Die Tongaanse nasionale rugbyspan (Engels: Tonga national rugby union team; Tongaans: timi feohi ʻakapulu fakafonua ʻa Tonga) is die nasionale rugbyspan wat Tonga in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Rugby word in Tonga geadministreer deur die Tongaanse Rugbyunie (Tonga Rugby Union, TRU) wat in 1923 gestig is. Tonga word deur Wêreldrugby as ’n vlak twee-span erken. Tonga is tans (September 2025) 16de op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys. Die span neem deel aan die jaarlikse Stille Oseaan-nasiesbeker, saam met Fidji, Japan en Samoa. Tonga is ’n lid van die Stille Oseaan-eilande Rugbyalliansie (Engels: Pacific Islands Rugby Alliance; PIRA), saam met Fidji; Samoa was tot in 2009 ook ’n lid, maar hulle het hulself onttrek.
Tonga het in 1924 sy eerste internasionale wedstryd teen Fidji gespeel. Tonga, Fidji en Samoa speel gereeld teen mekaar in toernooie soos die Stille Oseaan-nasiesbeker (tot in 2005 Stille Oseaan-drienasies), waarin Tonga tot dusver een titel gewen het. Tonga se bynaam is ʻIkale Tahi (Tongaans vir: “seearend”). Die Sipi Tau-oorlogsdans word voor elke toetswedstryd deur die Tongaanse span uitgevoer. Die oorlogsdans dateer uit die land se oorloë met naburige eilande.
Tonga het tot dusver vir nege van die tien rugbywêreldbekertoernooie gekwalifiseer en slegs die Rugbywêreldbeker 1991 in die destydse Vyfnasies misgeloop. Hul beste prestasie tot dusver was die derde plek in hulle groepe in onderskeidelik 1995, 1999, 2007 en 2011. Tonga speel tradisioneel in rooi truie met wit kleuraksente, wit broeke en rooi sokkies – wat aan die kleure van die vlag van Tonga ontleen is.
Beheerliggaam
Die beheerliggaam vir rugby in Tonga is die Tongaanse Rugbyunie (Engels: Tonga Rugby Union, TRU). Die Tongaanse Rugbyunie is in 1923 gestig en het in 1987, net voor die eerste rugbywêreldbekertoernooi, ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword. Daarbenewens het die Tongaanse Rugbyunie in 2000 ’n stigterslid van die Vereniging van Oseaniese Rugbyunies (Federation of Oceania Rugby Unions, FORU; nou Oseanië Rugby, OR) geword.
Naas die amptelike nasionale span roep die Tongaanse Rugbyunie ook ander keurspanne byeen. Tonga A is die tweede nasionale span van Tonga en hulle neem aan Wêreldrugby se Stille Oseaan-uitdaagtoernooi deel. Die Tonga Sevens is die Tongaanse sewesrugbyspan en hulle neem aan internasionale toernooie soos Wêreldrugby se Sewesreeks, Sewesrugbywêreldbeker, Olimpiese Somerspele en die Statebondspele deel. Net soos ander rugbylande beskik Tonga oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Wêreldrugby o/20-kampioenskap deelneem. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting.
As deel van die Stille Oseaan-eilande Rugbyalliansie het die beheerliggaam van 2004 wedstryde gereël van die Stille Oseaan-eilanders, ’n gemeensame keurspan van die drie Stille Oseaan-eilandstate Fidji, Samoa en Tonga. Aangesien die Stille Oseaan-eilanders nie die gewenste inkomste vir die beheerliggame gegenereer het nie, het die Samoaanse beheerliggaam dié samewerking in 2009 beëindig. Sedert 2022 word die Stille Oseaan-eilande (feitlik die Cookeilande, Fidji, Samoa en Tonga) in die internasionale Superrugbytoernooi verteenwoordig deur die gesamentlike professionele span Moana Pasifika, wat aan dié toernooi deelneem saam met spanne uit Australië, Nieu-Seeland en een uit Fidji.
Algemene situasie Tonga is een van die min lande waar rugby die hoofsport is. Slegs die Cookeilande, Fidji, Nieu-Seeland, Samoa en Wallis kan soortgelyke bewerings maak. Met ’n bevolking van sowat 100 000 is die keuring van talentvolle spelers in vergelyking met ander lande baie klein, maar Tonga behoort konstant aan die 15 beste spanne wêreldwyd en hulle is redelik mededingend. Dié land ly egter onder ’n groot uitvloei aan talent, aangesien baie spelers in die professionele ligas in Australië, Nieu-Seeland, Europa of Japan speel en deur die onderskeie land ingeburger word. Volgens Wêreldrugby se reëls is ’n tydperk van vyf jaar ononderbroke blyplek genoeg om vir die nasionale span van ’n ander land uit te draf (tot aan die einde van 2020 was dit slegs drie jaar). Van die bekendste spelers met ’n Tongaanse herkoms is Israel Folau, Toutai Kefu, Sekope Kepu, Viliami Ofahengaue, Wycliff Palu en George Smith (vir Australië), Doug Howlett en Jonah Lomu (vir Nieu-Seeland), Billy en Mako Vunipola (vir Engeland) asook Taulupe Faletau (vir Wallis). Met ’n bevolking van ’n rapsie meer as ’n 100 000 is Tonga die kleinste land wat gereeld aan rugbywêreldbekertoernooie deelneem.
Die Stille Oseaan-eilandstate se beheerliggame is nie sterk genoeg om hierdie uitvloei aan talent stop te sit nie. Soms word die sistematiese stropery in ’n ironiese manier met die 19de eeuse Blackbirding vergelyk. Tongane, wat hul eie land verteenwoordig, kan nie altyd vir hul nasionale span verskyn nie, aangesien veral Engelse klubs huiwerig is om spelers vir toetswedstryde beskikbaar te stel. Die professionele span Moana Pasifika, wat sedert 2022 aan die internasionale toernooi Superrugby deelneem, sal as ’n oplossing dien. In dié span, wat in die Nieu-Seelandse stad Auckland gesetel is, speel Tongane saam met Samoane en Nieu-Seelanders met ’n Polinesiese herkoms; dié span streef ’n verkieslik “Stille Oseaan”-karakter na.
Geskiedenis Invoering en vestiging van rugby ’n Tradisionele Tongaanse sportsoort, en los verwant aan rugby, was Kasivaki. Die speelveld was in ’n baai tussen twee koraalrotse geleë en twee spanne het onder water probeer om ’n 35 kg swaar ovale steen na die rots aan die oorkant te beweeg. Die spelers het Kasivaki uitgeoefen ter vermaak van persone in die hoërklas, om hul vaardighede, hul sterktes en vegkrag in die water te vertoon. Soms het spelers verdrink en derhalwe het koning George Tupou I dié spel in die 19de eeu verbied.
Nadat Tonga in 1900 ’n Britse protektoraat geword het, het seelui en sendelinge die rugbysport ingevoer. Tongaanse adellikes wat rugby tydens hul studies aan die vername Newington College in Sydney leer ken het, was ook by die invoering van dié sport in Tonga betrokke. Reeds in 1909 was rugby deel van die kurrikulum aan die twee leidende skole in die land, die Tupou College en die Tonga College. Rugby het vinnig die by verre gewildste sportsoort geword en is deur groot dele van die bevolking goed ontvang. Volgens Robert F. Dewey, ’n historikus aan die DePauw-universiteit, was rugby destyds ’n belangrike manier om die plaaslike trots en strydlustige manlikheid uit te druk. Nadat baie tradisionele rituele gedurende die koloniale tydperk verdwyn het, was rugby ’n goeie plaasvervanger vir die uitvoering van ou konflikte. Buitendien was die atletiese vaardighede van die inheemse spelers glo heel geskik vir die rugbyspel. ’n Soortgelyke ontwikkeling het in twee ander Stille Oseaan-eilandstate plaasgevind: Fidji en Samoa.
Die nasionale span se eerste jare In 1923 is die Tongaanse Rugbyvoetbalunie (Engels: Tonga Rugby Football Union, die huidige Tongaanse Rugbyunie (TRU) gestig en die volgende jaar het dié beheerliggaam vir die eerste keer ’n nasionale span saamgestel. Die eerste toetswedstryd op 25 Augustus in die hoofstad Nukuʻalofa teen Fidji tydens ’n toer van nege wedstryde het die Tongane met 9–6 gewen, die tweede is met 3–14 verloor en in die derde het hulle met 0–0 gelykop gespeel. Einde Julie 1926 het Tonga vir die eerste keer Fidji en Wes-Samoa besoek. In 1928 en 1932 het die Tongane weer die Stille Oseaan-buur Wes-Samoa besoek; met uitsondering van die jaar 1930 het Fidji en Tonga tussen 1924 en 1934 al om die twee jaar ’n toetsreeks van drie wedstryde teen mekaar gespeel, waarby meestal die Fidjiane geseëvier het.
Die Tweede Wêreldoorlog het ’n meerjarige onderbreking van die internasionale speelprogram tot gevolg gehad. In 1947 het Tonga weer na Fidji en Wes-Samoa getoer. Terwyl hulle albei toetswedstryde in Fidji gewen het, het hulle hul eerste nederlaag teen Wes-Samoa gely. Ná dié toer het die nasionale span veral om finansiële redes ’n verdere onderbreking van nege jaar gehad. Terwyl die Samoane Tonga in 1956 besoek het, het die Tongane in 1957 Wes-Samoa besoek. Tonga het tydens albei toere onoorwonne gebly. Tydens die 1958-besoek vir drie toetswedstryde deur die Fidjiane het hulle egter twee nederlae gely. Tot op daardie stadium was die internasionale kontakte op die onmiddellike Stille Oseaan-bure beperk. Dit het in 1960 verander, toe die Nieu-Seelandse Maori Nukuʻalofa besoek en met 16–27 verloor het; dit was die Maori se keurspan se enigste nederlaag tydens hul Oseaniese toer van nege wedstryde.
Aan die eerste Suid-Stille Oseaan-spele 1963 in die Fidjiaanse hoofstad Suva het die Tongane deelgeneem. Met twee oorwinnings oor Wes-Samoa en twee nederlae teen Fidji het hulle in die tweede plek geëindig en sodoende die silwermedalje ingepalm. In 1967 het hulle Fidji verwelkom en een jaar later het die teenbesoek plaasgevind; Fidji het albei toere van drie wedstryde elk beklink. In Augustus en September 1969 het die Tongane Nieu-Seeland vir die eerste keer besoek. Terwyl hulle nie toegelaat is om teen die All Blacks te speel nie het hulle in drie toetswedstryde teen die Nieu-Seelandse Maori te staan gekom, waarvan hulle twee gewen het. Van die ander agt wedstryde teen plaaslike keurspanne het hulle drie gewen en in een gelykop gespeel.
Toenemende internasionale kontakte Ná ’n verdere onderbreking van drie jaar het die Tongane in Mei en Junie 1972 Wes-Samoa besoek en al vier die toetswedstryde gewen. ’n Jaar later het hulle hul eerste toer na Australië onderneem. Binne-in vyf weke het hulle in tien wedstryde gespeel. Op 11 Junie het Tonga in sy derde wedstryd in Sydney ’n verrassing behaal, toe hulle ’n hoogs aangeslane en sterbesaaide span van die stadbeheerliggaam Sydney Rugbyunie met 19–14 geklop het. Op 23 Junie het hulle ook in Sydney in hul eerste toetswedstryd teen die Wallabies te staan gekom, maar hulle is deur die gasheer oorheers en met 30–12 verslaan. Sewe dae later het die Tongane in die tweede toetswedstryd in Brisbane ’n verrassende 16–11-oorwinning aangeteken, hul eerste teen een van die “groot” rugbylande. Die burgemeester van Brisbane het spontaan aangebied die span se verblyfkoste te betaal om ’n derde toetswedstryd moontlik te maak. Dit het egter nie gebeur nie, aangesien hulle op pad huis toe ’n wedstryd in Fidji gespeel het (waar hulle ’n nederlaag gely het).
In September en Oktober 1975 het Tonga sy eerste toer buite Oseanië aangepak. Dit het elf wedstryde in die Verenigde Koninkryk en Kanada behels. Hulle het teen Britse plaaslike keurspanne slegs een oorwinning aangeteken. Albei wedstryde teen die nasionale spanne van Wallis en Skotland is nie as toetswedstryde erken nie en het in swak nederlae geëindig. Die eerste wedstryd teen die Kanadese nasionale span in Vancouver, wat in ’n maklike 40–14-oorwinning geëindig het, is wél as ’n toetswedstryd erken. Die volgende langer toer het van Junie tot Augustus 1975 plaasgevind. Dit het in Wes-Samoa begin, waar hulle in vier toetswedstryde gespeel het. Twee het in nederlae geëindig; dit was die eerste nederlae teen dié span in amper drie dekades. Aansluitend het Tonga Nieu-Seeland besoek, waar hulle in nog twaalf wedstryde gespeel het. Onder andere is die twee toetswedstryde teen die Nieu-Seelandse Maori verloor. In die ander tien wedstryde teen plaaslike spanne het Tonga agt oorwinnings aangeteken. Tydens die Fidjiaanse toer in 1977 het hulle in al drie toetswedstryde nederlae gely, ook die wenrekord teen plaaslike spanne was negatief.