Kitalpha (ook bekend as Alpha Equulei of α Equ) is die helderste ster in die sterrebeeld Vul (Equuleus). Dit is 190 ligjare van die Son af.
Name Die ster se Bayer-naam is "Alpha Equulei" en sy Flamsteed-naam "8 Equulei". Die tradisionele naam, "Kitalpha", kom van die Arabiese قطعة الفرس qiṭ‘a(t) al-faras, "’n deel van die perd".
In 2016 het die Internasionale Astronomiese Unie se sternaamwerkgroep (WGSN) die naam "Kitalpha" vir die ster goedgekeur
Eienskappe Die gesamentlike klassifikasie van α Equ is ’n G-tipe reusester met ’n skynbare magnitude van 3,92, maar dit is ’n dubbelster. Die primêre komponent is ’n G7-reus wat ’n ligsterkte van sowat 50 keer dié van die Son het. Sy oppervlaktemperatuur is 5 100 K en sy radius 9,2 keer die Son s’n.
Die sekondêre ster is ’n A-tipe hoofreeksster met ’n ligsterkte van sowat 26 keer die Son s'n. Dit het ’n oppervlaktemperatuur van 8 150 K en ’n radius van 2,6 sonradiusse. Dit is ’n chemies buitengewone Am-ster.
Die twee sterre wentel elke 988 dae in ’n sirkulêre wentelbaan om mekaar. Volgens hulle wentelsnelhede is hulle massas onderskeidelik 2,3 en 2 sonmassas.
Verwysings
Eksterne skakels 15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia
Kategorie:Dubbelsterre Kategorie:Bayer-voorwerpe Kategorie:Flamsteed-voorwerpe Kategorie:Henry Draper-voorwerpe Kategorie:Sterre met eiename Kategorie:G-tipe reusesterre Kategorie:A-tipe hoofreekssterre Kategorie:Vul (sterrebeeld)