Viëtnam (Viëtnamees: Việt Nam, [viət˨ næm˧], , letterlik: "Viët van die suide"), amptelik die Sosialistiese Republiek Viëtnam (Cộng hòa xã hội chủ nghĩa Việt Nam, ), is 'n sosialistiese republiek in Suidoos-Asië. Dit beslaan 'n oppervlakte van 331 210 km² en het 'n bevolking van 105 758 975 in 2024 gehad. Die hoofstad is sedert die hereniging van Noord- en Suid-Viëtnam in 1976 Hanoi en die grootste stad is Ho Chi Minh-stad (voorheen Saigon). Van die ander nedersettings sluit in Can Tho, Da Nang, Dong Hoi, Hai Phong, My Thuy, Nha Trang en Vung Tau.

duimnael|links|Nasa-satellietbeeld van Viëtnam duimnael|links|Kaart van Viëtnam Viëtnam is die mees oostelike land van Indo-China. Dit is oos van Kambodja en Laos, suid van die Volksrepubliek China en op weskus van die Suid-Chinese See geleë. Daarbenewens deel Viëtnam in die Suid-Chinese See maritieme grense met Filippyne, Maleisië en Indonesië in die ooste en suide, asook Thailand in die Golf van Thailand in die weste. Viëtnam word geografies deur twee riviere gekenmerk: Die Rooirivier in die noorde wat in die Golf van Tonkin uitmond en die die Mekongrivier in die suide wat in die Suid-Chinese See vloei. In die sentrale dele oorheers 'n hoogland die landskap. Phu Quoc is die grootste eiland en is in die Golf van Thailand in die suidweste van Viëtnam geleë.

Die noordelike deel van Viëtnam was vir meer as een millennium deel van die Chinese Keiserryk, vanaf 111 v.C. tot 939 n.C. 'n Onafhanklike Viëtnamese staat is ná die Viëtnamese oorwinning in die Slag van Bạch Đằng-rivier in 939 gestig. Verskeie opeenvolgende keiserlike dinasties het in Viëtnam floreer, toe die land geografies en polities binne-in Suidoos-Asië uitgebrei het, totdat die Indo-China-skiereiland in die middel van die 19de eeu deur Frankryk gekoloniseer is. Ná 'n Japannese besetting in die 1940's het die Viëtnamese teen die Franse heerskap in die Eerste Indo-China-oorlog geveg. Op 2 September 1945 het president Hồ Chí Minh Viëtnam se onafhanklikheid onder die nuwe naam Demokratiese Republiek Viëtnam van Frankryk verklaar. In 1954 het die Viëtnamese die Franse in die Slag van Dien Bien Phu tussen Maart en Mei 1954 oorwin. Vervolgens is Viëtnam polities in twee mededingende state verdeel, Noord-Viëtnam (amptelik die Demokratiese Republiek Viëtnam, hoofstad Hanoi) en Suid-Viëtnam (amptelik die Republiek Viëtnam, hoofstad Saigon). Die konflik tussen die twee Viëtnamese state het vererger en tot die Viëtnamoorlog met swaar gewapende inmenging van die Verenigde State aan die Suid-Viëtnamese kant tussen 1965 en 1973 gelei. Die oorlog het met die Noord-Viëtnamese oorwinning in 1975 geëindig. Vervolgens is Viëtnam onder 'n kommunistiese regering verenig, maar het arm en polities geïsoleer gebly. In 1986 het die Kommunistiese Party van Viëtnam (CPV) 'n reeks ekonomiese en politieke hervormings geloods wat tot Viëtnam se integrasie in die wêreldekonomie gelei het. Viëtnam sou na verwagting in 2020 'n ontwikkelde land gewees het.

Teen 2010 het Viëtnam diplomatieke betrekkinge met 178 lande aangeknoop. Sedert 2000 is Viëtnam se ekonomiese groeikoers onder die hoogste wêreldwyd en in 2011 het dit die hoogste Global Growth Generators Index onder elf vername ekonomieë gehad. Die suksesvolle ekonomiese hervormings het in 2007 tot Viëtnam se toetreding tot die Wêreldhandelsorganisasie (WTO) gelei. Viëtnam is 'n lidland van die ASEAN, APEC en die Francophonie (OIF). Vietnam Airlines is die nasionale vlagdraerlugredery met sy spilpunt op Tan Son Nhat Internasionale Lughawe naby Ho Chi Minh-stad. Daarbenewens beskik Viëtnam oor twee lae-koste lugrederye: Bamboo Airways en VietJet Air. In onlangse jare het Viëtnam veral onder internasionale toeriste gewild geraak met Unesco-wêrelderfenisgebiede soos die Phong Nha-Ke Bang Nasionale Park en die Sitadel van die Ho-dinastie.

Viëtnam se amptelike taal is Viëtnamees en die Viëtnamese vorm die titulêre nasie van die land. Daarbenewens word ander tale soos Hakka, Kantonees, Khmer en Lao deur minderhede soos Khmer en Thai gebesig. Die land is ook bekend vir sy Viëtnamese kookkuns met geregte soos Phở, 'n tradisionele noedelsoep.

Geskiedenis duimnael|links|'n Đông Sơn bronsdrom, ca. 800 v.C. duimnael|links|Territoriale uitbreiding van Viëtnam, 1009–1834 Reeds in die 3de eeu v.C. het die Viëtnamese die delta van die Rooirivier (Tonkin) bewoon. Die toenemende druk van die Chinese het uiteindelik daartoe gelei dat Tonkin in 111 v.C. by China ingelyf is.

Ondanks enkele opstande, soos die van die Trungsusters in omstreeks 40 n.C. het Tonkin tot in 938 'n Chinese provinsie gebly. Die Viëtnamese maatskappy en kultuur is met soveel sinisme deur die Chinese oorheersers bejeën dat dit nou nog die onuitwisbare tekens daarvan dra.

Nadat die Chinese Tang-dinastie in 907 tot 'n val gekom het, het die Viëtnamese uiteindelik in 938 die onafhanklike staat Nam Viet tot stand gebring. Die staat het met verloop van tyd ten koste van die Tsjams steeds verder na die suide uitgebrei. Laasgenoemde se Hindoe-Boeddhistiese koninkryk, Tsjampa, het in die eerste eeue n.C. deur middel van vreedsame Indiese kulturele uitbreiding in die omgewing suid van Hué tot stand gekom.

Vanweë die voortdurende konflikte met die Viëtnamese moes die hoofstad steeds verder suid verskuif word. Tsjampa is bowendien uit die weste deur die Khmer-ryk bedreig. Kort nadat Angkor Wat, die hoofstad van die Khmer, deur die Thai van Ayutthaya verwoes is, is daar ook aan die verindiese Tsjampa 'n einde gemaak. In die 17de eeu is Tsjampa uiteindelik heeltemal deur die Viëtnamese ingelyf.

Ondanks die konflikte tussen die familie Trinh, wat die gesag in die noorde in hulle hande gehad het, en die geslag Nguyen, wat hulle mag, onder meer met die steun van die VOC, geleidelik oor die hele suide, en sedert die 18e eeu ook oor die huidige Kambodja uitgebrei het, het die Viëtnamese kultuur tydens die Le-dinastie (1418–1786) 'n groot bloeityd beleef.

Na 'n kort rebelle van die Tay-Son-broers het Nguyen-Anh in 1802 daarin geslaag om die hele Viëtnam met die steun van enkele Franse raadgewers te herenig. Hy het tot 1819 as keiser Gia-Long geregeer.

Franse kolonisasie duimnael|Kaart van Frans-Indo-China in 1913 duimnael|Die Grand Palais is vir die wêreldbeurs van 1902–1903 opgerig toe Hanoi die hoofstad van Frans-Indo-China geword het duimnael|Hanoi-operahuis, geneem in die vroeë 20ste eeu van die Paul Bert-straat (nou Trang Tien-straat) Die Franse het hulle reeds gou ernstig op kolonisering toegespits. In 1859 het hulle die hawe van Saigon beset en in 1862 Cochin-China. In 1885 was die hele Viëtnam beset. Frankryk het sy verowerde gebiede in Vietnam, Laos en Kambodja as een kolonie bestuur en het in 1887 die Indo-Chinese Unie tot stand gebring. Vir Frankryk was Viëtnam veral ekonomies van belang: die land het grondstowwe (rubber, delfstowwe) en rys gelewer, dit was 'n afsetgebied vir die Franse nywerheid en het toegang tot China verskaf.

Deur onder meer belastings en dwangarbeid in te stel, het die Franse daarin geslaag om van goedkoop Viëtnamese arbeid gebruik te maak. Hoewel die Viëtnamese hulle vroeg reeds teen die Franse uitbreiding verset het, het die ekonomiese wêreldkrisis tussen die twee wêreldoorloë, wat ook na Viëtnam deurgewerk het, in groot mate gelei tot die opkoms van 'n sterk Viëtnamese nasionalisme.

Tydens die boereopstande is grootgrondbesit afgeskaf en die grond herverdeel. In 1927 is die Viëtnamese Nasionalistiese Party gestig en in 1930 die Indo-Chinese Kommunistiese Party. Hoewel die Franse hardhandig teen die versetgroepe opgetree het, is die verset nie gesmoor nie. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het die koloniale bestuur hom by die pro-Duitse Vichy-regering in Frankryk geskaar en sodoende 'n bondgenoot van Japan geword en op die manier sterk politieke, ekonomiese en militêre mag verkry.

Die Viëtnamese versetgroepe, wat sterk teen die samewerking met Japan gekant was, het hulle kragte in 1941 in die Liga vir die Onafhanklikheid van Viëtnam (Việt Nam độc lập đồng minh, afgekort Việt Minh) saamgesnoer. Die Việt Minh het in die loop van die Tweede Wêreldoorlog daarin geslaag om groot dele van die platteland te bevry, en toe die Japanners oorgee, was hulle die enigste mag wat die militêre en bestuursvakuum kon vul. Die regering wat Japan onder keiser Bao Dai tot stand gebring het, is verslaan en op 2 September 1945 het Ho Tsji-minh, een van die stigterslede van die Indo-Chinese Kommunistiese Party, die Demokratiese Republiek Viëtnam (DAV) uitgeroep.

Op die konferensie van Potsdam in 1945 is daar besluit dat die gebiede wat Japan in Indo-China beset het, onder Chinese en Britse beheer verdeel sou word. Die 16de breedtegraad sou die skeidslyn wees. In die Chinese sone kon die Demokratiese Republiek sy gesag handhaaf, en die sone is Noord-Viëtnam genoem. In die Britte se sone is die terugkeer van die Franse bevorder. Dit het met wapengeweld gepaard gegaan en het eers gedurende 1946 geslaag, waarna die Việt Minh hom teruggetrek en op guerrillaoptrede toegelê het.

Die DAV het intussen algemene verkiesings gereël, wat deur die Việt Minh gewen is. Frankryk het nie die bestaansreg van die DAV ontken nie en het beloof dat 'n referendum oor die posisie van die besette suide gehou sou word. Ná die vertrek van die Chinese het die Franse egter militêre posisies in die noorde ingeneem. Onderhandelinge met Hồ Chí Minh het daartoe gelei dat die Franse Cochin-China as 'n selfstandige vrystaat binne die Indo-Chinese Federasie en die Franse Unie erken het.

Die aandrang van die Việt Minh (wat ook baie steun in die suide geniet het) om Viëtnam (noord en suid) as 'n eenheid te erken, het egter op dowe ore geval. Die spanning het om verskeie redes toegeneem en uiteindelik gelei tot 'n terreurbombardering op Hai Phong (November 1946) waarin tussen 10 000 en 20 000 mense dood is en waardeur die oorlog tot in die noorde uitgebrei het. Ná 'n hewige stryd moes die Việt Minh hom uit die grootste stede na die ou basisse op die platteland terugtrek. Frankryk kon egter nie daarin slaag om 'n gesaghebbende regering as alternatief teen die Việt Minh te vorm nie.

Eers in Desember 1949 het Frankryk, deels vanweë druk deur die VSA, die soewereiniteit amptelik oorgedra aan die Staat Viëtnam, met die vroeëre keiser Bao Dai, die laaste lid van die Nguyen-dinastie, as staatshoof. Die DAV is in 1950 deur die Volksrepubliek China, die Sowjetunie en ander sosialistiese lande erken. Die VSA en ander Westerse lande het die Staat Viëtnam erken. Frankryk het in werklikheid steeds hier geheers en het al hoe meer steun van die VSA gekry omdat die land die antikoloniale stryd as deel van die uitbreidende "wêreldkommunisme" beskou het.

Die Việt Minh het intussen soveel as moontlik van die bevolking teen die buitelandse oorheersing gemobiliseer ten einde sy militêre en politieke posisie te verstewig. In 1950 kon daar van guerrillaoptredes oorgegaan word tot 'n konvensionele bewegingsoorlog. Die Franse militêre toestand het verswak en ná die inisiatief van Hồ Chí Minh het Frankryk aangedui dat hy bereid was tot onderhandelinge, waarop 'n konferensie in 1954 in Genève belê is. Met die verowering van die vesting Dien Bien Phu op 7 Mei 1954 het dit duidelik geword dat die Franse 'n nederlaag gely het.

Frankryk het op die konferensie ’n realistiese standpunt ingeneem, maar die dreigende houding van die VSA het uiteindelik tot Viëtnamese toegewings gelei. Belangrike sake waaroor daar ooreengekom is, was: Die DAV het ingestem tot die totstandkoming van twee militêre sones, met die 17de breedtegraad as skeidslyn (dit sou dus geen politieke grens wees nie). Noord-Viëtnam het 'n derde van die gebied wat hy beheers het, militêr ontruim in ruil vir die gebied Hanoi-Haiphong.