Hierdie artikel handel oor die Suid-Afrikaanse nasionale mansrugbyspan. Vir die artikel oor die nasionale vrouerugbyspan, sien Suid-Afrikaanse nasionale vrouerugbyspan, vir die dier, sien springbok en vir die dorp, sien Springbok, Noord-Kaap.
Die Springbokke (Engels: Springboks; Xhosa en Zoeloe: amaBokoboko; ook korter Bokke of Boks genoem) is die nasionale rugbyspan wat Suid-Afrika in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Die Springbokke is na die springbok, die nasionale dier van Suid-Afrika, genoem. Rugby is een van Suid-Afrika se nasionale sportsoorte en die Springbokke is ’n gedugte krag in internasionale rugby met ’n wenrekord teen byna al die ander lande, behalwe teen die Nieu-Seelandse All Blacks.
Die Springbokke se belangrikste internasionale verskyning is tydens die vierjaarlikse rugbywêreldbekertoernooi. Alhoewel die Springbokke as gevolg van die internasionale boikot teen apartheid nie aan die eerste twee rugbywêreldbekertoernooie in 1987 en 1991 deelgeneem het nie, het dié land in 1995 as gasheer van die toernooi opgetree en tydens hul debuut die beker gewen. Die Springbokke het die All Blacks in die eindstryd met 15–12 geklop, ’n gebeurtenis wat steeds as een van die grootste prestasies in die Suid-Afrikaanse sportgeskiedenis beskou word. Suid-Afrika het twaalf jaar later die Webb Ellis-beker tydens die Rugbywêreldbeker 2007 in Frankryk en weereens twaalf jaar later tydens die Rugbywêreldbeker 2019 in Japan ingepalm. Tydens die Rugbywêreldbeker 2023 in Frankryk het die Springbokke ná die All Blacks die tweede span geword wat die beker suksesvol kon verdedig en die eerste geword om vier wêreldbekertoernooie te wen. Die Springbokke het sodoende Nieu-Seeland se vorige rekord van drie titels verbeter, maar met twee wêreldbekerverskynings minder. Daarmee is die Springbokke nou die wêreld se suksesvolste span in wêreldbekerrugby, aangesien hulle sedert 1995 vier uit agt rugbywêreldbekertoernooie gewen het. Die All Blacks het daarenteen sedert 1987 drie uit tien rugbywêreldbekertoernooie gewen.
Die Springbokke speel jaarliks teen die All Blacks van Nieu-Seeland, die Wallabies van Australië en die Poemas van Argentinië in die Rugbykampioenskap, voorheen die Drienasiesreeks genoem, waartydens hulle ook om die Mandela Uitdaagplaat teen Australië en die Vryheidsbeker teen Nieu-Seeland meeding. Die Springbokke het die voormalige Drienasiesreeks reeds drie keer in die toernooi se 14 jaar bestaan gewen (in 1998, 2004 en 2009), en later die uitgebreide Rugbykampioenskapreeks (in 2019, 2024 en 2025).
In 1891 het die Springbokke in hul eerste internasionale wedstryd te staan gekom, toe die Britse Leeus, ’n span van gekeurde spelers uit die vier Tuisnasies, tydens hul toer Suid-Afrika besoek het. Tot sy professionalisering was rugby ’n amateursport, wat op internasionale vlak deur soms maandelange, oorsese toere gekenmerk was, waartydens die nasionale spanne nie net teen ander nasionale spanne te staan gekom het nie, maar ook teen plaaslike spanne en rugbyklubs. Sedert die begin van rugby in Suid-Afrika word die Springbokke in groen-en-goud as een van die gedugste nasionale spanne wêreldwyd beskou en die beheerliggaam, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (SARU), word deur Wêreldrugby saam met tien ander as ’n vlak-een-span geag. Die Suid-Afrikaanse nasionale rugbyspan is tans (September 2026) eerste op Wêreldrugby se wêreldranglys en in 2004, 2007, 2009 en 2019 is die Springbokke deur Wêreldrugby as die “span van die jaar” aangewys. 14 voormalige Springbokspelers is in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem.
Beheerliggaam
duimnael|’n Kaart van die Suid-Afrikaanse plaaslike beheerliggame en hul spanne Die beheerliggaam vir rugby in Suid-Afrika is die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (SARU), tot in 2005 Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie (SARVU) genoem. Dit het in 1992 met die saamsmelting van die blanke Suid-Afrikaanse Rugbyraad en die multiëtniese Suid-Afrikaanse Rugbyunie ontstaan. Die Suid-Afrikaanse beheerliggaam het in Julie dieselfde jaar aangesluit by die Konfederasie van Afrikarugby (Engels: Confederation of African Rugby; Frans: Confédération Africaine de Rugby; nou Rugby Afrika, RA) en is sedertdien verreweg die vasteland se belangrikste beheerliggaam. Reeds in 1949 het die Suid-Afrikaanse beheerliggaam ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword. Die SARU bestaan uit 14 plaaslike beheerliggame, wat elkeen sy eie span kies vir die Curriebeker, die oudste en belangrikste Suid-Afrikaanse rugbybeker. Daarnaas is van 1998 tot 2015 die jaarlikse Vodacombeker beslis.
Naas die amptelike nasionale span roep die SARU ook ander keurspanne byeen. Die Junior Bokke is die o/20-nasionale span en hulle neem aan die o/20-Rugbykampioenskap en die Wêreldrugby o/20-kampioenskap deel. Die Blitsbokke is die Suid-Afrikaanse sewesrugbyspan en hulle neem aan internasionale toernooie soos Wêreldrugby se Sewesreeks, Sewesrugbywêreldbeker, die Olimpiese Somerspele en Statebondspele deel. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Die talentvolste spelers op skoolvlak word jaarliks ná die Cravenweek (genoem na Danie Craven) vir die “SA Skolespan” gekeur. Elke Suid-Afrikaanse universiteit beskik oor ’n eie rugbyspan wat aan die Varsitybeker en die Varsityskild deelneem.
Benewens die nasionale kampioenskap word daar ook jaarliks in die internasionale Verenigde Rugbykampioenskaptoernooi meegeding teen spanne van Ierland, Italië, Skotland en Wallis. Suid-Afrika neem met vier konsessies, waaroor SARU toesig hou, deel: Die Bulls uit Pretoria, die Lions uit Johannesburg, die Sharks uit Durban en die Stormers uit Kaapstad. Aangesien die seisoene min oorvleuel word baie spelers in albei professionele ligas gebruik.
Geskiedenis Beginjare duimnael|Landskapstoneel by Stellenbosch in die Wes-Kaap, waar in 1883 die Stellenboschklub gestig is Toe Canon George Ogilvie, wat die bynaam Gog gehad het, in 1861 skoolhoof van Diocesan College in Kaapstad geword het, het hy die vorm van voetbal wat by die Winchesterskool gespeel is ingevoer. Dié weergawe van voetbal, wat hantering ingesluit en “Gog’s Game” genoem is, word beskou as die begin van rugby in Suid-Afrika. Jong mans in Kaapstad het spoedig ook dié spel begin speel en op 23 Augustus 1862 het die Cape Argus verslag gedoen oor die eerste bekende wedstryd in Suid-Afrika tussen 17 leëroffisiere van die Elfde Regiment en 15 staatsamptenare, waaronder die latere eerste minister van die Kaapkolonie, John X. Merriman, by Groenpunt in Kaapstad. Dié wedstryd het met ’n gelykopuitslag van 0–0 geëindig. Die plaaslike pers het in daardie tyd verslag gedoen oor ’n reeks voetbalwedstryde tussen saamgeroepte spanne; “Dorp teen die Woonbuurte” of “Tuis (Brits)-gebore teen Koloniaal-gebore”.
Die Engelse Rugbyvoetbalunie, wat in 1871 gestig is, het die meeste van die spelreëls neergelê. Die nuwe sport is veral deur Britse koloniste en soldate saamgeneem en versprei. Die voormalige internasionale speler en latere administrateur van Masjonaland, William Henry Milton, het in 1878 die gestandaardiseerde spelreëls na Suid-Afrika gebring. Twee rugbyklubs, Hamilton RFC en Villagers RFC, beweer dat hulle die eerste rugbyklubs in Suid-Afrika is. Britse koloniste het gehelp om die spel in die Oos-Kaap, Natal en langs die goud- en diamantroetes na Kimberley en Johannesburg te versprei. Britse troepe sou ook ’n leidende rol in die uitbreiding van die spel oor die hele land speel.
In 1883 is die Stellenboschklub gestig in die boerderydistrik buite Kaapstad. Rugby is entoesiasties deur die jong Boere aangeneem. Die spel was teen daardie tyd sterk genoeg in die Wes-Kaap vir die Westelike Provinsie Rugbyvoetbalunie om gestig te word. Griekwaland-Wes het in 1886 gevolg, Oostelike Provinsie in 1888, en Transvaal in 1889. Die eerste landswye toernooi is in dieselfde jaar in Kimberley gehou met die Westelike Provinsie wat Griekwaland-Wes, die Oostelike Provinsie en Transvaal geklop het. In dieselfde jaar is die Suid-Afrikaanse Rugbyraad gestig, maar slegs “blanke” rugbyklubs is toegelaat om by dié raad aan te sluit. Die rugbyklubs van swart en bruin mense moes hul eie beheerliggame stig en hulle spelers was oor dekades heen van die nasionale span uitgesluit.
Eerste internasionale wedstryde duimnael|links|upright|Donald Currie, skenker van die Curriebeker in beide krieket en rugby duimnael|Engeland teen die Kaapkolonie in 1891, die eerste van die onoorwonne Bill MacLagan se Britse Eilande-toer na Suid-Afrika duimnael|Die Suid-Afrikaanse Springbokspan wat die tweede toets teen die Britse Leeus in 1891 gespeel het In 1891 het, befonds deur Cecil John Rhodes en die Westelike Provinsie, die eerste internasionale toer van ’n Britse keurspan (die huidige Britse en Ierse Leeus) deur Suid-Afrika plaasgevind. Dit was die eerste verteenwoordigende wedstryde deur Suid-Afrikaanse spanne wat nog besig was om die spel aan te leer. Die besoekers het altesaam twintig wedstryde gespeel wat hulle almal gewen het en eers in die laaste wedstryd het die Kaapse span daarin geslaag om ’n punt aan te teken. Die drie wedstryde wat die Leeus teen ’n saamgestelde Suid-Afrikaanse span gespeel het (waarvan die eerste op 30 Julie 1891 in Port Elizabeth) word as toetswedstryde beskou, alhoewel die Unie van Suid-Afrika eers in 1910 gestig is. In ’n noemenswaardige gebeurtenis tydens die toer het die Britse span die Curriebeker (wat deur Donald Currie geskenk is) aan Griekwaland-Wes oorhandig, die span wat tydens dié toer volgens hulle mening die beste gepresteer het. Sedertdien is die Curriebeker die trofee waarom tydens die gelyknamige Suid-Afrikaanse rugbykampioenskap meegeding word.
Vyf jaar later het die Leeus vir ’n toer van 21 wedstryde na Suid-Afrika teruggekeer. In die tussentyd het die Suid-Afrikaanse spel aansienlik verbeter en hulle het een van vier wedstryde gewen, toe hulle op 5 September 1896 met 5–0 gewen het. Die voorspelers het veral beïndruk en die span se eerste sege was ’n teken van wat die toekoms sou inhou. Suid-Afrika se span het vir die eerste keer mirtegroen truie gedra wat die kaptein, Barry Heatlie, by sy Old Diocesian-klub geleen het. Die wendrie is deur die Transvaalse losskakel, Alf Larard, gedruk. Rugby in Suid-Afrika het ’n groot hupstoot gekry deur die besoekende Leeus wat belangstelling in die Suid-Afrikaanse pers uitgelok het. Nie net die Britse koloniste, maar ook die Boere van Nederlandse afkoms het die rugbyspel in hul alledaagse lewe geïntegreer. Dié spel was só gewild, dat tydens die Tweede Vryheidsoorlog op 29 April 1902 ’n kort wapenstilstand gesluit is om ’n wedstryd tussen Britte en Boere te speel. Tydens die oorlog is 27 000 Boere krygsgevange geneem, waarvan 24 000 na oorsese kampe in Britse kolonies soos Sint Helena, Ceylon, Brits-Indië en Bermuda asook na Portugal gestuur is. Die speel van rugby het die Boerekrygsgevangenes ’n verlossing van die swaarkry in die kampe gebied en dit was in dié tydperk wat ’n groot deel van die Boeregevangenes vir die eerste keer met rugby kennis gemaak het. Ná die oorlog sou rugby veral in die platteland onder die invloed van die terugkerende krygsgevangenes onder die Afrikanergemeenskap posvat. Sokker en rugby was die enigste spansporte wat vir die boere toeganklik was en rugby het die voordeel gebied dat dit makliker op rowwe ongelyke grond gespeel kon word.