Eers gedurende die afgelope ongeveer drie eeue het daar 'n werklike onderskeid gekom tussen skepe wat spesiaal vir oorlogvoering gebou is en handelskepe. Die grootste ontwikkeling het gedurende die 19e eeu plaasgevind, toe stoomkrag en yster 'n beduidende rol in die skeepsboubedryf begin speel hel. Dit het gelei tot 'n geweldige bewapeningswedloop waarin steeds groter en swaarder skepe gebou is.

Enorme "artillerieskepe" is gebou wat tot en met die Tweede Wêreldoorlog 'n groot rol gespeel het. Tydens die oorlog moes die slagskepe en kruisers toenemend plek maak vir die vliegdekskip, wat met sy vliegtuie aan boord 'n groter trefwydte en aanvalskrag gehad het, en in sekere mate, vir die duikboot. Na die Tweede Wêreldoorlog het die klem as gevolg van die opkoms van die duikboot en missielstelsels al hoe meer begin val op kleiner, vinnige oorlogskepe soos torpedojaers en fregatte, veral met die oog op duikbootjag.

Ontwikkeling Oorlogvoering ter see is so oud soos die skeepvaart self. Beskerming van eie handelskepe en vissersbote was van ouds af die defensiewe oogmerk, en daarnaas het die bestryding van seerowers, vyandelike kapers en oorlogskepe, asook die jag op vyandelike handelsvaarders en vissers, die offensiewe aspek gevorm. Tot laat in die 19de eeu het oorlogskepe wat die konstruksie en uiterlike bou betref, betreklik min van handelsvaartuie verskil.

Hulle is volgens dieselfde beginsels gebou en is op dieselfde manier aangedryf, naamlik met roeispane en/of met seile. Handelsvaartuie moes ook bewapen word om hulle teen vyandelike skepe te beskerm. Dit het trouens dikwels gebeur dat daar by 'n gebrek aan genoeg oorlogskepe, aangepaste en swaar bewapende handelskepe vir oorlogvoering gebruik is. In Wes-Europa het daar gedurende die Middeleeue ʼn duidelike behoefte begin ontstaan aan skepe wat spesiaal vir oorlogvoering gebou is.

As so 'n skip vir 'n soewereine vors gebou is, is daar van 'n koningskip gepraat; as dit vir 'n republiek gebou is, is dit 'n staatskip genoem. In latere oorloë tussen Nederland en Engeland het die staatskepe van die Nederlandse vloot onder aanvoering van Tromp en De Ruyter byvoorbeeld die stryd aangeknoop met die Franse en Engelse koningskepe. Die tipiese naamgewing vir oorlogskepe, waarvolgens die naam van die skip voorafgegaan word deur "Sy of Haar Majesteit se Skip" (HMS) of deur die naam van die land, byvoorbeeld USS Enterprise of SAS Tafelberg, dagteken van hierdie tyd. In die 17de en 18de eeu was daar verskillende tipes oorlogskepe, soos die linieskip, die fregat en die korvet, wat tot in die 19de eeu nog gebou is.

Die linieskip was 'n swaar seilskip met 2 of 3 dekke en 'n bewapening van tot 120 kanonne. In 'n geveg was dit veral die taak van hierdie skepe om die gevegslinie te handhaaf. Die fregat was 'n ligter en beweegliker skip wat met tussen 20 en 50 kanonne bewapen was. Die taak van hierdie vinnige skip kan met die van die latere kruiser vergelyk word, naamlik om die swaarder oorlogskepe te ondersteun, verkenningswerk te doen, groot vaartuie te begelei en vyandelike handelskepe aan te val.

Naas die fregat is ook grootliks van die kleiner korvet gebruik gemaak, veral vir verkenningswerk en konvooidienste en vir die instandhouding van verbindings tussen die groter skepe. 'n Ander tipe skip uit die tyd was die sogenaamde brander. Eintlik was dit nie werklik 'n oorlogskip nie, maar 'n ou skip wat met buskruit gevul, aan die brand gesteek en dan op 'n vyandelike linieskip afgestuur is om dit aan die brand te steek of om die gevegslinie te verbreek.

Yster en stoom Aan die begin van die 19de eeu is stoomenjins en ysterrompe aan die handelskeepvaart bekend gestel. Aanvanklik is geaarsel om dit ook in oorlogsvaartuie te gebruik omdat die bedryfsekerheid daarvan te gering geag is en die gevaar van ontploffings te groot, die brandstofprobleem 'n las, die waterwiele of skepwiele wat die skip moes aandryf, te kwesbaar en die rompe van yster te swaar vir goeie maneuvreerbaarheid was. Namate die tegniese ontwikkeling gevorder het, is besef dat stoom en yster juis vir oorlogskepe meer voordele inhou as wind en hout.

Aanvanklik is linieskepe nog van hout gebou en het dit slegs 'n pantsering van yster gehad, Die hoofaandrywing was nog deur middel van seile, maar stoomkrag is as hulpmiddel ingespan, Eers na 1850 is die oorlogskepe in Europa en in Noord-Amerika geheel en al van yster gebou en van stoomaandrywing voorsien. Maste en seile is egter nog tot in 1880 as reserwe-kragbron gebruik, Na 1850 is die skeepsgeskut, wat eeue lank in die breë sydek (oor albei boorde) gehuisves is, meer sentraal op die midskeepsas in wentelende, gepantserde torings (affuite) gemonteer.

Kanonne is tot in daardie stadium van voor af gelaai (voorlaaiers), maar toe is oorgeskakel na geskut wat van agter gelaai is. Die lope, wat nog altyd aan die binnekant glad was, is ook vervang deur lope wat van binne gegroef was. Dit het aan die koeëls 'n draaibeweging en dus ook beter stabiliteit gegee. 'n Groot wedywering het tussen die vervaardigers van skeepsgeskut en pantsering ontstaan. Swaarder en akkurater kanonne met 'n groter trefafstand en doeltreffender montering het gevolg, terwyl projektiele ontwikkel is wat van plofladings voorsien is (granate) en dus ʼn groter deurdringingsvermoë gehad het. Hierop het weer sterker pantserplate en meer waterdigte skotte (skeidingswande) gevolg, ensovoorts.

Mettertyd het pantserskepe, slagskepe en slagkruisers (artillerieskepe) ontwikkel. In 1870 het Brittanje 'n pantserskip, die Devastation, gebou, wat die magtigste oorlogskip van sy tyd was. Die skip was 87 m lank, was bewapen met 4 kanonne met 'n kaliber van 30 cm, het 'n pantsering van 20 tot 30 cm op die waterlyn gehad en kon ʼn snelheid van 12,5 knope (sowat 23 km/h) bereik. 'n Voorbeeld van ʼn slagskip met soortgelyke kenmerke was die Italiaanse Duilio, wat in 1876 gebou is. Hierdie skip was 104 m lank, het 'n waterlynpantser van 55 cm gehad en was bewapen met 4 kanonne in twee dubbelaffuite.

Die kaliber van die kanonne, wat elk 100 ton geweeg het, was 45 cm. (Eers 66 jaar later is daar weer slagskepe met sulke swaar geskut gebou: twee Japannese slagskepe in 1942.) Die Duilio kon 'n snelheid van 15 knope (27 km/h) bereik. Die groot massa van die geskut en pantsering was egter nie bevorderlik vir die seewaardigheid van die skepe nie. Brittanje het dit die eerste besef en het 'n aantal slagskepe gebou met meer, maar ligter geskut, ʼn ligter pantser en 'n hoër vryboord (skeepswand bokant die waterlyn).

Danksy hierdie maatreëls was die Britse skepe aansienlik meer seewaardig as die van sy teenstanders. Teen die einde van die 19e eeu het Duitsland, onder leiding van admiraal Alfred von Tirpitz (1849-1930), ook begin met die opbou van 'n kragtige oorlogsvloot. Dit het Engeland, wat dit as 'n bedreiging vir sy oppergesag ter see beskou het, laat reageer: in 1906 is 'n reuse-slagskip, die HMS Dreadnought, te water gelaat. Die skip was 'n uitstekende, stabiele opstellingsvlak vir swaar geskut en het later as model gedien vir talle ander moderne slagskepe (die Dreadnought-klas – sogenaamde capital ships). In 1907 het Duitsland twee soortgelyke skepe gebou en ook ander moondhede het begin om hul vlote met hierdie kolosse toe te rus.

Die geskiedenis het hom herhaal, want daar het nou 'n wedloop ontstaan ten opsigte van die kaliber en trefafstand van geskut, die vaarsnelheid en die ontvangsvermoë van skepe, Aan hierdie wedloop is in 1922 'n einde gebring met die Vlootverdrag van Washington, ingevolge waarvan perke gestel is ten opsigte van die waterverplasing (maksimum 35 000 ton) en kaliber (maksimum 40,6 cm). In die dertigerjare is hierdie beperkings opgehef en slagskepe is gebou wat aansienlik groter was, byvoorbeeld die Bismarck (sowat 41 000 ton), die Iowa (45000 ton) en die reusagtige Japanse skepe Yamato en Musashi, albei met ʼn waterverplasing van 72 000 ton en die grootste kaliber tot dusver, naamlik byna 46 cm.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog was hierdie skepe egter van weinig nut vanweë die ontwikkeling van lugslaankrag in die vorm van vliegdekskepe. Dit is duidelik beklemtoon deur die feit dat Amerika na die verlies van sy slagvloot by Pearl Harbor verplig was om op hul vliegdekskepe staat te maak terwyl die ander oppervlakvaartuie gedien het as ondersteuning vir die vliegdekskepe en om sagmaak- en steunvuur te verskaf wanneer troepe aan wal gesit is. Hierdie nuwe ontwikkeling het tot die Japanners deurgedring toe dit reeds te laat was.

By die Slag van Midway (1942) is hulle vier swak beskermde vliegdekskepe deur lugaanvalle vernietig. Hulle enorme slagvloot was as gevolg hiervan in groot gevaar en moes terugval. Na die Tweede Wêreldoorlog het die slagskip van die toneel verdwyn en sy plek is deur die vliegdekskip ingeneem. Die kruiser het 'n soortgelyke ontwikkeling ondergaan. Teen die einde van die 19e eeu was dit ʼn middelgroot snelvarende oorlogskip wat veral gebruik is vir verkenning, geleide en steunverlening.

Die skip is soms van 'n gepantserde dek voorsien om die ruim te beskerm (pantserdekskip). Omstreeks die eeuwisseling het daar verskillende tipes ontstaan. Die pantserkruiser, met sy gepantserde skeepswande, was 'n vinnige skip en byna so groot soos 'n slagskip; die ligte kruiser was onbeskermd en redelik klein, maar het 'n groot vaarsnelheid en vaarbereik gehad. Na die koms van die Dreadnought is die pantserkruiser ook aangepas en het die vinnige en sterk slagkruiser ontstaan.

Na die Eerste Wêreldoorlog is in die Vlootverdrag van Washington ook 'n perk gestel ten opsigte van kruisers omdat daar in die tussentyd ook ten opsigte hiervan 'n wedloop aan die gang was: uit die ligte kruiser het naamlik die gepantserde swaar kruiser ontwikkel. Die maksimum verplasing is vir albei tipes op 10 000 ton gestel. Vir die ligte kruisers was die maksimum kaliber 15,5 cm, terwyl die swaar kruiser of sogenaamde Washington-kruiser 'n kaliber van 20,3 cm kon hê.

Ook van hierdie bepalings is in die dertigerjare en in die Tweede Wêreldoorlog afgewyk en nuwe tipes slagkruisers van tot ongeveer 27 000 ton is gebou. 'n Besondere kruisertipe is aan die begin van die dertigerjare deur Duitsland te water gelaat. Hierdie sogenaamde dwergslagskip (soms ponieslagskip, Engels: pocket battleship) was ʼn swaar kruiser wat so bewapen was dat dit teen alle ander kruisers kon optree en tog vinnig genoeg was om slagskepe te ontwyk.

Die bekendste dwergslagskepe van die tyd was die Duitse skepe Admiral Graf Spee, Scharnhorst en Prinz Eugen. Net soos in die geval van die slagskepe het dit ook in die Tweede Wêreldoorlog geblyk dat die kruisers nie aan al die verwagtinge voldoen het nie. Dit was veral vir die Engelse gou duidelik. Toe hulle in die Verre Ooste hul troefkaart wou speel, naamlik die slagkruisers HMS Repulse en HMS Prince of Wales, is albei binne 'n kort tydjie deur Japanse torpedovliegtuie gekelder. Die slagkruiser het verdwyn en die moderne kruisers sal in die toekoms waarskynlik moet plek maak vir fregatte en torpedojaers.

Moderne oorlogskepe Met uitsondering van die vliegdekskepe en 'n aantal middelslagkruisers, het die groot oppervlakskip in groot mate van die toneel verdwyn. 'n Vliegdekskip, ook soms ʼn vliegtuigdraer of vliegkampskip genoem, is 'n groot oorlogskip wat geriewe bied vir die opstyg en landing van vliegtuie, en is dus ʼn mobiele vliegtuigbasis. Omgeboude vrag-, passasiers- en oorlogskepe is gedurende die Eerste Wêreldoorlog as vliegdekskepe in gebruik geneem.

Eers in die twintigerjare het skepe wat spesiaal vir die doel ontwerp en gebou is, deel geword van die vlote van groot moondhede. In die Tweede Wêreldoorlog is die doeltreffendheid van hierdie skepe bewys en hulle het die slagskepe en kruisers oorskadu. In 1977 het die Amerikaanse vloot die grootste en die meeste vliegdekskepe gehad. Die bekendstes is die in die Forrestal-klas en die Kitty Hawk-klas, skepe van ongeveer 60 000 ton en konvensionele aandrywing.