Alan Stewart Paton (11 Januarie 1903 – 12 April 1988) was 'n Suid-Afrikaanse skrywer en politieke leier.

Paton is op 11 Januarie 1903 in Pietermaritzburg gebore en studeer aan die plaaslike kollege asook aan die Universiteit van Natal. Hy het begin belangstel in maatskaplike werk en word aangestel as hoof van die Diepkloof-verbeteringskool naby Johannesburg in 1935, waar hy omstrede progressiewe hervormings ingestel het, insluitende beleid oor oop slaapsale, werkspermitte en huisbesoek.

Die tema van rasseskeiding staan sentraal in die meeste van sy werke en hy het die CNA-prys vir letterkunde twee keer ontvang. Hy was die oudste kind van James Paton, 'n snelskrifskrywer by die Hooggeregshof, en Eunice Warder James, 'n onderwyseres. Hy het sy hoërskoolopleiding aan die Maritzburg College ontvang en is daarna na die Natal University College, waar hy in die wiskunde en wetenskap gestudeer het met die oog op 'n loopbaan in die onderwys.

In 1928 is hy met Dorrie Lusted getroud en twee seuns is uit die huwelik gebore. Gedurende die tyd het Paton betrokke geraak by 'n Britse godsdienstige beweging, Toc H, wat hom beywer het vir 'n versoening tussen botsende bevolkingsgroepe.

Hoewel Paton 'n groot kampvegter vir die Afrikaners was, Afrikaans leer praat het en aan die eeufeesvierings ter herdenking van die Groot Trek in 1938 deelgeneem het, het die sege van die Nasionale Party in 1948, en veral die party se beleid van apartheid, hom ontstel. Hy het hom sterk teen hierdie partybeleid verset en was in 1953 die medestigter van die Liberale Party, wat in 1968 ontbind is.

Hy het lank as voorsitter van die party opgetree. In die tydperk het hy 'n rubriek in die tydskrif Contact behartig. Hierdie bydraes en sommige van sy politieke toesprake is in 1968 gebundel en onder die titel The long view gepubliseer. Hy het onder meer ook in die VSA lesings oor die toestande in Suid-Afrika gegee. ʼn Tyd lank was hy ook ere-ondervoorsitter van die studente-organisasie National Union of South African Students (NUSAS). Eredoktorsgrade is deur verskeie universiteite (Rhodes, Natal, Witwatersrand, Yale en die Kenyon-kollege in die VSA) aan hom toegeken.

Die roman wat hom wêreldberoemd gemaak het, Cry, the Beloved Country, verskyn in 1948, toevallig ook die jaar wat die Nasionale Party die bewind oorneem en met die beleid van apartheid begin. Die roman het wêreldwye aandag op die lot van swart Suid-Afrikaners gevestig. Dit word gevolg deur talle ander werke, onder meer "Too Late the Phalanrope", "Hofmeyr" oor die eertydse adjunk- eerste minister en 'n outobiografie in twee dele.

Paton was medestigter van die Liberale Party en is in 1960 tot president van die party verkies, 'n pos wat hy beklee tot en met die party se gedwonge ontbinding in 1968, toe dit verplig is om net lede van 'n enkele ras te aanvaar. Hy het ook wyd lesings aangebied, onder meer in die V.S.A.. Sy paspoort is in 1960 ingetrek weens die menings wat hy oor die apartheidsregering gehuldig het.

Hy sterf op 12 April 1988 in Botha's Hill, Natal.

Bibliografie 1948: Cry, The Beloved Country (in 1951 deur Zoltan Korda verfilm) 1950: Lost in the Stars, met Maxwell Anderson, deur Kurt Weill op musiek getoonset 1953: Too Late the Phalarope 1955: The Land and People of South Africa 1956: South Africa in Transition 1960: Debbie Go Home 1961: Tales from a Troubled Land 1964: Hofmeyr 1965: South African Tragedy 1965: Spono, met Krishna Shah 1967: The Long View 1968: Instrument of Thy Peace 1969: Kontakio For You Departed, ook For You Departed 1972: Case History of a Pinky 1973: Apartheid and the Archbishop: the Life and Times of Geoffrey Clayton, Archbishop of Cape Town 1975: Knocking on the Door 1980: Towards the Mountain 1981: Ah, but Your Land is Beautiful 1988: Journey Continued: An Autobiography 1989: Save the Beloved Country 2008: The Hero of Currie Road: the complete short pieces

Verwysings

Bronne Wêreldspektrum, 1982, , volume 22, bl. 115 Mostert, J.P.C., Politieke Partye in Suid-Afrika, Instituut vir Eietydse Geskiedenis, U.O.V.S., Bloemfontein, 1986. Saunders, Christopher C. (raadgewende red.), An Illustrated Dictionary of South African History, Ibis Books and Editorial Services cc, Sandton, 1994.

Kategorie:Suid-Afrikaanse anti-apartheidsaktiviste Kategorie:Suid-Afrikaanse politici Kategorie:Suid-Afrikaanse skrywers Kategorie:Geboortes in 1903 Kategorie:Sterftes in 1988 Kategorie:Anti-apartheidsaktiviste Kategorie:Politici van die Liberale Party Kategorie:Mense van Suid-Afrika van Britse afkoms