Hierdie artikel handel oor die Suid-Afrikaanse vakbond. Vir die Poolse vakbond, sien Solidarność.

Solidariteit is 'n vakbond wat namens sy lede in die werkplek onderhandel en hom beywer om werkers se regte te beskerm. Hoewel die vakbond dikwels by sake van politieke belang betrokke is, verbind Solidariteit hom tot geen politieke party nie. Solidariteit bied tans 'n diens aan nagenoeg 190 000 lede in alle beroepsvelde, kollektief en professioneel. Die vakbond het meer as 16 dienskantore landwyd en lede word deur meer as 300 personeellede en 800 vakbondverteenwoordigers in duisende maatskappye bedien."Solidarity’s growth spurt reflects hard economic times", Daily Maverick, 5 Augustus 2019. Besoek op 28 November 2019.

Solidariteit is gevestig in die Christelike tradisie van vakbondwese en glo daarom dat hy sy lede tot selfstandigheid moet lei sodat hulle hul roeping kan nastreef. Solidariteit se optrede word deur sy Christelike waardestelsel bepaal. Omdat Solidariteit 'n vakbond in die Christelike tradisie van vakbondwese is, is dit dus anders as die meerderheid van die ander Suid-Afrikaanse vakbonde wat 'n sosialistiese inslag het. Solidariteit fokus nie slegs op die beskerming van lede in die werkplek nie, maar het 'n netwerk van werk ontwikkel wat poog om sy lede op hul loopbaanpad te beskerm, te bemagtig en te ondersteun.

Geskiedenis Solidariteit het op 22 Junie 1902 ontstaan toe die Transvaal Miners’ Association gestig is. Solidariteit het 110 jaar se ervaring in die Suid-Afrikaanse arbeidsmark.

Die vakbond het in sy 110-jarige bestaan vier groot veranderings ondergaan. In 1913 is die Transvaal Miners’ Association se naam na die Mynwerkersunie verander. In 2001 is die MWU na MWU-Solidariteit verander en sedert 2002 staan die vakbond net as Solidariteit bekend.

In 1997, toe Solidariteit se huidige uitvoerende hoof, Flip Buys, aangestel is, was die vakbond in groot finansiële moeilikheid en het dit ook geen vars idees meer oorgehad nie. Die verregse ideologieë wat die vakbond tot op daardie datum aangehang het, het geen relevansie in die moderne Suid-Afrika gehad nie. Tekenend hiervan was die feit dat die vakbond op daardie stadium slegs sowat 30 000 lede oorgehad het.

Sedert die ommekeer onder Flip Buys het die ledetal tot meer as 180 000 gegroei. Die vakbond het meer as twintig kantore landswyd en sowat 300 personeellede bedien die lede. Die vakbond het ook sowat 2 000 verteenwoordigers by verskillende maatskappye.

Solidariteit het in 2006 by die Konfederasie van Suid-Afrikaanse Werkersunies (CONSAWU) geaffilieer. Hierdeur is Solidariteit ook betrokke by die Internasionale Vakbondkonfederasie (ITUC). Hierdie betrokkenheid stel die vakbond in staat om insae te hê in meer plaaslike en internasionale arbeidskwessies.

Kern-vakbondbedrywighede Solidariteit is in die openbare sektor, chemiese-, professionele dienste-, elektriese-, tersiêre-, metaal- en ingenieurswese-, mynbou- en landboubedrywe georganiseerd. Solidariteit se regsafdeling met 34 personeellede is die grootste van enige vakbond in Suid-Afrika. Die vakbond verteenwoordig alle lede by KVBA-sake, asook by sake in die arbeidshof. Solidariteit groepeer ook lede volgens hulle beroep deur verskeie beroepsgildes. Lidmaatskap aan die beroepsgildes word by die Solidariteit-lidmaatskap ingesluit.

Mynbou-, landbou - en sementbedryf Solidariteit se wortels lê in die mynbedryf, waar die Mynwerkersunie in 1913 gestig is. Solidariteit-mynbou is aktief georganiseer in die goud-, platinum-, koper-, chroom-, steenkool-, ystererts-, basismetale- en die diamantbedryf. Solidariteit-landbou is by al die groot koöperasies en agri-besighede en ook by al die groot sementvervaardigers in die land georganiseer.

Elektriese sektor Solidariteit verteenwoordig ’n groot aantal lede in die elektriese bedryf, veral by Eskom.

Chemiese sektor Werknemers in Solidariteit se Chemiese Sektor word by maatskappye soos SASOL, PetroSA en AEL asook glasvervaardigers verteenwoordig.

Metaal - en ingenieursbedryf Die metaal- en ingenieursbedryf is die bedryf met die meeste lede in Solidariteit. Die vakbond is goed georganiseerd by maatskappye soos ArcelorMittal, Denel en Highveld Steel.

Tersiêre sektor Lede in Onderwys en die Universiteitwese word in hierdie bedryf beskerm.

Professionele bedryf Solidariteit se Professionele Bedryf verteenwoordig lede by ’n wye reeks instellings, insluitend landbounavorsingsinstitute, universiteite en kolleges. Solidariteit het in 2010 ook die finansiële bedryf betree. Werknemers by alle finansiële instellings het nou toegang tot die vakbond se beskerming. Die Professionele Bedryf bring nuwe geleenthede vir werknemers by onder meer banke en versekeringsmaatskappye, aangesien eksklusiewe steun aan dié werknemers gebied kan word.

Medies Die vakbond het ook ’n geweldige behoefte in die mediese sektor geïdentifiseer en het gevolglik sy dienste in 2009 uitgebrei om werknemers in hierdie sektor te kan beskerm en verteenwoordig. Solidariteit verteenwoordig vandag reeds meer as 5 200 lede in dié sektor.

Denel, Krygkor, Lugvaart en verdediging In die Lugvaartsektor verteenwoordig Solidariteit hoofsaaklik lede by Airlink, Mango, Air Traffic and Navigation Services en SAA Tegnies. Daarbenewens verteenwoordig die vakbond ook lede by Denel en Krygkor.

Kommunikasie Solidariteit se Kommunikasiesektor bied eksklusiewe steun aan lede wat in die inligting- en kommunikasietegnologiebedryf werksaam is.

Openbare Sektor Solidariteit beveg jaarliks talle sake in die openbare sektor (SAPD en DKD) namens lede.

Die Solidariteit Beroepsgildes Solidariteit Beroepsgildes is ’n platform wat fokus op spesifieke beroepe waar jy saam met ander in jou beroep kan werk en saam kan leer.https://www.netwerk24.com/sake/geldsake/solidariteit-skep-beroepsgildes-20160927?mobile=false Die Beroepsgildes help om jongmense toegang tot die werkplek en 'n spesifieke beroep te gee, deur byvoorbeeld S-leer wat help met voortgesette opleiding. ’n Netwerk word gevestig waardeur lede met mekaar kan skakel, beste praktyke kan deel en besigheid kan doen.

Netwerk van werk ’n Totale netwerk van werk in kort – ’n Solidariteit-netwerk. Dit is verskillende werkinstellings wat Solidariteit die afgelope 20 jaar gebou het wat aan mekaar gekoppel is om die totale loopbaanpad met ’n lid te stap.https://www.pressreader.com/south-africa/beeld/20190606/281513637648841

Die krag van dié Netwerk lê daarin dat die verskillende instellings en funksies van die Netwerk mekaar onderling gaan versterk. Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) gaan skoliere met gesonde etiek en waardes lewer. Solidariteit Helpende Hand se Studiefondsentrum (SFS) help met studiehulp. Akademia- en Sol-Tech-studente versterk Solidariteit Jeug. Kanton mobiliseer kapitaal en ontwikkel die kampusse en skole. Solidariteit Jeug berei studente vir die arbeidsmark voor. Die Solidariteit Beroepsgildes kan aan die student 'n internskap en/of mentorskap reël en kan help met werkplasing. Solidariteit hanteer beskerming in die werksplek. Die Solidariteit Beroepsgildes beskerm die belang van die beroep. S-leer fasiliteer die voortgesette opleiding en so opwaartse mobiliteit in die werkplek. Solidariteit Finansiële Dienste (SFD) help met produkte soos medies en pensioen.

Skoleondersteuningssentrum (SOS) Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te verseker deur die gehalte-onderrig wat reeds bestaan, in stand te hou en, waar nodig, nuut te bou.

Die SOS werk om elke skool in Suid-Afrika, waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bied. SOS se fokus is hoofsaaklik op die ondersteuning en ontwikkeling van Afrikaanse onderwysers.

Solidariteit Jeug Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk. Solidariteit Jeug is ’n instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ’n tuiskomplek vir jongmense. Solidariteit Jeug soek internskappe en bemark dit sodat intekenaars werklike ervaring in die werkplek op hul CV’s het wanneer dit kom by aansoeke om werk.

Internskappe word ook aan die gegradueerdes gebied om hulle aan die wêreld van werk, maar ook aan Solidariteit bloot te stel.

Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum (SFS) Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum is een van die belangrikste elemente van die Solidariteit Beweging wat beoog om hopeloosheid en armoede uit te wis.https://www.netwerk24.com/ZA/Vrystaat/Nuus/studente-word-so-by-studiefondssentrum-gehelp-20190917-2 Die Helpende Hand Studiefondssentrum is ’n Bewegingsinisiatief wat in 2008 gestig is ten einde armoede te verbreek deur befondsing vir tersiêre opleiding beskikbaar te stel aan behoeftige studente. Helpende Hand staan studente by deur gedeeltelike, rentevrye studielenings beskikbaar te stel om aan énige geakkrediteerde tersiêre instelling in Suid-Afrika te studeer.

Enige behoeftige student wat die wíl het om te gaan studeer, maar nie oor die befondsing beskik nie, kan by die Studiefondssentrum aansoek doen om finansiële hulp. Enige persoon wat hierdie helpmekaarprojek wil ondersteun, kan bydra tot die Studiefondssentrum deur ’n eenmalige bydrae, ’n testamentêre bemaking of deur self ’n studiefonds te stig. Hierdie kosbare belegging in die toekoms word onderhou deur afgestudeerde studente wat hul eie lenings weer terugbetaal.

Helpende Hand se Studiefondssentrum administreer tans meer as 240 studiefondse ter waarde van R 164 miljoen – meer as 5 000 behoeftige studente se studies is reeds hierdeur moontlik gemaak. In 2019 alleen het die Studiefondssentrum meer as 1 200 Afrikaanse studente help studeer met behulp van meer as R 38 miljoen se fondse. Die meer as 2 000 donateurs wat dít moontlik gemaak het, help ook vanjaar die 5 000ste begunstigde van die Studiefonds.

Akademia Akademia is ’n privaat Afrikaanse hoëronderwysinstelling en onderskei ditself van ander onderriginstellings deur leergeleenthede en studente-ondersteuning aan te bied deur middel van ’n moderne tegnologiese stelsel. Studiebegeleiding vind plaas deur moedertaalonderrig en ’n elektroniese ondersteuningstelsel.

Akademia het in 2011 sy deure geopen en in 2019 reeds aan meer as 3 500 Afrikaanse studente toegang tot gehalte hoëronderwys gebied.https://www.netwerk24.com/ZA/Bloemnuus/Nuus/nuwe-aanstellings-bied-geleenthede-vir-studente-20190116-2 Akademia het reeds elf kwalifikasies geakkrediteer, wat grade, hoër sertifikate en ʼn gevorderde diploma insluit.

Van die kursusse wat aangebied word is BCom (Ondernemingsbestuur), BCom (Bestuursrekeningkunde), HSert (Rekeningkunde), HSert (Kantooradministrasie-Projekadministrasie), BCom (Ekonomie en Regte), BCom (Finansiële Beplanning) en Dip (Bemarking).

Daar word ook hard gewerk aan planne om ’n volledige kampus met koshuise, sportvelde, en ’n studentelewe te bou.

Sol-Tech Sol-Tech is 'n geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.https://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/tim-du-plessis-sol-tech-onkunde-is-die-ware-skandaal-20190929

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Die kwalifikasie wat studente by Sol-Tech verwerf, dien as fondasie om verder te studeer en uiteindelik ’n erkende ingenieurskwalifikasie te verwerf.

In 2019 het Sol-Tech ongeveer 1 200 studente in die onderskeie fases van opleiding.

S-leer