperk Soos in ander rugbylande het rugby se gewildheid in Georgië te doen met ’n tradisionele volkssport. Lelo burti (“veldbal”) is ’n volkontakbalspeel wat baie ooreenkom met rugby. Dit word glo sedert die Antieke tydperk beoefen en word in sy tradisionele variant by geleentheid steeds in landelike gebiede gespeel. Tydens ’n wedstryd kom twee spanne met honderde spelers teen mekaar te staan. ’n Reuse swaar bal dien as speeltoestel. Die doel van die wedstryd is om die bal na die ander kant van die veld (lelo) te beweeg en die teenstander terug te skuif. Van dié tradisionele sportsoort se naam is die Georgiese woord lelo vir ’n drie afgelei, maar ook een van die nasionale span se byname.

In die Georgiese Sosialistiese Sowjetrepubliek het rugby ondanks sy baie ooreenkomste met Lelo burti ’n swaar begin gehad. Pogings vir die vroeë vestiging van dié sport het veral weens die Kommuniste se politieke weerstand misluk, só vir die eerste keer in 1928. Byvoorbeeld het Josef Stalin, die uit Georgië afkomstige leier van die Sowjetunie, in 1947 ’n tydelike verbod ingestel. Volgens sy mening was rugby weens sy elitêre Britse oorsprong ’n duidelike simbool van die Bourgeoisie en vervolgens met die Kommunistiese waardes nie versoenbaar nie. Ná die einde van die Stalinistiese tydperk het die rugbysport gedurende die 1950’s en 1960’s begin vestig, oorwegend onder studente. Hierby betrokke was veral die Franse onderwyser Jacques Haspékian, ’n voormalige speler by Lyon Olympique Universitaire. In 1959 het hy eers Armenië, die tuiste van sy voorouers, besoek om rugby daar te vestig. Die Armeense owerhede het egter al die samewerking geweier. Hulle was van mening, dat rugby in ’n land, wat die proletariaat waardeer, nie gespeel kan word nie. In die naburige Georgië is Haspékian heelwat beter ontvang. Met die sokkerklubs Dinamo Tiflis se ondersteuning het hy daarin geslaag om rugby te vestig, hoewel die Georgiese owerhede aanvanklik nie baie belangstelling getoon het nie en daar teen opsigte van al die aspekte ’n groot tekort was. Haspékian het in 1964 na Frankryk teruggekeer en die kontak het verbreek, maar die grondslag vir verdere ontwikkelinge is geleë.

In 1964 is ook die Georgiese rugbybeheerliggaam gestig, wat ondergeskik was aan die Sowjetse s’n. Ná die herlewing van die Sowjetse nasionale kampioenskap in 1966, wat vir amper drie dekades onaktief was, was Georgiese spanne van die begin af mededingend. In die in 1974 gestigte Sowjetse nasionale span het Georgië ’n groot deel aan spelers gestel, soms meer as die helfte van die beginspan. In 1978 het vir die eerste keer ’n Georgiese span die twee jaar vroeër gestigte Sowjetse rugbybeker gewen en van die middel-1980’s af het die RC Aia Koetaisi die kampioenskap oorheers. Op 12 September 1989 het ’n keurspan van die Georgiese beheerliggaam die Zimbabwiese span tydens hul Europese toer ontvang; die nieamptelike toetswedstryd in Koetaisi is met 16–3 gewen. In April 1990 het die teenbesoek in Zimbabwe plaasgevind, met die nieamptelike toetswedstryde wat in ’n oorwinning en ’n nederlaag geëindig het.

Eerste toetswedstryde onder moeilike omstandighede Georgië het op 9 April 1991 onafhanklik geword en die Georgiese rugbybeheerliggaam het op 27 Mei dieselfde jaar ook selfstandig geword. Dit het reeds in 1990 by die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) vir lidmaatskap aangeklop, wat aanvanklik verwerp is. Georgië het in Februarie 1992 eindelik ’n volle lid geword. Die reël van wedstryde teen geskikte teenstanders was aanvanklik moeilik, aangesien die meeste ander voormalige Sowjetse republieke die Sowjetse nasionale span tot einde 1991 onder die nuwe naam Gemenebes van Onafhanklike State aan die gang gehou het: hulle kon slegs teen Oekraïne speel. Teen dié span het hulle op 21 November 1991 in Tbilisi hul eerste amptelike toetswedstryd gespeel, wat hulle met 19–15-gewen het. Hulle het ook hul drie daaropvolgende toetswedstryde teen Oekraïne gewen. Met hul aansluiting by die IRVR en die vastelandse beheerliggaam Fédération internationale de rugby amateur (FIRA; nou Rugby Europa, RE) kon hulle van Julie 1992 af aan die Europese Nasiesbeker deelneem, met die Georgiërs wat as nuwelinge in die derde afdeling moes begin. Met ’n oorwinning oor Switserland en ’n gelykop teen Luxemburg tydens die FIRA-beker 1992–1994 is hulle regstreeks na die tweede afdeling bevorder. Hul tuiswedstryd teen Letland kon nie plaasvind nie, aangesien die Lette weens die bedenklike veiligheidsituasie in die weste van die land (Georgies-Abchasiese oorlog) dié wedstryd verbeur het. Die FIRA-beker 1994–97 het Georgië in die tweede plek ná Nederland afgesluit.

Teen die agtergrond van die burgeroorlogagtige situasie wat tot einde 1993 geduur het en die daaropvolgende erge ekonomiese krisis was hierdie prestasies verstommend, aangesien daar op amper al die terreine ’n gebrek aan hulpbronne was en baie geïmproviseer moes word. Byvoorbeeld het hulle in die middel-1990’s oor slegs twee rugbyballe vir afrigting beskik. Terwyl van die beste rugbylande vir die oefening van skrums gespesialiseerde masjiene vir die generering van teendruk ingespan het, kon die Georgiërs slegs ’n ou trekker stoot. In plaas daarvan om spesiaal vervaardigde plastieksakke vir aanpakoefening te gebruik, het die spelers hulself op denimsakke gegooi wat met rubber gevul en met ’n tuisnaaimasjien aanmekaargewerk is. In Oktober 1994 het die nasionale span Frankryk besoek en met ’n 23–12-oorwinning oor die plaaslike keurspan van Languedoc-Roussillon groot opskudding veroorsaak. Nadat die IRVR in Augustus 1995 al die beperkinge rakende die spelersbetaling opgehef en daarmee die professionele tydperk van die rugbyspel ingelui het, het Franse laerafdelingklubs dadelik begin om Georgiese spelers te keur.

Die reeds sterk Franse invloed het in 1997 met die aanstelling van Claude Saurel as hoofafrigter gegroei. Danksy sy uitgebreide netwerk aan kontakte het hy gedurende sy ampstermyn van ses jaar daarin geslaag om talle nasionale spelers by klubs in die hoogste Franse liga te plaas, wat ’n onmiddellike positiewe impak op dié spelers se kwaliteit aan tegniese en taktiese vaardighede gehad het. Georgië het in 1998 vir die eerste keer aan die rugbywêreldbekerkwalifisering deelgeneem. Die span het die uitspeelrondte behaal, waar hulle in Maart 1999 twee keer teen Tonga te staan gekom het. Terwyl hulle die eerste wegwedstryd in Nukuʻalofa met 6–37 verloor het, het hulle die tuiswedstryd in Tbilisi met 28–27 gewen; die algehele telling was ’n 64–34 in Tonga se guns.

Vestiging in Europa duimnael|Georgië teen die Springbokke tydens die Rugbywêreldbeker 2003 duimnael|Georgië teen Rusland op 26 Maart 2007 duimnael|Die Georgiese span vier ’n oorwinning in 2007 duimnael|Georgiese lynstaan teen Ierland tydens die Rugbywêreldbeker 2007 Nadat die nasionale spanne van beide Frankryk en Italië hulle aan die Europese Nasiesbeker onttrek het, het Georgië se geleidelike opkoms as die oorheersende span in dié toernooi begin. Hierby was Roemenië die grootste mededinger. Gedurende die eerste Europese Nasiesbekertoernooi 2000 (soos die hervormde toernooi genoem is) het Georgië met drie oorwinnings en twee nederlae in die derde plek geëindig. Tydens die Europese Nasiesbeker 2001 het Georgië in al sy vyf wedstryde onoorwonne gebly en sy eerste Europese titel ingepalm; hulle het die beslissende wedstryd teen die verdedigende kampioen Roemenië in Boekarest met 30–21 gewen. Tydens die Europese Nasiesbeker 2001/02 het die Georgiërs teen die groot mededinger Rusland gelykop gespeel en in die laaste tuiswedstryd het hulle ’n 23–31-nederlaag teen Roemenië gely, wat hulle van die as seker geagte Europese titel ontneem het. In dié wedstryd het albei spanne vir die eerste keer ook om die nuwe Antimbeker gespeel.