duimnael|links|Harry Schwarz (links) saam met oudpresident George H.W. Bush (regs) in 1991. duimnael|links|Die destydse Suid-Afrikaanse ambassadeur tot die Verenigde State, Harry Schwarz, onthul die nuwe vlag van Suid-Afrika op 6 Mei 1994. Harry Heinz Schwarz (Keulen, Republiek van Weimar, 13 Mei 1924 – 5 Februarie 2010, Johannesburg, Suid-Afrika) was 'n Suid-Afrikaanse politieke leier en leier van die kortstondige Reformisteparty.

Hy emigreer as seun na Suid-Afrika weens die toename in Jodehaat in Duitsland, waarna hy 'n leerder was aan die Laerskool Tamboerskloof, die SACS in die Kaap en die Hoër Seunskool Jeppe in Johannesburg. Na matriek het hy hom as regsgeleerde aan die Universiteit van die Witwatersrand en aan die Universiteit van Londen bekwaam.

Sy politieke loopbaan het in 1951 begin toe hy as kandidaat van die Verenigde Party lid van die Johannesburgse stadsraad word. In 1958 word hy tot die Transvaalse Provinsiale Raad verkies en word leier van die Amptelike Opposisie. Hy word in 1974 verkies as Volksraadslid vir Yeoville.

Schwarz verlaat die Verenigde Party vroeg in die parlementsitting van 1975 saam met vier ander Volksraadslede en stig saam met hulle op 11 Februarie 1975 die Reformisteparty. Ná geslaagde onderhandelings met die Progressiewe Party smelt die twee partye saam as die Progressiewe Reformisteparty op 25 Julie 1975 met Colin Eglin as leier. Hy bly daarna lewenslank lid van agtereenvolgens die Progressiewe Federale Party, Demokratiese Party en Demokratiese Alliansie.

Schwarz is deur sy ou skool, die Hoër Seunskool Jeppe in Johannesburg, aangewys as politikus van die eeu vir sy werk as lid van die verdediging in die Rivonia-verhoor.

Sedert 1991 en ook tydens die bewind van die eerste Regering van Nasionale Eenheid was hy Suid-Afrika se ambassadeur in Washington, D.C., nadat hy deur president Nelson Mandela versoek is om in die amp aan te bly tot in Januarie 1995.

Verwysings

Eksterne skakels

Doodsberig in Beeld

Kategorie:Duitse Jode Kategorie:Suid-Afrikaanse ambassadeurs in die Verenigde State Kategorie:Suid-Afrikaanse anti-apartheidsaktiviste Kategorie:Suid-Afrikaanse immigrante uit Duitsland Kategorie:Suid-Afrikaanse Jode Kategorie:Politici van die Verenigde Party Kategorie:Geboortes in 1924 Kategorie:Sterftes in 2010