William Henry "Bill" Gates III (gebore 28 Oktober 1955 in Seattle, Washington) is 'n sakebestuurder en die stigter van Microsoft.

Vroeë lewe William Henry Gates III is op 28 Oktober 1955 in Seattle (Washington) gebore as die seun van 'n prokureur en voormalige onderwyseres. Hy het onderrig ontvang by Lakeside Hoërskool, 'n eksklusiewe privaatskool vir leerlinge met 'n sterk akademiese aanleg. Daar het hy vir Paul Allen ontmoet wat later saam met hom Microsoft sou stig.

In 1967 het Gates totaal verdiep geraak in 'n digitale opleidingsterminaal wat deur die Lakeside Mother Club met die opbrengs van 'n rommelverkoping aangekoop is. Gates en sy vriende was deur hierdie nuwe wêreld van rekenaars geboei en het 'n plaaslike rekenaarmaatskappy oorreed om hulle toegang tot die nuwe PDP-10, 'n nuwe minirekenaar, te gee.

Daar het hulle programmeertale soos BASIC, FORTRAN en LISP aangeleer. Gates, Allen en twee ander vriende het die Lakeside Programmers' Group begin, wat 'n betaalstaatprogram vir 'n plaaslike besigheid geskryf het. In 1972 het Gates en Allen Traf-O-Data gestig, 'n maatskappy wat gerekenariseerde voertuigtelmasjiene aan plaaslike regerings verskaf het. In 1973 het Gates by Harvard-universiteit as 'n regstudent ingeskryf. Gedurende hierdie tyd is die eerste persoonlike rekenaar, die MITS Altair, bekend gestel en het die behoefte aan 'n gekondenseerde bedryfstelseltaal vir persoonlike rekenaars ontstaan. Gates en Allen het die uitdaging aanvaar en BASIC, 'n gewilde taal wat op rekenaars gebruik word, aangepas om die eerste sagteware vir persoonlike rekenaars te skep.

Microsoft In 1975 het Bill Gates Harvard-universiteit op 19 verlaat, en saam met Allen die Microsoft Corporation maatskappy gestig, die wêreld se grootste sagtewaremaatskappy vir persoonlike rekenaars.

In 1977 het Tandy Corporation vir Microsoft gehuur om sagteware vir sy Radio Shack rekenaars te ontwikkel en drie jaar later het International Business Machines Corporation (IBM) Microsoft gevra om 'n bedryfstelsel vir sy nuwe persoonlike rekenaars te verskaf. Microsoft het ook die hoofverskaffer van sagteware aan Apple Macintosh geword met die bekendstelling van die woordverwerkingsprogram Microsoft Word.

Op 13 Maart 1986 het Microsoft Corporation op die aandelebeurs genoteer en binne 'n jaar het Microsoft aandele tot $90 elk toegeneem. Op die ouderdom van 31 het Gates, wat 45 persent van die Microsoft aandele besit, die jongste miljardêr ooit geword.

Persoonlike lewe Op Nuwejaarsdag 1994, op die ouderdom van 38, is Gates in Hawaii getroud met een van Microsoft se bemarkingsbestuurders, Melinda French. Hulle het twee kinders, Jennifer Katharine, gebore in 1996, en Rory John, gebore in 1999. Hulle het die Bill & Melinda Gates Foundation geskep vir die ondersteuning van filantropiese inisiatiewe in die veld van gesondheid en onderrig. 'n Nuwe $5 miljard-skenking in Januarie 2000 het dit die rykste stigting ter wêreld gemaak. Gates het ook persoonlike beleggings in ander hoëtegnologiemaatskappye.

Belangrikste prestasies Microsoft se sukses het Gates een van die twintigste eeu se invloedrykste figure en die rykste persoon in die wêreld gemaak. In 1992 het Gates die Nasionale Medalje vir Tegnologie van President George Bush ontvang.

Boeke Gates het twee boeke geskryf: The Road Ahead, geskryf saam met Nathan Myhrvold en Peter Rinearson. November 1995. Business @ the Speed of Thought 1999.

Verwysings

Eksterne skakels

Kategorie:Amerikaanse entrepreneurs Kategorie:Amerikaanse filantrope Kategorie:Amerikaanse rekenaarprogrammeerders Kategorie:Amerikaanse uitvinders Kategorie:Geskiedenis van die rekenaar Kategorie:Microsoft Kategorie:Geboortes in 1955 Kategorie:Lewende mense