duimnael|Die Uniegebou in Pretoria, simbool van die Uniewording. Die Uniegebou bestaan uit 'n Afrikaanse (links) en 'n Engelse vleuel, wat die vereniging van Suid-Afrika simboliseer duimnael|links|upright|Sir James Molteno was die laaste speaker van die Kaapse Wetgewer en die eerste van die Unie-Volksraad
Die Unie van Suid-Afrika het op 31 Mei 1910 deur 'n wet van die Britse Parlement, die Suid-Afrika-Wet, tot stand gekom, op dieselfde dag van die jaar as wat die Verdrag van Vereeniging in Melrose-huis, Pretoria, onderteken is in 1902.
Dit het gevolg op die Nasionale Konvensie van 1908 tot 1909 waar verteenwoordigers van die Kaap en Natal en die voormalige Boererepublieke die wetsontwerp opgestel het wat die land tot 'n selfregerende dominium binne die Britse Statebond sou verenig.
Op dieselfde dag van die jaar (31 Mei) het ook die Republiek van Suid-Afrika 51 jaar later tot stand kom, wat die einde beteken het van die Unie van Suid-Afrika. Hierdie geskiedkundige gebeurtenis staan as Republiekwording bekend.
Politieke eenwording het noodsaaklik geword vanweë die ekonomiese botsings tussen die kolonies en die behoefte aan 'n eenvormige rassebeleid. 'n Konsepgrondwet vir die Unie is opgestel deur 'n Nasionale Konvensie wat in 1908/09 in Durban, Kaapstad en Bloemfontein vergader het.
Hoewel die grondwet voor siening gemaak het vir 'n hegte unie met 'n sterk sentrale regering, is toegewings gedoen aan voorstanders van federalisme deurdat elke provinsie 'n eie regerende liggaam met beperkte bevoegdhede sou hê. Die gees van kompromis waarin die grondwet opgestel is, is ook weerspieël in die 2 verskanste klousules ten opsigte van Kaapland se Nie-Blanke stemreg en die gelyke regte van Engels en Nederlands as amptelike tale en in die verdeling van die hoofstad.
Na die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) was al die gebiede in Suid-Afrika onder beheer van die Britse kroon, en met die verlening van verantwoordelike bestuur aan die Oranjerivierkolonie en Transvaal in 1907 het die 4 kolonies gelyke konstitusionele status gehad. Die gedagte om die kolonies in een staat saam te snoer, het in die stadium reeds by verskeie Suid-Afrikaanse staatsmanne (Engels-sowel as Afrikaanssprekendes) posgevat en het vanweë die ekonomiese stryd tussen die kolonies en die dringende noodsaaklikheid van ʼn eenvormige rassebeleid steeds meer veld gewen.
Ekonomiese stryd Lord Alfred Milner, die Britse Hoë Kommissaris in Suid-Afrika en goewerneur van Transvaal en die Oranjerivierkolonie, het reeds in 1901 'n sogenaamde modus vivendi met Mosambiek aangegaan: in ruil vir die reg om in Mosambiek arbeiders vir die Transvaalse goudmyne te werf, sou minstens 55 % van die Witwatersrand se vragvervoer op die Lourenço Marques-spoorlyn geskied. Die reëling was vir Transvaal die voordeligste omdat ongeveer 85 % van die spoorlyn oor sy eie gebied geloop het en Lourenço Marques (huidige Maputo) nader aan die Rand was as Durban of die Kaapse hawens.
Die amalgamasie van die spoorweë van Transvaal en die Oranjerivierkolonie (Central South African Railways) het dit moontlik gemaak om die deel van die spoorlyn tussen Pretoria en die Mosambiekse grens van die Nederlandsch Zuid-Afrikaansche Spoorwegmaatschappij te koop en het ook die verbinding van Kroonstad met Bethlehem moontlik gemaak. Laasgenoemde trajek het die Kaapse hawens nadelig getref omdat dit spoorvervoer na Durban gestuur het.
As gevolg van die groot mededinging het die kuskolonies se inkomste uit spoorvervoer drasties afgeneem. 'n Konferensie wat Milner in 1905 belê het om die geskille op te los, het misluk en hy kon ook nie daarin slaag om die modus vivendi met Mosambiek te wysig nie. Teen 1908 het die Kaapkolonie 'n geringe aandeel van 13 % in die Randse handelsverkeer gehad en Durban slegs 24%. Die ekonomiese stryd is vererger deur die doeanevraagstuk. Sedert 1903 het al 4 die kolonies plus Suid-Rhodesië (huidige Zimbabwe) en die Britse protektorate tot 'n tolunie behoort wat binnelandse vryhandel verseker het.
Volgens ooreenkoms is regte op invoerprodukte in die hawens deur die kuskolonies in oorleg met die binnelandse kolonies gehef. Nadat die kuskolonies 5 % vir administrasiekoste afgetrek het, is die inkomste uit doeane gelykop onder die kolonies verdeel. Natal wou sy inkomste vermeerder deur die invoertariewe te verhoog. Transvaal was egter ten gunste van laer invoertariewe ten einde sy lewens- en mynbedryfskoste so laag moontlik te hou. In 1906 het Natal gedreig om hom aan die tolunie te onttrek, en om hom tegemoet te kom, is daar by 'n konferensie in Pietermaritzburg toegewings gedoen wat niemand tevrede gestel het nie.
In 1907 het Transvaal, wat intussen verantwoordelike bestuur ontvang het, kennis gegee dat hy die tolunie in Junie 1908 sou verlaat. Dit sou hom daartoe in staat stel om goedere goedkoper deur Lourenço Marques in te voer en terselfdertyd 'n ringmuur van tariewe op te bou om sy eie landbouprodukte te beskerm. So 'n stap sou 'n ernstige verlies vir die kuskolonies beteken. Die ekonomiese vraagstukke in Suid-Afrika was onoplosbaar en om 'n permanente politieke breuk tussen die kolonies te voorkom, het 'n politieke unie met een spoorwegstelsel en een ekonomiese stelsel na die enigste oplossing geblyk.
Rassebeleid Die sosio-ekonomiese vooruitgang van Suid-Afrika het 'n eenvormige beleid ten opsigte van die Nie-Blanke bevolking geverg. Die ontstamming en verstedeliking van die Swartes en die verhuising van Indiërs uit Natal na Transvaal was vraagstukke Wat op interkoloniale vlak aangepak moes word. Die aanbevelings van 'n Interkoloniale Kommissie van Bantoesake (1903-1905) was onuitvoerbaar omdat elke kolonie sy eie beleid gevolg het.
Die toestand het verwarring en onsekerheid veroorsaak. Die swak hantering van die rassevraagstuk in een kolonie kon die veiligheid van die ander kolonies bedreig. In 1906 moes 'n Zoeloe-opstand in Natal, bekend as die Bambata-rebellie, met die hulp van Transvaal en die Kaapkolonie onderdruk word. Meer as 3 000 Zoeloes het in die opstand gesneuwel. Die opstand het gevolg op die besluit van die Natalse parlement om een pond persoonlike belasting op alle manlike burgers, behalwe getroude Swartes, te hef.
Natal se hantering van die opstand en die daaropvolgende verhoor van Dinuzulu, hoof van die Zoeloes se koningshuis, het skerp kritiek in Brittanje sowel as in Suid-Afrika tot gevolg gehad. Terselfdertyd het die onbeheerste emigrasie van Indiërs uit Natal na Transvaal daartoe gelei dat die Transvaalse regering wetgewing ingestel het om die instroming van Indiërs te beheer. Die Indiërs het hulle onder leiding van Mahatma Gandhi teen die wetgewing verset.
Die ooreenkoms wat in 1908 tussen Gandhi en Smuts bereik is, het die probleme net tydelik opgelos. Dit was duidelik dat 'n gemeenskaplike rassebeleid noodsaaklik was vir die stabiliteit van al 4 die kolonies en dat die beleid deur slegs 'n sterk sentrale regering uitgevoer kon word.
Die Selborne-memorandum Die gedagte aan staatkundige eenheid het teen 1906 reeds by verskeie Suid-Afrikaanse politici posgevat. Hul redes vir eenwording was, afgesien van die belangrike ekonomiese en rassevraagstukke, egter nie altyd dieselfde nie. Die Transvaalse premier, genl. Louis Botha, en sy adjunk, genl. J.C. Smuts, wou graag die sogenaamde imperiale faktor in Suid-Afrika uitskakel, dit wil sê hulle wou sien dat die beweging vir eenheid in Suid-Afrika self ontwikkel, dat dit die steun van anti-imperialistiese partye geniet en dat dit nie deur Brittanje afgedwing word nie.
Die siening is gedeel deur die Kaapse politieke leier, John X. Merriman, wat in 1908 met die steun van die Afrikanerbond aan die bewind gekom het. Vir Botha en Smuts sou samewerking tussen die Afrikaners en die Engelse in ʼn verenigde Suid-Afrika die kroon span op die sogenaamde konsiliasiebeleid wat hulle reeds in Transvaal toegepas het. Oud-president M.T. Steyn en genl. J.B.M. Hertzog was ook sterk voorstanders van eenwording omdat al die Afrikaners in Suid-Afrika daardeur onder een vlag herenig sou word.
In 'n sterk verenigde staat sou die Afrikaners beter daartoe in staat wees om hul identiteit te handhaaf. Die bewindhebbers in Brittanje het verantwoordelike bestuur aan Transvaal en die Oranjerivierkolonie verleen juis in die hoop dat die vereniging van die Brits-Suid-Afrikaanse gebiede daardeur bespoedig sou word. Volgens hulle sou 'n verenigde Suid-Afrika 'n versterking van die imperiale bande beteken en 'n groter mate van lojaliteit verseker ingeval Brittanje in 'n Europese oorlog betrokke raak.
Die imperiale siening is onderskryf deur dr. L.S. Jameson, wat van 1904 tot 1908 die premier van die Kaapkolonie was. In November 1906 het hy hom deur Lionel Curtis laat oorreed om by lord Selborne (Milner se opvolger) aan te beveel dat die politieke situasie in Suid-Afrika hersien word met die oog op moontlike eenwording. Curtis was ʼn lid van Milner se "Kindergarten", wat belangrike openbare poste in Transvaal beklee het. In Oktober 1906 het hy uit sy pos bedank en 'n reis deur al 4 die kolonies onderneem, waarna hy ʼn konsepmemorandum oor eenwording opgestel het.
Curtis se memorandum is met etlike wysigings in Januarie 1907 onder die naam van lord Selborne gepubliseer met die titel A review of the present mutual relations of the British South African colonies. Die memorandum is aan die regerings van die kolonies, insluitende aan Suid-Rhodesië, gestuur. Selborne wou nie die indruk wek dat unifikasie van Britse kant op Suid-Afrika afgedwing word nie en het die klem geplaas op die voordele wat dit vir Suid-Afrika sou inhou.
Die memorandum het die historiese oorsake vir die verdeeldheid van Suid-Afrika behandel en het dit onomwonde gestel dat blywende oplossings vir die ekonomiese en rasseprobleme slegs in 'n verenigde Suid-Afrika gevind kon word. Daar is ook gewys op die voordele wat verkry sou word uit die gemeenskaplike ontwikkeling van die landbou en mynbou en die koste wat bespaar sou word deur die instelling van een administrasie en verdedigingsmag. Die memorandum is gunstig ontvang, en in die daaropvolgende jaar het die idee vinnig veld gewen. Unifikasiebewegings het oral in Suid-Afrika ontstaan en die maandblad The State het hul lyfblad geword.
Doeanekonferensie Op versoek van Transvaal is 'n interkoloniale konferensie in Mei 1908 en later dieselfde maand in Kaapstad gehou om die doeanevraagstuk te bespreek. Hoewel niks deur die konferensie bereik is nie, het Smuts van die geleentheid gebruik gemaak om voorstelle in te dien wat daarop neergekom het dat die afgevaardigdes by hul onderskeie parlemente moes aanbeveel dat ʼn politieke vereniging van die kolonies bewerkstellig word en dat ʼn nasionale konvensie byeen moes kom om 'n konsepgrondwet op te stel.
Daar is besluit dat die Kaapkolonie 12 afgevaardigdes na die konvensie sou stuur, Transvaal 8 en die 2 kleiner kolonies elkeen 5. Suid-Rhodesie is genooi om 3 waarnemers te stuur vir ingeval hy later sou besluit om hom by 'n verenigde Suid-Afrika aan te sluit. Die Britse Hoë Kommissaris was nie, soos gebruiklik, by die konferensie verteenwoordig nie, ʼn aanduiding van die Suid-Afrikaanse leiers se voorneme dat die imperiale faktor geen rol in die voorbereiding vir politieke eenwording moes speel nie.
Nasionale Konvensie Die afgevaardigdes van die 4 kolonies, insluitende die 3 waarnemers van Suid-Rhodesië, het van 12 Oktober tot 5 November 1908 in Durban vergader. 'n Tweede sitting van die konvensie het van 23 November tot 3 Februarie 1909 in Kaapstad plaasgevind en 'n derde sitting, waartydens amendemente oorweeg is, van 3 tot 11 Mei 1909 in Bloemfontein.