Andrek "Panyaza" Lesufi (gebore 4 September 1968 in Edenvale, Transvaal) is 'n Suid-Afrikaanse politikus wat in Oktober 2022 as die sewende premier van Gauteng aangestel is. Hy was voor dit die Lid van die Uitvoerende Raad (LUR) vir Onderwys in Gauteng en die ondervoorsitter van die African National Congress (ANC) in daardie provinsie. Hy was ook kortliks LUR vir Finansies in Mei 2019, maar is gou weer na die onderwys-portefeulje geskuif. Na die afsterwe van Thuliswa Nkabinde-Khawe in November 2019 het hy ook as die waarnemende LUR vir maatskaplike ontwikkeling tot Junie 2020 gedien.
Vroeë lewe en opvoeding Lesufi is op 4 September 1968 in Edenvale in die destydse Transvaal gebore. Hy en sy gesin is weens die Groepsgebiedewet met geweld gedwing om na Tembisa te trek. Hy het sy skoolloopbaan by Tlamatlama Laer Primêre Skool begin. Kort daarna het hy aan Tshepisa Hoër Primêre Skool begin skool gaan voordat hy aan Boitumelong Senior Sekondêre Skool gematrikuleer het. Aan die Universiteit van Natal het hy 'n baccalaureusgraad in bedryfsadministrasie behaal. Hy het die bynaam "Panyaza" gekry weens sy liefde vir sokker.
Politieke loopbaan Lesufi het sy politieke aktivisme tydens sy tienerjare in Tembisa begin. Kennedy Nkoane het hom aangemoedig om by die anti-apartheidsbeweging aan te sluit. Sy broer, Nikisi, het uit die tronk ontsnap en van Suid-Afrika gevlug om by die African National Congress aan te sluit. Panyaza was lid van talle anti-apartheidsorganisasies insluitend die Kongres van Suid-Afrikaanse Studente (COSAS), die Tembisa Studentekongres (TESO), die United Democratic Front (UDF) en die Nasionale Onderwyskrisiskomitee. Hy was die president van die Universiteit van Natal se studenteraad. In 1989 is hy in hegtenis geneem en na die Modderbee-gevangenis gestuur. Hy is in 1995 weer gearresteer en na die Durban City-gevangenis gestuur.
Na die ontbanning van die ANC, het hy vir drie termyne as voorsitter van die ANC-tak in Tembisa gedien. Hy was vir nege jaar lank die adjunk-streekvoorsitter van die party se Kyalami-streek. Hy was die eerste adjunk-streeksekretaris van die ANC Ekurhuleni-streek. Sedert 2007 dien hy op die party se Provinsiale Uitvoerende Komitee. In Junie 2018 is hy as die party se provinsiale adjunkvoorsitter verkies.
Lesufi was die woordvoerder van die eerste burgemeester Ekurhuleni, Bavumile Vilakazi. Hy was destyds deel van 'n taakspan wat deur die Minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Zola Skweyiya, saamgestel is om die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (SASSA) te stig. Hy het ook vir die minister van polisie Nathi Mthethwa gewerk en kort daarna in 2014 het hy by die departement van basiese onderwys betrokke geraak.
Gautengse provinsiale regering In Mei 2014 is Lesufi tot die Gauteng provinsiale wetgewer verkies. Premier David Makhura het hom tot die pos van provinsiale LUR vir Onderwys benoem. Na sy herverkiesing in Mei 2019 het Makhura hom as die LUR vir Finansies en e-Regering aangewys. 'n Dag later het Makhura hom teruggeskuif na die onderwys-portefeulje as gevolg van openbare protes. Na die afsterwe van Thuliswa Nkabinde-Khawe in November 2019 het Makhura hom as waarnemende LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling aangestel.
Verwysings
Eksterne skakels
Panyaza Lesufi op Public People
Kategorie:Suid-Afrikaanse politici Kategorie:Lewende mense Kategorie:Geboortes in 1968 Kategorie:Anti-apartheidsaktiviste Kategorie:Politici van die African National Congress Kategorie:Suid-Afrikaanse anti-apartheidsaktiviste