Sir Hercules George Robert Robinson (Chinees: 羅士敏勳爵 of 羅便臣) was goewerneur van die Kaapkolonie van 1880 tot 1889.

Hy is in 1824 in Engeland gebore as die seun van admiraal Hercules Robinson en gaan as kadet na die militêre opleidingskool Sandhurst waarna hy sy kommissie as luitenant ontvang in 1844, maar die leër twee jaar later verlaat om hom by die koloniale diens aan te sluit.

Sy eerste senior amp was in die Wes-Indiese Eilande in 1854, van waar hy in 1859 verplaas is om goewerneur van Hongkong te word in die ouderdom van net 35. Hy het daar aangebly tot 1865. Daarna volg Ceylon in 1865 en Nieu-Suid-Wallis van 1872 tot 1880.

Hy word in 1880 goewerneur van die Kaapkolonie en ook hoë kommissaris van Suid-Afrika. Hy het byna onmiddellik met die Eerste Vryheidsoorlog en die Slag van Majuba te kampe gehad. Ná die vrede herstel is, was daar die stormloop om Betsjoeanaland toe hy magtiging verleen het vir sir Charles Warren se besettingsmag. Tydens Robinson se ampstermyn het die inbesitname van Masjonaland deur Cecil John Rhodes en sy ondersteuners opnuut diplomatieke uitdagings teweeg gebring wat Robinson met welslae die hoof gebied het.

Met die beëindiging van sy termyn in 1889 keer hy terug Engeland toe, maar hy het ses jaar later teruggekom om met die toenemende krisis ten opsigte van die verhoudinge met die Boererepublieke te help. Hy het die vrylating van dr. Leander Starr Jameson in 1896 help bewerk, hoewel hy dit duidelik gemaak het dat hy nie Jameson se optrede goedgekeur het nie.

Uit waardering vir die wyse waarop hy dié krisis hanteer het, het die Britse kroon hom in 1896 lord Rosmead gemaak. Hy is die jaar daarna oorlede.

Sien ook Lys van kommandeurs en goewerneurs van die Kaapkolonie

Bronne Rosenthal, Eric, Encyclopaedia of Southern Africa, Juta and Company Limited, Kaapstad en Johannesburg, 1978.

Kategorie:Britse goewerneurs van die Kaapkolonie Kategorie:Mense in die Eerste Vryheidsoorlog Kategorie:Geboortes in 1824 Kategorie:Sterftes in 1897