Maurizio Pollini (5 Januarie 1942 – 23 Maart 2024) was 'n Italiaanse klassieke pianis. Hy is veral bekend vir sy vertolkings van Beethoven, Schubert, Chopin, Brahms en Schoenberg. Hy was ook 'n voorstander van moderne komponiste soos Pierre Boulez, Luigi Nono, Karlheinz Stockhausen, Giacomo Manzoni, Salvatore Sciarrino en Bruno Maderna.

Belangrike werke is gekomponeer vir Pollini, waarvan die bekendste is: Nono se ..... sofferte onde serene ..., Manzoni se Masse: omaggio a Edgard Varèse en Sciarrino se vyfde sonate. Pollini het al beide opera en orkestrale musiek gedirigeer, en soms voor die klavier gedirigeer tydens concertos.

Lewe en loopbaan

Pollini is in Milaan gebore. Sy vader was die Italiaanse rasionalistiese argitek Gino Pollini, van wie dit gesê is dat hy die eerste persoon was om modernistiese argitektuur na Italië in die 1930's te bring. Pollini het aanvanklik klavier onder Carlo Lonati gestudeer tot die ouderdom van 13 en daarna onder Carlo Vidusso tot 18-jarige ouderdom. Hy het 'n diploma aan die Milaanse konservatorium verwerf en die Internasionale Ettore Pozzoli Klavierkompetisie in Seregno (Italië) in 1959 en die Internasionale Chopin Klavierkompetisie in Warskou in 1960 gewen.

Arthur Rubinstein, wat aan die hoof van die beoordelaarspaneel was, het Pollini as die wenner van die kompetisie verklaar en na bewering gesê: "daardie seun kan die klavier beter as enigeen van ons speel".

Kort daarna het hy Chopin se Concerto No. 1 in E mineur vir EMI opgeneem saam met die Filharmoniese Orkes onder die Poolse dirigent Paul Kletzki, en ook opnames van Chopin se etudes gemaak. Toe die Philharmonia Orkes Pollini 'n reeks konserte aangebied het, het hy volgens Peter Andry, die EMI-platevervaardiger, "'n klaarblyklike krisis in selfvertroue ondervind".

Hy het kort daarna onder Arturo Benedetti Michelangeli gestudeer, by wie hy "'n presiese tegniek en emosionele terughoudendheid aangeleer het", alhoewel sommige kritici kommer uitgespreek het dat Michelangeli se invloed Pollini se tegniek "pretensieus en koud" gemaak het. Gedurende die vroeë 1960's het Pollini sy konsertopvoerings begin beperk. Hy het verkies om hierdie jare te spandeer deur op sy eie te studeer en sy repertorium uit te brei.

In die 1960's het Pollini opvoerings gegee and opgetree saam met bekende orkeste in Europa, die VSA en die Verre Ooste. Hy het sy Amerikaanse debuut in 1968 gemaak, en sy eerste toer van Japan in 1974 onderneem.

Gedurende die 1960's en 1970's was Pollini 'n linkse politieke aktivis. Hy het saam met Luigi Nono gewerk in werke soos Nono se Como una ola de fuerza y luz (1972), wat ten doel gehad het om die sluipmoord op Luciano Cruz, 'n leier van die Chileense Revolusionêre Front, te betreur. Hy het saam met Claudio Abbado by La Scala opgetree in 'n siklus van konserte vir studente en werkers in 'n poging om 'n nuwe gehoor op te bou, aangesien Abbado en Pollini geglo het dat kuns vir almal moet wees. Sommige van Pollini se opvoerings is oorskadu deur oproerighede in die gehoor, en een moes selfs beëindig word deur die ingryping van die polisie. duimnael|Pollini saam met Pierre Boulez in Parys (2009) In 1985, by geleentheid van Bach se drie-honderdste herdenking, het hy die volledige eerste boek van Bach se Das Wohltemperierte Klavier gespeel. In 1987 het hy die volledige klavierkonserte van Ludwig van Beethoven in New York opgevoer saam met die Weense Filharmoniese Orkes onder Claudio Abbado, en tydens dieselfde geleentheid die orkes se erering ontvang. In 1993-94 het hy die eerste volledige siklus van Beethoven se klaviersonates in Berlyn en München gespeel en later ook in New York, Milaan, Parys, Londen en Wene.

Hy het tydens die Salzburg-fees in 1995 die eerste opvoering van die "Progetto Pollini", gegee - 'n reeks konserte waarin nuwe en ou werke in jukstaposisie geplaas is. 'n Soortgelyke reeks is gegee by Carnegie Hall in Januarie 2000, met "Perspectives: Maurizio Pollini", en by Londen se Royal Festival Hall in November 2010 met die "Pollini Projek", 'n reeks van vyf konserte, met werke wat strek van Bach tot Stockhausen. In Maart 2012 is aangekondig dat Pollini sy toekomstige optredes in die VSA om mediese redes gekanselleer het.

In 2014 het Pollini opgetree tydens 'n toer wat die Salzburg-fees ingesluit het en sy debuut gemaak by die Rheingau-musiekfees waartydens hy Chopin se Preludes, Opus 28 gespeel het in die Kurhaus Wiesbaden asook Boek 1 van Claude Debussy se Préludes.

Pollini is die vader van die pianis Daniele Pollini (gebore in 1978).

Maurizio Pollini sterf op 23 Maart 2024 op 82-jarige ouderdom.Addio a Maurizio Pollini

Opnames

Pollini se eerste opnames vir Deutsche Grammophon in 1971 het Strawinski se Trois mouvements de Petrouchka en Prokofiëf se Sonate No. 7 ingesluit. Dit word steeds beskou as een van die briljantste twintigste eeuse klavieropnames. Hy was een van Deutsche Grammophon se top pianiste. Sy opname van Chopin se Études Opp. 10 en 25, (ook met Deutsche Grammophon) het aan Pollini internasionale aansien besorg. In 2002 het Deutsche Grammophon 'n 13-CD herdenkingsuitgawe vrygestel om Pollini se 60ste verjaardag te vier, en later 'n volledige vrystelling (58 cd's) van sy opnames vir die handelsmerk om sy 75ste verjaardag te herdenk. Sy vertolking van Beethoven se klaviersonates is in 2014 voltooi en vrygestel as deel van 'n 8-CD-stel.

Al was Pollini bekend vir sy uitsonderlike tegniek, is hy soms gekritiseer vir sy emosionele konserwatisme.Schonberg, Harold. The Great Pianists from Mozart to the Present (1987 edition) In sy onderhoude het Maurizio Pollini egter gesê dat hy: "op so akkurate wyse as moontlik probeer uitdrukking gee aan die bedoeling van die komponis, en dat dit regdeur sy loopbaan vir hom 'n belangrike oorweging was."

Toekennings en pryse

In 1996 het Pollini die Ernst von Siemens-musiekprys gewen. In 2001 het sy opname van Beethoven se Diabelli Variasies die Diapason d'or gewen. In 2007 het Pollini die Grammy-toekenning vir beste instrumentale solis (sonder orkes) gewen vir sy Deutsche Grammophon-opname van Frédéric Chopin se nokturnes. Die Praemium Imperiale is in 2010 aan hom toegeken. Hy is in 2012 opgeneem in die musiektydskrif Gramophone se eregalery.

Verdere leesstof

Verwysings

Kategorie:Italiaanse dirigente Kategorie:Italiaanse pianiste Kategorie:Geboortes in 1942 Kategorie:Sterftes in 2024