Johannes Jacobus "Madolo" Kloppers (27 Augustus 1933, Delmas – c. Maart 2016) was tydens sy loopbaan van 37 jaar 'n leidende figuur in die ontwikkeling van die moderne Nasionale Krugerwildtuin. Danksy sy gereelde voetpatrollies kon hy groot dele van die wildtuin deeglik verken, sodat hy kundige bydraes kon lewer tot kartering en vasstelling van plekname. Sy Tsonga-bynaam "Madolo", oftewel "knieë", het na sy kenmerkende loopstyl verwys.

Jeug Hy het aan die Hoër Heidelberg Volkskool gematrikuleer en dan drie jaar lank medies aan die Universiteit van Pretoria studeer. Daarna het hy by die Suid-Afrikaanse Vloot aangesluit en terwyl hy opleiding ondergaan het, is hy 'n pos as wildbewaarder in die Krugerwildtuin aangebied.

Loopbaan Kloppers het sy loopbaan by Nasionale Parke op 1 Augustus 1955 as juniorveldwagter in die Tshokwaneblok van die Krugerwildtuin begin, voordat hy tot streeksveldwagter bevorder is. Hy is in 1963 na die Letabablok verplaas, en in November 1953 weer na die Satarablok as die distriksveldwagter vir die wildtuin se Sentrale Streek. Van 1967 af was hy in die Punda Mariablok die distriksveldwagter vir die Verre Noorde.

In 1973 is hy na Skukuza verplaas waar hy tot sy aftrede verskillende posisies beklee het. In 1974 is hy tot hoofveldwagter bevorder, en ook as assistentdirekteur van Natuurbestuur aangestel. In 1979 is hy as hoof van Natuurbestuur aangestel. Op versoek van die agbare E.J. (Enos) Mabuza het hy die KaNgwane-parkeraad (aanvanklik -parkekorporasie) in 1985 gestig en georganiseer. Hy het tot 1992 as voorsitter daarvan gedien. Hierdie raad en sy bewaringsgebiede, tesame met die plaaslike Provinsiale Bewaringsdienste, sou later die Mpumalanga-parkeraad word. Van 1991 tot sy aftrede op 1 November 1992 was hy die Krugerwildtuin se hoofbestuurder van Natuurbewaring.

Na sy aftrede het hy en sy gade Patricia (Pat), met wie hy in 1957 getroud is, op Mtunzini aan die Natalse noordkus gaan woon. Met sy dood in 2016 is hy deur sy enigste seun Koos (geb. 1974) oorleef. Om sy dienstermyn te gedenk is 'n groot ivoordraer, "Madolo", na hom vernoem.

Publikasies Kloppers was die dryfkrag agter die eerste akkurate amptelike kaarte van die Krugerwildtuin. Ook het hy in Koedoe en Ostrich waarnemings oor koedoes en renostervoëls gepubliseer. Benewens het hy die volgende publikasies laat verskyn: Butterflies of the Kruger National Park (1978, met Dr. G van Son) Place Names in the Kruger National Park (1992 voltooi, 2002 gepubliseer deur Ereveldwagters van die Pretoriastreek) A Dictionary of Kruger National Park Place Names (2005, met Hans Bornman)

Sy publikasies rakende plekname in die wildtuin word as waardevolle gevallestudies in die standaardisering van Suid-Afrikaanse plekname beskou. Die kundigheid van 'n historikus, etnoloog en 'n bedrewe taalkundige is hiervoor benodig, benewens sy deeglike kennis van die park wat oor 37 jaar heen opgedoen is. Kennis van die park se topografie, inwoners, geskiedenis en plekname is aangevul met 'n belangstelling in die historiese kaarte van die streek, en sy bewondering van die Tsonga-mense en hul pragtige beskrywende Tsonga-taal.

Hierdie werk wat 1 698 plekname in oënskou neem, het hy deels uit noodsaak verrig. Daaglikse bestuur van die wildtuin is naamlik in die wiele gery deur die dubbelsinnigheid van die plekname aldaar. Sekere liggings het onder verskillende plekname of spellings bekend gestaan, terwyl ander eenderse plekname weer vir verskillende liggings gebesig is. Kloppers moes deeglik kennis neem van die streeksgeskiedenis en die onderskeie tale waaruit die plekname ontleen is. Altesaam dertien inheemse en vreemde tale, waaronder Kiswahili en Hindi, was hier ter sprake.

Kloppers se doelwit was 'n enkele pleknaam vir elke benaamde ligging. 'n Spruit wat tot onlangs as Manhlindlovu, Manzendhlovu, Nwatindhlopfu, Olifant of Olifantspruit bekend was, word byvoorbeeld op sy aanbeveling as N'watindhlopfu aangedui, wat ook die korrekte Tsonga-ortografie weerspieël.

Verwysings

Kategorie:Veldwagters Kategorie:Suid-Afrikaners Kategorie:Geboortes in 1933 Kategorie:Sterftes in 2016 Kategorie:Krugerwildtuin