Hanya Yanagihara (gebore op 20 September 1974) is 'n Amerikaanse romansier, redakteur en reisskrywer. Sy het in Hawaii grootgeword.

Vroeë lewe Sy is 'n vierde-generasie inwoner van Hawaii en is in Los Angeles, Kalifornië gebore. Haar vader, die hematoloog/onkoloog Ronald Yanagihara, is afkomstig van Hawaii en haar moeder is in Seoul gebore. Yanagihara is van gedeeltelike (deur haar vader) Japannese afkoms. Sy het as kind dikwels saam met haar gesin getrek, en in Hawaii, New York, Maryland, Kalifornië, en Texas gewoon. Sy het Punahou High School in Hawaii bygewoon.

Loopbaan Na haar graduasie aan Smith College in 1995 het Yanagihara na New York getrek en vir verskeie jare as uitgewer gewerk. Sy is die senior redakteur van die T: The New York Times Style Magazine. Sy het gesê dat mense in die uitgewersbedryf verfomfaai was deur haar besluit om 'n pos by T te neem na die publikasie van haar literêre topverkoper, A Little Life. Sy beskryf die uitgewerswêreld as "'n provinsiale gemeenskap, min of meer nes die modebedryf, snobisties van aard". Sy het voorheen geskryf vir, en was 'n redakteur van, Condé Nast Traveler, voordat sy in 2015 die besigheid verlaat het ten einde adjunkredakteur by T te word.

Haar eerste roman, The People in the Trees, wat gebaseer is op die werklike lewe van die viroloog Daniel Carleton Gajdusek, is as een van die beste romans van 2013 geprys.

Yanagihara se volgende boek, A Little Life, is in Maart 2015 gepubliseer en het hoofsaaklik gunstige resensies ontvang. Die boek was op die kortlys vir die 2015 Man Booker-prys vir fiksie en het die 2015 Kirkus-prys vir fiksie gewen. Yanagihara is ook as finalis vir die 2015 National Book Award vir fiksie gekies. A Little Life het alle verwagtinge van die werk se redakteur (wat ook Yanagihara se agent is) oortref, asook Yanagihara se voorspelling dat dit nie goed sou verkoop nie. Bykomend tot die kritiese lof wat die werk ontvang het, word dit hoog aangeskryf deur lesers en het dit met ingang Mei 2018 grotendeels positiewe resensies op GoodReads ontvang, met 'n gemiddelde beoordeling van 4.28 uit vyf.'n Noemenswaardige uitsondering hierop was die resensie van Daniel Mendelsohn vir The New York Review of Books, wat skerp kritiek gelewer het op die boek se tegniese uitvoering en die voorkoms van geweld, wat Mendelsohn eties en esteties ongegrond gevind het. Mendelsohn se resensie het 'n repliek van Gerald Howard, die redakteur van die boek, ontlok. Mendelsohn het hierop geantwoord deur te argumenteer dat Howard "so 'n streng redaksionele oorsig oor sy outeur moes toepas soos wat hy toepas het op haar resensente."

Yanigahara het gesê dat haar vader haar as kind bekendgestel het aan die werk van Philip Roth en aan "Britse skrywers van 'n sekere ouderdom," soos Anita Brookner, Iris Murdoch, en Barbara Pym. Sy het gesê dat "die hedendaagse skrywers wat sy die meeste bewonder Hilary Mantel, Kazuo Ishiguro, en John Banville is."

Werke en publikasies The People in the Trees, 2013 A Little Life, 2015

Verwysings

Eksterne skakels

Interview on Meet The Writers with Georgina Godwin by Soundcloud

Notas

Kategorie:Lewende mense Kategorie:Geboortes in 1974 Kategorie:Amerikaanse skrywers