duimnael|'n R-36 ballistiese missiel gelanseer vanuit 'n Sowjet-silo. 'n Missiel is in militêre terminologie (ook bekend as 'n geleide missiel of 'n geleide vuurpyl), 'n geleide wapen in die lug wat in staat is om selfaangedrewe te vlieg, gewoonlik deur 'n straalmotor of vuurpylmotor. Missiele het vyf stelselkomponente: teikenstelsel, geleidingstelsel, vlugstelsel, enjin en plofkop. Missiele kom in tipes wat aangepas is vir verskillende doeleindes: grond-tot-grond en lug-tot-grondmissiele (ballisties, vaartuig, anti-skip, tenk, ens.), grond-tot-lugmissiele (en anti-ballisties), lug-tot-lugmissiele en anti-satelliet wapens.
Lugploftoestelle sonder aandrywing word na verwys as plofkoppe as dit deur 'n artillerie geskiet word en bomme as dit deur 'n vliegtuig gelos word. Ongeleide missiele word gewoonlik as vuurpylartillerie beskryf. Histories verwys die woord missiel na enige projektiel wat na 'n teiken gegooi, geskiet of aangedryf word; hierdie gebruik word vandag nog erken.
Daar is eers gedurende die Tweede Wêreldoorlog begin om missiele op noemenswaardige skaal te gebruik. Sedertdien is dié wapens baie ontwikkel, sodat dit vandag met dodelike gevolge aangewend word en 'n verskeidenheid van teikens kan uitwis. Die strategiese nut van die wapens was aanvanklik baie beperk, omdat die tegnologie om die wapens akkuraat te kan rig, destyds nie bestaan het nie.
Groot akkuraatheid is egter nie so 'n belangrike vereiste vir missiele wat kernwapens as plofkoppe gebruik nie, omdat die wapens verwoesting oor sulke groot gebiede kan saai. Gedurende die vroeë sestigerjare het die ontwikkeling van interkontinentale ballistiese missiele voorrang geniet bo dié van bemande bomwerpers.
Die voordele van strategiese interkontinentale ballistiese missiele bo dié van bemande bomwerpers is dat hulle ontsettend vinnig is, baie hoog vlieg en 'n groot reikafstand het. 'n Nadeel van die wapens is egter dat hulle nie soos bemande bomwerpers teruggeroep kan word nadat hulle gelanseer is nie. Gebeure tydens die Koue Oorlog het aanleiding gegee tot die ontwikkeling van ware interkontinentale ballistiese missiele, die verbetering van taktiese missielstelsels en later ook die ontwikkeling van missiele wat ander missiele in vlug kan vernietig.
Die groot moondhede beskik tans oor vreesaanjaende missielarsenale, wat vanuit versterkte silo's (berg- en lanseerskagte) in die grond of vanuit duikbote gevuur kan word. 'n Wye verskeidenheid taktiese missielstelsels wat verskillende tipes lanseerplatforms vir verskillende doeleindes gebruik, is ontwikkel. Huidige ontwikkelings behels veral die miniaturisasie van die elektroniese stelsels en, waar van toepassing, ook die kernplofkoppe. Die ontwikkeling van doeltreffende elektroniese geleidingstelsels is by die kruismissiele van groot belang.
Geskiedenis Vir die doeleindes van hierdie artikel word 'n missiel beskou as 'n wapen wat afgevuur (gelanseer) word en dan met behulp van sy eie aandrywing aanpeil op 'n teiken waarvan die geografiese ligging vooraf ingeprogrammeer is of wat hy deur middel van interne stelsels self opspoor, ten einde dit met 'n plofkop te vernietig. 'n Missiel word as 'n militêre wapen beskou as dit 'n plofkop met 'n konvensionele lading (plofstof), 'n chemiese plofkop (gifgas), 'n biologiese plofkop (bakterieë wat ernstige siektes veroorsaak) of 'n kernplofkop dra.
Die Siemens-Schuchert-werke in Duitsland het gedurende die Eerste Wêreldoorlog van die heel eerste geleide missiele ontwerp. Dit het bestaan uit 'n bom wat in 'n stroombelynde romp ingebou is en met behulp van dubbeldekkervlerke na 'n teiken gesweef het nadat dit uit 'n vliegtuig vrygelaat is. Die bom is met behulp van radiobeheer na sy teiken gestuur, maar daar is min oor die aanwending van die bom bekend. In dieselfde tyd het die Amerikaanse weermag ook 'n reeks vlieënde bomme ontwerp.
'n Klein dubbeldekkervliegtuigie wat van karton en papiermaché gebou is, het 'n lading van 135 kg gedra en die kragbron was 'n skroefenjin van 28 kW. Die vliegtuig kon op 'n vasgestelde kompasrigting tot 100 km ver vlieg, totdat 'n afstandmeter 'n meganisme geaktiveer het wat die vlerke laat afval en die bom so neergelaat het. Probleme wat met die ontwikkeling van die vliegtuig ondervind is, is te laat uitgestryk en dit is dus nooit in die Eerste Wêreldoorlog gebruik nie. Tussen die twee wêreldoorloë het die Britse Lugmag 'n vlieënde bom, RAE Larynx, wat met behulp van 'n stuuroutomaat gerig is, gebou.
'n Aantal gewone vliegtuie wat as teikens vir lugafweeroefeninge moes dien, is ook onbeman deur middel van radiobeheer laat vlieg. Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het veral die Duitsers en die Russe baie navorsing oor missiele gedoen. Min is oor die Russe se werk bekend, maar die Duitsers het 'n aantal geleidingstelsels ontwikkel waarvan die beginsels vandag nog in missiele toegepas word. Die eerste praktiese geleide missiel is egter deur die Britte ontwerp. Dit was die Miles Hoopla, 'n klein houtvliegtuig met 'n Gipsy Major-enjin wat 'n plofstoflading van 454 kg teen 483 km/h op 'n vooraf bepaalde roete kon dra.
Hoewel die missiel baie doeltreffend kon wees, het dit nooit die produksiestadium bereik nie. Die voorgangers van vandag se ballistiese missiele en kruismissiele was die Duitse A-4 ("V2") en Fieseler Fi 103 ("V1") uit die Tweede Wêreldoorlog - die eerste strategiese missiele wat met welslae gebruik is. Ná die Tweede Wêreldoorlog het die missiele 'n groot invloed op die ontwerp van die daaropvolgende geslag missiele gehad. Ander Duitse ontwikkelings tydens die Tweede Wêreldoorlog, soos die taktiese grond-tot-grondmissiel die Rheinbote, het 4 stadia gehad en is gebruik om teikens 200 km van die lanseerbasis af te vernietig.
Hierdie missiele is niks anders as 'n uitbreiding van die konsep van artillerie nie en dit bestaan vandag nog in die vorm van die Amerikaanse Lance en Honest John en die Sowjetunie se reeks Frog-missiele. Die Duitse weermag het in die oorlog ook 'n aantal lug-tot-grondmissiele met groot welslae gebruik. Die bekendste en dodelikste was die Fritz X, wat selfs slagskepe soos die Italiaanse Roma kon kelder. Die missiele is vanuit vliegtuie gelanseer en 'n operateur in die vliegtuig het die missiel met radiobeheer na die teiken gestuur. Die Geallieerde Magte het nie die gelyke van die missiel asook die Henschel HS 293-reeks (ook 'n lug-tot-grondmissiel) gehad nie.
Die HS 293 is aanvanklik met 'n radio beheer, maar dit is later so ontwikkel dat die operateur 'n televisiekamera voor in die missiel se neus gebruik het om die koers te bepaal en om te kyk of koersaanpassings doeltreffend is. By latere ontwikkelings is dun draadjies, waarmee elektroniese seine na die stuuroppervlakke gestuur is, gebruik om die missiel na die teiken te lei. Hierdie metode word vandag nog met dodelike effek in anti-tenkwapens gebruik: in die Oktober-oorlog van 1972 is 'n groot aantal Israeliese tenks byvoorbeeld met die Sowjet-vervaardigde AT-3 Sagger vernietig.
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het Duitsland 'n aantal grond-tot-lug-missiele ontwikkel om vliegtuie mee af te skiet. Die missiele, soos die Rheintochter, Wasserfall en Enzian, kon verbasende snelhede en hoogtes bereik. Probleme met die aanpeilingstelsels het egter veroorsaak dat hulle nie doeltreffend gebruik kon word nie. Die Geallieerde Magte se missiele het, op een tipe na, by dié van Duitsland en Japan afgesteek. Die Amerikaanse Lugmag het 'n aantal sweefbomme, die BG-, die GB- en die VB-reeks, gebruik.
Dit was gewone bomme wat vlerkies gehad het en deur radiobeheer na teikens gestuur kon word. 'n Aantal daarvan is met welslae gebruik, maar die volle potensiaal van so 'n stelsel kon eers met die ontwikkeling van laserrigtingstelsels aan die begin van die sewentigerjare ten volle benut word. Bomme was daarna in staat om 'n laserstraal met besondere akkuraatheid na 'n teiken te volg. Die Israeli-aanval op 'n Irakese kernkragsentrale in 1981 is met behulp van die bomme uitgevoer.
In teenstelling met die BG-, die GB en die VB-reeks sweefbomme was die Bat, 'n selfaanpeilende missiel met 'n plofstoflading van 454 kg wat sy teiken, gewoonlik skepe, met behulp van radar opgespoor en daarna vernietig het. 'n Aantal Japanse skepe is in 1945 met die vliegtuiggelanseerde missiele vernietig. Ná die Tweede Wêreldoorlog is daar met die ontwikkeling van missiele voortgegaan en die oorwinnaars het baie uit die Duitse tegnologie geleer. Aanvanklik was die geleidingstelsel nie baie doeltreffend nie, en dit het meegebring dat klein teikens nie met akkuraatheid aangeval kon word nie.
Deur die missiele van 'n kernplofkop te voorsien, kan hulle 'n groter oppervlakte vernietig en hoef hulle dus nie so naby aan 'n teiken te kom nie. Die eerste reeks strategiese ballistiese missiele was trouens nie baie akkuraat nie. Gedurende die vyftigerjare was die groot moondhede in die sogenaamde Koue Oorlog gewikkel. Die gevaar van vyandelike bomwerpers wat stede met kernwapens kon vernietig, het gelei tot die ontwikkeling van gesofistikeerde grond-tot-lugmissiele.
Die moondhede se vegvliegtuie was in groter mate met geleide lug-tot-lug-missiele toegerus om vyandelike bomwerpers te onderskep. Die hittesoekende Sidewinder-missiel was die eerste geleide lug-tot-lug-missiel wat in 'n geveg gebruik is. Die missiel is in 1958 deur F86 Sabrejagters van die Republiek China (Taiwan) gebruik om Kommunistiese Chinese MiG-17’s af te skiet. In hierdie tydperk is baie navorsing oor missielstelsels gedoen, en dit is in die sestigerjare in die praktyk toegepas en so verbeter dat missieltegnologie met rasse skrede vooruitgegaan het.
Die Sowjetunie het sy lugafweerstelsels in die Viëtnamoorlog feitlik ondeurdringbaar vir vyandelike vliegtuie gemaak, terwyl die VSA in dieselfde oorlog sy lug-tot-grond- en lug-tot-lug-missielstelsels baie verbeter het. Die doeltreffendheid van hierdie stelsels is in die oorloë van die sewentigerjare en die vroeë tagtigerjare bewys. Dit het die gang van oorloë, byvoorbeeld die Jom Kippoeroorlog, die Falkland-oorlog en die konflik in Libanon bepaal.
Gedurende die Jom Kippoeroorlog was die Israeliese Lugmag feitlik geneutraliseer deur die SA-6-stelsels, terwyl sy pantsermagte geweldige verliese as gevolg van die gebruik van AT-3 Sagger-missiele gelei het. Totdat teenmaatreëls getref kon word, was Israel baie na aan sy eerste nederlaag. Die Falkland-oorlog het die belangrikheid van missiele in moderne oorlogvoering verder beklemtoon. Volgens Britse bronne is sowat 70 Argentynse vliegtuie gedurende die konflik afgeskiet – die oorgrote meerderheid deur AIM-9 Sidewinder-lug-tot-lug missiele, Seacat- en Seadart-skip-tot-skipmissiele, asook Rapier- en Blowpipe-grond-tot-lug missiele.
Die trefkrag van lug-tot-grondmissiele, byvoorbeeld die Franse Exocet, is bewys toe die Britse skepe HMS Sheffield en die Atlantic Conveyer deur die missiele gekelder is. Die gebeure het die wêreld verstom en dit sal waarskynlik 'n radikale verandering in militêre denke tot gevolg hê. 'n Minder bekende feit is die aanval op 'n Argentynse duikboot deur Britse Lynx-helikopters met Sea Skua-missiele. Die duikboot is as gevolg van die aanval gedwing om op die strand te loop. Die Israeli's het na die Jom Kippoeroorlog intensief gesoek na maniere om die missielbedreiging die hoof te bied.
Hulle het welslae behaal en die uitwerking daarvan was die totale uitwissing van die gevreesde Siriese grond-tot-lug-missielstelsel in die Bekaavallei gedurende die Libanonkonflik van 1982. Dit is vermag deur 'n klein, afstandbeheerde, onbemande vliegtuig oor die vallei te stuur. Die vliegtuigie het van sensors gebruik gemaak om die frekwensies van die radargeleidingstelsels van die missiele te identifiseer en na 'n beheervliegtuig te sein. Grondaanvalvliegtuie wat gewapen was met lug-tot-grondmissiele en wat radarsensitiewe geleidingstelsels het, het die Siriese stellings aangeval.