Enkelados (Grieks: Ἐγκέλαδος; ook Saturnus II) is die sesde grootste natuurlike satelliet van die planeet Saturnus. Die maan is op 28 Augustus 1789 deur William Herschel ontdek en is genoem na Enkelados, een van die Titane in die Griekse mitologie wat verslaan en deur Atena onder die berg Etna begrawe is.
Enkelados se oppervlak weerkaats amper alle sonlig. Die maan het die grootste albedo in die Sonnestelsel (> 0,9). Die gevolg is 'n gemiddelde temperatuur van net -198 °C, baie kouer as wat dit sou wees as dit sonlig geabsorbeer het. In 2005 is daar geisers op Enkelados ontdek wat waterdamp tot 'n hoogte van amper 500 km uitspoeg.
Daar is op 9 Maart 2006 bevestig dat die Cassini-ruimtetig die aanwesigheid van vloeibare water waargeneem het.
Verkenning van Enkelados Voyager 2 het die eerste duidelike beelde van Enkelados uit die ruimte geneem. Voyager 1 kon Enkelados slegs van 'n groot afstand in Desember 1980 waarneem, maar in Augustus 1981 het Voyager 2 die geleentheid gehad om beelde met 'n veel hoër resolusie as Voyager 1 te neem en is die oppervlak van Enkelados ook vir die eerste keer van naby gesien.
Die volgende gedetailleerde verkenning het eers weer op 30 Junie 2004 begin, met die aankoms van die Cassini-ruimtetuig. Ná bestudering van die foto's van Enkelados deur Voyager 2 het die beplanners van die Cassinisending Enkelados as 'n topprioriteit beskou. Daar is talle verbyvlugte beplan wat Cassini tot ongeveer 175 km van die oppervlak sou bring.
Verwysings
Eksterne skakels
Kategorie:Mane van Saturnus