duimnael Die ontdekkingsreise in die Oudheid was hoofsaaklik tot die handelstogte van die Grieke en die Feniciërs beperk. Die Romeine het die handel tot aan die kuste van Thailand en die groot Indonesiese eilande uitgebrei (1e eeu v.C.).

Met die ondergang van die Romeinse Ryk, toe die Suid- en Wes-Europese kultuurgebiede groot materiële en kulturele agteruitgang beleef het, het die Arabiere 'n sterk bloeitydperk beleef en het hulle met verskeie Oosterse lande handel gedryf. Omdat die handel met die Verre Ooste uitsluitend in die hande van die Arabiere was, het die Italiaanse stadstate wat na 1000 'n bloeitydperk beleef het, begin soek na landroetes na die ryk Ooste.

Die soektogte het met sendingtogte gepaard gegaan. Die groot ontdekkingstogte van die 15e en 16e eeu is moontlik gemaak deur die uitvinding van die kompas en die verbetering van skepe en skeepvaarttegnieke. Die Portugese, wat die leiding geneem het, was hoofsaaklik op soek na ʼn roete na die Ooste. In 1488 het Bartholomeus Dias om die suidpunt van Afrika gevaar; daarna, in 1498, het Vasco da Gama die seeweg na Indië gevind, waarop Portugal die handelsmonopolie op goedere uit die Ooste by die Arabiere oorgeneem het.

In die tweede helfte van die 15e eeu het die Genuees Christophorus Columbus, wat daarvan oortuig was dat die Ooste via 'n seeweg na die weste bereik kon word, die Spaanse troon om geldelike hulp gevra. In 1492 het hy op verskeie plekke aan die kus van Suid-Amerika aan wal gegaan, vas oortuig daarvan dat dit Oos-Indië was. Eers in 1502 het Amerigo Vespucci tydens ʼn ekspedisie langs die noordkus van Suid-Amerika beset dat hy nie met Asië te make het nie, waarop daar met die soektog na 'n seeweg na Indië via die weste voortgegaan is.

In 1519 het die Portugees Ferdinand Magellaan in diens van die Spaanse kroon vertrek en daarin geslaag om die Ooste via die weste te bereik. Na sy dood het Juan Sebastián Elcano die bevel by hom oorgeneem; met sy aankoms in Spanje in 1522 is hy vereer as die eerste mens wat om die wêreld gevaar het. Teen die begin van die 17e eeu is die Australiese vasteland vir die eerste keer deur 'n Europeër, die Nederlander Willem Jansz, gesien. Intensiewe ondersoeke het egter eers sowat 'n eeu later begin.

Hoewel die grootste dele van die Afrikaanse kus teen die 19e eeu bekend was, was groot dele van die binneland van Afrika onbekend. Verskeie ekspedisies is onderneem om die gebiede te karteer en veral om die oorsprong van die Nyl te vind. Aan die begin van die 20e eeu is die Noordpool en die Suidpool ook bereik nadat daar verskeie verkenningstogte na die gebiede onderneem is.

Oudheid tot Middeleeue Oor die ontdekkingsreise in die Oudheid is daar byna geen werklik betroubare bronne beskikbaar nie. Die beweerde ooreenkomste tussen die kulture van Ou Egipte en Sentraal-Amerika en tussen die van Sentraal-Amerika en Oseanië word nie deur bronne gesteun nie en daarom dikwels uit talle oorde van die hand gewys. Die reise wat die Noorweër Thor Heyerdahi (geb. 1914) in 1947 met die baisahoutvlot Kon Tiki (na die Inka-model) van Peru na Polinesië onderneem het en in 1970 met die papirusboot Ra II (na die Egiptiese model) van Marokko na Barbados, bewys hoogstens dat so 'n reis vandag moontlik is, selfs in primitiewe vaartuie, omdat die moderne mens oor 'n uitgebreide kennis van seestrome, heersende winde en geografiese liggings beskik.

As 'n mens egter die ou volke se gebrekkige kennis oor die geografie, hulle bygelowe en hulle tegniese beperkings in ag neem (roeiers, net een seil vir die wind van agter, geen kompas), is dit egter heel onwaarskynlik dat so 'n reis beplan sou kon word of dat vissers en kusvaarders ver van die kus af sou vaar. Indien iemand dit wel sou gewaag het, of weens 'n storm van die kus weggegedryf is, sou sy kanse op oorlewing weens water en voedselgebrek uiters skraal gewees het.

Die Egiptenare, Mesopotamiërs, Indiërs en Chinese was oorspronklik nie seevaarders nie en handelaars het gewoonlik te voet met lasdiere oor land gereis. Die volke aan die ooskus van die Middellandse See (Feniciërs, Grieke) het hulle op die handel toegelê. Daar kan met sekerheid gesê word dat die Feniciërs die ryk Tartessos (waarskynlik die Bybelse Tarsus) in Suidwes-Spanje bereik het. Die inwoners van Tartessos self het moontlik handel gedryf met Brittanje, van waar hulle hul tinvoorrade gekry het.

Die Griekse geskiedskrywer Herodotus (ca. 485-425 v.C.) het melding gemaak van hoe die Egiptiese Farao Necho II (regeer 609- 594 v.C.) 'n Feniciese vloot opdrag gegee het om om Afrika te vaar. Die vreemde verslae oor hulle reis het Herodotus laat twyfel of hulle reis suksesvol was. Dieselfde besonderhede laat sommige hedendaagse kenners egter juis weer vermoed dat die Feniciërs die reis wel voltooi het. 'n Griekse vertaling van die Carthager Hanno (omstreeks 500v.C.) se verslag oor sy tog langs die Afrikaanse kus tot by die Golf van Guinee het ook bewaar gebly.

Hy het goud en ivoor saam met hom na Carthago teruggebring. Ondanks die inligting het die Grieke self net af en toe buite die Middellandse See gevaar; Pytheas van Massilia (ca. 350 v.C.) het byvoorbeeld Ysland of Noorweë bereik en die gebied Thule genoem. Hy het moontlik ook die monding van die Elbe bereik. Na die Perse (ca. 500 v.C.) het die leërs van Alexander die Grote (356- 323 v.C.) die Indusrivier in 326v.C. bereik, waarop daar 'n lewendige handel tussen die hawens aan die Rooi See en die aan die weskus van Indië ontstaan het.

Die Romeine het die handel tot aan die kuste van Thailand en die groot Indonesiese eilande uitgebrei (1e eeu v.C.). Die Romeine se inligting oor Noord-Europa, Afrika, die Atlantiese eilande en bogenoemde handelskuste blyk uit die werke van die Griekse sterrekundige en geograaf Ptolemeus (2de eeu n.C.). Daar is egter geen inligting in oor China, die "syland", wat die Romeine Serica genoem het nie. Op Ptolemeus se wêreldkaart is die kus van Malakka met die kus van Afrika verbind, wat daarop dui dat hy geen waarde geheg het aan die verhale oor reise om die vasteland nie. Oor die gesante wat in 161 n.C. vanuit Rome na China gestuur is, is daar net uit Chinese bronne iets bekend: Chinese gesante na die Weste (Ta-tsi Tsin) het nooit daar aangekom nie. Deur middel van die Boeddhisme het kontak met Indië egter toegeneem. Veral die verslag van die Chinese pelgrim Fa Sien (ca. 400 n.C.), wat van 399 tot 414 in Indië was, is bekend.

Middeleeue Die ondergang van die Romeinse Ryk het vir die Suid- en Wes-Europese kultuurgebied groot materiële en kulturele agteruitgang beteken. Baie geografiese kennis het verlore gegaan. Die Arabiere het egter oor talle vertalings van klassieke Griekse werke beskik en hul kultuur het in die tyd 'n sterk bloeitydperk beleef. Die Westerse ontdekkingsreise tydens die Middeleeue het meestal uit sendingreise oor land bestaan, veral omdat die seehandel in die Nabye en Verre Ooste ten tyde van die ekonomiese opbloei van die 11e eeu af in die hande van die Arabiere was.

Die ryk van die kalief het aan die verste uithoeke van die keiser se Hemelse Ryk gegrens en in 831 was daar blykbaar Arabiere aan die Chinese hof. Reeds omstreeks 570 het die Grieks- Egiptiese koopman, later monnik, Cosmas Indicopleustes (6e eeu) geskryf oor 'n geheimsinnige eiland, waarskynlik Ceylon (Sri Lanka), en oor die syland, die keer onder die naam Tsinitsa, waar die seekus duidelik na die noorde buig. Die Persiese Christene, die Nestoriane, het ook in die vroeë Middeleeue togte na Sentraal-Asië onderneem.

Hulle het China in 635 aangedoen. In die 9e eeu het 'n nuwe seevaardersvolk, die Noormanne, op die toneel verskyn. Die Dene en Nore het hulle op Wes-Europa en die Atlantiese Oseaan toegespits en die Swede op Rusland. In dieselfde eeu het die Nore Ysland, wat al reeds in die 8e eeu deur Ierse monnike bereik is, gekoloniseer. Groenland is teen die einde van die 9e eeu deur Erik Thorvaldsson (bekend as Erik die Rooie) ontdek en gekoloniseer. Sy seun, Leif Erikson, het in 1001 waarskynlik by Labrador geland nadat hy die aanwysings van ene Bjarni Herjulfsson gevolg het.

Herjulfsson is vroeër deur 'n storm van koers af gedwing en het toe ʼn onbekende kus gesien. Intussen het die Swede die Baltiese gebied verken en gebiede rondom die Baltiese Golf en die Golf van Finland gekoloniseer. Niemand het hulle tot in daardie stadium nog met die bedrywighede van die Arabiere ingemeng nie. Een van die belangrikste Arabiese ontdekkers was Al Masoedi (voluit Aboe Al Hasan Ali Al Masoedi), wat in 956 of 957 oorlede is. Hy het Persië, Indië, Ceylon, die Chinese See en die kuste van die gebiede besoek en toe die Indiese Oseaan oorgesteek en die eiland Zanzibar aangedoen.

'n Ander belangrike ontdekker was Ibn Battuta (eintlik sjeik Aboe Abdallah Mohammad; 1304- 1377), wat tussen 1333 en 1347 in Oos-Afrika, Suid-Rusland, Sentraal-Asië, Indië, Sumatra en China was en na sy terugkeer na sy geboorteland, Marokko, nog in die Sahara ook rondgetrek het. In Italië het die stadstate na 1000 'n bloeitydperk beleef: Pisa, Genua en Venesië het 'n lewendige handel in die Middellandse See-gebied in stand gehou. Wat handel met die Verre Ooste betref, was hulle op die Arabiere as tussengangers aangewys.

Dit is dus nie verbasend dat daar na landroetes van en na die ryk Ooste begin soek is nie. Die roete oor land het deur die gebied van die Mongoolse khan geloop, waarop die Suid-Europeërs eers sendelinge uitgestuur het om die Mongoolse volke te bekeer en so 'n veilige handelsroete te verseker. Pous Innocentius IV (Sinibaldo dei Fiesch, graaf van Lavagna, oorl. 1254) het die kersteningsplan geïnisieer. Sy eerste gesant was Giovanni Piano Carpini (ook Jean da Pian del Carpini, ca. 1180-1252), 'n leerling van Franciscus van Assisi.

Hy het van 1245 af oor die Dnjepr-, Don-, Wolga- en die Oeralrivier en deur die meregebied van Suid-Siberië tot by die Mongoolse kamp langs die Orchonrivier in die huidige Noord-Mongolië getrek. Die Vlaamse Franciskaan Willem van Ruysbroeck (ook Rubroek, Rubruck, Rubrouck of Rubruquis, ca. 1210-1270) het in 1254 gevolg en is in 1254 deur Koeblai Khan (1214- 1294) in die Mongoolse hoofstad Karakoroem ontvang. Die Venesiaanse koopmanne Maffeo en Niccolò Polo het van 1260 tot 1269 via Boechara in die huidige Sowjetprovinsie Oezbekistan deur China gereis.

Marco Polo, die seun van Niccolò, het die tweede reis, van 1271 tot 1295, meegemaak en aan die hof van Koeblai Khan oorgebly. Sy besonder lewendige reisbeskrywing het in Europa gou reeds die belangrikste bron van kennis oor Cathay (China) en Cipango (Japan) geword. Hoewel Marco Polo oor laasgenoemde land geskryf het, het hy dit nie besoek nie. Deesdae word die reisverslag van Odoric da Pordenone (eintlik Odoric Mattiussi, tussen 1274 en 1286-1331), 'n Franciskaan wat die Evangelie van 1318 af in die Verre Ooste verkondig het, belangriker geag.

Hy het Joannes de Motecorvino (1247- 1328) die eerste aartsbiskop in die streek, in Peking besoek en op sy terugtog in 1329 waarskynlik Tibet aangedoen. Hy was die eerste Europeër wat van die Tibettaanse hoofstad Lhasa melding gemaak het.

Die 15e en die 16e eeu Met uitsondering van die Moslemkoninkrykie Granada in Suid-Spanje het die bewoners van die Iberiese skiereiland hulle teen die einde van die 13e eeu geheel en al van die Moorse oorheersing bevry. Kastilië, Aragon en Portugal, die drie Christenryke van die skiereiland, kon toe hulle seevaartbelange selfstandig en ongehinderd uitbrei. Die Portugese het die uitbreiding in 1341 begin met 'n besoek aan die Kanariese Eilande (waarvan Ptolemeus reeds as die Geluks-eilande melding gemaak het).