Shaula (ook bekend as Lambda Scorpii of λ Sco) is, ondanks sy Bayer-aanwysing as lambda, die tweede helderste ster in die sterrebeeld Skerpioen (Scorpius) en een van die helderste sterre in die naglug.
Name Die ster se Bayer-naam is "Lambda Scorpii". Dit het die tradisionele naam "Shaula", wat van die Arabiese الشولاء al-šawlā´, "die opgeligte stert", kom omdat dit in die Skerpioen se stert voorkom. In 2016 het die Internasionale Astronomiese Unie se sternaamwerkgroep (WGSN) die naam "Shaula" vir λ Scorpii Aa goedgekeur omdat hulle name aan individuele sterre toegeken het in plaas van aan stergroepe.
Saam met υ Scorpii (Lesath), was Shaula in die Babiloniese sterrekunde bekend as dSharur4 u dShargaz, wat beteken "Sharur en Shargaz".
Eienskappe Lambda Scorpii is sowat 570 ligjare van die Son af geleë. Spektroskopiese en interferometriese waarnemings het getoon dit is eintlik drie sterre wat bestaan uit twee B-tipe sterre en ’n voorhoofreeksster. Die primêre ster is ’n Beta Cephei-veranderlike met vinnige helderheidswisselings van sowat ’n honderdste van ’n magnitude.
Die voorhoofreeksster het ’n wentelperiode van ses dae en die B-metgesel ’n periode van 1 053 dae. Die drie sterre lê op dieselfde wentelvlak, wat ’n sterk aanduiding is dat hulle op dieselfde tyd gevorm het. Die massa van die primêre ster, voorhoofreeksster en B-metgesel is onderskeidelik 14,5, 2 en 10,6 sonmassas. Die stelsel is sowat 10 miljoen tot 13 miljoen jaar oud.
’n Ster van die 15de magnitude is 42 boogsekondes van die Lambda Scorpii-stelsel af en ’n ster van die 12de magnitude 95 boogsekondes. Dit is onseker of dié twee sterre fisiek met die stelsel verbind is.
Kultuuraspek Shaula verskyn op die vlag van Brasilië en verteenwoordig die staat Rio Grande do Norte.
Verwysings
Eksterne skakels 15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia
Kategorie:Bayer-voorwerpe Kategorie:Flamsteed-voorwerpe Kategorie:Henry Draper-voorwerpe Kategorie:Sterre met eiename Kategorie:Veelvoudige sterre Kategorie:B-tipe subreuse Kategorie:Veranderlike sterre Kategorie:Skerpioen (sterrebeeld)