duimnael|263x263px|Fresko in 'n kunsmuseum

Die Renaissance was een van die grootste bloeitydperke in die kunsgeskiedenis. Sedert die 15e eeu is daar gestreef na die groot hoogtes wat die kuns in die klassieke Oudheid bereik het. Met die ideaal in gedagte het daar in Italië 'n nuwe stylontwikkel, wat later sy invloed oor die hele Wes-Europa laat geld het.

Die bloeityd wat die kuns in die tyd beleef het, het ten nouste saamgehang met die bloeityd van die wetenskap. Na die Middeleeue, waarin die name van kunstenaars dikwels onbekend was en hulle die status van ambagsmanne gehad het, het die individu nou op die voorgrond getree en was kunstenaars baie bewus van hulle skeppende vermoëns.

Algemeen Die term Renaissance is afkomstig van die Italiaanse woord rinascita ("wedergeboorte, herlewing"), wat al in die 15e eeu gebruik is om die herlewing van die kennis oor die klassieke Oudheid mee te benoem. In die Renaissance is die klassieke Oudheid beskou as 'n tydperk waarin die mens die hoogtepunt van sy skeppende vermoëns bereik het.

Dit het skielik tot 'n einde gekom toe die Romeinse Ryk van wee die invalle van die barbare in duie gestort het. Die mense van die 15e en 16e eeu het gemeen dat daar in die Middeleeue min op kulturele gebied bereik is en dat die kunste en wetenskappe wat glans aan die Oudheid verleen het, in hulle tyd herleef het. In die breë het dit nie gegaan oor die slaafse navolging van die Oudheid nie; die Oudheid het veel eerder as 'n bron van inspirasie gedien en so het skeppings ontstaan wat heeltemal nuut was.

Die Renaissance het in omstreeks 1400 in Florence ontstaan, hoewel daar vroeër al aanduidings van ʼn vernuwing was. Die feit dat ʼn uitvloeisel van die kuns uit die Oudheid juis in Florence ontwikkel het, kan deels toegeskryf word aan die politieke toestand wat  destyds geheers het. Weens die bedreiging van 'n inval uit Milaan het daar ʼn patriotiese stemming geheers wat tot uiting gekom het in onder meer geskrifte soos die Tot lof van die stad Florence (1402-03) deur die humanis Leonardo Bruni (ca. 1369 -1444), waarin Florence geloof word as die ware verdediger van die demokrasie en die erfgenaam van Athene en Rome. duimnael|327x327px|Laaste avondmaal deur Giacomo Raffaelli Vir die verfraaiing van die stad, die "nuwe Athene", is daar ook na aansluiting by die kuns van die Oudheid gesoek. Van Florence het die styl van die Renaissance na die res van Italië versprei en later ook na ander Europese lande.

Die kunstenaars het van die begin af 'n essensiële deel van die nuwe Renaissance-gees uitgemaak. Hulle is nie meer soos in die Middeleeue as handwerklui beskou nie, maar as selfstandig skeppende intellektuele wat op dieselfde vlak as die geleerdes gestaan het. Hulle het hulle inderdaad meestal ook met die bestudering van die wetenskap, naamlik die wetenskap van die perspektief, besig gehou. Daar is gestreef na die uomo universale, die veelsydige genie, waarvan Leonardo da Vinci (1452-1519) die sprekendste voorbeeld was.

Die Renaissance-literatuur is enersyds gekenmerk deur die terug- keer na klassieke genres soos die ode, die epos en herdersliteratuur en die dramas van veral Terentius, Plautus en Seneca, en andersyds deur die propagering van die gebruik van die volkstaal as literêre taal in plaas van Latyn. Laasgenoemde aspek was 'n uiting van die nasionale bewussyn. Petrarca het 'n belangrike nie-klassieke genre, die sonnet, tot bloei gebring. 

Wat die chronologie van die Renaissance betref, is daar ook dikwels van Italiaanse tydsaanduidings gebruik gemaak, byvoorbeeld die quattrocento in die 15e eeu en die cinquecento in die 16e eeu.

Boukuns Die ontstaan van die Renaissanceboukuns is aan een man, Brunelleschi (1377-1446), te danke. Hy het tussen 1417 en 1419 ʼn koepel vir die dam van Florence ontwerp. Vir die ontwerp van die koepel is daar 'n wedstryd uitgeskryf waarin Lorenzo Ghiberti (1378 - 1455) Brunelleschi se belangrikste mededinger was.

Brunelleschi se koepel was nie massief en dus swaar nie, maar het uit 2 vlakke bestaan wat onderling op so 'n manier verbind was dat hulle mekaar wedersyds gesteun het. Die konstruksie het 'n baie ligter koepel moontlik gemaak; die swaar steunkonstruksie van hout wat voorheen noodsaaklik was, was toe nie meer nodig nie. Die taamlike spitsvorm van die koepel (waaraan daar van 1421 - 1436 gebou is) het egter nog taamlik baie aan die Gotiese boustyl herinner.

Brunelleschi se Ospedale degti Innocenti (Florence; 1421 - 1445) was die eerste gebou wat volledig in die Renaissancestyl gebou was. Die elemente aan die fasade van die weeshuis is op sigself klassiek, maar kom nie in 'n soortgelyke kombinasie in die Oudheid voor nie. Brunelleschi het sy inspirasie gekry uit die 11e eeuse geboue in Florence, soos die S. Miniato en die Baptisterium, menende dat die geboue uit die Romeinse Oudheid dateer.

Die soort 11e eeuse geboue word proto-Renaissancegeboue genoem omdat hulle die voorlopers van die Renaissancestyl was. In die Ospedale degti Innocenti het Brunelleschi van die ronde boog wat deur suile gedra word, gebruik gemaak. Dit sou een van die belangrikste motiewe van die Renaissanceboukuns word. In 2 kerke, naamlik die S. Lorenzo (Florence; 1421-1469) en die S. Spirito (in Florence en in 1434 begin). het hy 'n tradisionele plattegrond (in die vorm van 'n vroeg-Christelike basiliek) met klassieke details, soos suile, pilasters, kapitele en so meer, gekombineer.

Die klem op reëlmaat en simmetrie was egter heeltemal nuut. Die maatverhoudings van die belangrikste onderdele kan in eenvoudige getalle uitgedruk word. Die skip is byvoorbeeld 2 keer so hoog as wat dit breed is. In teenstelling met die "vae", vloeiende ruimtewerking in ʼn Gotiese kerk, het die maatverhoudings 'n duidelik omskrewe ruimtekonsep aan die kerke verleen. Brunelleschi se S. Maria degli Angeli (Florence; ca. 1435 begin) was die eerste koepelkerk met ʼn sentrale plan wat in die Renaissance opgerig is.

Brunelleschi het die inspirasie daarvoor gekry in die ronde en veelhoekige geboue van die Romeinse en vroeg-Christelike tye. Die koepel het op 8 swaar pylers, wat uiteindelik die 8 kapelle gevorm het, gerus. Die besonder gevorderde ontwerp is eers teen die einde van die eeu nagevolg. De Medici het die opdrag vir ʼn nuwe paleis egter nie aan Brunelleschi gegee nie, maar aan 'n jonger argitek, Michelozzo di Bartolommeo (1396 -1472). In 1444 is daar met die bouwerk aan die Palazzo Medici-Riccardi, wat die prototipe vir latere paleise sou word, begin.

Die swaar, fortagtige gebou het uit 3 verdiepings bestaan, wat elkeen afsonderlik 'n stilistiese geheel uitmaak en saam 'n reeks vorm. Die onderste verdieping is blykbaar opgebou uit onbewerkbare steen die rustica (rustiek), wat besonder gewild was in die Renaissance. Die middelste verdieping het duidelik beklemtoonde lasplekke gehad, terwyl die boonste verdieping glad gelaat is. Leon Battista Alberti (1404 -1472) was die derde belangrike argitek uit die Vroeë Renaissance.

Hy het die Palazzo Rucellai (1446 -1451) in Florence ontwerp. Dit was strenger klassiek as die Palazzo Medici-Riccardi, maar is volgens dieselfde skema opgerig. Die tipiese Renaissance-probleem waardeur ʼn klassieke artikulasiestelsel op 'n nie-klassieke gebou oorgedra kan word, het hy hier opgelos deur al die aandag op die muur te vestig en die klassieke tooisel tot 'n spel van lyne te beperk. In die gewels van albei sy kerke in Mantua, die S. Sebastiano (ca. 1460) en die S. Andrea (ca. 1470), het hy ʼn klassieke tempelfront met 'n triomfboog gekombineer, 'n oplossing waaraan hy nog nie in die sogenaamde Tempio Malatestiano gedink het nie. In sy teoretiese geskrifte het hy die belangrikheid van sentrumbouwerk, dit wil sê bouwerk waarin geen lengterigting oorheers nie en dus rond is of die vorm van ʼn Griekse kruis het, beklemtoon.

In die Hoog-Renaissance is die tipe later die meeste gebruik. 'n Vroeë voorbeeld van so 'n sentrumgebou is die S. Maria delle Carceri (Prato; 1485), wat deur Giuliano da Sangallo (ca. 1443-1516) ontwerp is. Die Hoog-Renaissance, waartydens Rome en Milaan die leierskap op kunsgebied by Florence oorgeneem het, word, afgesien van sentrumbouwerk, ook deur 'n sterk modellering van die muur gekenmerk. Die aspek dateer uit die laat keisertyd.

Albei die eienskappe was aanwesig in die eerste ontwerp vir die St. Pieterskerk (1506; Rome) van Donato Bramante (1444 - 1514). 'n Ander ontwerp van die kunstenaar is die ronde Tempietto by die S. Pietro in Montorio (1502; Rome). Leonardo da Vinci het ook baie in boukundige probleme belang gestel en het talle ontwerpe gemaak. In die tyd tussen 1490 en 1500 het hy en Bramante nou saamgewerk. Die bekendste argitek van die 16e eeu is ongetwyfeld Andrea Palladio (1508-1580).

Hy is hoofsaaklik bekend vanweë die talle villas met klassieke tempelfronte wat hy in die omgewing van Vicenza en Venesië gebou het. Michelangelo (1475 - 1564) het in sy boukundige bedrywighede meer in die rigting van die manierisme beweeg, soos veral duidelik blyk uit die hal van die Biblioteca Midiceo-Laurenziana (1524; Florence). Met sy ontwerp van die koepel van die St. Pieterskerk in Rome (1546 -1564; in 1590 deur Giacomo della Porto, ca. 1537-1602, voltooi) het hy die Barok vooruitgeloop.

Beeldhoukuns Ook die beeldhouers van die Renaissance het hulle beskou as die mense wat weer rigting gegee het aan die klassieke kuns na die Middeleeue. Veral wat vorm betref, was hierdie terugkeer na die Antieke van groot belang; so is die kennis oor die contrapposto wat in die Middeleeue verlore gegaan het, herwin (die contrapposto is die ewewig tussen die teenoorgestelde bewegingsrigtings van verskillende onderdele van die menslike liggaam, byvoorbeeld heupe, skouers en kop).

Die belangstelling in die wetenskap het sy neerslag gevind in die toepassing van die sentrale en ruimtelike perspektief van die reliëfkuns. Wat die onderwerp betref, was die belangstelling in die klassieke kuns minder deurslaggewend: die Kerk het een van die belangrikste opdraggewers vir groot beelde van Christelike heiliges en reliëfs op kansels en altare gebly. In die wêreldse kuns het bepaalde genres wat tydens die Middeleeue op die agtergrond geraak het, weer algemeen in gebruik geraak.

Voorbeelde hiervan is lewensgrootte bronsstandbeelde van ruiters, borsbeelde en klein bronsbeeldjies. Die bronsbeeldjies het gewoonlik mitologiese tonele voorgestel en was by uitstek geskik vir binnenshuise versiering. Die jaar 1401 kan as die begin van die Renaissancebeeldhoukuns beskou word, en wel omdat daar toe 'n wedstryd gehou is ten einde te bepaal watter beeldhouer die opdrag sou kry vir 'n stel bronsdeure vir die battistero (doopkapel) in Florence.

Die kunstenaars wat aan die wedstryd deelgeneem het, moes elk 'n reliëf voorlê wat Abraham se offer voorgestel het. Die ontwerp van die wenner, Lorenzo Ghiberti (1378 -1455), het hoofsaaklik by die styl van die internasionale Gotiek aangesluit, hoewel die naakte figuur van die knielende Isak duidelik die invloed van die klassieke beeldhoukuns getoon het. Ghiberti het ook baie aandag gegee aan die plasing van sy figure in die ruimte. Brunelleschi se werkstuk het naas die van Ghiberti die hoogste lof ingeoes en het ook bewaar gebly.

Die komposisie is heelwat minder harmonieus, maar die uitbeelding is meer natuurgetrou en vind dus nouer aansluiting by die kuns van die klassieke Oudheid. In die 2e stel deure van die baptisterium wat deur Ghiberti gemaak is en waaraan Michelangelo die erenaam "Paradysdeure" (1425 - 1452) gegee het, is daar ʼn vermenging van elegante, Gotiese figure en die sentrale perspektief. Ghiberti was egter toe al lank nie meer 'n pionier nie. Die invloed van die klassieke beeldhoukuns kom veel sterker tot uiting in die marmerbeeldegroep van 4 heiliges (quattro coronati; ca. 1410- 1414), wat Nanni d'Antonio di Banco (ca. 1384-1421) vir een van die nisse aan die buitekant van die Or San Michele (Florence) gemaak het.