duimnael|'n Eettafel met twee stoele.

Meubelstuk is die woord wat na voorwerpe soos stoele, tafels, kaste en bedkatels verwys.

In ander woorde, meubels is die versamelnaam vir ál die voorwerpe in 'n huis of gebou wat deur mense gebruik kan word om op te sit, te lê, of om kleiner goed in te stoor, soos linne of koppies. Meubels kan van hout, leer, plastiek, ensovoorts vervaardig word.

In die Oudheid, met uitsondering van die tyd van die Romeinse Ryk, wat sterk op weelde ingestel was, is daar minder meubels as teenswoordig gebruik. Die meubels was nie juis gemaklik nie; die hedendaagse gemakstoel (Eng. lazy boy) met sy ingeboude voetstoeltjie en verstelbare kopstuk en ruglening is tipies vir die 20ste eeu.

Ook in die Middeleeue is min soorte meubelstukke gebruik en hulle was dikwels meerdoelig: dit was byvoorbeeld tegelyk sitplek en bereplek. Die Middeleeuse meubelmaker was anoniem, maar die naam en ander gegewens van talle van sy 18de eeuse beroepsgenote was in die meeste gevalle bekend.

Die name van die 19de eeuse meubelmakers was egter ook onbekend omdat dit 'n tydperk was waarin die ou style bloot nageboots is. Gedurende die 20ste eeu het die name van meubelontwerpers weer bekend geword.

Aanvanklik het die meubelkuns sy versiering aan die argitektuur ontleen. In die Renaissance het die meubelkuns egter daarvan weggebreek en sy eie vormtaal ontwikkel, wat vanuit Italië deur Europa versprei het. Die sogenaamde patroonboeke (boeke met voorbeelde van meubels), soos dié van Hans Vredeman de Vries (1555), het 'n belangrike rol gespeel in die verspreiding van nuwe idees.

In die 17de eeu is die toon deur die Franse hof aangegee; die sogenaamde Lodewyk-style is in verskillende Europese lande nagevolg. Daarna is daar ook meer aandag geskenk aan die samehang tussen meubels en die vertrekke waarin dit geplaas is: die mure, plafon, skoorsteen, ensovoorts is in dieselfde styl as die meubels versier. In die 18de eeu was daar 'n sterk voorkeur vir die Chinese en Japannese lakpanele, en gedurende die 19de eeu het die historiese neostyle ontstaan. Die Neo-Gotiek was die eerste en belangrikste verteenwoordiger hiervan.

Hierop het 'n periode gevolg van masjiengemaakte meubels, wat aanvanklik so goedkoop moontlik vervaardig is. Hierdie stukke was van swak gehalte en met sinnelose sierwerk oorlaai. Na 1880 het daar 'n reaksie teen die massavervaardiging van meubels ontstaan en is daar na eenvoud teruggekeer. Die konstruksie van die meubelstuk is ook duidelik sigbaar gemaak. Funksionaliteit was die belangrikste maatstaf. Die mode se 20ste eeuse vormgewing is strak en doeltreffend.

Kleur speel 'n belangrike rol, terwyl sierwerk in groot mate verdwyn het. Daar word ook steeds hoër eise aan gemak gestel. Veral na die Tweede Wêreldoorlog het die Skandinawiese meubelnywerheid die toon aangegee. Naas hout is van verskillende kunsstowwe gebruik gemaak. Die heersende modes en style in Europa het 'n belangrike rol in meubelgebruik en meubelontwerp in Suid-Afrika gespeel. Gedurende die 17de eeu het veral die Nederlandse en in mindere mate die Duitse en Franse agtergrond van die nedersetters aan die Kaap die deurslag gegee. Na 1800 het die Engelse modes in toenemende mate 'n invloed op Suid-Afrikaanse meubels gehad, maar daar was tog eienskappe wat die plaaslikvervaardigde meubels tipies Suid-Afrikaans gemaak het.

Oudheid tot Renaissance Die Ou Egiptenare het min, maar kleurryke, meubels gebruik; die hout is glad afgewerk en dan beskilder of verguld. Die algemeenste meubelstuk was 'n regop stoeltjie (kruk) op 4 reguit, lang pote, wat soms die vorm van stier- of leeupote gehad het. Die sitplek het uit vlegwerk of dun houtlatte bestaan. Die Egiptiese stoel, wat 'n effens skuinsstaande rugleuning gehad het, was heelwat gemakliker. Hierdie stoel se sitting was van geboë planke gemaak en met leer beklee. Die voustoel het in later jare in gebruik gekom. Die bed van Ou Egipte het bestaan uit 'n raamwerk waaroor leer gespan was. Dit het 'n vaste voetstuk gehad en 'n los, geboë kopstuk en soort hout- kopkussing), wat as steun vir die kop gedien het. Kos en klere is gebêre in mandjies en kiste wat, soos al die ander meubels, met ivoor- en ebbehoutinlegwerk versier was of beskilder was om dit so te laat lyk. Die vloere is met riet- of papirusmatte bedek. Die Egiptenare het hierdie matte dikwels gebruik om op te sit of op te slaap. Die mure is met muurskilderinge versier.

Grieke Benewens hout het die Grieke ook brons in hul meubels gebruik. Hulle het 3 tipes sitmeubels gebruik: die thronos, wat vir plegtige geleenthede gebruik is; die diphros, 'n eenvoudiger stoel sonder 'n rugleuning en met 4 gedraaide pote; en die klismos, wat 'n konkawe rugleuning en geboë pote gehad het. Op die gevlegte sitting was daar gewoonlik 'n kussing. Die klinè of rusbank is dikwels gebruik om op te lê en eet. Die matras het op 'n basis van ineengevlegte koorde gerus. Tydens die maaltyd het daar langs die klinè 'n tafeltjie gestaan, wat na die ete weer onder die bank ingestoot is. Klere, juwele en ander besittings is in kiste gehou. Die kiste was reghoekig met 'n plat, uitstaande deksel en 4 pote in die vorm van leeukloue. Regopstaande kaste het eers in die Hellenistiese tyd in gebruik gekom. Skottelgoed is nie op rakke of in kiste gebêre nie, maar aan die muur opgehang. Ronde erdewerk-olielampies is vir verligting gebruik. Die vloere was soms met 'n mosaïekvoorstelling bedek.

Romeine In die Romeinse huis was daar talle beddens en banke, wat van hout, brons en marmer gemaak was. Die meubels, veral die in die eetkamer, was ryklik versier. Die eetkamerstel het bestaan uit 3 banke wat om 'n tafel gestaan het (die Romeine het ook op hul sye gelê en eet). Die vierde kant van die tafel is oopgelaat vir bediening. Die marmerdienstafels was reghoekig. Die sitmeubels is volgens die Griekse patroon gemaak. Namate ingeboude kaste met rakke en hangruimte algemener geword het, is kiste al hoe minder gebruik. Die vloer was met mosaïekpatrone bedek en die mure was met muurskilderinge versier. Die meubels van die vroeë Christelike tyd het min verskil van die Romeinse meubels. Die 6de eeuse troon van Maximianus is in die vorm van 'n Romeinse marmerstoel. Die ivoorpanele van hierdie beroemde troon is versier met snywerk van heiliges, diere en voëls.

Romaans (10de tot 12de eeu) Die Romaanse meubels was eenvoudig gekonstrueer en is dikwels beskilder. Min meubels is gebruik en elke meubelstuk is gewoonlik vir meer as een doel aangewend. Stoele en banke het byvoorbeeld terselfdertyd ook as bêrekiste gedien. Die sogenaamde saal was die hoofvertrek en dikwels die enigste vertrek. In hierdie vertrek was daar altyd 'n bank en 'n bed met 'n stoel daarby. Klere is in 'n kis of in die bêreplek onder die stoel of bank gehou, of is aan stokke teen die muur opgehang. Die vuurmaakplek was in een van die symure ingebou. Teen die einde van die Middeleeue het die belangrikheid van die saal afgeneem ten gunste van 'n tweede vertrek. Die meubels het toe ook meer gespesialiseerd geraak.

Gotiek (12e tot 15e eeu) Die meubels van die Gotiek het uit swaar, onversierde raamwerke met ligter, versierde panele tussenin bestaan. Die meubeluitvinding van hierdie tydperk was die paneel, wat houtstroke vervang het. 'n Paneel is 'n klein stuk hout waarvan veral die rande dun afgewerk en redelik los in 'n raamwerk van regop style en smal horisontale boonste en onderste rugsporte gemonteer was. Hierdie panele het die voordeel gehad dat hulle kon krimp of rek sonder om die hele meubelstuk te laat krom trek, en omdat hulle los gemonteer was, het hulle ook nie gebars nie.

Die sogenaamde plooipanele was 'n tipiese versiering, wat die hout die voorkoms van geplooide of gedrapeerde materiaal gegee het. Versierings is ook aan die argitektuur ontleen, byvoorbeeld die spitsboog en die klawerblaarpatrone. Die destydse tafels het uit 'n los, reghoekige blad op bokke bestaan. Die tafelblaaie was beskilder en is na gebruik teen die muur staangemaak of opgehang. 'n Kliptafel, wat teen die muur kon opklap, is ook gebruik. Die sitkis was 'n kis met leunings wat as sitplek sowel as bêreplek gebruik is.

Die buffet, 'n toe kassie op pote waarop voorwerpe soos tinbekers uitgestal is, het in dié tyd in gebruik gekom. Dit is veral as bêreplek vir eetgerei gebruik. Benewens die sitkis is die driepootstoel, voetbankie en voustoeltjie ook as sitmeubels gebruik. Die breë bed het 'n belangrike plek in die huis ingeneem. Bo-oor die bed was daar 'n baldakyn (kap) wat met koorde aan die plafon vasgemaak was. Hieraan is daar gordyne gehang wat gedurende die dag teruggebind was. Vir verligting is brons- of smeeysterblakers en kandelare met kerse gebruik.

Renaissance tot 1880

Renaissance In die 15de en 16de eeu het daar 'n nuwe meubelstyl ontstaan waarin die klem op die geometriese versiering van die vlak gelê is. Die versiering is gebruik om die vlak en die verhoudings te beklemtoon, in teenstelling met die Gotiese spel met lyne, waar die aandag van die vlak self afgelei is en die vloei van die lyne beklemtoon is. Die nuwe ontwerpe, wat geïnspireer is deur die kuns van Klassieke Rome, het van Italië na die res van Europa versprei. Die verspreiding is in groot mate gestimuleer deur die verskyning van patroonboeke soos die van Hans Vredeman de Vries, wat in 1555 uitgegee is.

Motiewe wat baie voorgekom het, was akantranke, kandelaarmotiewe, bandversiering (‘n soort omkrulrand wat gelyk het asof dit uit leer geknip is). Groteske (fantastiese mense- en dierefigure wat onderling deur plantaardige motiewe verbind was; die arms van 'n vrouegestalte het byvoorbeeld in 'n blaarpatroon oorgegaan) en hermes (vierhoekige beeldsuil, pyler of pilaster wat na onder smaller word en met borsbeelde bekroon is). Verskeie soorte tafels is gebruik, onder meer die sogenaamde kloostertafel, wat op bokke gerus het en in daardie jare só genoem is omdat hulle nog in sommige kloosters se eetsale gebruik is terwyl die meeste huishoudings al na ander soorte tafels oorgeskakel het.

Die kloostertafels het reeds van hulle Gotiese voorgangers verskil in die sin dat die blad deur middel van gleuf- en penvoeë aan die bokke of systukke geheg was. Toe die skrynwerkers van daardie jare die tegniek wat hulle gebruik het om stoelpote aan die stoelraam vas te heg, op tafels begin toepas, het die kolompoottafel, waarvan die blad op 'n raamwerk met pote gemonteer was, in gebruik gekom. Die kolompoot het later tot 'n vaas of bolvorm ontwikkel en so het die bolpoottafel ontstaan. In die loop van die 16de eeu het die bank sy funksie as sit- en bêremeubel verloor.

Onder invloed van die Franse caquetoire (caqueter beteken "babbel"), 'n stoel met 'n trapesiumvormige of veelhoekige sitplek op 4 of 6 kolompote, het die stoel met armleuning ontwikkel. Hierdie stoel het 'n reghoekige sitting gehad. Omstreeks 1640 het die kolompoot plek gemaak vir die kronkelpoot, wat op draaibanke uitgedraai is. Die voustoel is omgeskep in 'n meer permanente meubelstuk waarvan die sitting en die rugstut met leer oorgetrek was. Die rugstut kon in baie gevalle nog verwyder word.

Die kante van die voustoel het oop gebly of het parallelle stafies of balkies gehad. Aan die begin van die 17de eeu het leerbekleedsel algemeen voorgekom, maar later is geweefde stowwe ook gebruik. Die kis het uit die woonvertrek verdwyn en is vervang deur regop staankaste met 2 deure. Gedurende die Renaissance is die laai, wat die Ou Egiptenare reeds gemaak en gebruik het, "herontdek". Baie van hierdie staankaste het uit 2 "verdiepings" bestaan. Tussen die 2 verdiepings was daar soms 'n laai.