duimnael|Zea mays Strawberry duimnael|Straatverkoper van gebraaide mielies
Mielies is 'n graangewas wat oorspronklik in Meso-Amerika verbou is, en daarna oor die Amerikaanse kontinente en ook die res van die wêreld versprei het. Mielies is Suid-Afrika se vernaamste landbouproduk en, soos in die meeste ander Afrikalande, ook die land se stapelvoedsel.
Na rys en koring is dit die belangrikste graansoort ter wêreld, en Suid-Afrika is een van die tien grootste mielieproduserende lande. Sowat 40 % van Afrika se mielies word hier verbou en die oeste verskaf voedsel op groot skaal aan miljoene mense op die vasteland - onder meer deur middel van die Verenigde Nasies se voedselhulpprogram.
Mielies is waarskynlik reeds deur antieke Egiptiese beskawings verbou en is eers teen die 1860s vir handelsdoeleindes in Suid-Afrika aangeplant.
Ongeveer een derde van die land se boere kweek die gewas op 'n totale oppervlakte van sowat 4,5 miljoen hektaar. Die gebied bestaan hoofsaaklik uit die sogenaamde mieliedriehoek, wat die Noord- en Oos-Vrystaat en Gauteng insluit. Aangesien mielies die vernaamste bestanddeel van vee- en pluimveevoere is, is die kostestruktuur daarvan nou verweef met dié van ander landbousektore, byvoorbeeld die suiwel- en braaikuikenbedrywe.
Mielies is 'n somergewas en word gedurende Desember en Januarie as groenmielies en in Mei of daarna as graan geoes.
Gebruike Mielies word vandag vir verskeie doeleindes geplant. In die VSA en Kanada word mielies hoofsaaklik vir veevoer gebruik. Benewens gebruik as graan- en ontbytkosse, word dit ook tot industriële produkte soos papier, gom, tekstielware, metanol en etanol verwerk. Die proses om laasgenoemde 2 neweprodukte as brandstof te gebruik, is reeds in lande soos Brasilië van stapel gestuur. Wanneer reg behandel kan tot stroop uit 'n mielie getap word, selfs graanwhiskey word van die veelsydige plant gemaak.
Etanol verkry uit mielies word gebruik om die konsentrasie alkohol te verhoog (10% of meer) wat in brandstowwe gebruik word. Die oktaanvlak daal in dié geval en verlaag dan ook besoedeling. Mieliepap is die stapelvoedsel vir baie lande soos Italië, Meksiko, die VSA en Suid-Amerika. Dit word adza, nshime, ugla en mieliepap in Afrika genoem.
Oorsprong Mielies is oorspronklik in Meso-Amerika aangeplant, waarna dit deur die res van Amerika versprei. In die laat 15de en vroeë 16de eeu is mielies verder oor die wêreld versprei, nadat Europa kontak gemaak het met die Amerikas. Die Afrikaanse benaming vir die graan is afkomstig van die Middelnederlandse woord "milie", wat as "Turkse koring" omskryf is.
Die Nederlandse vorm is weer afkomstig van die Portugese "milho", indirek verwant aan die Latynse "mille" ("duisende"), wat verwys na die groot aantal saadkorreltjies wat in die aar voorkom. Mielies was een van die eerste aangeplante genetiesgemodifiseerde plantsoorte.
Daar is baie natuurlike vyande vir 'n mielieplant, bv. voëls, rotte en insekte.
Produksie en beheer Mielies is Suid-Afrika se vernaamste landbouproduk en ook die land se stapelvoedsel. Ongeveer een derde van die boere verbou mielies (25 000 vir winsdoeleindes) op 'n totale oppervlakte van sowat 4,5 miljoen ha, wat sowat die helfte van die land se totale bewerkte landbougrond is.
In 1981 is 'n opbrengs van 14,5 miljoen ton gelewer, maar die knellende droogte van die daaropvolgende jaar het 'n opbrengs van slegs 8,5 miljoen ton tot gevolg gehad. Produksie in Suid-Afrika is dus besonder afhanklik van die weersomstandighede.
Vanweë onder meer die faktor, is die gemiddelde opbrengs per ha in Suid-Afrika (2 ton per ha maar sowat een derde van die van die VSA se 6 ton per ha), wat die grootste mielieproduserende land ter wêreld is (die helfte van die wêreld se mielies word daar geproduseer). Mielies word byna oral in Suid-Afrika geproduseer, maar die hoofgebied val in die sogenaamde mieliedriehoek, wat die Hoëveldstreek van Gauteng asook die Noord- en Oos-Vrystaat insluit.
Die mieliegebied was voorheen deur die Mielieraad in 3 gebiede ingedeel, naamlik gebied A, gebied B en die vrygestelde gebied. Eersgenoemde sluit die hele Gauteng en die Vrystaat asook 'n aantal distrikte in die Kaapprovinsie en Natal in. Gebied B omsluit slegs distrikte in Natal en die Kaapprovinsie, terwyl die vrygestelde gebied uit 'n klein area van hoofsaaklik selfvoorsienende boerderye bestaan.
Gebied A se totale produksie word deur die Mielieraad gekoop teen pryse wat in oorleg met die Staat vasgestel word. Die mielies word ook deur die raad geberg en bemark, terwyl gebied B se opbrengs aan geregistreerde handelaars verkoop word. Die opbrengste van gebied C (die vrygestelde gebied) kan na willekeur deur die produsente bemark word. Die Mielieraad is in 1935 gestig en beheer benewens binne- en buitelandse bemarking ook die mieliepryse.
Dit pas ook gehalte- en graderingstandaarde toe, sorg vir doeltreffende opberging en ontwikkel die bedryf oor die algemeen. Navorsing word deur die Mielieraad, maar veral ook deur deskundiges by die somergraansentrum op Potchefstroom gedoen.
Produkte en neweprodukte Mielies is een van die goedkoopste voedselbronne ter wêreld en kan tot 'n groot verskeidenheid produkte en neweprodukte verwerk word. Benewens groenmielies, mielierys, stampmielies en mieliemeel, wat as voedsel vir miljoene mense dien, word dit in neweprodukte soos papier, gom, tekstielware, alkohol, etanol en metanol gebruik.
Die moontlikheid om etanol en metanol as brandstof te gebruik, is in die laaste tyd ondersoek en het groot reaksie uitgelok vanweë die implikasie wat die toepassing daarvan op die Suid-Afrikaanse ekonomie kan hê. Ander neweprodukte is glukose, stysel, dekstrien, dekstrose, koeldrank, kitskoffie, tandepasta, bier, lekkers, vuurhoutjies, verf en whisky. Mielies is 'n produk met 'n hoë koolhidraatinhoud wat energie verskaf, asook proteïene, minerale en vitamiene.
Sowel wit as geel mielies word verbou en laasgenoemde word hoofsaaklik as gemengde vee- en pluimveevoer gebruik. Sowat 3 miljoen ton mielies word jaarliks vermeng, en proteïene vir die produksie van onder meer vleis, kaas, melk en eiers word so voorsien. Omdat mielies die vernaamste bestanddeel van veevoer is, is die prysstruktuur van die gewas uiters nou verweef met die van ander voedselprodukte.
Wanneer die mielieprys styg, styg die prys van onder meer rooivleis, eiers en suiwelprodukte gewoonlik ook. Plaaslik word mielies onder meer as krummelpap, stywepap en slappap voorgesit, terwyl die tradisionele Meksikaanse "tortilla" ook daarvan gemaak word. Mielies aan die stronk is in Meksiko, maar veral ook in die VSA, 'n baie gewilde gereg.
Uitvoer Mielies is een van Suid-Afrika se vernaamste uitvoerprodukte (surplusse beloop soms tot meer as 80 % van die totale produksie) en goud is dikwels die enigste produk wat die "goue oes" in verdienste aan buitelandse valuta oortref. Die gehalte van Suid-Afrikaanse mielies word oor die algemeen as die beste ter wêreld beskou.
Belangrike kopers is China, Japan, Brittanje asook vele Afrikalande. Die moontlikheid word tans ondersoek om uitvoere te verhoog deur meer hawens vir die doel te ontwikkel.
Die hawens van Oos-Londen en Durban hanteer onderskeidelik twee derdes en een derde van die mielie-uitvoere. In 1982 het mielies R650 miljoen aan buitelandse valuta vir Suid-Afrika verdien, 'n syfer wat baie hoër kon gewees het indien die hele surplus uitgevoer is. Ruilhandel met ander lande, waarvolgens Suid-Afrikaanse mielies vir kunsmis geruil word, het ook al plaasgevind.
Geskiedenis Die woord mielies is afgelei van die Portugese woord milho, wat "graan" beteken. Die Swart stamme aan die ooskus van Suid-Afrika het mielies by die Portugese gekry en dit mlungu of mbila genoem. Antieke Egiptiese graftekeninge van graan oeste (1450 v.C.) dui daarop dat mielies waarskynlik reeds in die vroeë tyd as voedsel verbou is, en die Mochica-Indiane van Peru het selfs 3 mieliegode aanbid.
In 1492 is mielies deur Columbus van Sentraal-Amerika af na Spanje gebring en daarvandaan is dit na ander dele van die wêreld versprei. Die Portugese ontdekkingsreisigers het die gewas na Oos-Afrika gebring, maar daar kan nie met sekerheid vasgestel word wanneer die eerste mielies in Suid-Afrika geplant is nie. Jan van Riebeeck het wel in 1655 mieliesaad uit Nederland ontvang en die Vryburgers het in 1658 mieliesaad uit Nieu-Guinee aan die Kaap geplant.
Die sade het destyds as "Turchse tarwe" bekend gestaan. Mielies is eers teen ongeveer die middel van die vorige eeu vir handelsdoeleindes begin verbou toe dit sorghum as stapelvoedsel van die Swartes in Oos-Kaap begin vervang het. Sorghum word steeds gebruik vir die vervaardiging van mout en meet vir die bereiding van magou, en dit word ook in veevoer gebruik. Die Groot Trek (1836-1838) het ʼn belangrike rol gespeel in die verspreiding van mielies na die binneland en in die sewentiger- en negentigerjare van die vorige eeu het die groot sametrekking van mynwerkers op die diamantmyne van Kimberley en die Witwatersrandse goudmyne 'n groot vraag na mielies tot gevolg gehad.
Sodoende is die verbouing daarvan in veral die Vrystaat en Gauteng aangemoedig. Aan die begin van die vorige eeu was die jaarlikse opbrengs ongeveer 3 miljoen sak en sedert 1960 het die produksie met 5 % per jaar toegeneem.
Verbouing Mielieboerdery is 'n dinamiese sektor van die landbou wat voortdurend verander ten opsigte van verbouingsaspekte. Dit is 'n minder ingewikkelde bedryf vergeleke met ander gewasse, onder meer omdat dit in die reël nie met besproeiing gepaard gaan nie. Mielies is 'n somergewas wat 'n reënneerslag van 500 mm tot 900 mm benodig en wat van November tot Maart nie aan ryp blootgestel moet word nie.
Die saad word direk na die eerste somerreëns, gewoonlik in Oktober, geplant en die mielies word 5 tot 6 maande later geoes. Voorheen was slegs 'n klein hoeveelheid mielies in Suid-Afrika onder besproeiing verbou, maar sedert die oprigting van spilpuntbesproeiing langs riviere met voldoende water is dit 'n gewilde en suksesvolle verbouingsmetode. Wanneer mielies wel besproei word, word dit baie digter geplant en kry dit meer water en kunsmis as droëlandmielies. 'n Groter plantdigtheid word ook toegepas wanneer die gewas uitsluitend vir kuilvoer gekweek word.
Grondbewerking Hoewel daar streekverskille bestaan ten opsigte van grondvoorbereiding, is dit noodsaaklik om die grond vroegtydig te bewerk ten einde insekteplae te beheer, vog te bewaar, oesreste in die grond in te meng en onkruid aan te moedig om vroeg, voor die mielies opkom, te ontkiem. Gewoonlik word die land in die winter – na die vorige oes – diep geploeg, waarna dit weer verskeie kere bewerk word, gewoonlik na reëns en net voor planttyd.
Die stoppelland van die winteroes kan ook deur vee bewei word. In gebiede met swaar grond, waar ploegsole gevorm word, moet die landerye soms met diepbewerking voorberei word, terwyl streke met ligter grond, byvoorbeeld dele van die Vrystaat en Gauteng wat aan winderosie blootgestel is, meestal met skottelimplemente bewerk word.
In laasgenoemde geval word 'n deklaag, die sogenaamde stoppelkombers, verkry, wat die grond teen reën en wind beskerm, die grondvog bewaar en die grond koel hou. 'n Goeie saadbedding moet ook die regte hoeveelheid kalk bevat en dit word gedurende die wintermaande of voor planttyd ingeploeg indien die suurgehalte van die grond te hoog is.
Bemesting 'n Kwart of meer van die boer se lopende produksiekoste word dikwels aan bemesting bestee; derhalwe is dit noodsaaklik dat die grond behoorlik ontleed en die potensiaal bepaal word. Baie boere maak gebruik van landbouorganisasies se grondontledingsdienste om bemestingsbehoeftes te bepaal. Stikstof, fosfaat, kalsium en potas is die belangrikste elemente vir mielies en sink is 'n noodsaaklike spoorelement. Wanneer daar te min stikstof aanwesig is, kry die blare 'n gebrekkige kleur en gaan die onderstes soms dood.