duimnael|320px|regs|Sir John Truter het die hoeksteen van Wynberg se eerste NG kerk op 24 Maart 1831 gelê. Die vergrote kerkgebou is op 30 April 1843 in gebruik geneem, maar in 1897 gesloop om plek te maak vir die teenswoordige gebou. Ds. C.F.J. Muller het dit op 17 Maart 1899 ingewy.'n Webwerf oor die geskiedenis van Wynberg .
Die NG gemeente Wynberg is die 20ste oudste NG gemeente in die destydse Kaapprovinsie en die derde oudste in die Kaapstadse metropolitaanse gebied, naas NG gemeente Kaapstad (1665) en NG gemeente Durbanville (1826). Dr. Abraham van der Merwe, indertydse moderator van die Kaapse Kerk, het Wynberg in 1954 met die gemeente se 125ste verjaardag as "die oudste voorstedelike gemeente in die Kaapse Kerk" beskryf; dus ook in die hele NG Kerk.
Die gemeente is op 20 September 1829 gestig toe die eerste godsdiensoefening onder die leiding van die konsulent, dr. Abraham Faure, gehou is op die plaas De Onder Schuur, later die ampswoning Westbrooke (sedert 1995 amptelik Genadendal), destyds die eiendom van mnr. Egbert Andries Buyskes. Dié geskiedkundige woning is tans binne die grense van die NG gemeente Rondebosch geleë. Die eerste hoofregter van die Kaapkolonie, sir John Truter, word as die vader en stigter van die gemeente beskou. Die eerste kerkgebou is op 30 September 1832 ingewy en 10 jaar later deur die aanbou van twee vleuels vergroot. Die vergrote kerkgebou is in 1897 gesloop om plek te maak vir die teenswoordige kerkgebou, wat op 17 Maart 1899 ingewy is.
Die eerste leraar was ds. (later dr.) Philip Eduard Faure, 'n broer van die konsulent, wat op 7 Desember 1834 bevestig is. Hy het die gemeente gedien tot en met sy dood op 7 Desember 1882. Ná dr. Faure se dood is Engelse dienste ingevoer, maar weer in 1912 afgeskaf. Lidmate van die gemeente het meegehelp aan die stigting van minstens twee Afrikaansmediumskole binne die gemeentegrense, die Laerskool Simon van der Stel en die Hoërskool Voortrekker, Kenilworth. Weens die veranderende demografie van die suidelike voorstede, het Simon van der Stel, wat Afrikaans gebly het, se leerdertal in 2006 tot onder 200 gedaal en in 2016 op 182 (gr. 1 – 7) gestaan, dieselfde as in 2010, terwyl Voortrekker parallelmedium geword het ten einde sy getalle te behou en Afrikaans mettertyd uitgefaseer is.
Stigting duimnael|links|200px|Sir John Truter word beskou as die grondlegger van die gemeente Wynberg.
Wanneer van die stigting van die NG gemeente Wynberg gepraat word, moet die naam van sir J.A. Truter in dieselfde asem genoem word. Hy was die eerste persoon wat in die Kaapkolonie die titel "hoofregter" gedra het. Hierdie amp het hy van 1812 tot 1828 beklee. In 1824 het hy as kommissaris-politiek die eerste Sinode van die Kaapse Kerk bygewoon. Ná sy aftrede as hoofregter het hy op die "Kampgrond" (vandag nog die perseel van die militêre basis in Wynberg, hoewel met die jare verklein) gaan woon; en van daardie oomblik af is sy naam ingeweef in die geskiedenis van die gemeente Wynberg sodat hy die eretitel "Stigter van die Gemeente" gekry het.
Vir die lidmate van die NG gemeente Kaapstad wat tussen Simonstad en Soutrivier, en Houtbaai en Kuilsrivier gewoon het, was dit moeilik om die dienste in die Groote Kerk by te woon. Op versoek van sommige lidmate skryf sir John op 4 Julie 1829 aan die kerkraad om raad te vra hoe om af te stig en of die sanksie van die goewerment vir so 'n afstigting nodig was. Op 7 Julie 1829 is 'n vergadering van lidmate gehou aan die huis van Alexander van Breda (1755–1842) te Boshof, ’n plaas in die omgewing van die huidige voorstad Rondebosch. Op hierdie vergadering is eenparig besluit om met toestemming en onder leiding van hul eerw. leraars in Kaapstad ’n afsonderlike gemeente te stig. 'n Tweede brief is aan die kerkraad geskryf. Die raad het gunstig geantwoord op die briewe en daarop gewys dat die sanksie van die goewerneur vir 'n afstigting verkry moes word.
Vir hierdie doel is sir John se medewerking gevra. Hierop het van die betrokke lidmate 'n "memorie" gerig aan die goewerneur, sir G.A. Cole, om toestemming te vra om 'n gemeente te stig en 'n gebou op te rig. Dit het hy gegee op 25 Julie 1829. Daarna het die lidmate weer 'n vergadering gehou en die name genoem van persone wat hulle as ouderlinge en diakens voorstel. Sir John is versoek om die name voor die kerkraad van Kaapstad te lê en te verseker dat die goewerment daaraan goedkeuring verleen. Op 3 Augustus 1829 het sir John met die Kaapse kerkraad in verbinding getree. Op 5 September 1829 het die koloniale sekretaris die kerkraad verwittig van die goedkeuring van die goewerneur, en op 7 September verwittig die kerkraad die gemeentelede van die benoeming van Alexander van Breda sr. (1755–1842), van die plaas Boshof, en Ryk Arnoldus Mauritius Cloete, van die plaas Plumstead as ouderlinge. As diakens is benoem: Dirk Gysbert E(c)ksteen, waarskynlik van die plaas Bergvliet, Cornelis Mosterd(/t) (1787–1862), van die plaas Valkenburg, sy swaer W.A. van Schoor (1782–1845) van Malta, en Jacob Pieter Cloete, van die plaas Constantia. Van Breda, Mostert en Van Schoor se plase was binne dié deel van die gemeente wat in 1891 as die NG gemeente Rondebosch sou afstig. Die konsulent was dr. Abraham Faure van die moedergemeente.
Op 20 September 1829 is die nuwe gemeente amptelik tydens 'n diens met 'n leerrede na aanleiding van 2 Kor. 4:5 aan die huis van Egbert Andreas Buyskes, van De Onder Schuur onder amptelike toesig van sir John "geconstitueerd en ingezegend" deur dr. Abraham Faure. De Onder Schuur is in 1831 tot Westbrooke herdoop nadat Buyskes bankrot gespeel het en dit moes verkoop. In later jare was dit die somerwoning van sommige Kaapse goewerneurs, later die ampswoning van die goewerneurs-generaal en eindelik staatspresidente. In 1995 het pres. Nelson Mandela, wat in die herehuis gewoon het, die naam verander na Genadendal. Dis geleë op die Groote Schuur-landgoed, ook binne die gemeente Rondebosch se grense. Ná die amptelike stigting is die kerkraadslede bevestig. Net daarna is die eerste kerkvergadering gehou met die konsulent as voorsitter. Die nuwe kerkraadslede was teenwoordig en op hulle versoek, ook sir John. In November 1832 het die kerkraad van Wynberg 'n skrywe ontvang van die ringskriba, ds. G.W.A. van der Lingen, leraar van die Paarl, met 'n beskrywing van die grense van die gemeente.
Wynberg is as die 20ste NG gemeente in Suid-Afrika gestig nadat 165 jaar sedert die stigting van die eerste gemeente, Kaapstad, verloop het. Tot met die stigting van die 40ste, Humansdorp in 1849, sou presies 20 jaar verloop en tot met die stigting van die 60ste, Montagu in 1854, net vyf jaar. Die 100ste gemeente is in die loop van 1870 gestig.
Eerste kerk regs|200px|duimnael|Goewerneur sir Galbraith Lowry Cole het sowel die hoeksteenlegging as die inwyding van die kerk saam met sy gevolg bygewoon.
Op die eerste vergadering van belangstellende lidmate, op 7 Julie 1829, was daar sprake dat 'n kerkgebou opgerig sou word tussen die plase van V.A. Schönnberg en J. Letterstedt, en dat albei van die here vir dié doel 'n stuk grond sou afstaan. Op latere vergaderings is die vraag geopper of die kerkgebou aan "die Driekoppen" of aan "die Wynbergen" opgerig moes word. (Driekoppen, die huidige Mowbray, is so genoem omdat op ’n keer drie tereggesteldes se kop daar in die openbaar vertoon is, soos destyds die gebruik was.) Met die afstigting is die saak vereers agterweë gelaat.
Ná die stigting is 'n vergadering van die lidmate belê om die saak te bespreek. Op voorstel van sir John het die vergadering eenparig besluit om die saak aan die Sinode, wat op 3 November 1829 sou vergader, voor te lê. H.C.D. Maynier en H. Cloete sou die standpunt stel van die lidmate wat begeer het dat die gebou by Wynberg opgerig moes word en O.J. Truter en E.A. Buyskes sou die standpunt stel van die lidmate wat verkies het dat die gebou opgerig moes word tussen die plase van Schönnberg en Letterstedt. 'n Kommissie van die Sinode wat die saak ondersoek het, het eenparig aanbeveel dat die gebou op Wynberg opgerig moes word. So is besluit.
Geruime tyd het verloop met korrespondensie tussen die kerkraad en die goewerneur om die grond geregistreer te kry as eiendom van die gemeente. Hierdie saak is eers op 9 April 1831 afgehandel. Die grond op ’n hoogte in Wynberg, waarop ook die teenswoordige kerk staan en wat afgesny is van die kampgrond, is aan die gemeente toegeken op voorwaarde dat die grond verbeurd verklaar sou word as die gemeente nie binne nege maande begin bou en die kerk nie binne 18 maande voltooi word nie, vanaf datum 3 Maart 1831. In die tussentyd is die erediens van tyd tot tyd waargeneem deur die konsulent en ander leraars, in die voorhuise van die plaaswonings op De Onder Schuur, Boshof, Valkenburg, en op die plaas van J.M. Horak. Later is die dienste gehou in 'n skoolgebou wat aan die goewerment behoort het, en waarvan die Anglikaanse Kerk ook gebruik gemaak het vir kerklike doeleindes. Ook aan dié kerk is later (1836) 'n gedeelte van die kampgrond vir hul kerkgebou toegeken.
Nadat die "erfgrondbrief" ontvang is, het die kerkraad nie gras onder hul voete laat groei nie en is 'n begin gemaak met die bou van die kerk. 'n Boukommissie is benoem, wat bestaan het uit T.F. Dreyer, H. Cloete en J.J. Cruywagen. Die eerste bydrae vir die kerkgebou het gekom van siviele kommissaris William MacDonald Mackay, later magistraat van Wynberg; die bedrag was £11 19s. 10d. Hierdie geld was 'n deel van 'n geldsom wat aan hom toegestaan is in 'n hofgeding teen dr. John Philip, die destyds bekende sendeling na wie Philippolis genoem is. Die geding was na aanleiding van dr. Philip se boek Researches in South waarin hy, volgens eerw. Andries Dreyer, "die Afrikaanse Boerevolk skandelik belaster en ook die goeie eer en karakter van gemelde Mackay … aangerand het". Dié regsgeding het groot opspraak aan die Kaap verwek. Die hoofregter, sir John Wylde, het uitspraak gelewer op 16 Julie 1830 toe hy aan Mackay skadevergoeding van £900 toestaan. Sir John is bygestaan deur regters William Westbrooke Burton en William Menzies.
Hoeksteenlegging, eerste kerk regs|180px|duimnael|Dr. Abraham Faure, leraar van Kaapstad, het voorgegaan by die hoeksteenlegging op 24 Augustus 1831 en weer by die inwyding op 30 September 1832.
Op 24 Augustus 1831 is, ná 'n leerrede deur die konsulent, dr. A. Faure, die hoeksteen van "eener Hollandsche Gereformeerde Kerk" gelê deur sir John Truter in die nabyheid van "de Wynbergen of Kampground", soos ’n berig in Het Z.A. Tijschrift destyds gelui het. Die hoeksteen is gelê in die teenwoordigheid van sir G.A. Cole, goewerneur, en sy gevolg (indertyd sy "suite" genoem), ’n afvaardiging van die Lutherse gemeente in Kaapstad, en ’n aantal "respektabele ingesetenes" en lede van die Kerk. Die verrigtinge is afgesluit met ’n behoorlike gebed en die sing van liedere, onder meer God Save the King. ’n "Bus" is onder die hoeksteen gelê waarin ’n perkament geplaas is waarvan V.A. Schönnberg die bewoording aan die aanwesiges voorgelees het: "In den Name Gods! Onder de Vaderlyke Regering van Zyne Groot-Brittannische Majesteit Willem den Vierden, is deze Hoeksteen van de Nederduitsch Hervormde Kerk aan die WYNBERGEN op Woensdag den 24 Augustus, in het Jaar onzes Heeren 1831, gelegd, door den Hoog-Edelen Heer Mr. J.A. Truter, Ridder." Daarna volg ’n lys van die hoofamptenare wat die geleentheid bygewoon het: die goewerneur, sir John Wylde, hoofregter, kol. John Bell, koloniale sekretaris, William Mackay, siviele kommissaris en P.B. Borcherds, magistraat. En laastens die "Kerkbestuurders" en "Mede-Besturende Commissarissen tot den opbouw der Kerk".
Inwyding, eerste kerk duimnael|links|Wynberg, Kaap, omstreeks 1846, geskilder deur G.F. Angas. Dis waarkskynlik die NG kerkgebou wat net regs van die middel sigbaar is.