duimnael|regs|300px|Die Etruskiese magsgebied

Die Etruskers was 'n historiese etniese groep wat tot die beduidendste Voor-Romeinse beskawing in die antieke Italië en een van die voorste handelsmoondhede in die Mediterreense wêreld ontwikkel het. Die Etruskers het gebiede in Noord- en Sentraal-Italië bewoon waarna as Etrurië verwys word; hul oorsprongsgebied was tussen die riviere Arno en Tiber geleë. Geleidelik het hulle hul magsgebied noordwaarts na die Povlakte uitgebrei waar hulle gesofistikeerde dreineringstelsels ontwikkel het, maar later voor Keltiese stamme moes swig wat hulle daar gevestig het. Hulle het daarnaas ook diep spore in Umbrië en Latium gelaat.

Die Etruskers is deur die Grieke Tyrrhenoi of Tyrsenoi en deur die Romeine Etrusci of Tusci genoem. Die terme Tirreense See en Toscana is van hierdie benamings afgelei. Die Etruskers het na hulself as Rasenna verwys, 'n term wat dikwels verkort is tot Rasna of Raśna. duimnael|links|Civita di Bagnoregio, 'n nedersetting in die Italiaanse provinsie Viterbo, 120 km noord van Rome geleë, is omstreeks 500 v.C. deur Etruskers as ommuurde vestingstad op 'n vulkaniese tufsteenplato gestig Die Etruskiese beskawing vorm saam met dié van Antieke Rome en Antieke Griekeland een van die belangrikste kulturele fondamente van die Westerse beskawing. Die werklike omvang van hul bydraes op die gebied van tegnologie, boukuns en geneeskunde is oor 'n lang tydperk onderskat. Sedert die begin van die 21ste eeu is groot vordering gemaak op die gebied van Etruskiese studies en navorsingstegnieke. Argeologiese en wetenskaplike ontdekkings het navorsers in staat gestel om die Etruskiese beskawing, sy tegnologiese prestasies (soos op die gebied van mynbou en metallurgie, tekstielvervaardiging, landbou en eetkultuur) en kuns in 'n heel nuwe lig te sien en meer gespesialiseerde kennis daaroor te verkry.

Nuwe gevorderde metodes van dakstoelkonstruksie word aan Etruskiese boumeesters toegeskryf; hul ingenieurs het gesofistikeerde watertonnels vir onder meer dreinering ontwerp; Etruskiese seilbote was die eerstes wat vir vaarte oor langer afstande met voorseile toegerus is; groot vordering is gemaak op die gebied van metaalvervaardiging en ander sektore waar pirotegnologie 'n belangrike rol speel; terwyl Etruskiese genees- en snykundiges nadoodse ondersoeke kon doen. Op die gebied van kuns kan belangrike tegniese en ikonografiese ontwikkeling deur middel van Etruskiese kunswerke aangewys word wat in grafkamers gevind is, al is hierdie kunstegnieke moontlik oorspronklik elders, in Griekeland of die Nabye Ooste, ontwikkel.

Nogtans word die Etruskers weens die gebrek aan omvattende geskrewe oorlewerings en selfbeskrywings as «geheimsinnig» of «raaiselagtig» beskryf. Ons huidige kennis oor die Etruskers gaan terug op antieke Griekse en Romeinse skrywers en argeologiese opgrawings. Die Etruskiese alfabet en tekste is maklik leesbaar, maar die taal self is nouliks bekend. Die meeste Etruskiese tekste is kort inskrifte op grafstene, terwyl die werke van die Etruskiese literatuur verlore gegaan het. Sommige wetenskaplikes verwys na die verwantskap tussen Etruskies en die oorspronklike taal van die Noordegeïese eiland Lemnos. Die maklikheid, waarmee Etruskers vreemde sedes en gewoontes net soos kunsvorme aanvaar het, bemoeilik nogtans wetenskaplike gevolgtrekkings.

Vreemde kulturele invloede het voortgespruit uit die uitgebreide handels-, maar ook huweliksbande met 'n verskeidenheid oorsese volke wat reeds vroeg deur Etruskiese stede aangeknoop is, onder meer met die Griekse wêreld. So is die meeste vase van Griekse oorsprong nie in Griekeland self nie, maar in Italië gevind. Formele ooreenkomste het eweneens 'n belangrike rol gespeel in kontakte met die buitewêreld. Kulturele en handelsbande kan naas Griekeland en Griekse kolonies in die Middellandse Seegebied aangewys word met Sardinië, Korsika en Sisilië, Italiese stamme op die vasteland, koninkryke in die Nabye Ooste, Iberië, Gallië, en die Puniese netwerke in Afrika. Daanaas is invloed ook op beskawings in Noord-Europa uitgeoefen.

Min is bekend oor die oorsprong van die Etruskiese volk. Sommige navorsers beweer dat antieke mites, waarvolgens die Etruskers nasate van setlaars uit Troja in Klein-Asië is, moontlik 'n historiese agtergrond het. Omstrede genetiese studies dui op Anatolië as moontlike oorsprongsgebied. Die probleem met hierdie soort studies is egter dat bewoners van die huidige Toskane geen genetiese ooreenkomste met antieke Etruskers toon nie. Ander wetenskaplikes neem aan dat die Etruskiese beskawing outogtoon, dit wil sê inheems aan Italië is. Die Etruskiese beskawing dateer in elk geval uit 'n prehistoriese tydperk nog voor die stigting van die stad Rome en het in die tydperk van die Romeinse Republiek uiteindelik volledig met die Romeinse beskawing versmelt, waarby ook die Etruskiese taal verlore gegaan het. 'n Groot aantal kunswerke en ander voorwerpe het die Romeinse verowering egter oorleef, en die Etruskiese kultuur, godsdiens, argitektuur en regstelsel het 'n groot invloed op die Romeinse beskawing uitgeoefen.

Villanova-beskawing 'n Suiwer Etruskiese beskawing het in Italië vanaf omtrent 800 v.C. in die gebied van die Villanova-beskawing, wat uit die Ystertydperk dateer, ontwikkel. Die laasgenoemde beskawing het in die 7de eeu v.C. onder die sterk invloed van Griekse handelaars en die Helleniese beskawing van die Griekse kolonies in Magna Graecia (Suid-Italië) gekom.

Daar is verskeie teorieë oor die etniese oorsprong van die Villanova-beskawing, en geskiedkundiges verkies tans die neutrale term "Proto-Etruskies" om na hierdie groepe te verwys. Volgens antieke oorlewerings sou die Etruskers uit die oostelike Mediterreense gebied na Italië gekom het. As die Etruskers nie self al deel van die Villanova-beskawing was nie, sou hulle binne die bestek van slegs eenhonderd jaar in groot getalle na Italië geïmmigreer het, groot oorloë teen die inheemse bevolking gevoer en drie konfederasies met 36 stede ontwikkel het, sonder dat ons oor enige historiese oorlewerings of argeologiese bewyse vir hierdie gebeure beskik.

Die Etruskiese beskawing het sy hoogtepunt in die stigtingsperiode van Rome en die Romeinse koninkryk bereik, en sy drie konfederasies het oor groot gebiede van Sentraal- en Noord-Italië gestrek: Etrurië, die Povallei en Latium, en Kampanië (Campania). Selfs Rome was oorspronklik in die Etruskiese gebied geleë.

Teorieë oor die etniese oorsprong duimnael|Etruskiese muurskildery in die Tomba dei leopardi ("Grafkamer van die luiperde"), Tarquinia In die antieke tye het die oorspronklikheid van die Etruskiese kultuur die indruk gewek dat die Etruskers moontlik vanuit 'n ver afgeleë gebied na Italië geïmmigreer het. Maar die argeologiese bewyse dui daarop dat die Etruskiese beskawing eers in Etrurië ontstaan het. Navorsers het dus veral begin om die oorsprong van die Etruskiese taal te ondersoek. In hierdie verband het antieke skrywers en geskiedkundiges reeds heelwat hipoteses geformuleer.

Herodotus en die immigrasie-teorie Volgens die immigrasie-teorie word die Klein-Asiatiese gebied van Lidië as die tuisland van die Etruskers beskou, en hulle het ná die jaar 1000 v.C. moontlik van hier na die huidige Toscana geëmigreer. Hierdie teorie steun onder meer op bepaalde ooreenkomste tussen die Etruskiese en Lidiese taal, asook 'n inskrif in die Lemniese taal, wat op die eiland Lemnos ontdek is en nou verwant aan Vroeg-Etruskies blyk te wees. Ons beskik egter net oor 'n baie klein aantal inskrifte in hierdie tale. Daar is ook ooreenkomste tussen die oriëntaliserende kunsstyl in Etrurië vanaf 1000 v.C. en die ontwikkeling van die Lidiese kuns in dieselfde periode.Jacques Heurgon: Die Etrusker. Düsseldorf: Patmos/Albatros 2004, bl. 8

Die oudste bekende teorie oor die oorsprong van die Etruskers gaan terug op Herodotus, wat in die 5de eeu v.C. eweneens Lidië (in die huidige Turkye) as die Etruskiese stamland aangewys het. Genetiese studies oor Toskaanse beeste het getoon dat hulle oorspronklik uit Klein-Asië ingevoer is.

Die outogtone (inheemse) teorie duimnael|'n Etruskiese vrou. Terracotta-figuur uit Chiusi, omtrent 150-120 v.C. duimnael|Etruskiese grafkamers is dikwels ontwerp en ingerig soos wonings vir die hiernamaals, met sit- en rusbanke en beddens Necropoli della Banditaccia naby Cerveteri, die antieke Caere in Latium Die outogtone teorie gaan daarvan uit dat die Etruskiese beskawing uit die stamme van Sentraal-Italië ontwikkel het. Die Etruskiese taal word gevolglik as 'n Voor-Indo-Europese taal beskou, wat deur die immigrasie van Indo-Europese Italiese stamme op die Italiaanse skiereiland geïsoleer is. Die merkwaardige ontwikkeling van die Etruskiese kultuur en kuns is waarskynlik die resultaat van die groeiende Fenisiese en Griekse seehandel in die vroeë 8ste eeu v.C. Die ekonomiese en kulturele opswaai in Etrurië is daarnaas deur die plaaslike hulpbronne, veral sy ryk ertsafsettings, bevorder.

Hierdie teorie word deur die geleidelike oorgang van die Villanova- na die Etruskiese kultuur gesteun, veral in die gebied van die Etruskiese stad Felsina (die huidige Bologna). Sy vroegste voorstander sowat 2 000 jaar gelede was Dionysos van Halikarnassos.

Sintese Die huidige etruskologie ondersoek eerder die vorming van die Etruskiese volk as sy oorspronge. Wetenskaplikes gaan daarvan uit dat daar in die Etruskiese gebied 'n ou Mediterreense beskawing bestaan het, wat tot by omtrent 1000 v.C. tot akkerbouboere ontwikkel en met Mikeense en Fenisiese seevaarders uit die ooste en Indo-Europese Italiese elemente uit die noorde vermeng het. 'n Derde, kleiner groep van Tirreense immigrante uit Klein-Asië het die maatskaplike bolaag gevorm. Die Etruskiese volk het as gevolg van die versmelting van hierdie kulture ontstaan.

Genetika Navorsers van die Europese Vereniging vir Menslike Genetika het tydens 'n konferensie in Nice (Frankryk) in Junie 2007 verslag gelewer oor 'n aantal genetiese toetse, wat hulle deurgevoer het, en vergelykings van mense uit die huidige Toskane met bewoners van ander gebiede in Europa, Turkye en die Midde-Ooste. Die wetenskaplikes onder leiding van Alberto Piazza, professor in menslike genetika aan die Universiteit van Turyn, het beweer dat die Etruskers hoogs waarskynlik setlaars uit Anatolië was wat hulle in Sentraal-Italië gevestig het. Vir hul ondersoek het die navorsers die DNA van huidige bewoners van Etrurië met dié van 55 ander Eurasiese bevolkingsgroepe vergelyk. So is vasgestel dat die inwoners van Murlo, 'n klein Toskaanse nedersetting van Etruskiese oorsprong, geneties verwant is met die moderne Turkse bevolking van Klein-Asië.

Ander Etruskoloë soos Guido Barbujani, wat aan die Universiteit van Ferrara se Instituut vir Biologie en Evolusie verbonde is, wys daarop dat genetiese ondersoeke, wat reeds in 2004 gedoen is, geen genetiese ooreenkomste met antieke en huidige bewoners van die Etruskiese gebied getoon het nie. Vir die analises is die DNA van gebeentes uit Etruskiese grafte van 2500 v.C. met dié van bewoners van Toskane vergelyk.Wissenschaft.de, 20 Mei 2008: Zweifelhafte Etrusker-Gene. Besoek op 29 Oktober 2019

Geskiedenis duimnael|Etruskiese Bucchero-keramiek was die mees gesogte uitvoerproduk en veral gewild by die Kelties-Liguriese bevolking van Suid-Gallië. Navorsers het nog steeds nie al die geheime van die glinsterende swart materiaal ontrafel nie. Net soos by ouer vase uit die Griekse Attika speel die vermindering van die suurstoftoevoer tydens die bakproses 'n groot rol duimnael|Etruskiese moeder en kind, 500-450 v.C. duimnael|'n Etruskiese perd. Kopie van 'n skulptuur uit die 6de eeu v.C. duimnael|Etruskiese ruiters (540-520 v.C.)