Vermont (Engels: [vərˈmɒnt], ), amptelik die Deelstaat Vermont (State of Vermont), is 'n landingeslote deelstaat in die noordooste van die Verenigde State met 'n oppervlakte van 24 923 km² en 'n bevolking van 644 633 (2025). Vermont is ten opsigte van sy bevolking die tweede kleinste Amerikaanse deelstaat na Wyoming. Sy hoofstad is Montpelier (7 855 inwoners, 2010), die grootste stad is Burlington.

duimnael|links|'n Uitsig oor die Champlainmeer in die weste van die deelstaat wat hier 'n natuurlike grens met New York vorm. Die foto is geneem vanuit die ou vuurtoring op Poke-O-Moonshine Mountain, 'n bergpiek in New York duimnael|links|Die ski-oord Killington Vermont word begrens deur Massachusetts in die suide, New Hampshire in die ooste, New York in die weste en die Kanadese provinsie Quebec in die noorde. Dit is 'n oorwegend landelike deelstaat, maar is nogtans strategies geleë tussen die metropolitaanse gebiede van Montreal, Boston en New York.

Vermont is die tweede grootste, maar ook enigste landgebonde deelstaat in Nieu-Engeland, met 'n verskeidenheid landskapsvorme en ekostelsels wat onder meer die Green Mountains-bergreeks in die weste en die Champlainmeer in die noordweste insluit. Die Franse verkenner Samuel de Champlain het in 1609 met Vermont ("Groen berge" in Frans) 'n gepaste naam vir die groen en vrugbare streek gekies. Vier eeue later is groot dele van Vermont nog steeds 'n enklawe van ongerepte wildernis, met dig beboste golwende heuwels en valleie. Die staat is bekend vir die kleure wat sy bosgebiede in die nasomer vertoon en sy eersterangse ski-oorde. So lok Vermont jaarliks sowat agt miljoen toeriste.

'n Aantal stamme van die Eerste Nasies soos die Abenaki, Algonkin en Irokese was die eerste bewoners van die gebied. Later het Frankryk aanspraak gemaak op die gebied van die huidige Vermont, maar uiteindelik het dit ná die Franse se neerlaag in die koloniale oorloë teen Brittanje 'n Britse besitting geword.

Vermont het 'n tyd lank 'n omstrede gebied gebly, maar danksy hulle Green Mountains Boys-burgermag het setlaars uit die destydse Province of New Hampshire uiteindelik die oorhand gekry. Ná veertien jaar se onafhanklikheid as Republiek van Vermont was Vermont die veertiende staat wat by die Verenigde State aangesluit het. Vermont is een van slegs vyf state of dele van state wat vroeër as 'n onafhanklike nasie bestaan het – naas Kalifornië, Hawaii, Texas en die Florida-parogieë van Louisiana. Vermont se geskiedenis besit 'n lang lys onafhanklike denkers en liberale politici soos Ethan Allen, Matthew Lyon, George Aiken, Jim Jeffords en Bernie Sanders.

Naas sy natuurskoon en liberale denkers staan Vermont ook bekend vir sy suiwelprodukte. Die staat is ook die vernaamste produsent van esdoringstroop in die VSA.

Landbou, veeteelt, bosbou, steengroewe, werktuig- en tekstielnywerheid is die belangrikste bronne van inkomste. Die marmergroewe van Vermont het in die 19de en 20ste eeu die stene vir baie van Amerika se bekendste geboue opgelewer, soos byvoorbeeld die Jefferson-gedenkteken, die Hooggeregshof en die Verenigde Nasies se hoofkwartier in New York. In die sewentigerjare het baie ondernemings uit die Franssprekende Kanadese provinsie Quebec hulle in Vermont gevestig.

Etimologie In 1777 het die gebied, wat destyds New Hampshire Grants genoem is, onder die naam Republiek Nieu-Connecticut sy onafhanklikheid verklaar. Ses maande later is dit in Republiek van Vermont hernoem. Die vroegste bekende verwysing na die Groen Berge in die konteks van die Green Mountain Boys dateer uit 1772. Dokumente wat na die Groen Berge verwys, gaan diegene vooraf wat verwys na "Vermont", wat in 1778 in Engelstalige publikasies vir die eerste keer genoem word, insluitende 'n kaart deur Bernard Romans. Voor 1760 verwys geen Franstalige dokument (insluitende briewe, joernale, militêre verslae en kaarte) na 'n naam wat soos Vermont lyk nie. Claude J. Sauthier se 1779-kaart verwys na die Groen Berge, hoewel sy vroeër 1776–78-kaarte dit nie doen nie. Voor 1780 gebruik geen kaart wat op opnames of samestellings deur Thomas Jefferys, John Montresor en ander gebaseer is, die name Vermont of Groen Berge nie. Volgens die historiese optekeninge is die naam Vermont in die 1770's vir die eerste keer wydverspreid gebruik, aanvanklik as Groen Berge (Frans: Verts Monts).

Geografie duimnael|links|Mount Ellen in die Groen Berge duimnael|links|Vermont het steeds 'n sterk landelike karakter behou Vermont lê in die Nieu-Engelandstreek van die oostelike Verenigde State en beslaan 'n oppervlakte van 24 902 vierkante kilometer (9 614 vierkante myl), wat van die deelstaat die 45ste grootste maak. Die staat se landoppervlakte beslaan 23 955 vierkante kilometer (9 250 vierkante myl) en sy wateroppervlakte 948 vierkante kilometer (365 vierkante myl). Sy landoppervlakte is die 43ste grootste in die VSA en sy wateroppervlakte die 47ste grootste.

Die wesoewer van die Connecticutrivier vorm die oostelike grens van die deelstaat met New Hampshire, terwyl die rivier self deel uitmaak van dié buurstaat. Champlainmeer, die grootste meer in Vermont, is die sesde grootste varswatermeer in die Verenigde State en skei Vermont in die noordweste van die buurstaat New York.

Vermont se lengte in noord-suidelike rigting is 256 kilometer (159 myl), en sy grootste wydte in oos-westelike rigting naby die Kanadese grens 143 kilometer (89 myl). Sy kleinste wydte is 60 kilometer (37 myl) naby die grens met die buurstaat Massachusetts. Die staat se geografiese sentrum is Washington, vyf kilometer (drie myl) oos van Roxbury.

In fisiografiese opsig word Vermont in ses verskillende fisiografiese gebiede onderverdeel waarvan elkeen deur geologiese en fisiese besonderhede gekenmerk word: Die Noordoostelike Hoogland, die Groen Berge (Green Mountains), die Taconic-berge (Taconic Mountains), die Champlainvlaktes (Champlain Lowlands), die Vermontvallei en Vermont se Piedmont.

duimnael|'n Kaart van die noordoostelike Appalaggegebied Die oorsprong van die naam Groen Berge (Engels: Green Mountains, Frans: les Monts verts) is onduidelik. Dit verwys moontlik na die feit dat hulle meer bebos is as die hoër geleë Wit Berge (White Mountains) van New Hampshire of die Adirondack-gebergte van die deelstaat New York. 'n Ander aanleiding vir hierdie benaming is moontlik die groen leisteen van die omgewing, 'n mika-agtige kwarts-chloriet-gesteente. Die bergreeks van die Groen Berge loop in noord-suidelike rigting deur die hele Vermont, effens wes van die staat se sentrum.

Die Taconic-berge lê in die suidwestelike hoek van Vermont, die Granitiese Berge (Engels: Granitic Mountains) in die noordooste. Die vrugbare Champlainvallei lê naby die Champlainmeer in die noordweste van Vermont. Die Bomoseenmeer lê in die suide van die vallei.

Vermont beslaan veertien distrikte (Engels: counties). Vyf van hulle grens in die noorde aan Kanada, en twee in die suide aan die deelstaat Massachusetts. Die deelstate New York in die weste en New Hampshire in die ooste begrens elk vyf distrikte. Net twee distrikte – Lamoille en Washington – word slegs deur ander Vermontse distrikte begrens. Daar is vyftien federale grensoorgange tussen Vermont en Kanada.

Sowat 77 persent van Vermont se oppervlak, waaronder ook die bergpieke Mount Mansfield, die hoogste in die staat, en Killington, is bebos. Die persentasie grond, wat met bosse bedek is, het in die laaste vier eeue as gevolg van kulturele invloedfaktore grootliks gevarieer – van 'n geskatte 95 persent in 1620 tot tussen 25 en 35 persent in die tydperk tussen 1850 en 1870 en uiteindelik tot meer as 70 persent in die laat 20ste eeu. Christopher McGrory Klyza and Stephen C. Trombulak: The Story of Vermont. A Natural and Cultural History. Second edition. Kindle e-boek-uitgawe. Hanover and London: University Press of New England 2015, pos. 225 Die res van die gebied word deur weivelde, hoogland, mere, poele en moerasgebiede beslaan.

Vermont se Nasionale Parkdiens (National Park Service) beheer gebiede soos die wandelpad Appalachian National Scenic Trail en die Nasionale Historiese Marsh-Billings-Rockefellerpark in Woodstock.

Klimaat duimnael|Een van Vermont se oordakte brûe in die winter Vermont het 'n vogtige kontinentale klimaat met warm en vogtige somers en koue winters. Die hoogste temperatuur wat ooit in Vermont aangeteken is, was 41 °C op 4 Julie 1911 in Vernon; die laagste -46 °C op 30 Desember 1933 in Bloomfield.

As die sneeu in die lente smelt, begin Vermont se "modderseisoen", maar die tydperk tussen laat Februarie en April is ook die tyd wanneer die esdoringstroop "geoes" word. Op die warm somers volg die kleurryke herfs. Sodra die eerste koue front nader, spog Vermont se heuwels met die rooi, oranje en goue kleure van die esdoringbome. Vermont het die blarekleurspel van die nasomer aan sy unieke bodem- en klimaattoestande te danke.

Die baie koue winters in die noorde van Vermont laat temperature 'n gemiddelde 6 °C laer daal as in die suide. Afhangende van die hoogte bo seevlak, kry die verskillende gebiede van Vermont tussen 150 en 250 sentimeter sneeu in die winter, en dit maak van die deelstaat 'n eersterangse wintersportbestemming in Nieu-Engeland.

Fauna en flora duimnael|links|Die hermit thrush (Catharus guttatus) is Vermont se staatsvoël Inheemse soogdierspesies sluit witstertherte (Odocoileus virginianus), kojote, rooivosse en poolhase (Lepus americanus) in. Tipiese plaaslike voëlspesies is rawe (Corvus corax), gray jay (ook bekend as Canada jay, Perisoreus canadensis), en Noordelike saaguile (Aegolius acadicus). In 2003 is ses dierspesies as bedreig of kwesbaar geklassifiseer, waaronder die Indiana-vlermuis (Myotis sodalis), die dwarf wedgemussel (Alasmidonta heterodon) en die Amerikaanse arend (Haliaeetus leucocephalus).

Wilde kalkoene is teen die middel van die 19de eeu weens onbeheerde jag en die vernietiging van hul habitat in Vermont uitgeroei. In 1969 is sestien voëls in die deelstaat heringevoer, en tot 2009 het hul getalle weer vermeerder tot 'n geskatte 45 000. Hunting Wild Turkeys. In: Newport Daily Express. Newport, Vermont: September 2009

Boomsoorte wat in die deelstaat algemeen voorkom sluit die suikeresdoringboom (Vermont se "staatsboom"), botterneutboom (Juglans cinerea), Pinus strobus (Weymouth-den, Amerikaanse witden of Oostelike witden) en geel berk (Betula alleghaniensis). Daarnaas kom 15 soorte konifere (keëldraende plante), 130 grassoorte en 192 watergrassoorte in Vermont voor. Twee plantspesies, Jesup's milk-vetch ('n vlinderblomsoort, Astragalus robbinsii var. jesupii) en Northeastern bulrush (Scirpus ancistrochaetus) is in 2003 as bedreig gelys.

In die 18de en 19de eeu is talle bosse afgekap om boerderye te ontwikkel sodat omstreeks 1850 reeds 70 persent van Vermont se uitgestrekte bosgebiede vernietig was. In die volgende dekades het baie plaaslike boere na die weste of die nywerheidstede van die ooskus gemigreer sodat die natuurlike plantegroei op verlate plase herstel het. Ook amper uitgeroeide dierspesies soos bruinbere, elande, kojote en wilde kalkoene het na hul oorspronklike habitatte teruggekeer.

Geskiedenis Prehistoriese en Voor-Columbiaanse tydperk duimnael|'n Abenaki-egpaar (waterverfskildery uit die 18de eeu) Vermont was vanaf die Kambriese tot die Devoontydperk bedek met die vlak waters van die destydse oseane. Die sedimentêre gesteente van hierdie seegebiede is later deur die bergreekse wat hier ontstaan het, vervorm. Desondanks is fossiele volop in die Champlainmeer-gebied.

Laer geleë streke van die westelike Vermont is ten die einde van die laaste ystydperk, toe die land nog steeds onder die gewig van die gletsers geswig het, nog eens deur die waters van die sogenaamde Champlainsee van die Sint-Laurensvallei oorstroom. Daar is onder meer skulpe van soutwater-weekdiere en gebeentes van beloega-walvisse in die Champlainmeer-gebied gevind.