Unukalhai (ook bekend as Alpha Serpentis of α Ser) is ’n dubbelster in die kop van die sterrebeeld Slang (Serpens). Met ’n skynbare magnitude van 2,6 is dit die helderste ster in die sterrebeeld en kan dit van die grootste deel van die Aarde af met die blote oog gesien word. Volgens parallaksmetings is dit sowat 74 ligjare van die Son af.
Eienskappe Alpha Serpentis is ’n reusester met ’n sterreklassifikasie van K2 III, wat beteken dit het al die waterstof in sy kern opgebruik en weg van die hoofreeks geëvolueer. Sy geraamde radius is sowat 12 keer dié van die Son. Sy effektiewe temperatuur van 4 498 K gee dit die oranje kleur wat tipes is van K-tipe sterre.
Die ster straal sowat 38 keer die ligsterkte van die Son uit en nog 32 keer in die infrarooi, dus altesaam 70 keer soveel. ’n Metgeselster met ’n skynbare magnitude van 11.8 kom by ’n hoekskeiding van 58 boogsekondes van Alpha Serpentis af voor, terwyl ’n ster van die 13de magnitude 2,3 boogminute weg is.
Name Die ster se Bayer-naam is "Alpha Serpentis" en sy Flamsteed-naam "24 Serpentis". Sy tradisionele naam "Unukalhai" (ook Unuk al Hay of Unuk Elhaija gespel) kom van die Arabiese عنق الحيّة ʽunuq al-ḥayyah, "die slang se nek", en die naam "Cor Serpentis" van die Latyn vir "die hart van die slang". In 2016 het die Internasionale Astronomiese Unie se sternaamwerkgroep (WGSN) die naam "Unukalhai" vir die ster goedgekeur.
Verwysings
Eksterne skakels 15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia
Kategorie:Bayer-voorwerpe Kategorie:Flamsteed-voorwerpe Kategorie:Henry Draper-voorwerpe Kategorie:Sterre met eiename Kategorie:Veelvoudige sterre Kategorie:K-tipe reusesterre Kategorie:Slang (sterrebeeld)