Die proses waardeur 'n verandering in gedragsmoontlikhede plaasvind as gevolg van 'n ervaring, word die leerproses genoem. Gedragsmoontlikhede is alle moontlike maniere waarop handelinge uitgevoer kan word, terwyl ervaring die ondervinding is wat opgedoen word deur opvoeding, opleiding of waarneming. Leer kan ook slaan op die aanleer van motoriese vaardighede of die aanleer van leerstof waarby die geheue betrokke is.
Talle sielkundiges het uiteenlopende teorieë oor die leerproses geformuleer, maar die teorieë wat oor kondisionering handel, is oor die algemeen die bekendste. Die Russiese fisioloog I.P. Pawlof het eksperimente met honde gedoen en sy teorie staan as klassieke kondisionering bekend. B.F. Skinner het weer veral met rotte en duiwe proefnemings gedoen en sy teorie staan as operante kondisionering bekend. Afgesien van kondisionering is daar ook ander vorme van leer, soos die probeer-en-trefmetode, gedragsontwikkeling deur modellering en leer deur insig.
Kondisionering as leerproses word dikwels in die praktyk toegepas, veral in geprogrammeerde onderrig, wat op sigself ʼn leermiddel is. Ander leermiddels, soos veral boeke, speel in huidige onderwysstelsels egter nog 'n veel belangriker rol as geprogrammeerde onderrig. Sekere faktore soos die oordrag van leerstof, leerintensie, motivering, aktiewe leer, leermetodes, die verspreiding van leertyd, inhoud en organisasie van leerstof, ouderdom, ensovoorts, oefen 'n groot invloed op die leerproses uit. Indien daar versteurings in die normale verloop van die leerproses is, kan leerprobleme ontstaan.
Inleiding Reeds by geboorte voer 'n kind outomatiese bewegings uit, maar deur ervaring leer hy voortdurend nuwe gedrag by. Hierdie gedrag kan wissel van motoriese handeling tot die uiteindelike bestudering van uiters ingewikkelde abstrakte leerstof. Die leerproses hang ten nouste saam met 'n hele aantal sielkundige prosesse, en is dus moeilik om omvattend te definieer.
Definisie Die definisie wat die algemeenste gebruik word, is dat leer 'n proses is waardeur ʼn betreklik blywende verandering van gedragsmoontlikhede plaasvind as gevolg van 'n ervaring, byvoorbeeld oefening, opleiding of waarneming. In die definisie word van gedragsmoontlikhede in plaas van gedrag gepraat, omdat 'n mens iets kan leer (soos mond-tot-mond-asemhaling) sonder om die geleentheid te hê om dit wat geleer is, toe te pas. Tydelike veranderinge in gedrag, byvoorbeeld vanweë vermoeidheid of die gebruik van dwelmmiddels, is dus nie leer nie.
Veranderinge as gevolg van rypwording of byvoorbeeld ʼn ernstige ongeluk, is ook nie die resultaat van 'n leerproses nie, omdat gedragsverandering die gevolg van oefening is. In die praktyk is die grens tussen ʼn geoefende en nie-geoefende gedragsverandering moeilik onderskeibaar.
Die verloop van die leerproses Die struktuur waarbinne iemand tot ʼn bepaalde prestasie kom, word deur die Utrechtse sielkundige C.F. Parreren die handelingstruktuur genoem. Die handelingstruktuur behels dus ook die veranderings wat op 'n bepaalde wyse gedurende die leerproses plaasvind, en daarom sal leer die verloop van hierdie veranderings wees.
'n Goeie voorbeeld hiervan is die steeds beter wordende prestasies van 'n atleet wat intensiewe onderrig ondergaan. Die atleet sal mettertyd die tyd waarin hy die afstand van 100 m aflê, verbeter en dit lyk as of hy steeds dieselfde handeling uitvoer (hardloop), maar dit steeds vinniger doen. Dit is egter nie die geval nie. Hy hardloop nie slegs vinniger nie, maar ook anders: hy verbeter sy tegniek deur byvoorbeeld oorbodige bewegings uit te skakel, sy arms meer doeltreffend te gebruik, ensovoorts.
Die wysigings in 'n handelingstruktuur tydens 'n leerproses verloop nie altyd reëlmatig nie. Hierdie feit is lank verontagsaam, omdat leerprosesse vroeër byna uitsluitlik aan die hand van die eindresultaat beoordeel is. Tans word egter juis in die beoordeling van die leerproses self belang gestel.
Historiese oorsig Verskillende sielkundiges het leerteorieë ontwikkel om die groot aantal prosesse wat as leer bekend staan, te probeer orden. Die Griekse filosowe Aristoteles en Plato het reeds voor Christus oor leer gefilosofeer, terwyl John Locke in die 17e eeu die belangrikheid van die sintuie in die leerproses beklemtoon het. In 1885 het Hermann Ebbinghaus sy bevindings oor leer en vergeet gepubliseer.
Na aanleiding van sy tydgenoot Joseph Jacobs se eksperimente in hierdie verband het Ebbinghaus gewys op die nut van herhalings in die leerproses, op die heel- en deelmetodes van leer en hy het ook die kurwe van vergeet opgestel. C.L. Morgan het die probeer-en-trefmetode van leer op diere toegepas en na aanleiding daarvan beweer dat diere nie tot hoer denkprosesse in staat is nie. E.L. Thorndike het proefnemings met diere, veral katte, uitgevoer, en dit het gelei tot die formulering van leerwette wat volgens hom ook op die mens van toepassing is.
Die leerkurwe is aan die einde van die 19e eeu deur Bryan en Harter beskryf, terwyl l.P. Pavlov vroeg in die 20e eeu met sy eksperimente in klassieke kondisionering begin het en groot invloed op die denke van J.B. Watson, die vader van behaviorisme, uitgeoefen het. Koffka, Wertheimer en Köhler het met die Gestaltteorie vorendag gekom en leer deur insig beklemtoon.
Moderne leerteorieë Twee hoofgroepe teorieë kan onderskei word, naamlik die assosiasieteorieë (monisties) en die veldteorieë (pluratisties). Volgens eersgenoemde kan alle vorme van leer, hetsy dit te doen het met die aanleer van motoriese vaardighede of met die leer van verbale leerstof, na dieselfde basiese sielkundige beginsel herlei word. Die veldteoretici meen egter dat daar fundamenteel verskillende vorme van leer bestaan en dat leer verskillende onderskeibare sielkundige prosesse impliseer.
Assosiasieteorieë Die bekendste en invloedrykste assosiasieteorie is die stimulus- respons-teorie (S-R-teorie: stimulus = prikkel, respons = reaksie). Hierdie teorie weerspieël veral die siening van die behaviorisme, 'n denkrigting in die sielkunde wat in die twintiger- en dertigerjare oorheers het.
Die behavioriste wil die sielkunde streng tot die bestudering van objektief waarneembare gedrag by mens en dier beperk. Volgens die S-R-teorie bestaan alle menslike en dierlike gedrag uit objektief waarneembare response op stimuli vanuit die omgewing. As iemand byvoorbeeld 'n hond sien (stimulus) en weghardloop, is dit 'n motoriese res pons. Praat is ook 'n respons, so ook bloos, sweet of die sametrekking van spiere. Leer is dus volgens hierdie teorie nuwe reaksies op stimuli, hoewel die reaksies self nie noodwendig nuut hoef te wees nie; die koppeling van sekere reaksies en stimuli (S-R-koppelings) is wel nuut.
Met proefnemings is bepaal watter faktore ʼn invloed op die ontstaan van nuwe S-R-koppelings by 'n organisme het. Die praktiese uitvoering van hierdie eenvoudige beginsel het egter heelwat onoorkomelike probleme opgelewer. Dit is byvoorbeeld moeilik om vas te stel presies watter stimuli verantwoordelik is vir bepaalde reaksies (kyk operante kondisionering). Die eksperimente wat met betrekking tot die S-R-teorie gedoen is, het onder baie kunsmatige toestande plaasgevind, en daar is nie rekening gehou met insig, probleemoplossing en die beheersing van begrippe nie.
Absolute assosiasieleerteorieë, soos die S-R-teorie, het daarom min werklik oortuigde aanhangers. Die S-R-teorie is egter geleidelik aangevul en uitgebrei, en het mettertyd sy oorspronklike karakter verloor. Die aanvanklik behavioristiese sielkundige E.C. Tolman (1886- 1959) het die begrip veranderlike ingevoer (veranderlikes is allerlei werkingsprosesse wat intree tussen die waarneming van 'n stimulus en die reaksie daarop, en wat die resultaat van 'n eksperiment kan beïnvloed). Binne die ou S-R-model het hy dus die veranderlike of faktororganisme O geplaas, en sy model die S-O-R model genoem.
Veldteorieë Vir die veldteoretici kan alle leer nie tot een basiese sielkundige beginsel herlei word nie. Leer is volgens hulle 'n samestelling van verskillende, uiteenlopende sielkundige prosesse. Gevolglik het hulle nie 'n teorie oor leer nie, maar 'n paar teorieë oor verskillende tipes leerprosesse.
Volgens sommige ondersoekers kan die verskillende leerprosesse los van mekaar voorkom, wat beteken dat meer komplekse leerprosesse onafhanklik van die eenvoudiger leerprosesse kan ontstaan. Volgens ander ondersoekers word die leerproses trapsgewys opgebou, sodat elke hoër trap 'n meer komplekse leerproses impliseer, wat slegs kan ontstaan as dit deur eenvoudiger leerprosesse voorafgegaan is. 'n Eenvoudige leerproses vind plaas wanneer 'n persoon byvoorbeeld sonder veel inspanning geleidelik beter presteer.
Dit beteken hy leer sonder om hom bewustelik daarop in te stel (toevallige leer), met ander woorde daar is by hom geen leerintensie nie. Intensionele leer kom in die alledaagse lewe, behalwe in die skool, slegs af en toe voor. Verreweg die meeste inligting word terloops opgedoen en leer vind terloops plaas: dit word outonome leerprosesse genoem. Outonome leerprosesse kom egter nie slegs by toevallige leer voor nie. Wanneer daar intensioneel geleer word, is die onderdele van die bereikte leerresultaat dikwels ook die gevolg van outonome leerprosesse.
'n Mens kan jou dus wel bewustelik op leer instel, maar jy het maar weinig beheer oor die totale leerverloop. As 'n persoon byvoorbeeld leer fietsry, doen hy dit doelbewus, maar presies hoe hy sy ewewig behou, vorm nie deel van die bewuste waarneming nie. Hier is dus wel sprake van outonome leerprosesse, aangesien intensionele en outonome leerprosesse ondersteunend op mekaar inwerk.
Klassieke kondisionering Hoewel daar heelwat besware teen die S-R-teorie as algemene leerteorie bestaan, verklaar die teorie tog eenvoudige, outonome leerprosesse. 'n Belangrike outonome leerproses is kondisionering, en kondisionering kan in klassieke en operante kondisionering onderverdeel word.
Pavlov se hond Wanneer mense en diere met bepaalde stimuli in aanraking kom, reageer hulle instinktief (= aangebore reaksies). As die omgewingstemperatuur byvoorbeeld styg, neem sweetafskeiding toe, of as iemand skielik 'n harde geweerskoot hoor, tree skrikreaksies outomaties in.
So ʼn aangebore reaksie word ʼn natuurlike refleks genoem en hoef nie aangeleer te word nie. Terwyl die Russiese fisioloog Ivan Petrovitsj Pavlov (1849-1936) met hierdie reflekse geëksperimenteer het, het hy toevallig 'n opsienbarende ontdekking gedoen. Hy het reeds jare lank die werking van die spysverteringstelsel bestudeer, en was dus bewus daarvan dat 'n hond wat kos kry, meer speeksel afskei (ʼn natuurlike refleks). Om die afskeiding noukeurig te kon meet, het hy 'n buisie aan die proefdier se bek vasgemaak en die speeksel daarin opgevang.
Hy het gemerk dat die speekselafskeiding meer word wanneer die hond 'n oppasser met kos hoor aankom. Die dier het dus refleksmatig gereageer op stimuli (geluide) wat oorspronklik (van nature) geen reaksie uitgelok het nie. Die oorspronklike refleksreaksie (verhoogde speekselafskeiding by die in name van kos) het geleidelik aan 'n nuwe stimulus (geluide) gekoppel geraak.
Die dier het dus 'n nuwe S-R-koppeling aangeleer, wat Pavlov 'n gekondisioneerde refleks genoem het; dit was met ander woorde 'n voorwaardelike refleks omdat die refleks nie van nature bestaan het nie, maar onder 'n bepaalde voorwaarde ontstaan het.
Die kos wat die refleks oorspronklik veroorsaak het, is die ongekondisioneerde stimulus en die oorspronklike refleks (die speekselreaksie by die in name van kos) is die ongekondisioneerde refleks, terwyl die geluid van naderende voetstappe 'n gekondisioneerde stimulus is wat die speekselafskeiding wat daaraan gekoppel is, 'n gekondisioneerde refleks maak.
Die kondisioneringsprosesse