HelsinkiHelsingfors
Europese Kultuurhoofstad 2000Euroopan kulttuuripääkaupunki 2000
280px Kaart Wapen 180px|senter 75px|senter Vlag 90px|raam|senter Land Landskap 20px Uusimaa Provinsie 20px Suid-Finland Koördinate Gestig op 12 Junie 1550 Regeringsetel sedert 1812 Oppervlakte: - Totaal 715,48 vk km - waarvan land 214,25 vk km Hoogte bo seevlak 26 m Bevolking: - Totaal (2022) 664 028 - Bevolkingsdigtheid 928/vk km - Metropolitaanse gebied(Suur-Helsinki/Storhelsingfors) 1 582 452 Tydsone UTC +2 (OET) - Somertyd UTC +3 (OEST) Klimaat - Tipe Kontinentaal-gematig - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 4,8 °C - Gem. temp. Januarie/Julie −5,6 / 16,8 °C - Gemiddelde jaarlikse neerslae 649,8 mm Burgemeester Juhana Vartiainen Amptelike webwerf www.hel.fi
Helsinki (Fins: [ˈhɛlsiŋki], ; Sweeds: Helsingfors, [hɛlsɪŋˈfɔrs], ) is die hoofstad van Finland en die Finse gewes Uusimaa met 'n oppervlakte van 715,48 vierkante kilometer en 'n bevolking van 664 028 (2022).
duimnael|links|Die Evangelies-Lutherse katedraal is een van die bekendste bakens van Helsinki Helsinki is die grootste stad van Finland en sy politieke, ekonomiese, kulturele, opvoedkundige en geestelike sentrum. Meer as 'n kwart van die Finse bevolking woon in die agglomerasie van Helsinki – die vierde grootste in Noord-Europa ná Stockholm, Kopenhagen en Oslo – met 1,6 miljoen inwoners, dit sluit voorstede soos Espoo en Vantaa in. Helsinki is 'n tweetalige stad en 6,2 persent van sy inwoners praat Sweeds. Naas 'n Finssprekende meerderheid van sowat 88 persent huisves die stad ook die grootste aantal buitelanders in Finland. Helsinki is die noordelikste hoofstad van enige lidland van die Europese Unie en ook die noordelikste metropolitaanse gebied wêreldwyd.
Die stad is in 1550 deur die Sweedse koning Gustav I Vasa by die monding van die Vantaarivier in die Finse Golf gestig en eers in 1640 na sy huidige ligging verskuif. Ná 'n groot brandramp in 1807 is 'n grootskaalse herbouingsprogram geloods, en in 1812 het Helsinki met sy destyds 4 000 inwoners Turku (Sweeds: Åbo) as hoofstad vervang. In 1828 is ook die Finse universiteit na Helsinki verskuif.
Helsinki se argitektuur is veral deur die klassisisme beïnvloed. Die stadsentrum met die Senaatsplein (Senaatintori), die Universiteit van Helsinki se hoofgebou en biblioteek, die Presidentspaleis en die katedraal, is in die 19de eeu deur die Duitse argitek Carl Ludwig Engel ontwerp. Daarnaas word ook die argitek J.A. Ehrenström met die heropbou van Helsinki verbind.
Die huidige stadskarakter bekoor met 'n mengsel van ou en nuwe boustyle, en ondanks sy rol as hoofstad van Finland is daar nog talle rustige stadsbuurte en parke. Die nabyheid van die Oossee gee aan die stad daarnaas ook 'n maritieme karakter. Helsinki is saam met agt ander stede aangewys as die Europese Kultuurhoofstad van die jaar 2000.
Etimologie Die Sweedse naam van die stad Helsingfors is ontleen aan die kerspel Helsinge en die Helsingån-rivier (nou Vanda å), en aan dié rivier se laaste stroomversnelling (fors) voor die monding is die stad gestig. Die oorsprong van die naam Helsinge is egter omstrede. Volgens 'n teorie wat reeds sedert Sweedse kolonisasie van Finland in die 1630's bestaan, het koloniste van Hälsingland in Sentraal-Swede aangekom by die Vantaa-rivier en dit Helsingå genoem ("Helsinge-rivier") en beide die dorp en kerk wat in die 1300's gestig is, hernoem. Dié teorie word egter betwis, aangesien dialeknavorsing toon dat die setlaars uit Uppland en omgewende gebiede afkomstig was. Die naam Helsinge kon aldus nie afgelei gewees het van die setlaars se etnoniem nie en verwys waarskynlik na 'n kenmerk van die landskap. Volgens dié teorie is die naam ontleen aan die Sweedse word helsing, 'n argaïese vorm van die word hals ("nek"), wat na die nouste punt van 'n rivier verwys, die stroomversnellings. Ander Skandinawiese stede met 'n soortgelyke ligging het destyds dienooreenkomstige name gekry, soos Helsingør in Denemarke en Helsingborg in Swede, maar ook die historiese Sweedse provinsie Hälsingland het 'n soortgelyke naam.
Toe die stad in 1548 in die dorp Forsby (die latere Koskela) gestig is, is dit Helsinge fors genoem, "Helsinge-stroomversnellings". Die naam verwys na die Vanhankaupunginkoski-stroomversnellings by die monding van die rivier. Die stad is oor die algemeen Helsinge of Helsing genoem, waarvandaan die huidige Finse naam Helsinki ontleen is.
Sedert 1819, toe die Senaat van Finland van Turku, die voormalige hoofstad van Finland, na Helsinki geskuif is, gebruik amptelike Finse regeringsdokumente en Finse koerante die naam Helsinki. Dekrete wat in Helsinki uitgereik is, is met Helsinki as plek van uitgawe gemerk. Sodoende het die vorm Helsinki in die skryftaal in gebruik gekom. Toe Helsingfors in 1812 Finland se hoofstad geword het, is voorgestel om dit in Alexandria te hernoem (na die Russiese tsaar Aleksander I), maar dit het nooit gebeur nie. Toe Finland 'n Groothertogdom geword het, 'n outonome staat onder die gesag van die Russiese Ryk, is Helsinki in Russies Gel'singfors (Гельсингфорс) genoem, aangesien die hooftaal in die Groothertogdom Sweeds was. Eers sedert die 20ste eeu word vir die stad in internasionale konteks veral die Finse naam gebruik (met uitsondering van Swede en Noorweë, waar die stad steeds Helsingfors genoem word).
In die Helsinki-sleng word na die stad verwys as Stadi (ontleen aan die Sweedse woord stad). Die afgekorte vorm Hesa word ewe gebruik, maar die gebruik daarvan word veral geassosieer met mense van 'n landelike oorsprong (junantuomat, "gebring deur 'n trein") en deur plaaslike inwoners afgekeur. Ristkari, Maiju: Heinäsorsat Helsingissä. Aku Ankka #44/2013, bl. 2. Helsset is die Noord-Samiese naam van Helsinki.
Geografie Ligging duimnael|'n Kaart van Helsinki se metropolitaanse gebied Helsinki lê in die Suid-Finse gewes Uusimaa aan die Finse Golf en teenoor die Estiese hoofstad Tallinn. Die stad vorm 'n metropolitaanse gebied met die stede Espoo, Vantaa, Kauniainen en 'n aantal dorpe in die omgewing.
Net soos ander dele van Suid-Finland word die stadsgebied van Helsinki deur 'n heuwellandskap gekenmerk, wat veral uit granietrotse bestaan. Die hoogste natuurlike heuwel in die stadswyk Kivikko het 'n hoogte van 62 meter bo seevlak, terwyl 'n kunsmatige heuwel in die stadswyk Malminkartano 'n hoogte van 90 meter bereik.
Die Päijännemeer is Helsinki se hoofsaaklike drinkwaterbron en die stad word deur die Päijänne-watertunnel met 120 km (een van die langste rotstonnel wêreldwyd) van drinkwater voorsien.
Die stadsgebied duimnael|'n Lugfoto van Helsinki se binnestad Helsinki strek oor 'n totale oppervlakte van 686 vierkante kilometer, waarvan 186 vierkante kilometer uit land op die vasteland en die res uit 315 eilande langs die kus bestaan. Die belangrikste eilande is die woongebied Lauttasaari, Seurasaari met sy opelugmuseum, Korkeasaari met die dieretuin van Helsinki en die vestingeiland Suomenlinna (Sveaborg).
Sowat 'n vyfde van die stadsgebied is bosgebiede, naastenby tien persent word deur parke en tuine beslaan en vyf persent dien as landbougebied.
Die skiereiland Vironniemi in die suid-weste huisves die stadsentrum van Helsinki, wat duidelik van die nuwe 20ste eeuse voorstede in die ooste en noorde verskil.
Helsinki vorm saam met die voorstede Espoo, Vantaa en Kauniainen die sogenaamde Hoofstadgewes (Fins: Pääkaupunkiseutu, Sweeds: Huvudstadsregionen) met sowat een miljoen inwoners. Die metropolitaanse gebied van Helsinki sluit die voorstede Kirkkonummi, Vihti, Nurmijärvi, Tuusula, Kerava, Sipoo, Järvenpää en Hyvinkää in met 'n totale bevolking van 1,3 miljoen, of naastenby 'n kwart van Finland se bevolking.
Klimaat duimnael|Satellietbeeld van Helsinki in 2020 duimnael|Die Senaatsplein in die winter van 2004 Helsinki se klimaat het kontinentale en maritieme kenmerke. Die gemiddelde jaarlikse temperatuur is 4,8 °C, die gemiddelde jaarlikse reënval 689 millimeter. Oktober is die natste maand met gemiddeld 73 mm reënval, Maart die droogste met 36 mm. Die koudste maand is Februarie met 'n gemiddelde temperatuur van -6,6 °C, Julie is die warmste met 17,2 °C. Nogtans kan die maksimale temperature in die somer soms tot by 30 °C bereik, terwyl die temperature in Januarie dikwels benede -15 °C daal. Die koudste temperatuur, wat ooit in Helsinki aangeteken is, was -34,3 °C op 10 Januarie 1987.
Die eerste sneeu val gewoonlik teen die middel van November, en vanaf laat Desember tot by laat Maart bly die stad met sneeu bedek. Die Finse Golf bevries gewoonlik tydens die winter, en daar word ysbrekers benodig om 'n vaargeul vir skepe oop te hou.
Helsinki lê op dieselfde breedtegraad soos die suide van Alaska en die suidpunt van Groenland, wat van die stad die op een na die mees noordelik geleë hoofstad ter wêreld maak (die mees noordelike is Reykjavik in Ysland). Danksy hierdie ligging word dit tydens die somer-sonstilstand nie heeltemal donker nie, en inwoners geniet die "wit nagte".
Geskiedenis Sweedse heerskappy duimnael|links|Gustav I Wasa, die stigter van Helsinki Die gewes Uusimaa (Sweeds: Nyland) het in die 12de eeu onder Sweedse heerskappy gekom. As gevolg van die Sweedse immigrasie in die 14de en 15de eeu is die dorpe in die gebied aanvanklik deur 'n Sweedstalige bevolking bewoon.
Die stad Helsingfors is op 12 Junie 1550 op bevel van die Sweedse koning Gustav I Wasa gestig om as seehawe met die Hansestad Reval (die huidige Tallinn) anderkant die Finse Golf mee te ding. Die stad was oorspronklik aan die monding van die Vantaanjokirivier geleë, en die Sweedse naam Helsingfors is afgelei van die stroomversnellings (Sweeds: fors) aan die benedeloop van die Vantaanjoki. Die gebied van die destydse Ou Helsingfors word nog steeds Vanhakaupunki ("die ou stadskern") genoem, alhoewel van die 16de eeuse Helsinki niks oorgebly het nie. Die inwoners van Helsingfors was voormalige burgers van die stede Porvoo, Ekenäs, Rauma en Ulvila, wat hulle op bevel van die koning in die nuwe stad gevestig het.
duimnael|Die seevesting Suomenlinna Toe Swede tydens die Lyflandse Oorlog in 1561 Reval verower het, het Helsinki se belangrikheid afgeneem. Aangesien die hawe se ligging aan die einde van 'n lae baai vol klippe nie geskik vir groot seilskepe was nie, is die besluit geneem om Helsinki nader by die op see te verskuif. Aanvanklik is Santahamina en die gebied van die huidige Sörnäinen as geskikte plekke beskou. Uiteindelik is Helsinki in 1640 onder die leiding van die goewerneur-generaal Per Brahe na sy huidige ligging op die skiereiland Vironniemi (Sweeds: Estnässkatan) verskuif. Die ou stad teen die monding van die Vantaanjoki is opgegee.
Die groei van die Russiese Ryk en die stigting van die stad Sint Petersburg in 1703 het 'n groot invloed op Helsinki uitgeoefen. Die stad is swaar getref deur die Groot Nordiese Oorlog tussen Swede en Rusland. 'n Pesepidemie het in 1710 'n verwoestende effek op 'n groot deel van die bevolking gehad, en in 1713 het die Sweedse leër die stad tydens hulle terugtog afgebrand. In die tydperk tussen 1713 en 1721 en nog eens tydens die Russies-Sweedse Oorlog van 1741 tot 1743 is Helsinki deur Russiese troepe beset. Nadat Swede die vesting Hamina in die Vrede van Turku aan Rusland afgestaan het, is die nuwe seevesting Sveaborg (Suomenlinna) voor die kus van Helsinki opgerig.
Russiese heerskappy duimnael|Woonhuise in die Art Nouveau-boustyl in die stadswyk Katajanokka Op 2 Maart 1808 is Helsinki tydens die Russies-Sweedse Oorlog deur Russiese troepe verower en 'n tweede keer deur 'n brand volledig verwoes. Met sy neerlaag is Swede in 1809 gedwing om Finland aan Rusland af te staan.