Die Rugbywêreldbeker 2007 (Frans: Coupe du monde de rugby à XV 2007; Engels: 2007 Rugby World Cup; Skots-Gaelies: Cupa Rugbaidh an t-Saoghail 2007; Wallies: Cwpan Rygbi'r Byd 1999) is van 7 September tot 20 Oktober 2007 in Frankryk (nominale gasheer), Wallis en Skotland beslis. Dit was die sesde rugbywêreldbekertoernooi van die vierjaarlikse rugbywêreldkampioenskap wat deur die Internasionale Rugbyraad (IRR; nou Wêreldrugby) aangebied word en die derde in die Noordelike Halfrond. Frankryk se bod om die toernooi aan te bied is in 2003 bo Engeland s’n verkies.

duimnael|links|upright|Die Webb Ellis-beker waarom meegeding is Die toernooi se formaat van 2003 het onveranderd gebly en 20 nasionale rugbyspanne het aan die Rugbywêreldbeker 2007 deelgeneem: die agt regstreekse kwalifiseerders van die 2003-toernooi (Australië, Engeland, Frankryk, Ierland, Nieu-Seeland, Skotland, Suid-Afrika en Wallis), saam met die twaalf beste spanne van die kwalifisering (Argentinië, Fidji, Georgië, Italië, Japan, Kanada, Namibië, Portugal, Roemenië, Samoa, Tonga en die Verenigde State). Portugal het vir die eerste keer aan ’n rugbywêreldbekertoernooi deelgeneem.

Tydens die Rugbywêreldbeker 2007 is 48 wedstryde gespeel, waaronder 40 tydens die groepfase en agt tydens die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die spanne is in vier groepe van vyf elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die twee beste spanne van elke groep het hierna vir die kwarteindrondte gekwalifiseer, terwyl die drie beste spanne van elke groep – altesaam twaalf spanne – regstreeks vir die volgende Rugbywêreldbeker 2011 in Nieu-Seeland gekwalifiseer het. Van die 48 wedstryde is 42 in Franse stede aangebied, vier in die Walliese hoofstad Cardiff en twee in die Skotse hoofstad Edinburg. Frankryk het voorheen tydens die Rugbywêreldbeker 1991 en Rugbywêreldbeker 1999 as medegasheer opgetree; albei toernooie is saam met die ander destydse Vyfnasies Engeland, Ierland, Skotland en Wallis aangebied.

Voor die afskop van die Rugbywêreldbeker 2007 is Engeland, Frankryk, Nieu-Seeland en Suid-Afrika as gunstelinge op die titel beskou. Die Rugbywêreldbeker 2007 het begin met die openingswedstryd tussen die gasheer Frankryk en Argentinië by die Stade de France in Saint-Denis buite Parys. Die Argentyne het verras deur die gasheer te klop, ’n prestasie wat hulle later sou herhaal toe hulle die bronsmedalje gewen het deur Frankryk vir ’n tweede keer te klop. Vir die Argentyne was dit hulle beste toernooiverloop in dié tyd. Op 20 Oktober 2007 is die eindstryd ook by die Stade de France gespeel. Suid-Afrika het die verdedigende kampioen Engeland met 15–6 verslaan en sodoende sy tweede rugbywêreldbekertitel ná 1995 ingepalm, ná Australië die tweede span wat daarin kon slaag. Die telling, waarin geen drieë gedruk is nie, is behaal met vier strafskoppe deur Percy Montgomery en een deur François Steyn, teenoor die twee van Engeland se Jonny Wilkinson. Namibië is ná vier nederlae reeds in die groepfase uitgeskakel.

Met meer as vier miljard televisiekykers wêreldwyd was die Rugbywêreldbeker 2007 die mees gesiene rugbywêreldbekertoernooi in dié tyd. Altesaam is daar sowat 2,2 miljoen kaartjies vir die 48 wedstryde verkoop, waarmee elke wedstryd gemiddeld 47 150 toeskouers gelok het; die wedstryde in Frankryk het met ’n bywoning van 97% gespog.

Toewysing duimnael|400px|Kaart van die kandidaatlande vir die Rugbywêreldbeker 2007 duimnael|links|Die Stade de France kort nadat die eindstryd van die Rugbywêreldbeker 2007 gespeel is duimnael|Die Eiffeltoring in Parys wat met ’n reuse rugbybal versier is vir die Rugbywêreldbeker 2007 Beide Engeland en Frankryk het ’n bod ingedien om die Rugbywêreldbeker 2007 te huisves. Die tenderdokument vir die 2007-aansoekproses moes teen 31 Oktober 2001 ingedien word. Beide Engeland en Frankryk is genooi om hulle planne weer in te dien. Die Internasionale Rugbyraad (IRR) het verklaar dat beide lande aan die voorwaardes van die tenderdokumente in een bod sou moes voldoen, maar dat ’n tweede opsie alternatiewe idees kon aanbied. Die IRR het verklaar, dat “Engeland se oorspronklike voorstel drie planne vir die aanbied van die toernooi gehad het, met ’n tradisionele, nuwe en hibriede formaat wat almal aangebied is. Die Franse bod het, terwyl dit in ander opsigte voldoen het aan die tenderdokument, nie binne een van die ‘vensters’ geval waarin die IRR ’n toernooi wou aanbied nie”. Een van Engeland se aanbiedings het ’n twee-vlak-toernooi bevat en ’n ander het die struktuur van die kwalifiseringstoernooi verander, terwyl Frankryk se voorstel van September tot Oktober geskeduleer was.

In April 2003 is aangekondig dat Frankryk die reg verkry het om die toernooi aan te bied. Die toernooi is geskuif na die voorgestelde September-Oktober-datums, terwyl die toernooistruktuur dieselfde gebly het. Daar is ook aangekondig dat tien Franse stede die wedstryde sou aanbied met die eindstryd by die Stade de France in Saint-Denis buite Parys. Frankryk se eerste minister, Jean-Pierre Raffarin, het verklaar dat “dié besluit illustreer die kwaliteit eienskappe van ons land en die vermoë om groot sportgeleenthede aan te bied... Hierdie wêreldbeker sal ’n geleentheid wees om die streke van Frankryk, waar die wonderlike sport rugby diep wortels het, te vertoon.” Die Franse sportminister, Jean-François Lamour, het gesê dat “Die organisasie van dié wêreldbeker sal oor die hele Frankryk skyn omdat tien Franse stede die voorreg het om wedstryde te reël en in die wêreld se kollig te wees.”

Deelnemers Kwalifisering 20 spanne het vir die Rugbywêreldbeker 2007 gekwalifiseer. Die agt kwarteindstrydfinaliste van die Rugbywêreldbeker 2003 – Australië, Engeland, Frankryk, Ierland, Nieu-Seeland, Skotland, Suid-Afrika en Wallis – het almal regstreeks gekwalifiseer terwyl die res van die spanne moes kwalifiseer tydens ’n reeks kompetisies wat regoor die wêreld gehou is. Tien van die twintig posisies wat in die toernooi beskikbaar was, is gevul deur streekskwalifiseerders, terwyl die oorblywende twee posisies deur heruitdunning gevul is. Die kwalifiseringstoernooi is in vyf streeksgroepe verdeel: Afrika, Noord-Amerika saam met Suid-Amerika, Asië, Europa en Oseanië. Drie plekke elk is vir die nasionale spanne van die Amerikas en Europa gereserveer, twee plekke vir Oseanië en een elk vir Afrika en Asië. Die twee oorblywende plekke is tydens ’n interkontinentale kwalifiseringsrondte beslis. As die regstreekse klassifiseerders getel word, het 92 spanne in aanmerking gekom vir kwalifisering vir die finale toernooi in Frankryk.

In Julie 2005 is Samoa en Fidji bevestig as kwalifiseerders van Oseanië, as onderskeidelik Oseanië 1 en 2. In Julie van die volgende jaar het Argentinië as Amerikas 1 gekwalifiseer toe hulle Uruguay met 26–0 in Buenos Aires verslaan het. Amerikas 2 is in Augustus gevul toe Kanada die Verenigde State met 56–7 in Newfoundland geklop het. Die Verenigde State het egter later daarin geslaag om as Amerikas 3 te kwalifiseer nadat die span Uruguay gemaklik in twee seksies in die begin van Oktober verslaan het. In daardie maand het Italië as Europa 1 gekwalifiseer toe hulle Rusland met 67–7 in Moskou geklop het om eerste plek in die land se kwalifiseringgroep te behaal; Roemenië het Spanje met 43–20 in Madrid geklop en daarmee ook vir die Rugbywêreldbeker 2007 gekwalifiseer as Europa 2.

Namibië het vir sy derde agtereenvolgende rugbywêreldbekertoernooi gekwalifiseer toe die span Marokko oor twee seksies in November geklop het. Japan het die enigste Asiatiese toekenning gewen nadat die toernooi na Hongkong geskuif is. Georgië was 14 punte beter as Portugal oor twee seksies om die laaste Europese plek in te neem. Tonga het deur heruitdunning gekwalifiseer nadat die span Korea geklop het. Die finale plek in Groep C het na Portugal gegaan nadat die span Uruguay met ’n algehele telling van 24–23 geklop het.

Kwalifiserende spanne Die volgende 20 spanne het vir die finale toernooi gekwalifiseer. Portugal, wat Uruguay vervang het, is die enigste verandering in die 20-span-lys van die Rugbywêreldbeker 2003. Portugal het vir die eerste keer aan ’n rugbywêreldbekertoernooi deelgeneem en hulle is ook die enigste geheel-en-al amateurspan wat gekwalifiseer het.

duimnael|400px|Spanne wat aan die kwalifiseringstoernooi deelgeneem en die wat regstreeks gekwalifiseer het; altesaam 92 spanne het deelgeneem. duimnael|400px|Uitslag van die kwalifisering: SpanKwalifiseringmetodeVerskynings by eindstrydeLaaste verskyningVorige beste prestasieGroepNominale gasheerSesde2003Naaswenner (1987, 1999)DRegstreeksSesde2003Kampioen (1991, 1999)BSesde2003Kampioen (2003)ASesde2003Kwarteindrondte (1987, 1991, 1995, 2003)DSesde2003Kampioen (1987)CSesde2003Vierde plek (1991)CVierde2003Kampioen (1995)ASesde2003Derde plek (1987)BAmerikas 1Sesde2003Kwarteindrondte (1999)DOseanië 2Vyfde2003Kwarteindrondte (1987)BEuropa 3Tweede2003Groepfase (2003)DEuropa 1Sesde2003Groepfase (1987, 1991, 1995, 1999, 2003)CAsië 1Sesde2003Groepfase (1987, 1991, 1995, 1999, 2003)BAmerikas 2Sesde2003Kwarteindrondte (1991)BAfrika 1Derde2003Groepfase (1999, 2003)DUitspeelwenner 1Eerste –DebuutCEuropa 2Sesde2003Groepfase (1987, 1991, 1995, 1999, 2003)COseanië 1Vyfde2003Kwarteindrondte (1991, 1995)AUitspeelwenner 2Vyfde2003Groepfase (1987, 1995, 1999, 2003)AAmerikas 3Vyfde2003Groepfase (1987, 1991, 1999, 2003)A

Stadions duimnael|Die Rugbywêreldbeker 2007 is deur Frankryk aangebied, met van die wedstryde wat in Edinburg en Cardiff gespeel is duimnael|Verbyvlug oor die Stade de France tydens die openingseremonie van die Rugbywêreldbeker 2007 duimnael|Nagtelike foto van die Eiffeltoring tydens die Rugbywêreldbeker 2007 Frankryk het die reg om die Rugbywêreldbeker 2007 aan te bied in 2003 verkry en het vervolgens aangekondig dat vier wedstryde in Wallis, by Cardiff se 74 500 Millennium-stadion, gehou sal word (twee Groep B-wedstryde waarby die Walliese span betrokke was, die wedstryd tussen Fidji en Kanada, en ’n kwarteindstryd). Ierland sou wedstryde in Dublin by Lansdowne Road aangebied het, maar as gevolg van skeduleringskonflikte met die herkonstruksie van die stadion het die Ierse Rugbyvoetbalunie besluit om nie deel te neem aan die aanbieding van die Rugbywêreldbeker 2007 nie.

Twee Groep C-wedstryde is by Edinburg se Murrayfield-stadion gehou. Vroeg in 2006 het die Skotse Rugbyunie volgens berigte getwyfel om van die wedstryde te huisves en of Skotland genoeg markaanvraag sou kon genereer, maar in April 2006 het hulle bevestig dat die wedstryde wél op Murrayfield beslis sal word. Aan die einde van die dag kon die Skotland-Nieu-Seelandse wedstryd nie uitverkoop word nie, en die stadion was minder as halfvol tydens die Skotland-Roemenië-wedstryd.

Die Rugbywêreldbeker 2007 het heelwat meer toeskouerkapasiteit gehad as wat dit die geval was vir die Rugbywêreldbeker 2003: die kleinste stadion vir die 2007-toernooi het sitplek vir 33 900 toeskouers. Die Franse stadions was dieselfde as dié wat vir die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1998 gebruik is. Met Lens, Nantes en Saint-Étienne is ook stede in ag geneem wat tradisioneel nie as rugbysentrums beskou word nie. 6 000 vrywilligers het gehelp om die toernooi te organiseer.

Hoewel die Rugbywêreldbeker 2007 die eerste was wat hoofsaaklik deur Frankryk aangebied is, is ’n aantal wedstryde tydens die 1991 en 1999-toernooie, wat onderskeidelik hoofsaaklik deur Engeland en Wallis aangebied is, in Frankryk beslis. In 1991 is Groep D-wedstryde (wat Frankryk insluit) in Béziers, Bayonne, Grenoble, Toulouse, Brive en Agen beslis, terwyl Parc des Princes en Stadium Lille Métropole elkeen ook ’n kwarteindwedstryd gehuisves het. In 1999 is op ’n soortgelyke wyse Groep C-wedstryde (wat Frankryk insluit) in Béziers, Bordeaux en Toulouse beslis, terwyl ’n uitspeelwedstryd gehou is op Stade Félix-Bollaert en ’n kwarteindstryd op die Stade de France.