duimnael|340px|Genl. Jan Smuts en sy kabinet saam met koning George VI tydens die koninklike besoek van 1947. Links van die koning sit die adjunkpremier, Jannie Hofmeyr. Dr. Colin Steyn staan heel links en Smuts se opvolger, adv. J.G.N. Strauss, tweede van regs. duimnael|260px|Genls. J.B.M. Hertzog en Jan Smuts omstreeks 1939 buite die parlement in Kaapstad. Die Verenigde Suid-Afrikaanse Nasionale Party was van 1934 tot 1948 die regerende party van die Unie van Suid-Afrika en van 1948 tot en met sy ontbinding in 1977 die Amptelike Opposisie in die Volksraad.

Die party se uiteindelike ondergang, wat reeds in 1939 begin het toe genl. J.B.M. Hertzog as leier en eerste minister bedank het nadat sy mosie om neutraal in die Tweede Wêreldoorlog te bly in die Unie-Volksraad met 80 teen 67 stemme verslaan is, was daaraan te wyte dat die party deur die jare “alles vir almal” wou wees en telkens, wanneer dit regtig saak gemaak het, nie duidelik standpunt oor kernvraagstukke kon inneem nie. Veral ná 1970 het die Engelse Establishment, uit wie se geledere die oorweldigende deel van sy steun toenemend gekom het, vertroue in die party begin verloor as die werktuig waarmee dié groep betekenisvol aan die Suid-Afrikaanse politiek kon deelneem. Ander faktore wat tot sy ondergang gelei het, was die grondwetlike stryd teen die NP se pogings om bruin kiesers van die algemene kieserslys te haal, wat die VP ná ’n lang en bittere stryd verloor het. Ook dat die strydvraag oor republiekwording, iets wat die party teengestaan het, ná 1961 verdwyn het, die NP veral sedert 1970 meer en meer die VP se beleid oorgeneem het en die party se organisasie nie altyd na wense was nie. Vanweë sy ontstaan as ’n party wat ’n tuiste aan wyd uiteenlopende elemente moes bied, het ’n gebrek aan samehorigheid deur die jare ook daartoe gelei dat faksies telkens na links en na regs weggebreek het. Uiteindelik het die party ook die steun van die magtige Engelse pers verloor toe hulle in die sewentigerjare hul steun aan die Progressiewe Party en sy opvolgers toegesê het omdat dié party die enigste werklike alternatief vir apartheid gebied het.

Verskeie partye het mettertyd na links en regs van die party afgestig, wat telkens die party verswak het, totdat dit uiteindelik in 1977 ontbind is. Dit was hoofsaaklik weens die party se onvermoë om met ’n alternatief vir apartheid vorendag te kom.Soos Stanley Uys dit in die Britse koerant The Guardian gestel het in sir De Villiers Graaff se doodsberig: “Under Graaff's early leadership many UP parliamentary speeches – especially by the 1953 crop of MPs – were prophetic in their dissection of why apartheid would not work. What was not clear was what the UP would put in its place. This hesitant approach to the race question enabled Afrikaner nationalists and then the white liberals to bury the UP.”

Stigting duimnael|240px|Genl. Jan Christian Smuts was die tweede leier van die Verenigde Party ná genl. J.B.M. Hertzog se bedanking op 4 September 1939 toe laasgenoemde se mosie van neutraliteit in die Tweede Wêreldoorlog met 67 teen 80 stemme in die Unie-Volksraad verslaan is. Die party het saam met Hertzog ’n groot deel van sy Afrikaanssprekende ondersteuners verloor. Hoewel die party daarna 89 setels in die verkiesing van 1943 gewen het bo die Nasionale Party se 43, was dit die begin van ’n geleidelike agteruitgang wat amper 40 jaar later tot die party se ontbinding sou lei.

Die party is in 1934 gestig uit ’n koalisie tussen genl. James Barry Munnik Hertzog en genl. Jan Christian Smuts. Die ontstaan van die party het neergekom op die samekoms van twee partye, die Suid-Afrikaanse Party en die Nasionale Party, in buitengewone omstandighede, wat belangrike gevolge vir die party se lot in latere jare sou inhou. Die samewerking het gevolg op die ernstige ekonomiese krisis in die land na aanleiding van die Groot Depressie van 1929 tot 1933, die krisis rakende die Goudstandaard, propaganda deur adv. Tielman Roos en die “nasionale regering”. Die optrede van albei partye destyds moet gesien word teen die agtergrond van die 1933-verkiesing. Genl. Smuts het probleme ervaar met die Natalse federaliste en die spanning in sy party tussen die oorheersende konserwatiewe element en die liberale vleuel onder leiding van Jannie Hofmeyr. Andersyds het die Pakt-regering die verkiesing ook onseker tegemoetgegaan omdat dit verswak is deur die Goudstandaardkrisis en die verdeeldheid in die Arbeidersparty. In die NP self was daar spanning weens die radikale, republikeinse vleuel van dr. D.F. Malan.

Vir genl. Hertzog was die swaarste oorweging dat hy ’n sterk regering wou hê sodat hy sy naturelle-beleid kon deurvoer. Hy het getwyfel of hy die verkiesing oortuigend kon wen en hy was bevrees dat, indien hy Smuts se aanbod om samewerking van die hand wys en Smuts met behulp van Roos en die Natal Home Rulers aan die bewind kom, dit onder meer daartoe sou lei dat die posisie van Afrikaans in Natal verswak sou word. Hy het ook geglo dat, met Suid-Afrika se grondwetlike status verseker, die oorblywende verskille tussen die twee grootste partye onbelangrik geword het.

Al was daar besware van albei partye se uiterste geledere, het die partye ’n koalisie met die oog op die verkiesing gevorm met die volgende beginsels as grondslag: erkenning van die grondwetlike onafhanklikheid van die Unie ingevolge die Statuut van Westminster; die nasionale vlag as simbool van eenheid; gelykberegtiging vir die twee amptelike tale in die praktyk; voortsetting van die beleid van die beskerming van blanke arbeid; en dat die naturellevraagstuk aangepak sou word op die grondslag van die beskerming van die blanke beskawing en afsonderlike politieke ontwikkeling van die rasse. Die stigting van die party was die gevolg van ’n kompromis, ingevolge waarvan die ondersteuners van die voormalige Suid-Afrikaanse Party ’n toegewing aan die ondersteuners van die voormalige Nasionale Party gemaak het dat hulle hul voorspraak vir ’n republiek kon volhou. Die twee partye het in Februarie 1933 ’n ooreenkoms beklink waarvolgens hulle in ’n koalisie sou saamwerk. ’n Nuwe kabinet is saamgestel waarin elke party ses verteenwoordigers sou hê. Hertzog het eerste minister gebly en Smuts het adjunkpremier geword.

Dr. D.F. Malan, leier van die Kaaplandse Nasionale Party, het nie die samewerking openlik teengestaan nie en in die verkiesing van 17 Mei 1933 het hy sy ou setel, Calvinia, as koalisie-kandidaat behou. Hy was egter nie bereid om ’n pos in die nuwe kabinet te aanvaar nie. Tydens die verkiesing het die koalisie-kandidate 138 setels uit 150 verower. Hiervan was 75 Nasionaliste, 61 Sappe en twee Cresswell-Arbeiders. Die opposisie het slegs ses lede getel: twee opponerende Arbeiders, twee aanhangers van Roos se Sentrale Party en twee Natalse Home Rulers. Byna twee jaar lank het die twee hoofpartye in een kabinet saamgewerk, hoewel elkeen sy eie identiteit behou het en hul parlementêre verteenwoordigers afsonderlik gekoukus het. Tydens dié tydperk van samewerking is die Statuswet tydens die 1934-parlementsitting aanvaar in opvolg op die Statuut van Westminster en het dit in plaaslike wetgewing die volle onafhanklikheid van die Unie bevestig.

’n Gesamentlike kongres van die twee partye in Bloemfontein op 5 Desember 1934 het besluit op hul samesmelting in ’n enkele party en so het die Verenigde Suid-Afrikaanse Nasionale Party, kortom die Verenigde Party, tot stand gekom. Sy beleid het die beginsels soos deur die koalisie aanvaar omvat en ook sekere verdere doelwitte daaraan toegevoeg: die verwesenliking van die nasionale aspirasies van die volk van die Unie van Suid-Afrika, met die leuse Suid-Afrika Eerste en die verwesenliking van volle nasionale eenheid in die gees van toewyding aan Suid-Afrika en van wedersydse verdraagsaamheid en vertroue. Op grondwetlike gebied het die party hom ten gunste verklaar van die handhawing van bestaande bande met die Britse Ryk en die state wat daaraan behoort. Dit was onderworpe aan die Unie se status en die vermyding van enige eksterne verpligtinge wat strydig sou wees met landsbelange. Terselfdertyd is niemand die reg ontneem om veranderinge aan die regeringsvorm voor te staan nie.

Van die Nasionale Party, wat op ’n federale grondslag georganiseer was, het net drie van die vier provinsies die samesmelting aanvaar. Hoewel die party dus magtige ondersteuning geniet het, van sowel die Engelse as Afrikaanse gemeenskappe, het dit byna dadelik ’n terugslag en verlies aan steun ervaar toe dr. Daniël François Malan, hoewel hy as deel van die koalisie in die verkiesing ’n setel gewen het, weier om die nuwe party te steun en die Gesuiwerde Nasionale Party gestig het waarna die Kaaplandse party, onder sy leiding, bly voortbestaan het onder sy ou naam. Individuele Nasionaliste in al die provinsies het by een van die twee partye aangesluit ingevolge elkeen se oortuiging. Hertzog het eerste minister gebly en Smuts was steeds die adjunkpremier. Malan en sy 19 volgelinge het die Amptelike Opposisie gevorm. Sommige veral Britsgesinde lede van die ou Suid-Afrikaanse Party, wat onwillig was om saam te werk met eertydse Nasionaliste, het die Dominiumparty onder leiding van kol. Charles Stallard gevorm. Saam met ses goedgesinde onafhanklikes kon die Hertzog-Smuts-regering dus staatmaak op 125 Unie-Volksraadslede se steun.

Toe die Verenigde Party op 5 Desember 1934 gestig is, het dit vier vyfdes van die setels in die Unie-Volksraad beheer.

Met die jare het die party egter aansienlike terugslae beleef, en met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het die verdeeldheid tussen Hertzog en Smuts beteken dat laasgenoemde eerste minister geword het.

Verreikende besluite duimnael|320px|links|Die kabinet van genl. J.B.M. Hertzog in 1933, bestaande uit ’n gelyke getal lede van die NP en VP

Een van die nuwe regering se belangrikste besluite was om sir Patrick Duncan as goewerneur-generaal aan te wys. Dit was die eerste keer dat ’n Suid-Afrikaner in die land se hoogste amp aangestel is en het ’n voorbeeld gestel wat van toe af tot en met Republiekwording in 1961 altyd nagevolg is. Die Stem van Suid-Afrika is die eerste keer amptelik gespeel, saam met God Save the King, tydens die opening van die parlement in 1938. Tydens militêre parades in dieselfde jaar op Uniedag (31 Mei) het die inheemse lied ook die Britse volkslied vervang.

Die Smelterregering (soos dit weldra sou bekend staan) het talle belangrike wetsontwerpe deurgevoer. Die Wet op Bystand aan Boere (1935) het spesiale geriewe vir staatshulp aan boere geskep wat in die nood verkeer het en eenvoudiger maatreëls daargestel vir vereffening van hul skuld aan krediteure. Verskillende wetsontwerpe om afsonderlike verteenwoordiging aan die swart Kaapse kiesers te gee, is byna ’n dekade lank bespreek, maar eers ná samesmelting het Hertzog die vertroue gehad dat dit ’n tweederdemeerderheid sou behaal. Die Wet op Naturelleverteenwoordiging is in 1936 aanvaar met slegs 11 lede wat daarteen gestem het. Drie wit Unie-Volksraadslede sou die swart kiesers, wat op ’n afsonderlike kieserslys geplaas is, in die Unie-Volksraad verteenwoordig en vier senatore in die Senaat. Een van die Kaapse verteenwoordigers wat danksy die nuwe wetgewing tot de parlement verkies is, was mev. Margaret Ballinger, wat later die president van die Liberale Party sou word.

1938-verkiesing Tydens die algemene verkiesing van Junie 1938 het die Verenigde Party ’n oortuigende meerderheid behaal. Die party wen 111 setels, die Nasionale Party 29, die Dominiumparty agt en die Arbeidersparty drie. Slegs 15 maande later skeur die party egter oor die vraagstuk van deelname aan die Tweede Wêreldoorlog.

Hertzog bedank uit VP duimnael|links|190px|Jannie Hofmeyr is allerweë beskou as Smuts se opvolger maar sterf skaars ses maande na die skoknederlaag van 1948.

duimnael|regs|190px|Genl. J.B.M. Hertzog.