Sri Lanka (Singalees: ශ්‍රී ලංකාව, śrī laṃkāva, [ʃriː laŋkaː]; Tamil: இலங்கை, ilaṅkai, [ilaŋɡaj]), amptelik die Demokratiese Sosialistiese Republiek Sri Lanka (Singalees: ශ්‍රී ලංකා ප්‍රජාතාන්ත්‍රික සමාජවාදී ජනරජය, Śrī Laṅkā Prajātāntrika Samājavādī Janarajaya; Tamil: இலங்கை சனநாயக சோசலிசக் குடியரசு, Ilaṅkai Jaṉanāyaka Sōsalisak Kuṭiyarasu), is 'n tropiese eilandstaat in Suid-Asië en die Indiese Oseaan. Dit is net suidoos van Indië geleë, verder wes is die Maledive en in die noordooste sluit die Golf van Bengale aan. Sri Lanka beslaan 'n oppervlakte van 65 610 km² en het 'n bevolking van 21 982 608 in 2024 gehad. Dié land se hoofstad is Sri Jayawardenepura Kotte, maar die grootste stad is Colombo. Singalees en Tamil vorm die twee amptelike tale van Sri Lanka en word deur die twee belangrikste etniese groepe, die Singalese en die Tamils onderskeidelik, gebesig. Van die etniese minderhede sluit in Moors, Maleiers, Han-Chinese, Burgher en die inheemse bevolking van Sri Lanka, Vedda.

duimnael|links|Nasa-Satellietbeeld van Sri Lanka duimnael|links|Kaart van Sri Lanka duimnael|links|Topografiese kaart van Sri Lanka Sri Lanka het voor 1972 as Ceylon bekend gestaan en was deel van die Britse Ryk, maar nooit van die nabygeleë Brits-Indië nie. Die naam Ceylon word steeds gebruik vir tee, een van Sri Lanka se belangrikste uitvoerprodukte.HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, Voor dit is name soos Serendib en Sinhale gebruik. Sri Lanka beteken in Sanskrit "eerbare eiland".

Ceylon was vanaf 1658 tot 1796 'n Nederlandse kolonie. In 1796 neem die Britte die eiland oor, maar op 4 Februarie 1948 word dit 'n onafhanklike land. Sri Lanka is 'n lidland van die Britse Statebond met 'n president as staatshoof. Dié land is vir sowat dertig jaar deur 'n burgeroorlog (1983–2009) tussen die Tamilse Liberation Tigers of Tamil Eelam en die Sri Lanka Weermag verlam. In onlangse jare het Sri Lanka 'n belangrike en gewilde toeristebestemming geword wat die ekonomie laat groei het. Saam met die Maledive is Sri Lanka net een van twee Suid-Asiatiese lande wat as "hoog" op die Menslike-ontwikkelingsindeks (MOI) geranglys word en sy MOI-gradering per capita-inkomste is die tweede hoogste onder Suid-Asiatiese lande.

Tydens die Tweede Vryheidsoorlog (1899–1902), ook bekend as die Anglo-Boereoorlog, is ongeveer 5 000 Boere as krygsgevangenes deur die Britte na Ceylon verban.

Geografie Sri Lanka lê suidoos van Indië en word deur die Palk-straat en die Golf van Mannar van Indië geskei. Die eiland lê op 'n kontinentale plat naby Indië.

'n Paar kilometers van die kus van Sri Lanka af daal die seebodem skerp tot 'n diepte van 1 000 m. Die sentrale deel van die eiland word deur 'n massief van tussen 1 500 en 2 400 m gevorm, waarvan Pidurutalagala (2 526 m) die hoogste piek is. Suidwes hiervan lê Sumanakuta of Adamspiek (2 243 m), 'n bedevaartsplek vir Boeddhiste, Hindoes, Moslems en Christene (vanweë ’n voetafdruk van Boeddha of Adam).

Die sentrale deel van die massief word deur 'n hoogland (400 tot 800 m) omring, wat in die suidweste tot aan die Indiese Oseaan deurloop, waar dit hoë kranse vorm. Hierdie hoogland word deur ’n kusvlakte (30 tot 120 m) omring, waarin eilandberge voorkom. Laterietgrond het in die berg- en hoogland ontstaan, en in die kusvlakte kom baie alluviale grond voor. Die riviere, wat almal uit die sentrale deel na die kus vloei, voer baie slik saam wat in die mondings afgeset word.

Die langste rivier op die eiland is die Mahaweli Ganga (330 km), wat tussen die sentrale bergland en die Knucklesberg na die ooskus vloei. Die hoofstad Colombo lê aan die Kelani Ganga.

Sport duimnael|links|Die Sri Lankaanse nasionale krieketspan oefen voor hul eerste T20I teen Australië op 6 Augustus 2011 duimnael|links|Die Sri Lankaanse nasionale rugbyspan tydens die Asiatiese Vyfnasiestoernooi 2014 in Japan Die meeste en gewildste sportsoorte wat in Sri Lanka beoefen word, het hul oorsprong in die Verenigde Koninkryk en tydens die Britse koloniale heerskappy op die eiland gevestig. Krieket is Sri Lanka se gewildste sportsoort, gevolg deur rugby, watersport, pluimbal, atletiek, sokker, basketbal en tennis. Vlugbal is Sri Lanka se amptelike nasionale sport. Sri Lanka se skole en kolleges organiseer gereeld sport- en atletiekspanne wat op provinsiale en nasionale vlakke meeding.

Die Sri Lankaanse nasionale krieketspan het in 1982 toetsstatus verkry, maar eers vanaf die 1990's aansienlike sukses begin behaal wat met hul oorwinning in die Krieketwêreldbeker 1996 bekroon is. Sri Lanka het die Kampioenetrofee 2002 met Indië gedeel. Hulle het ook die T20I-wêreldbeker 2014 in Bangladesj gewen, nadat hulle Indië in die eindstryd geklop het. Daarbenewens was Sri Lanka die naaswenner van beide die Krieketwêreldbeker 2007 (verloor teen Australië) en die Krieketwêreldbeker 2011 (verloor teen Indië), asook van die T20I-wêreldbekertoernooie in 2009 en 2012. Sri Lanka het die Asiatiese beker in 1986, 1997, 2004, 2008 en 2014 gewen. Sri Lanka was medegasheer van beide die Krieketwêreldbeker 1996 en die Krieketwêreldbeker 2011 en het beide die Kampioenetrofee 2002 en T20I-wêreldbeker 2012 gehuisves. Die Asiatiese beker is ook verskeie kere in Sri Lanka aangebied. Sri Lanka het ook as medegasheer van die T20I-vrouewêreldbeker 2012, die Vrouekrieketwêreldbeker 2025 en die T20I-wêreldbeker 2026 (beide saam met Indië) opgetree. Die Sri Lankaanse nasionale vrouekrieketspan neem ook gereeld aan beide T20I-vrouewêreldbeker- en vrouekrieketwêreldbekertoernooie deel en het tydens die Asiatiese Vrouebeker 2024 hulle eerste internasionale toernooi beklink.

Die Sri Lankaanse nasionale rugbyspan is Asië se vierde sterkste span ná Japan, Hongkong en Suid-Korea, maar kon tot dusver nog nie vir 'n rugbywêreldbekertoernooi kwalifiseer nie. Hulle ding gereeld met ander opkomende rugbyspanne in die Asiatiese Rugbykampioenskap mee. Met sowat 103 000 geregistreerde rugbyspelers is Sri Lanka die naasgrootste rugbyland in Asië net ná Japan.

Nasionale simbole

Sien ook Ambalangoda Dambulla-grottempel Fort Galle Sirimavo Bandaranaike

Verwysings

Bronnelys Algemeen

Wêreldspektrum, 1982, , volume 26, bl. 139

Eksterne skakels

Amptelike webwerf van die Sri Lankaanse parlement Amptelike webwerf van die Sri Lankaanse president

Kategorie:Britse Statebond

Kategorie:Voormalige Britse kolonies Kategorie:Voormalige Nederlandse kolonies