Balthazar Johannes (John) Vorster (13 Desember 1915 – 10 September 1983) het dr. Hendrik Frensch Verwoerd met laasgenoemde se sluipmoord op 6 September 1966 opgevolg as Eerste Minister van Suid-Afrika en so die sewende Eerste Minister sedert Uniewording geword. Hy was ook 'n kort tydperk van 1978 tot 1979 die Staatspresident van Suid-Afrika.

Vroeë loopbaan Balthazar Johannes (John) Vorster is op 13 Desember 1915 in Jamestown in die huidige Oos-Kaap gebore. Hy was die dertiende van die 14 kinders van Willem Carel Vorster en Elizabeth Wagenaar, wat op die plaas Spitskop gewoon het.

Hy het sy hoërskoolloopbaan op Sterkstroom voltooi, en in 1936 die B.A.-graad in die regte en in 1938 die graad LLB aan die Universiteit van Stellenbosch behaal. Op Stellenbosch was hy primarius van John Murray-huis (Dagbreek), lid van die studenteraad en voorsitter van die Junior Nasionale Party. Na voltooiing van sy studie het Vorster griffier van die Regterpresident van die Kaapprovinsie geword.

Aan die einde van 1938 het hy as prokureur in Port Elizabeth begin praktiseer, waar Tini Malan, wat hy in sy studentejare reeds leer ken het, as maatskaplike werker werksaam was. Hulle is op 20 Desember 1941 op Worcester getroud.

Ossewa-Brandwag Vroeg in 1940, toe die Tweede Wêreldoorlog 'n paar maande aan die gang was, is Vorster tot generaal in die Ossewa-Brandwag bevorder. Hoewel met die Nasionale Party van dr. D.F Malan ooreengekom is dat die Ossewa-Brandwag slegs as 'n kulturele organisasie sou bestaan, het die OB onder leiding van dr. Hans van Rensburg in die vroeë veertigerjare die politieke terrein betree.

Die organisasie was nie net gekant teen Suid-Afrika se deelname aan die oorlog nie, maar ook teen die gematigde houding van die NP (in daardie stadium die amptelike opposisie). Op 23 September 1942 is Vorster vanweë sy OB-verbintenis in hegtenis geneem en van 17 Desember af in die interneringskamp by Koffiefontein aangehou. In Junie 1943 is Vorster verkies tot kampleier en het hy as tussenganger tussen die geïnterneerdes en die kampkommandant opgetree.

Op 11 Februarie 1944 is hy vrygelaat, en in dieselfde jaar het hy hom as prokureur op Brakpan gevestig.

Volksraadslid In die algemene verkiesing van 1948 is Vorster deur die Afrikanerparty van Klasie Havenga as kandidaat in die kiesafdeling Brakpan aangewys. Volgens die verkiesingsooreenkoms tussen Malan en Havenga kon geen voormalige OB-lid as kandidaat benoem word nie, en die NP het teen Vorster se benoeming beswaar gemaak. Vorster het daarop besluit om hom as 'n onafhanklike kandidaat verkiesbaar te stel.

NP-leiers, onder wie dr. H.F. Verwoerd, in daardie stadium redakteur van Die Transvaler, het Nasionaliste egter aangeraai om nie vir hom te stem nie, maar hy het met slegs 2 stemme teen die Verenigde Party-kandidaat, A.E. Trollip, verloor. Ironies genoeg het Trollip later in Vorster se kabinet gedien. In die verkiesing van April 1953 is Vorster as NP-kandidaat in die kiesafdeling Nigel tot Volksraadslid verkies.

Minister van Justisie In Oktober 1958 het die pasverkose Premier, dr. H.F. Verwoerd, Vorster as Adjunk-minister van Onderwys, Kuns en Wetenskap en van Volkswelsyn en Pensioene aangestel. Dit was onder meer sy taak om die Wet op Uitbreiding van Universiteitsopleiding in 1959 voor te berei.

Die wet het voorsiening gemaak vir stigting van universiteitskolleges vir anderskleuriges en het Blanke universiteite verbied om nie- Blanke studente te aanvaar. In Augustus 1961 is Vorster aangestel as Minister van Justisie, Polisie en Gevangenisse. Die portefeulje het Vorster voortdurend in die kollig geplaas, aangesien daar in die jare na Sharpeville (1960) verskeie revolusionêre organisasies in Suid-Afrika bedrywig was.

Vorster het die heersende toestande in Suid-Afrika as buitengewoon bestempel en gevra dat buitengewone magte aan hom toegestaan word om die situasie op te klaar. Na die verbanning van die African National Congress en die Pan African Congress in 1960 is 'n nuwe revolusionêre beweging, uMkonto we Sizwe ("Die spies van die nasie"), in November 1961 deur lede van die ANC en die verbode Kommunistiese Party gestig.

Een van die leiers van die beweging was Nelson Mandela. Die dade van terreur wat deur die organisasie gepleeg is, het gelei tot die sogenaamde sabotasiewet, die 1962-wysiging van die destydse Wet op die Onderdrukking van Kommunisme, No. 44 van 1950, ingevolge waarvan sabotasie gelykgestel is met hoogverraad. In die wet is afgesien van die demokratiese gebruik dat 'n beskuldigde onskuldig is totdat hy skuldig bewys is, en die onus is op die beskuldigde geplaas om sy onskuld te bewys.

Die doodstraf kon vir sabotasie opgelê word. Nadat die Poqo-beweging in 1962 vir opstande in die Paarl verantwoordelik was, het Vorster in Junie 1963 die sogenaamde 90-daebepaling deurgevoer. Die wysiging van Wet 44 van 1950 het onder meer daarvoor voorsiening gemaak dat polisie-offisiere enige persoon wat van sabotasie verdink word of daarvan verdink word dat hy van sabotasie kennis dra, vir 'n tydperk van 90 dae sonder verhoor kon aanhou. Intussen het Vorster genl. Hendrik van den Bergh in 1962 as hoof van die Veiligheidstak van die Suid-Afrikaanse Polisie aangestel.

11 Julie 1963 het die polisie op die hoofkwartier van uMkonto we Sizwe in Rivonia toegeslaan. In die daaropvolgende verhoor is 8 van die leiers, onder wie Mandela, skuldig bevind en tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis. Die advokaat wat vir die verdediging opgetree het, Bram Fischer, is in Mei 1964 weens Kommunistiese bedrywighede dieselfde vonnis opgelê. John Harris van die African Resistance Movement het in Julie 1964 'n bom op die Johannesburgse stasie laat ontplof.

Een persoon is in die ontploffing dood en sowat 20 beseer, en Harris is die doodstraf opgelê. In 1965 het Vorster 'n wysiging van die Wet op die Onderdrukking van die Kommunisme (die sogenaamde 180-dae-bepaling) deurgevoer. Die wet het die tydperk van aanhouding tot 180 dae uitgebrei en van sy voorganger verskil in die opsig dat handelingsbevoegdheid aan die prokureur-generaal verleen is en nie aan die polisie nie.

Premier Op 13 September 1966, 3 dae na die begrafnis van Verwoerd, is Vorster deur die NP-koukus eenparig as die nuwe Premier van Suid-Afrika aangewys. Hy het uit die staanspoor 'n meer pragmatiese benadering ten opsigte van beleidvoering ingeneem en by meer as een geleentheid verklaar dat die vinnig veranderende omstandighede in Afrika en Suid-Afrika 'n beleidsaanpassing vereis.

Hy het hom dit ten doel gestel om Verwoerd se strewe na Blanke eenheid voort te sit, om 'n aktiewe bydrae tot die oplossing van die vraagstukke ten opsigte van Rhodesië (Zimbabwe) en Suidwes-Afrika (Namibië) te lewer, om binnelands met die leiers van ander bevolkingsgroepe oorleg te pleeg, en om met die leiers van Afrika-state kontak te maak.

Uitwaartse beleid Vorster se siening was dat Suid-Afrika se toekoms tot groot hoogte van die orde en stabiliteit in die buurlande afhang. Een van die aspekte wat mettertyd 'n oorheersende kenmerk van sy premierskap geword het, was die verbetering van Suid-Afrika se betrekkinge met Afrika en die Weste. In 'n toespraak op 17 Februarie 1967 in Parow het Vorster beklemtoon dat Suid-Afrika deel van die internasionale gemeenskap moet wees. In 'n radiotoespraak op die sesde verjaardag van republiekwording (31 Mei 1967) het hy vir die eerste keer die woord uitwaarts gebruik.

Uitwaarts en détente (ontspanning) het die kenwoorde van sy beleid geword. Dit was in skrille kontras met die "laermentaliteit" waarmee die Afrikaners en die NP tradisioneel geassosieer is. Vorster het sy vredesoffensief op 10 Januarie 1967 begin toe hy met hoofman Leabua Jonathan van Lesotho in Kaapstad samesprekings gevoer het. In Maart 1967 het 3 ministers van Malawi Suid-Afrika besoek om 'n handelsooreenkoms te sluit, en aan die einde van 1967 het Suid-Afrika en Malawi diplomatieke verteenwoordigers op ambassadeursvlak uitgeruil.

In Mei 1970 het Vorster 'n ampsbesoek aan pres. H. Kamuzu Banda van Malawi gebring. Tussen 1970 en 1974 het die toenaderingsbeleid grootliks tot stilstand gekom, deels vanweë die afsplintering van die regse Herstigte Nasionale Party. Teen die einde van 1974 het die beleid weer momentum begin kry, hoofsaaklik vanweë die staatsgreep in Portugal in April 1974 en die daaropvolgende onafhanklikwording van Angola en Mosambiek.

Sonder dat Suid-Afrika en die buitewêreld bewus was van sy geheime besoek aan die Ivoorkus op 21 en 22 September 1974, het Vorster op 23 Oktober 1974 een van die belangwekkendste toesprake van sy loopbaan in die Senaat gelewer. Hy het klem gelê op vrede, vooruitgang en ontwikkeling in Afrika, en pres. Kenneth Kaunda van Zambië het die toespraak verwelkom as "die stem van rede waarop Afrika gewag het".

In Februarie 1975 het The Times van Londen berig dat samesprekings tussen Vorster en pres. William Tolbert van Liberië in die vorige week gevoer is, en in Mei 1975 is bevestig dat Vorster in September 1974 'n besoek gebring het aan pres. Felix Houphouet-Boigny van die Ivoorkus. Tot aan die einde van Vorster se premierskap het Suid-Afrika en die Ivoorkus redelik vriendskaplike betrekkinge gehandhaaf. Teen die einde van 1975 was dit bekend dat Vorster in 5 maande 11 Afrika-leiers ontmoet het.

Hy het al hoe meer aandag bestee aan Suider-Afrika se twee groot probleme: Namibië (Suidwes-Afrika) en Zimbabwe (Rhodesië). Die oplossing van die vraagstukke was noodsaaklik vir die normalisering van betrekkinge met die res van Afrika.

Namibië Vorster se strategie ten opsigte van Namibië (destyds Suidwes-Afrika) was tweeledig: hy wou dit by die inwoners van die gebied tuisbring dat hulle self die inisiatief moet neem in die oplossing van die vraagstuk, en hy wou tyd wen om die proses te voltooi. Op 7 Maart 1972 het die sekretaris-generaal van die VVO, dr. Kurt Waldheim, in Kaapstad samesprekings met Vorster gevoer. In Oktober dieselfde jaar het Waldheim se spesiale gesant vir Namibië, dr. Alfred Escher, in Suid-Afrika 'n ooreenkoms met die regering bereik ingevolge waarvan 'n adviesraad vir Namibië ingestel sou word. Op 1 September 1975 het die sogenaamde Turnhalle-beraad van die binnelandse partye van Namibië begin, waaruit die Demokratiese Turnhalle-Alliansie (DTA) ontstaan het, met Dirk Mudge aan die spits. Die politieke chaos wat op die onafhanklikwording van Angola in 1975 gevolg het, het daartoe gelei dat die Marxistiese MPLA die hulp van Kubaanse troepe teen die FNLA ingeroep het. Ten einde stabiliteit in Namibië te verseker, het Suid-Afrikaanse troepe in Angola ingegryp. Die inval was 'n groot terugslag vir Vorster se detente-beleid en met sy uittrede in 1978 was die vraagstuk oor Namibië nog nie opgelos nie.

Zimbabwe Die Zimbabwiese vraagstuk het ontstaan deurdat Zimbabwe (destyds Rhodesië) onder leiding van Ian Smith hom op 11 November 1965 eensydig onafhanklik verklaar het. Vorster het uiteindelik as bemiddelaar tussen die strydende partye in Zimbabwe opgetree, en om Suid-Afrika se saak as onpartydige bemiddelaar te versterk, is die lede van die Suid-Afrikaanse Polisie wat in 1967 na Zimbabwe gestuur is om die land teen terroriste-aanvalle te help verdedig, in 1975 onttrek.

'n Dramatiese hoogtepunt van Vorster se Afrika-beleid was die beraad wat op 25 Augustus 1975 op die brug oor die Zambezirivier by die Victoria-waterval plaasgevind het. Ian Smith en lede van die Zimbabwiese ANC het by die geleentheid met mekaar oor 'n skikkingsplan vir Zimbabwe onderhandel nadat die ontmoeting deur Vorster en Kaunda moontlik gemaak is. Die beraad het misluk, maar nogtans die fondament gelê vir verdere onderhandelings en die uiteindelike oplossing in 1980, toe die ou Rhodesië 'n internasionaal erkende staat (Zimbabwe) met 'n Swart meerderheidsregering geword het.

Betrekkinge met die VSA