Hierdie artikel handel oor die Engelse nasionale mansrugbyspan. Vir die artikel oor die nasionale vrouerugbyspan, sien Engelse nasionale vrouerugbyspan.

Die Engelse nasionale rugbyspan (Engels: England national rugby union team) is die nasionale rugbyspan wat Engeland in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Rugby word in Engeland deur die Rugbyvoetbalunie (Rugby Football Union, RFU) geadministreer. Engeland neem aan die jaarlikse Sesnasies-toernooi deel, saam met Frankryk, Ierland, Italië, Skotland en Wallis. Engeland het die kampioenskap reeds 29 keer gewen, insluitende 13 Grand Slams, en nog tien ander kere die titel gedeel. Engeland ding as deel van die Sesnasies-toernooi met Skotland om die Calcuttabeker mee, die oudste rugbytrofee.

Engeland se belangrikste internasionale verskyning is tydens die vierjaarlikse rugbywêreldbekertoernooi wat sedert 1987 beslis word. Engeland is genooi om aan die eerste Rugbywêreldbeker 1987 deel te neem en het daarna die eindstryd van die tweede Rugbywêreldbeker 1991 gehaal waar hulle teen Australië verloor het. Ná die span se 2003-Sesnasies Grand Slam het Engeland die Rugbywêreldbeker 2003 gewen deur Australië met 20–17 in ekstra tyd te klop, waarmee hulle die eerste span van die Noordelike Halfrond geword het om dit te vermag. Daarbenewens is dit ná sokker in 1966 die tweede wêreldbekertrofee in een van Engeland se gewildste sportsoorte wat die onderskeidelike nasionale span ingepalm het; in 2019 sou nog die krieketwêreldbekertitel volg. Hulle het tydens die Rugbywêreldbeker 2007 as verdedigende kampioen in die eindstryd gespeel, maar met 6–15 teen Suid-Afrika verloor; albei spanne het mekaar tydens die Rugbywêreldbeker 2019 weer in die eindstryd ontmoet, en Engeland is dié keer deur die Springbokke met 32–12 geklop.

Engeland het sy eerste toetswedstryd in 1871 gespeel, toe hulle op Raeburn Place in Edinburg deur Skotland verslaan is. Daarna het Engeland die Tuisuniekampioenskap (Engels: Home Nations Championship, nou die Sesnasies) wat in 1883 ’n aanvang geneem het, oorheers. Ná die skeuring in rugbyvoetbal in 1895 (veral in Noord-Engeland), wat ook die nasionale span geraak het, het Engeland tot in 1910 nie weer die kampioenskap gewen nie. Engeland het in 1905 vir die eerste keer teen die Nieu-Seelandse All Blacks gespeel, in 1906 teen die Suid-Afrikaanse Springbokke en in 1909 teen die Australiese Wallabies. Engeland is ook een van die lande wat deel uitmaak van die Britse en Ierse Leeus – spelers wat vir Engeland mag speel mag dus ook gekies word vir die Leeus.

Engelse spelers dra tradisioneel wit broeke, vlootblou kouse en wit truie met ’n geborduurde rooi roos – wat aan die Huis van Lancaster ontleen is – daarop. Die span se tuisstadion is sedert 1910 oorwegend Twickenham. In 2003 is Engeland deur Wêreldrugby as die “span van die jaar” aangewys. 17 voormalige Engelse rugbyspelers is in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem. Engeland is tans (Maart 2026) sesde op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.

Beheerliggaam

duimnael|Die Webb Ellis Rugby Football Museum in Rugby Die beheerliggaam vir rugby in Engeland is die Rugbyvoetbalunie (Rugby Football Union, RFU). Die RFU is op 26 Januarie 1871 gestig. Daarmee is dit die oudste rugbybeheerliggaam ter wêreld en het in 1890 ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword. Daarbenewens het die RFU in 1999 by die vastelandse beheerliggaam FIRA-AER (nou Rugby Europa, RE) aangesluit. Die belangrikste Engelse rugbytoernooi is die Engelse Premierskap, waaraan tien klubs deelneem. Bo die nasionale kampioenskap word jaarliks saam met klubs uit Frankryk, Ierland, Italië, Skotland en Wallis die Europese Rugbykampioenskapbeker en die Europese Rugby-uitdaagbeker beslis.

Naas die amptelike nasionale span roep die RFU ook ander keurspanne byeen. Die England Saxons is die tweede nasionale span van Engeland. Net soos ander rugbylande beskik Engeland oor ’n o/20-nasionale span wat aan die o/20-Sesnasies-toernooi en die Wêreldrugby o/20-kampioenskap deelneem. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Engeland beskik oor ’n nasionale span vir studente, die Schoolboys, wat as ’n voorbereiding op die Engelse nasionale rugbyspan dien.

Dit word as ’n groot prestasie beskou om saam met die Britse en Ierse Leeus na die Suidelike Halfrond te toer, waar hulle sowat al om die vier jaar teen die Nieu-Seelandse All Blacks, die Suid-Afrikaanse Springbokke of die Australiese Wallabies speel.

Geskiedenis Gedurende die 19de eeu duimnael|links|upright|William Webb Ellis duimnael|Die skoolgebou van die privaatskool in Rugby duimnael|Engeland voordat hulle in 1871 in die eerste internasionale wedstryd teen Skotland in Edinburg gespeel het duimnael|Rugbywedstryd tussen Engeland en Skotland, ca. 1893 Rugby is glo deur William Webb Ellis uitgevind, toe hy in 1823 in die Engelse dorp Rugby tydens ’n sokkerwedstryd vir die eerste keer die bal met die hand opgetel en weggehardloop het om ’n punt aan te teken. Leerlinge van die Rugby-skool het die nuwe sport in die eerste helfte van die 19de eeu na universiteite, na Londen, en na die graafskappe saamgeneem en oor die hele land versprei. In 1848 het verteenwoordigers van ses openbare skole op ’n algemene stel reëls besluit. Op 26 Januarie 1871 is die beheerliggaam Rugbyvoetbalunie (RFU) gestig. Die eerste wedstryd van ’n Engelse keurspan is twee maande later op Maandag, 27 Maart 1871, teen Skotland gespeel. Dit was nie net Engeland se eerste wedstryd teen ’n ander land nie, maar ook die eerste internasionale rugbywedstryd en die eerste internasionale wedstryd tussen albei lande in enige sportsoort ooit. Skotland het die kragmeting gewen met twee drieë en ’n verdoeling van een van die drieë; ’n 4–1 oorwinning voor ’n skare van 4 000 by Raeburn Place, Edinburg. ) Die terugwedstryd, en Engeland se eerste tuiswedstryd, is op die Londense Kennington Oval gehou en deur Engeland met 8–3 gewen. Die vroeë wedstryde het nie oor ’n gestruktureerde puntestelsel beskik nie; dit sou eers ná 1890 ingestel word nadat ’n geskikte formaat vir die puntestelsel ontwerp is. Tot in 1875 is – soos in sokker – internasionale rugbywedstryde beslis deur die aangetekende aantal doele (beide doelskoppe en skepdoele), maar van 1876 af is ’n wedstryd deur die aantal gedrukte drieë beslis as die telling gelykop was.

Ná ’n aantal wedstryde teen Skotland het Engeland in 1875 op die Londense Oval vir die eerste keer teen Ierland gespeel en hulle met 7–0 verslaan. Dié wedstryd was Ierland se eerste toetswedstryd ooit. Vir albei spanne het 20 spelers uitgedraf, soos dit in die vroeë jare van rugby gebruiklik was; die aantal spelers wat tydens een wedstryd vir een span mag uitdraf is eers in 1877 van 20 tot 15 verminder. In 1879 het Engeland en Skotland vir die eerste keer die in Indië geskenkte Calcuttabeker beslis wat deur Engeland gewen is. Hul eerste wedstryd teen Wallis (die laaste van die vier Tuisnasies) is op 19 Februarie 1881 op Richardson’s Field in Blackheath gespeel. Engeland het sy grootste oorwinning in dié tyd aangeteken toe hulle Wallis met 30–0 (volgens die huidige puntestelsel sou dit ’n 82–0-oorwinning gewees het) verslaan en in die proses 13 drieë gedruk het. Die opvolgwedstryd die volgende jaar by St Helens in Swansea was ’n nouer oorwinning; met Engeland wat 10–0 gewen het. Ná ’n aantal sporadiese wedstryde tussen die vier Tuisnasies het die beheerliggame in 1883 die eerste Tuisnasies-toernooi gereël wat deur Engeland gewen is.

Die eerste Tuisnasies-toernooie is deur konflikte met die ander beheerliggame oorskadu. In 1884 het die Engelse RFU met die Skotse Rugbyvoetbalunie (SRU) oor die reëlinterpretasie geskil. Die RFU was van mening dat Engeland as “stigtersland” van die rugbyspel die alleenlike reg geniet het om omstrede punte in die stel reëls te interpreteer. Die Skotte het hiermee nie saamgestem nie en die volgende jaar geweier om teen Engeland te speel. Op 5 Desember 1887 het verteenwoordigers van die SRU, die Ierse Rugbyvoetbalunie (IRFU) en die Walliese Rugbyunie (WRU) in Manchester vergader en die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) gestig. Die RFU is vir toetreding genooi, maar hulle het die IRVR se eis oor die alleenlike opstel van die reëls verwerp. Gevolglik het die ander beheerliggame Engeland geboikot, waardeur die Tuisnasies-toernooie in 1888 en 1889 sonder Engeland beslis is. In 1890 het hulle slegs voorwaardelik deelgeneem en in April dieselfde jaar het die RFU wél by die IRVR aangesluit, nadat ’n Arbitrasieraad – bestaande uit John Macdonald (Lord Justice Clerk) en Francis Marindin (president van die Sokkervereniging) – met die Iere, Skotte en Walliesers saamgestem het. Tydens die boikot het Engeland in 1889 sy eerste wedstryd teen ’n nie-tuisuniespan gespeel: die New Zealand Natives, ’n Māori-span wat deur Australië en Europa getoer het. Engeland het die wedstryd op Rectory Field in Blackheath met 7–0 gewen. In 1890 het Engeland die Tuisnasies-titel met Skotland gedeel.

Op 29 Augustus 1895 het 21 klubs die RFU verlaat en in Huddersfield ’n nuwe beheerliggaam gestig, die Noordelike Rugbyvoetbalunie (sedert 1922 Rugbyvoetballeague). Dié afstigting, wat as begin van die spel rugby league beskou word, is gedoen aangesien veral Noord-Engelse klubs hulle uit die werkersklas afkomstige spelers tydens beserings finansieel wou vergoed. Die RFU, wat deur Suid-Engelse spelers uit die Hoër- en boonste middelklas gedomineer is, het hierdie stap as die begin van ’n professionele sport beskou en tevergeefs vir die handhawing van ’n streng amateurstatus gepleit. Sedertdien domineer rugby league veral die Noord-Engelse grafskappe Lancashire en Yorkshire. Tot die rugbyspel se professionalisering ’n honderd jaar later is spelers nie toegelaat om van sportkode te verander nie. As gevolg van die splitsing het die nasionale span ’n lang tydperk sonder noemenswaardige sukses beleef, aangesien baie van die beste spelers ’n professionele loopbaan verkies het. Gevolglik het Engeland van 1892 tot 1910 geen Tuisnasies-toernooi gewen nie.

Tydperk voor die Tweede Wêreldoorlog duimnael|links|Engeland teen die Nieu-Seelandse oorspronklike All Blacks in 1905; die All Blacks het met 15–0 gewen duimnael|Die Nieu-Seelandse katjie oorwen die Engelse leeu (spotprent in Punch) duimnael|links|upright|Die ingeburgerde Russiese vors Alexander Obolensky het in 1936 twee beslissende drieë teen die All Blacks gedruk duimnael|Skets van ’n wedstryd tussen Engeland en Wallis op Twickenham in 1931 Op 2 Desember 1905 het Engeland die eerste keer teen die Nieu-Seelandse All Blacks gespeel. Die All Blacks het vyf drieë gedruk, wat op daardie stadium drie punte getel het (vandaar die Afrikaanse term “drie”) en met 15–0 gewen. Tydens hul eerste Europatoer het die All Blacks 34 van hul 35 wedstryde gewen en sodoende hul oorheersing van die rugbyspel tot vandag toe begin. Op 22 Maart 1906 het Engeland in die Paryse Parc des Princes hul eerste wedstryd teen Frankryk gewen. Op 8 Desember dieselfde jaar het die Engelse vir die eerste keer teen die Suid-Afrikaanse Springbokke gespeel en ’n 3-elk aangeteken. Voor die wedstryd het hulle net onwillig die keuring van die Jamaikaanse speler James Peters teruggetrek, nadat die Suid-Afrikaners onwrikbaar geweier het om teen ’n swart speler te speel.

Engelse keurspanne het twee keer aan rugbytoernooie tydens Olimpiese Somerspele deelgeneem, alhoewel dit nie die nasionale span was nie. Tydens die Olimpiese Somerspele 1900 in Parys het die span Moseley RFC uit Birmingham die bronsmedalje gewen. Die silwermedalje tydens die Olimpiese Somerspele 1908 in Londen is deur ’n span uit die graafskap Cornwall gewen. Die eerste wedstryd van die Engelse teen die Australiese Wallabies het op 9 Januarie 1909 in ’n 3–9-nederlaag geëindig.