Japannese letterkunde is die liggaam van geskrewe werke wat deur Japan se skrywers in Japannees gebesig is, of anders gestel- wat in sy vroegste beginjare, in 'n tydgleuf waarin Japan geen geskrewe taal gehad het behalwe die Chinese klassieke taal nie - gebruik was.
Wat beide hoeveelheid, en kwaliteit, betref, is die Japannese letterkunde een van die belangrikste literatuurbronne en-skatte in die wêreld, vergelykbaar in ouderdom, rykheid van idioom, en omvang, tot die grootste letterkundige bewegings, alhoewel die ontwikkeling daarvan heeltemal anders verloop het.
Die werke wat oorleef het, behels 'n literêre tradisie wat vanaf die 7de eeu tot die hede strek; en gedurende hierdie tyd was daar nooit wat genoem kan word 'n "donker tydperk" sonder enige literêre produksies nie. Nie net het poësie, die roman en die drama 'n lang en deurleefde geskiedenis in Japan nie, maar sommige literêre genres wat nie so hoog geag word in ander lande nie, insluitende dagboeke, reisverhale en boeke van willekeurige gedagtes, is ook prominent.
Die aansienlike getal skrywes van Japannese in die Chinese klassieke taal (van veel groter omvang en belang as vergelykbare Latynse geskrifte deur Engelse skrywers) getuig van die groot Japannese verskuldigheid aan China, wat die literatuur betref.
Selfs die geskrifte wat geheel en al in Japannees geskryf was, bied 'n buitengewone verskeidenheid style aan, welke nie net in terme van die natuurlike evolusie van die taal verklaar kan word nie.
Sommige style was deurlopend en duidelik beïnvloed deur die oorheersing en belangrikheid van die Chineese woordeskat en sintaksis, maar andere het ontwikkel in reaksie op die interne vereistes van die verskillende genres, of dit nou die teerheid van die haikoe ('n gedig in 17 lettergrepe) was, of die bombasme van die dramatiese resitasie.
Die probleme met die lees van die Japannese letterkunde kan skaars oordryf word; en selfs 'n spesialis sal waarskynlik moeilikhede ondervind om 'n spesifieke werk van dié van 'n ander tydperk of genre te onderskei. Die Japannese styl het deurlopende dubbelsinnighede bevat, en die spraakdeeltjies wat nodig was vir die eenvoudige begrip van 'n stelling was dikwels as onnodig of as te puristies beskou.
Soms is die enigste leidraad betreffende die onderwerp of voorwerp van 'n sin die vlak van beleefdheid waarin die woorde geplaas word; Byvoorbeeld, die werkwoord mesu (wat beteken om te eet, om te dra, om in 'n kar te ry, ens.) dui bloot 'n handeling aan wat deur 'n gesiene persoon uitgevoer word.
In baie gevalle is die begrip van 'n eenvoudige sin afhanklik van vertroudheid met die agtergrond van 'n bepaalde tydperk. Die werkwoord miru, om te sien, het in die 10de en 11de eeu gelykenisse vertoon met om 'n verhouding te hê met, of selfs om te trou tydens die Heian-tydperk, toe mans oor die algemeen net vroumense kon sien nadat hulle intiem verkeer het.
Die lang tydperk van Japannese isolasie in die 17de en 18de eeu het tot gevolg gehad dat die literatuur baie provinsiaals was, oftewel slegs verstaanbaar vir persone wat 'n gemeenskaplike agtergrond het; byvoorbeeld; die uitdrukking 'n bietjie rook het luidrugtig opgedraal (kemuri tachisawagite), was die enigste aanleiding wat lesers van die laat 17de eeu nodig gehad het om te besef dat 'n skrywer verwys na die Groot Vuur van 1682, wat die Shogunale hoofstad van Edo (die moderne stad Tokio) vernietig het.
Ten spyte van die probleme wat voortspruit uit sulke eienaardighede of idiosinkrasiteite, is Japannese letterkunde van alle tydperke, besonder aantreklik vir moderne lesers, of dit nou in die oorspronklike vorm of in die vertaling gelees word.
Aangesien dit meestal subjektief is en gekleur is deur 'n emosionele, eerder as intellektuele of moralistiese toon, het die temas 'n universele gehalte wat byna onaangeraak is deur tyd.
Om 'n dagboek deur 'n Japannese hofdame van die 10de eeu te lees, is nog steeds 'n verrykende en genotvolle ervaring, want haar diepste gevoelens word met soveel eerlikheid en intensiteit beskryf, wat as't veroorsaak dat die hedendaagse leser die diskrepansie en afstandelikheid wat deur die verloop van tyd en die geskiedenis veroorsaak is, kan vergeet, en die verskille in sosiale gebruike oor die hoof kan sien wat haar wêreld van vandag se wêreld skei.
Die "suiwer" Japannese taal, onbesmet deur Chinese invloed, het merkwaardig min woorde van 'n abstrakte aard bevat. Net soos Engels woorde soos moraliteit, eerlikheid, geregtigheid en dies meer uit die vasteland geleen het, het die Japannese hierdie terme van China geleen. Alhoewel die Japannese taal gebreke getoon het betreffende die woordeskat wat geskik is vir 'n Konfúsiese essay, kon dit aan die ander kant byna oneindige skakerings van emosionele inhoud uitdruk.
'n Japannese digter wat ontevrede was met die beperkings wat deur sy moedertaal neergelê is; of wat nie-emosionele begrippe wou beskryf - of dit nou die rustige wandeling van 'n bejaarde aan 'n rivier was; of die digter se bewustheid van sy onbeduidendheid teenoor die grootsheid van die heelal - het van nature gegraviteer daarna om poësie in die Chinese taal te skryf. Vir die grootste deel het Japannese skrywers; ver van die verwagting dat hulle ontevrede sou voel met die uitdrukkingsmoontlikhede wat deur die beperkinge van hul taal opgelê is; oortuig daarvan geraak dat 'n virtuose perfeksie in frasering, en 'n akute verfyning van sentiment, belangriker was vir poësie as die uitspraak van intellektueel bevredigende konsepte.
Vanaf die 16de eeu is baie woorde wat van die Japannese poësie uitgesluit is weens hul vreemde oorsprong of hul nederige betekenisse; na aanleiding van die voorskrifte van die "kodes" van poëtiese diksie wat in die 10de eeu gevestig is; ingesluit deur beoefenaars van die haikoe, welke oorspronklik 'n ikonoklastiese, gewilde versvorm was. Hierdie kodes van poëtiese diksie, vergesel van 'n aansienlike liggaam van kritiek, het die skepping van 'n akute literêre sensitiwiteit tot gevolg gehad, veral gevorm en gekoester deur die tradisies van die Hof, en is gewoonlik saamgestel deur die voorste digters of dramatiste self. Hierdie kodes het 'n remmende effek op nuwe vorms van literêre samestelling uitgeoefen, maar hulle het ook gehelp om 'n kenmerkende aristokratiese toon te behou. Die Japannese taal self het ook poëtiese instrumente en vorme gevorm. By Japannees ontbreek 'n spanningsaksent en betekenisvolle rym (alle woorde eindig in een van vyf eenvoudige vokale), welke twee tradisionele kenmerke van poësie in die Weste is.
Daarteenoor word poësie in Japannees onderskei van prosa, hoofsaaklik omdat dit bestaan uit wisselende lyne van vyf en sewe lettergrepe. Nietemin, as die intensiteit van emosionele uitdrukking laag is, kan hierdie onderskeid alleen nie 'n gedig daarvan red om in prosa te verval nie.
Die moeilikheid om 'n hoë vlak van poëtiese intensiteit te handhaaf, mag verantwoordelik wees vir die verkieslikheid van kortvers vorms wat met perfeksionistiese sorg geskryf kan word. Maar, hoe hartroerend 'n tanka dan ook mag wees, (vers in 31 lettergrepe) kan dit duidelik nie die funksies vervul van langer poëtiese vorme nie. Daar is ook geen Japannese ekwivalente tot die lang, epiese gedigte van die Westerse letterkunde soos bv. John Milton se Paradys Verlore, N.P. van Wyk Louw se Raka of Dante Alighieri se Die Goddelike Komedie nie. In pleks hiervan, het die Japannese digters hul pogings daartoe gewend om elke lettergreep van hul komposisies te verbeter, die inhoud van 'n tanka deur voorstelle en toespeling uit te brei, en skakerings van toon en diksie meer aan te prys as oorspronklikheid of vryheid van uitdrukking.
Die vloeibare sintaksis van die prosa beïnvloed nie net styl nie, maar ook inhoud. Japannese sinne is soms van buitengewone lengte, reagerende op die subjektiewe draaie en verwringing van die skrywer se gedagtewêreld; en gladde oorgange van een stelling na die volgende, eerder as strukturele eenheid, word beskou as die merk van uitstekende prosa. Die langer werke toon dienooreenkomstig by tye 'n gebrek aan algehele struktuur van die soort wat in die Weste geassosieer word met Griekse konsepte van literêre vorm, maar bestaan in pleks daarvan uit episodes wat chronologies of deur ander assosiasies verbind is.
Die probleme wat Japannese skrywers ondervind om hul indrukke en persepsies in volgehoue werke te organiseer, kan die ontwikkeling van die dagboek en reisverhaal help verduidelik, genres waarin opeenvolgende dae of die opeenvolgende stadia van 'n reis 'n struktuur bied vir andersins nie-verwante beskrywings. Japannese letterkunde bevat sommige van die wêreld se langste romans en toneelstukke, maar die genialiteit daarvan word die beste in die korter werke vertoon, hetsy dit nou die tanka, die haikoe, die Noh opvoering, of die poëtiese dagboeke is.
Japannese letterkunde toon baie direkte invloede uit China, maar die kenmerkende literêre werke is opvallend verskillend. Die tradisie van vroulike skryfwerk, veral van sulke introspektiewe werke soos dagboeke, het 'n unieke skakering aan Japannese prosa gegee wat heeltemal anders is as die meer objektiewe, manlike Chinese geskrifte. Alhoewel die Japannese (selfs deur sommige Japannese) gekritiseer is vir hul nabootsing van Chinese voorbeelde, vooruitdateer die vroegste Japannese romans eintlik hul Chinese eweknieë met eeue, en die Japannese teater het inderdaad onafhanklik van Chinese invloede ontwikkel.
Omdat die Chinese en Japannese tale nie verwant is nie, het Japannese digkuns natuurlik verskillende vorme geneem, alhoewel Chinese poëtiese voorbeelde en literêre teorieë dikwels in die gedagtes van die Japannese digters aanwesig was. Japannees en Koreaans mag verwante tale wees, maar Koreaanse literêre invloede was onbeduidend, hoewel die Koreane 'n belangrike rol gespeel het in die oordrag en verplanting van Chinese literêre en filosofiese werke na Japan. Poësie en prosa wat in die Koreaanse taal geskryf is, was vir die Japannese tot relatief onlangs heeltemal onbekend.
Van die 8ste tot die 19de eeu het Chinese letterkunde meer prestige onder geleerde Japannese geniet as hul eie letterkunde; maar hul liefde vir die Japannese klassici, veral dié wat in die Hof in die 10de en 11de eeu geskryf en of gekomponeer is, het geleidelik tussen die hele volk versprei en letterkundige uitdrukking in elke vorm beïnvloed, selfs die liedjies en verhale deur nederige mense wat totaal verwyderd van die aristokratiese wêreld was.
Die eerste literatuurkuns in Japannees is meegebring deur beïnvloeding uit China. Die Japannese was nog steeds relatief primitief en sonder 'n literêre korpus, toe kennis van die Chinese beskawing hul geleidelik in die eerste vier eeue AD begin bereik het. Spoedig is baie kenmerke van hierdie beskawing geassimileer, en die Japannese skrifgeleerdes het Sjinese karakters as 'n skryfstelsel aangeneem, alhoewel 'n alfabet (as een beskikbaar was) vir die Japannese taal oneindig meer sou beteken en daarvoor geskik sou wees. Die karakters, wat eers ontwerp is om Chinese eenlettergrepige begrippe voor te stel, kon slegs met groot vindingrykheid gebruik word om die agglutinatiewe vorme van die Japannese taal voor te stel. Die uiteindelike gevolg was chaoties, wat aanleiding gegee het tot een van die mees ingewikkelde skryfstelsels wat ooit uitgevind is. Die gebruik van Chinese karakters het die uitdrukkingswyses baie beïnvloed en het gelei tot 'n assosiasie tussen literêre samestelling en kalligrafie wat eeue lank geduur het.