Daniël François Malan (22 Mei 1874 – 7 Februarie 1959, Stellenbosch) was 'n Suid-Afrikaanse politikus. Malan is naby Riebeek-Wes in die Kaapkolonie gebore en was 'n kindervriend van sy lewenslange opponent generaal Jan Christian Smuts en het 'n tyd lank selfs dieselfde skool as Smuts bygewoon.

Dr. D.F. Malan was die leier van die Nasionale Party wat in 1948 die Verenigde Party by die stembus verslaan het en begin het met die invoer van die beleid van apartheid.

Predikant duimnael|links|320px|Malan was op Stellenbosch lid van die Unie-Debatsvereniging. Hierdie foto van die ampsdraers en joernaliste is in 1895 geneem. Agter: Cornelis Nel, J. Radloff, Andrew Rowan, M.S. Daneel en Christie Neethling. Voor: Dawie Mostert, Henri Gonin, D.F. Malan, E.T.F. Malan (voorsitter), C.H. Murray en George Rudman. Sover vasgestel kon word, het Nel, Daneel, Neethling, Gonin, D.F. Malan, Murray en Rudman predikante in die NG Kerk geword. duimnael|links|170px|Ds. D.F. Malan as jong predikant van die NG gemeente Graaff-Reinet, waar hy leraar was van 1913 tot hy in 1915 redakteur van Die Burger geword het. duimnael|links|300px|Dr. D.F. en mev. Maria Malan woon in 1949 die openingsaand van die eerste Afrikaanse toneelopvoering deur die Nasionale Toneelorganisasie in Kaapstad by saam met genl. Jan Smuts. In 1905 het Malan as doktor in die Godgeleerdheid gepromoveer met die proefskrif met idealisme van Berkeley. In Mei 1905, toe hy 31 jaar oud was, is hy in Kaapstad tot die bediening toegelaat; en twee maande later is hy beroep as medeleraar van die Ned. Geref. gemeente Heidelberg in Transvaal.

Hier het Malan baie bewus geword van die materiële en geestelike lyding van die Afrikanervolk kort na die Anglo-Boereoorlog, en die ervaring het 'n hegte band tussen hom en sy volk gelê. Van Heidelberg is Malan na Montagu, waarheen hy beroep is en waar hy in Februarie 1906 bevestig is.

As predikant het hy baie klem gelê op matigheid in alle opsigte, en dit het daartoe gelei dat sy gemeente hom eerder met ontsag as met toegeneentheid bejeën het. Hy het hom onderskei as ’n kragtige en logiese prediker, en het hom beywer vir die opheffing van die verarmde Afrikaner en vir die sending.

Van Montagu af is hy, in Februarie 1913, as medeleraar na Graaff-Reinet, waar sy belowende loopbaan as predikant in 1915 geëindig het.

Kultuurleier Buite die kerkdiens het dr. Malan as akademiese, kultuur en potensiële volksleier op die voorgrond getree. Hy het hom as kragtige pleitbesorger vir die Afrikaanse taal onderskei en as een van die leiers van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging na vore getree.

Sedert die ontstaan van die Afrikaanse Taalgenootskap het hy in die bestuur gedien. As voorsitter van die Afrikaanse Taalvereniging het hy op 13 Augustus 1908 op Stellenbosch sy beroemde lesing "Dit is ons ernst" gelewer, wat, tesame met die vroeëre " Is 't ons ernst?" van Onze Jan Hofmeyr en "Laat't ons toch ernst wezen!" van Gustav Preller, die grondslag gevorm het van die Tweede Taalbewegirig.

Toe die Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst in 1909/10 tot stand gekom het, was Malan een van die dertig stigterslede. Deur sy hele loopbaan het hy sy vroeë verbintenis met die taal- en kultuurstryd van die Afrikaner behou en mettertyd ook op politieke terrein 'n vurige kampvegter vir die Afrikanersaak geword.

In 1925 het hy as Minister van Binnelandse Sake in die Hertzog-kabinet die wetgewing gehanteer ingevolge waarvan Afrikaans naas Engels as amptelike taal erken is. Malan was vroeg reeds besiel met die drang na eenheid, wat steeds die rigsnoer van sy politieke lewe was. In die dreigende taalstryd tussen die Taalbond, wat meer Nederlands georiënteer was, en die Afrikaanse Taalvereniging, wat die klem op Afrikaans laat val het, het Malan byvoorbeeld as bemiddelaar opgetree deur op die gemeenskaplike belange te wys.

Ook op kerklike terrein het hy gestreef na eenheid. By die sinodesitting van 1909 het hy gepleit vir nouer aansluiting tussen die Ned. Geref. kerke van die vier kolonies, en as Kaapse lid van De Federale Raad der Kerken het hy die stukrag geword agter 'n beweging wat gemik was op kerkvereniging.

Hierdie poging het in 1912 skipbreuk gely en het eers vyftig jaar later geslaag. In die tweede helfte van 1912 het Malan op versoek van die Kaaplandse kerk 'n reis na die Afrikaanse gemeentes in Noord- en Suid-Rhodesië (onderskeidelik die huidige Zambië en Zimbabwe) onderneem en 'n verslag oor sy ervarings is in De Kerkbode en ook in boekvorm onder die titel Na Congoland gepubliseer.

Politieke leier Met die politieke breuk tussen die eerste minister, genl. Louis Botha, en genl. J.B.M. Hertzog in 1912 oor eersgenoemde se konsiliasiebeleid teenoor Brittanje en die Engelssprekendes, het Malan hom by Hertzog geskaar.

Hy het ook die kerk gesteun in sy teenkanting teen regeringsplanne om 'n Engels-georiënteerde universiteit vir albei taalgroepe in Kaapstad op te rig. Hy het hom eerder beywer vir die verhoging van die status van die Victoria-kollege op Stellenbosch tot die van ’n volwaardige universiteit – 'n ideaal wat in 1916 deur wetgewing verwesenlik is.

Suid-Afrika se deelname aan die Eerste Wêreldoorlog het teen die einde van 1914 gelei tot die Rebellie, wat ook op kerklike gebied verwarring en broedertwis onder die Afrikaners gebring het. Dr. Malan was lid van die afvaardiging wat in die naweek van 18 tot 20 Desember 1914 vergeefs by genl. Smuts gepleit het vir die versagting van kmdt. Jopie Fourie se doodvonnis.

In die volgende maand het Malan op kragtige wyse die leiding geneem by 'n predikantekonferensie in Bloemfontein toe dit gelyk het asof die bitterheid van die Rebellie die Ned. Geref. Kerk in twee sou skeur. In 1914 is die Nasionale Party onder leiding van genl. Hertzog gestig. 'n Mondstuk vir die party was nodig, en dit het gelei tot die stigting van De Nationale pers Beperkt. Dr. Willie Hofmeyr is as vriend van dr. Malan gestuur om die hoofredakteurskap van die te stigte koerant, Die Burger, aan te bied. Die feit dat oud-pres.

Steyn en ander vooraanstaande Afrikanerleiers die versoek gesteun het en dat 'n brief van steun uit die tronk in Bloemfontein, onderteken deur Christiaan de Wet en ander rebelle, gekom het, het die deurslag gegee. Op 13 Junie 1915 het Malan sy afskeidspreek op Graaff-Reinet gelewer en op 26 Julie het sy eerste hoofartikel in die eerste uitgawe van Die Burger verskyn. As redakteur van 1915 tot 1923 het hy in sy hoofartikels duidelik rigting gegee aan die nasionale strewes van die Afrikaner.

By hom het dit gegaan om die republikeinse strewe van sy volk en die reg van die Unie van Suid-Afrika am hom van die Britse Ryk af te skei. Op die manier het hy meegedoen aan die vorming van partybeleid, veral nadat hy in September 1915 op die Nasionale Party-kongres op Middelburg tot voorsitter, en dus nie-amptelike leier, van die party in Kaapland verkies is. Nadat Malan in 1915 in Cradock en in 1917 in Victoria-Wes onsuksesvolle pogings aangewend het om tot die Volksraad verkies te word, het mnr. W.P. Louw sy setel, Calvinia, aan Malan afgestaan.

Malan het daarna die setel in 1919 verower en tot in 1938 LV vir Calvinia gebly. Daarna het hy die kiesafdeling Piketberg verteenwoordig tot met sy uittrede uit die politiek. Na die Eerste Wêreldoorlog het Westerse leiers, veral Woodrow Wilson van die VSA en David Lloyd George van Brittanje, die idee van die "selfbeskikking van klein nasies" verkondig. Na aanleiding hiervan het die Nasionale Party 'n afvaardiging na die vredesamesprekings in Parys gestuur om te pleit vir die herstel van die onafhanklikheid van die twee voormalige Boererepublieke en vir groter konstitusionele onafhanklikheid vir die Unie van Suid-Afrika.

Dr. Malan was een van die twee Kapenaars in hierdie afvaardiging, wat onder leiding van genl. Hertzog gestaan het en onverrigter sake na Suid-Afrika teruggekeer het. Die wêreldvrede het die verlange na die hereniging van die verdeelde Afrikaners weer sterk laat opvlam, maar die Volkskongres in September 1920 in Bloemfontein kon nie daarin slaag om die Suid-Afrikaanse Party en die Nasionale Party te herenig nie volgens die NP was dit die pro-Britse beleid van die SAP wat die onderhandelinge laat skipbreuk ly het.

Lid van Hertzog-kabinet Na die oorwinning van die Pakt ('n ooreenkoms tussen die Nasionale Party en die Arbeidersparty) by die stembus in 1924 het genl. Hertzog die vyftigjarige dr. Malan in sy kabinet ingesluit as Minister van Binnelandse Sake, Onderwys en Volksgesondheld. Malan was 'n deeglike administrateur en harde werker en het ook uitgeblink as parlementariër, vegter en redenaar. Trouens, hy kan as een van die grootste redenaars van sy tyd beskou word, en as hy in die Volksraad op sy voete gekom het, het lede wat nie in die saal was nie, gewoonlik gou teruggekom.

Pas na dr. Malan se dood het Die Burger die volgende geskryf: "Sy spreekstyl was besonders. Hy het sy onderwerp uit die grond uit opgebou, altyd met 'n lang en deurtastende inleiding waarin hy die agtergrond geskets het. Stap vir stap, met heldere logika kon hy sy tema ontwikkel, en dan het die slotwoord gevolg … Hy het die vermoë behou om met sy kragtige en helder stem, langsaam ure lank die woord te hou. Toesprake van tussen twee en drie uur was vir hom niks buitengewoons nie." Veral drie belangrike stukke wetgewing uit hierdie tyd word aan Malan se naam gekoppel.

Die eerste was die wysiging van artikel 1 van die Grondwet deur die invoeging van die bepaling dat die volk van die Unie van Suid-Afrika die soewereiniteit en leiding van die Almagtige God erken. Nadat hy in 1925 met die steun van sen. C.J. Langenhoven die amendement van die Unie-grondwet deurgevoer het ingevolge waarvan Afrikaans naas Engels as amptelike taal erken is, het hy ook toegesien dat die beleid van tweetaligheid in die Staatsdiens toegepas word. Hy het hom ook beywer vir beter geriewe vir hoër en vakonderwys.

In 1927 het hy opgetree as voorsitter van 'n konferensie tussen die Indiese en die Suid-Afrikaanse regering waartydens die Unieregering op Malan se aandrang groter geldelike hulp bewillig het vir Indiërs wat Suid-Afrika vrywillig wou verlaat. Die uiters sensitiewe onderhandelinge insake die wetsontwerp op 'n eie Suid-Afrikaanse vlag en burgerskap is tussen 1925 en 1927 onder Malan se ministerskap gevoer. Geen eenstemmigheid is bereik nie: onder opposisiegeledere was daar diegene wat ten gunste was van die behoud van die Britse vlag (die Union Jack), terwyl andere bereid was om 'n nuwe vlag te aanvaar mits die Union Jack ’n prominente plek daarop sou kry.

Ook onder Nasionaliste was daar groot meningsverskil. Hertzog was bereid om die opposisie tegemoet te kom deur in te willig dat die Union Jack op die vlag verskyn. Malan was hierteen gekant, maar om ’n skeuring te vermy, het hy daarin berus. Op 31 Mei 1928 is die Unievlag, soos die Republiekvlag vandag daar uitsien, amptelik in gebruik geneem. In 1930 het Malan die leiding geneem in die beweging om aan Blanke vroue die stemreg te gee en die algemene stemregkwalifikasies in al vier provinsies te standaardiseer.

Breuk met Hertzog Malan was gekant teen die beoogde samesmelting tussen Hertzog en Smuts in 1933, aangesien hy geglo het dat dit nie die belange van die Afrikaner en die Nasionale Party sou dien nie. Hy het Hertzog as persoon gesteun, maar nie die beoogde samesmelting nie. Malan en ander Nasionaliste was eerder ten gunste van "hereniging", dit wil sê "eenwording op die grondslag van gemeenskaplike politieke oortuigings en beginsels", ofte wel "die bymekaarbring wat deur politieke oortuiging by mekaar hoort". Dit is dus duidelik dat Malan nie geglo het dat samesmelting kon slaag nie.