duimnael|308x308px|'n Operasiesaal met 'n skanderingsmasjien Die woord chirurgie is afkomstig van die Griekse woorde cheir en ergon, wat onderskeidelik "hand" en "arbeid" beteken. Die woord chirurgie dui op die afdeling van die mediese wetenskap wat dit ten doel het om die pasiënt se ongesteldhede te genees deur ongesonde of beskadigde liggaamsdele of organe te verwyder of om rekonstruksies aan te bring sodat funksionering kan verbeter of algehele herstel kan intree.
Deur die toepassing van chirurgie kan sommige afgeleefde organe deur kunsmatige organe vervang word. Die genesing van ʼn pasiënt word dus deur die uitvoering van 'n operasie bewerkstellig. Operasies word in spesiaal ontwerpte operasiesale en onder streng steriele toestande uitgevoer. Spanwerk speel 'n uiters belangrike rol by die uitvoering van 'n operasie.
Operasiespan Die chirurg staan aan die hoof van die operasiespan en hy dra die verantwoordelikheid vir die gebeure tydens die operasie. Volgens bepalings van die Suid-Afrikaanse Geneeskundige Raad moet daar by alle groot operasies twee en soms selfs drie geneeshere teenwoordig wees om die chirurg by te staan met byvoorbeeld die vashou van wondhake en die hantering van arterieklemme, waarmee bloeiende vate afgebind word. Die versorging en aangee van chirurgiese instrumente tydens die operasie word deur een en soms twee verpleegkundiges behartig.
Hierdie verpleegkundige, wat gewoonlik in operasiesaalverpleegkunde opgelei is, plaas die benodigde instrument met 'n klapgeluid in die chirurg se oopgestrekte hand, wat veroorsaak dat hy die instrument refleksief kan raakvat sonder om van die operasiewond af op te kyk. Die verpleegkundige is ook verantwoordelik vir take soos die gereelde tel van instrumente en deppers en die vervanging van skalpellemme. Die narkotiseur is nie net verantwoordelik vir die toediening en instandhouding van narkose aan die pasiënt nie, maar hy moet ook die pasiënt se algemene toestand tydens die operasie waarneem en die chirurg waarsku wanneer die pasiënt tekens toon dat hy die operasie nie bevredigend verduur nie.
Ander take van die narkotiseur sluit in toesig oor die toediening van bloedoortappings indien nodig, die handhawing van die korrekte bloeddruk en die bevredigende funksionering van die pasiënt se hart en longe. Die vloerverpleegkundige – daar is soms twee - beweeg vryelik in die operasiesaal rond en is verantwoordelik daarvoor dat bykomende benodigdhede soos deppers gaan haal word. Alle lede van die operasiespan is geklee in 'n steriele oorjas, teaterskoene en handskoene. Die hare word met 'n mus bedek en 'n gesigsmasker word gedra. Die kleredrag van die verpleegkundige, wat nie regstreeks by die uitvoering van die operasie betrokke is nie, is nie steriel nie, maar chirurgies skoon en stofvry. duimnael|308x308px|Denis Bourez - HMS Belfast operasiesaal
Operasie-eenheid Operasies word in spesiaal ontwerpte operasiesale en onder streng steriele omstandighede uitgevoer. Die ontwerp en beplanning van 'n operasiesaal is ʼn deskundige proses en moet sodanig wees dat dit optimale benutting en doeltreffendheid verseker. Faktore soos eenrigtingvloei van verkeer na en van die operasiesaal, steriele en onsteriele areas, praktiese uitleg van alle vertrekke wat deel uitmaak van die hele operasie-eenheid en toekomstige uitbreiding moet in ag geneem word.
Elke operasiesaaleenheid word beplan na gelang van die spesifieke behoeftes waarin dit moet voorsien. Die aantal operasiesale wat ʼn hospitaal nodig het, word beplan met inagneming van die aantal en die duurte van die operasies en die verskeidenheid gespesialiseerde operasies wat uitgevoer sal word, die voorkoms en verspreiding van bespreekte en noodgevalle, die aantal ure per dag en dae per week wat die eenheid in gebruik sal wees, en die stelsel en prosedures wat neergelê is ten opsigte van die vloei van pasiënte, personeel en voorraad. Moderne operasie-eenhede bestaan uit verskeie vertrekke, naamlik:
Voorsaal of kleedkamers Voordat enige personeellid die binnedeel van die operasie-eenheid binnegaan, moet hy hom eers verklee en skoon katoenklere aantrek. Hoewel die klere nie steriel is nie, is dit stofvry. Spesiale katoen- of gomlastiekskoene word aangetrek.
Die dra van katoen is noodsaaklik aangesien dit nie statiese elektrisiteit veroorsaak nie - 'n belangrike maatreël om te voorkom dat daar vonke in 'n operasie-eenheid ontstaan. Operasiesale is hoogs ontvlambaar vanweë die verskeidenheid ontvlambare middels wat gebruik word. Die hare word met ʼn skoon mus bedek en gesigsmaskers wat die neus en mond bedek, word gedra om die verspreiding van patogene organismes in die operasie-eenheid te voorkom.
Die narkosekamer Die toediening van narkose begin reeds in die narkosekamer, voordat pasiënte die eintlike operasiesaal binnegaan. Hierdeur word sielkundige trauma, angs en negatiewe belewenisse by die pasiënt voorkom, aangesien hy voort die instrumente en apparaat in die operasiesaal self nie sien nie. Die narkotiseur word hierdeur beter daartoe in staat gestel om narkosetoediening te kontroleer, om toe te sien dat die pasiënt se bloeddruk normaal is en dat die kardiovaskulêre en respiratoriese funksionering bevredigend is voordat met die operasie begin word.
Die opskropkamer Hierdie vertrek is toegerus met 'n hele aantal opwasbakke en krane wat met die elmboog oop- en toegestoot kan word. Alle personeel, soos die chirurg, sy assistente en die verpleegkundiges wat direk by die operasie betrokke is, se hande en arms word hier chirurgies skoon gewas.
Gesigsmaskers word aangesit, die hare word bedek, en die hande en arms word onder lopende water met ontsmettende seep en naelborsels deeglik geskrop. Die wasproses duur ongeveer 5 tot 10 minute. Nadat die geskropte dele met steriele handdoeke afgedroog is, word steriele oorjasse aangetrek wat agter die rug met lintjies vasgemaak word. Steriele handskoene wat styf om die jasmoue pas, word aangetrek. Algehele steriele bedekking van liggaamsdele en voorsorg teen verspreiding van patogene organismes word dus nougeset nagestreef.
Die operasiekamer Die operasiekamer self se vloere en mure is met sterk, wasbare materiaal uitgevoer, wat verseker dat dit daaglikse ontsmetting kan verduur. Voldoende lugreëling is noodsaaklik vir die instandhouding van ʼn omgewing wat vry van mikroörganismes moet wees. Kontaminering of besoedeling van die operasiesaal word beperk deur streng beheer oor onnodige rondlopery uit te oefen en toegang tot die operasiesaal word beperk tot diegene wie se teenwoordigheid absoluut noodsaaklik is.
Die operasietafel Die operasietafel is 'n baie duur artikel met 'n unieke ontwerp. Na gelang van die chirurg en die tipe operasie wat uitgevoer word, kan die operasietafel deur ʼn hidrouliese stelsel hoër en laer gestel word. Die tafel kan in sy geheel, of slegs die kop- en voetenent of die sykante kan gekantel word. Verskeie ander verstellings is ook moontlik.
Die operasieligte Beligting speel ʼn belangrike rol in die operasiesaal. ʼn Groot verstelbare lig wat uit verskillende ligeenhede saamgestel is, die sogenaamde satellietlig, is bokant die operasietafel aangebring. ʼn Unieke kenmerk van die operasielig is dat dit uit die aard van sy struktuur geen skaduwees veroorsaak nie. 'n Verskeidenheid losstaande lampe is ook in die operasiesaal beskikbaar en word gebruik wanneer dit nodig is om dieperliggende dele van die area waarop geopereer word, te belig. Verstelling van enige van die beligtingsapparaat geskied op die chirurg se voorskrif.
Die instrumenteblad Die aantal instrumentebladdens of -tafels wat nodig is, word bepaal deur die tipe en omvang van die operasie wat uitgevoer word. Die steriele instrumente en bykomende apparaat word geplaas op steriele doeke wat die oppervlak van die instrumentetafel bedek. Alle benodigde instrumente word hiervandaan deur die verpleegkundige aan die chirurg gegee.
Die narkosemasjien Die narkosemasjien word deur uitsluitlik die narkotiseur gehanteer. Moderne narkosemasjiene stel die narkotiseur daartoe in staat om die hoeveelheid narkose wat aan die pasiënt toegedien word, te reguleer. 'n Ingeboude alarm in die narkosemasjien waarsku die narkotiseur indien daar 'n verandering in die suurstoftoevoer na die pasiënt is. Met behulp van voortdurende kontrolering van die pasiënt se toe stand kan die narkotiseur enige afwykings of abnormaliteite en noodtoestande identifiseer en teenmaatreëls tref ten opsigte van die pasiënt se pulmonale funksie.
Die herstelkamer Na afloop van die operasie word die pasiënt na die herstelkamer gebring, waar hy deur opgeleide verpleegkundiges versorg word totdat verseker is dat hy sy bewussyn herwin het en dat daar geen onmiddellike verdere gevaar bestaan dat komplikasies kan intree nie. Die pasiënt mag die herstelkamer nie verlaat alvorens die narkotiseur met sy algemene toestand en bewussynstaat tevrede is nie.
Ontsmetting van operasiesaal Ontsmetting van 'n operasiesaal is ʼn uiters belangrike maatreël vir die voorkoming van infeksies, sepsis en die verspreiding daarvan. Omgewingskontrole moet dus binne en rondom die operasiesaal uitgeoefen word. Lugbeheer is een van die aspekte wat streng gekontroleer word en sluit die voortdurende toevoering van vars lug in. ʼn Minimum van 20 en 'n maksimum van 30 lugspoedveranderinge word gehandhaaf (sowat 3 tot 12 m3 per minuut).
Volledige varslugsirkulasie deur die operasiesaal en die handhawing van 'n positiewe lugdruk, waardeur bakterieë en stof tot die vloeroppervlak beperk word, is noodsaaklik. Die sirkulerende lug word gefiltreer en filters word weekliks skoongemaak en elke 3 tot 6 maande vervang. Die lugvoorsieningstelsel word elke 3 maande vir doeltreffende werking getoets deur steekproewe te neem wat vir 'n kultuurtoetsontleding na die laboratorium gestuur word. Indien die lugvoorsieningstelsel buite werking is, word die operasiesaal nie gebruik nie. Operasiesale en die toerusting word daagliks na die afhandeling van operasies volledig uitgewas met ontsmettingsmiddels.
Na voltooiing van elke individuele operasie word gelokaliseerde reiniging gedoen. Stofverwydering binne die operasiesale word slegs met deeglik vermengde ontsmettingsmiddels en met 'n klam lap gedoen. Alle lappe wat vir skoonmaakdoeleindes gebruik word, is vooraf gesteriliseer en word na eenmalige gebruik weggegooi. Die basis van skuimrubberveërs word daagliks na gebruik gewas en na die sentrale sterilisasiedepartemente gestuur, waar dit geoutoklaveer word.
Na sterilisasie word dit droog geberg totdat dit weer gebruik word. Alle gesteriliseerde apparaat word in 'n stofvrye vertrek sonder vensters geberg. Die bergplek word weekliks skoongemaak, alle pakke word geroteer en vervaldatums word nagegaan. Wat operasiesaalbesprekings betref, word daar gepoog om toe te sien dat alle nie-besmette gevalle voor besmette gevalle gehanteer word; die graad van besmetting word in ag geneem. Alle septiese gevalle word laaste gehanteer.
Versorging van 'n gekontamineerde operasiesaal Slegs noodsaaklike artikels word in die operasiesaal toegelaat en alle bykomende apparaat word verwyder. Die oorjasse wat deur personeel gedra word, moet uitgetrek word voordat die operasiesaal verlaat mag word. Tydens 'n operasie mag geen persoon die operasiesaal verlaat nie en daar word van 'n persoon buite die operasiesaal gebruik gemaak om benodigdhede te gaan haal indien dit nodig sou wees. Na afhandeling van die operasie word alle linne deur middel van die outoklaaf gesteriliseer.