Dirk Adriaan Meerkotter (9 Februarie 1922 – 17 Desember 2017) was ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar.

Meerkotter is in Pietersburg gebore en het die grootste deel van sy kinderjare in Johannesburg deurgebring. Gedurende 1944 het Meerkotter vir ’n rukkie tekenonderrig onder leiding van Maurice van Essche aan die Kunsskool van die destydse Witwatersrandse Tegniese Kollege ontvang.

Meerkotter, ’n apteker van beroep, het homself in sy vrye tyd egter in ander media, soos akriel, waterverf en olieverf, en ander kunssoorte, soos pottebakkery en grafiese kuns, onderrig. Sy vroeëre werke toon duidelike invloede van Van Essche en die Kubisme, maar hy het later ’n eie, individuele styl ontwikkel.

Hoewel hy studiereise na die buiteland onderneem het, het kunsstrominge en kunstenaars daar geen invloed op sy styl gehad nie. Meerkotter was voortdurend besig om die tegniese moontlikhede van verskillende media te ontwikkel. Afgesien van die sukses wat hy as skilder behaal het, was hy ook ’n bedrewe etser en pottebakker.

Hy het in 1961 vir die eerste keer met pottebakkersklei begin werk. Sy eerste werke in die medium was hoofsaaklik gebruiksvoorwerpe, maar sedertdien het hy verskeie openbare opdragte in keramiekpanele uitgevoer. Meerkotter maak van ’n verskeidenheid van kleure in sy skilderkuns gebruik en wend dikwels swart aan om ’n dramatiese effek te verkry.

Sy werk is nie-figuratief en abstrak en simbole van primitiewe herkoms kom dikwels daarin voor. Dirk Meerkotter het nie net uitgebreid in Suid-Afrika uitgestal nie, maar het die land ook op buitelandse tentoonstellings verteenwoordig. Van sy werk is in verskeie Suid-Afrikaanse museums opgeneem asook in die versameling van die Rembrandt-kunsstigting, die Schlesinger-versameling, die Pretoriase Kunsmuseum, die Ann Bryant-kunsmuseum in Oos-Londen en die Kunsmuseum in Durban.

Bronnelys Wêreldspektrum, 1982, , volume 18, bl. 92 Brosjure van die Republiekfees 1966 • Kunsuitstallings in amptelike opdrag gereël deur die Suid-Afrikaanse Kunsvereniging van Graan, Riena: Die kuns van Dirk Meerkotter. In: Lantern.Tydskrif vir Kennis en Kultuur. Jaargang 23, nr. 1, September 1973

Verwysings

Eksterne skakels Dirk Meerkotter se tuisblad

Kategorie:Suid-Afrikaanse kunstenaars Kategorie:Geboortes in 1922 Kategorie:Sterftes in 2017