duimnael|Rondebosch se kerkgebou van die noordekant. Die argitek was George Murray Alexander (1851–1904), wat na Suid-Afrika geëmigreer het uit Skotland. Artefacts.co.za. URL besoek op 12 Oktober 2013. Sy twee ander ontwerpe vir NG kerkgeboue was dié van die NG gemeente Britstown in 1892 en Tafelberg in 1893.

Die NG gemeente Rondebosch is 'n geskiedkundig belangrike gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die gelyknamige, suidelike voorstad van Kaapstad. Die gemeentegrense omvat, ná die inlywing van 'n gedeelte van Die Vlakte in 1989 en van die hele Keurboom in Desember 1990, Rondebosch se enigste twee dogtergemeentes, die voorstede Rondebosch, Nuweland, Rosebank, Claremont, Mowbray en Rondebosch-Oos – 'n reusegebied vir 'n voorstedelike gemeente.

Rondebosch het in 1891 begin as 'n baie klein en hoofsaaklik Engelstalige gemeente, maar met die jare het die lidmate skerp toegeneem namate ál meer Afrikaanssprekendes in die suidelike voorstede kom woon het. Die lidmaattal het omstreeks 1965 op sowat 1 700 'n hoogtepunt bereik en daarna, ondanks die inlywing van albei dogtergemeentes, tot 2015 meer as sewevoudig afgeneem.

Baie redes kan aangevoer word vir dié daling. Die suidelike voorstede was nog altyd ’n onafrikaanse omgewing waarin Afrikaanssprekendes altyd ’n klein minderheid was. Mense wat in ’n Afrikaanse omgewing wil woon tussen Afrikaanssprekendes, sal hulle dus liewer in die noordelike voorstede gaan vestig. Ook is Rondebosch en omstreke ’n gesogte woonbuurt met duur eiendom, wat dit vir jong gesinne moeilik maak om hulle hier te kom vestig.Wynbergse gemeente in die weegskaal, Die Burger, 23 Februarie 1989. Dit het gelei tot die verengelsing van die twee Afrikaanse en een tweetalige skool binne die gemeentegrense, wat as ’n bykomende afskrikmiddel dien vir jonger lidmate wat graag hul kinders in Afrikaans wil laat onderrig. Ook het die klein maar belangrike voedingsbron van die Groote Schuur-landgoed, waar kabinetsministers woon, vir Rondebosch omstreeks 1994 weggeval toe die parlement se samestelling ingrypend verander het.

Voorgeskiedenis Kaapstad, die moeder van hul almal Teen die jaar 1820 het die bevolking van Kaapstad sowat 18 000 getel, waarvan meer as 8 000 blankes was. Die syfer het vinnig toegeneem en die stad het in alle rigtings uitgebrei. Die middestad was nog die belangrikste woonbuurt, maar openbare geboue en handelshuise het langsamerhand die statige burgerwonings begin verdring. Vir die welgesteldes en die deftiges het dit ál meer gewoonte geraak om na die latere voorstede uit te wyk. Eers was Groenpunt, Drieankerbaai en Seepunt, met hul gematigde seeklimaat die gewildste toevlugsoorde, maar spoedig het die stroom sterker begin vloei na die suidekant. Anderkant die digbevolkte Papendorp het Rondebosch, een van die vroegste nedersettings buite die middestad, met sy skilderagtige omgewing, sy aanvallige villas en sy pragtige tuine 'n baie gunstige indruk gemaak. Hier het daar sowat 200 blankes gewoon, terwyl Wynberg, met sy militêre kamp, digter bewoon was.

Destyds het die Kaapse predikante die geestelike sorg van die hele bewoonde deel van die Skiereiland, van die ou Societeitshuys op Seepunt tot by Uiterst Hoek anderkant Simonstad, op hulle geneem. Vir baie van die inwoners van die Suid-Skiereiland, tussen Simonstad en Soutrivier tot by Kuilsrivier, het die afstand na Kaapstad met die swaar bergpaaie en die dwarrelende waaisand van die Kaapse Vlakte en Duine gereelde kerkbesoek erg bemoeilik. En waarskynlik om dieselfde rede het die leraars van die Kaap die mense ook maar nie te ywerig opgesoek nie.

So het die verlange na afstigting van hierdie gedeelte van die uitgestrekte Kaapse gemeente mettertyd posgevat. Hieroor is daar in Junie 1829 op 'n byeenkoms van belangstellende lidmate op Alexander van Breda se plaas Boshof beraadslaag en besluit. Gelukkig het hulle in sir John Truter, wat destyds aan die Kampgrond op Wynberg gewoon het, 'n kundige en geesdriftige kampvegter gehad en hul eenparige versoek om onder die leiding van hul leraars 'n afsonderlike gemeente te stig, is deur die Kaapse kerkraad en die koloniale regering in 'n gunstige lig beskou.

Wynberg, eintlike moedergemeente Op 20 September 1829 bevestig ds. Abraham Faure, leraar van Kaapstad en konsulent van die nuwe gemeente, die eerste kerkraadslede van NG gemeente Wynberg in hul amp. Die plegtige verrigtinge van dié geskiedkundige dag het in 'n ruim vertrek van die woonhuis van die heer E.A. Buijskes op sy bekende plaas Onder Schuur (later Westbrooke) plaasgevind, met ander woorde binne die grense van die latere Rondebosse gemeente. Van die ses eerste kerkraadslede het drie in die omgewing van Rondebosch gewoon, naamlik ouderling Alexander van Breda (1755–1842) op Boshof, diaken Cornelis Mostert (1787–1862) op Valkenburg en sy swaer diaken W.A. van Schoor (1782–1845) op Malta.

Daar was aanvanklik onsekerheid oor die mees geskikte perseel vir die nuwe gemeente se kerkgebou. Sommige wou dit op Wynberg hê en ander op Driekoppe (die latere Mowbray). In Augustus 1831 word die hoeksteen van die eerste kerkgebou vir die gemeente egter op 'n perseel gelê wat deur die regering aan die gemeente geskenk is en wel die hoogte waar Wynberg se kerkgebou vandag nog staan. In Desember 1834 was dit dr. Faure se voorreg om sy jongste broer, dr. Philip Eduard Faure (1811–1882), as die eerste leraar van die NG gemeente Wynberg te bevestig. Rondebosch en sy omgewing sou vir die volgende ses dekades en meer deel wees van hierdie oudste dogtergemeente van die NG gemeente Kaapstad in die Skiereiland en tot aan sy dood het dr. Faure sy mense hier getrou bearbei. Hoe groot die behoefte aan beter geestelike bearbeiding in hierdie dele van die Skiereiland werklik was, blyk daaruit dat die flinke leraar van Wynberg voor 1850 reeds met wyksdienste op Simonstad, Houtbaai en Claremont begin het, terwyl Philippi en Mowbray kort hierna by die lysie gevoeg is.

Bediening op Claremont In Junie 1849 het ds. Faure aan die Wynbergse kerkraad die wenslikheid van 'n afsonderlike werksaamheid in Claremont voorgedra. Bewus daarvan dat die bevolking van dié deel van hul gemeente aanmerklik toegeneem het, was die kerkraad vir die voorstel te vinde en drie dae later is daar met die werk van opvoeding en onderwys begin. Toe die skool van die Londense Sendinggenootskap gestaak moes word, is die kerkraad dringend gevra om dit oor te neem. 'n Kroniese tekort aan fondse het hulle huiwerig gemaak om die taak aan te pak, maar die nodige hulp het uit 'n onverwagte oord gekom: 'n Engelse heer wat hom kort vantevore daar gevestig het, het onderneem om vir ses maande die huur van die gebou te betaal. Uit die kerkkas is daar 'n gedeeltelike toelaag vir 'n onderwyser bewillig, terwyl daar verder op vrywillige bydraes gesteun is.

Terselfdertyd sou die leraar op sekere Sondagnamiddae, wanneer daar op Kalkbaai geen diens was nie, in Claremont kom preek. Dit het op 'n gereelde maandelikse diens uitgeloop en in 1851 het die kerkraad die skoolgebou teen £225 gekoop. Toe die dienste later nie meer nodig was nie, is die gebou aan ene J.A. van Niekerk verkoop wat dit aan die Wesleyaanse Sending oorgemaak het. In 1893 kom dit in die hande van die NG Sendinggemeente Wynberg en hulle staan dit weer af aan die sendinggemeente Claremont, wat teen die einde van 1924 gestig is.

Bediening op Mowbray duimnael|links|Die hoeksteen van die kerkgeboutjie in Mowbray is op 6 November 1863 gelê. Leraars van die NG gemeente Wynberg het byna 30 jaar lank buitedienste hier gehou. Die gebou is ná 1966 gesloop, maar die datum is nie bekend nie. Dit was op die hoek van Rhodeslaan en Laanweg geleë, na-aan Mostert se meul. duimnael|upright|Ds. J.H. Neethling van Stellenbosch was lid van die drieman-kommissie wat aanvoorwerk vir gereelde dienste in Rondebosch gedoen het. duimnael|upright|Ds. A.I. Steytler van die NG gemeente Kaapstad is ook benoem om in die kommissie van drie leraars te dien wat die Ringsbesluit van Oktober 1888 op Simonstad moes uitvoer dat 'n gemeente tussen Wynberg en Kaapstad daargestel moes word. duimnael|upright|Ds. A.D. Lückhoff van die NG gemeente Durbanville was die derde lid van die kommissie aan wie se aanbevelings die gemeente Rondebosch sy ontstaan te danke het. Die ou plaas Welgelegen het jare lank aan 'n tak van die vooruitstrewende familie Van Reenen behoort, maar ook die familie Mostert het daar gewoon. Die gedeelte van die opstal by die ou meul, vroeër waarskynlik buitegeboue van die plaas en in later jare 'n ministerswoning, het later behoort aan Sybrand J. Mostert (1791–1872), 'n skoonseun van Gysbert van Reenen. Vanweë sy belangstelling in kerklike sake het hy tot gerief van die mense in die buurt van sy plaas, 'n stuk grond vir die oprigting van 'n kerkie geskenk en self ook ruim tot die boufonds bygedra.

Op 6 November 1863 is die hoeksteen van die gebou gelê deur die skenker van die grond. Die twee broers Faure, nou albei in besit van eredoktorsgrade in die teologie, dr. William Robertson van Swellendam en eerw. D.J.H. Ruyterbeeck van Wynberg se sendinggemeente het vir gepaste toesprake gesorg. Sewe maande later, om elfuur op die oggend van 16 Junie 1864, het 'n skare van die Mosterts se plaashuis af in 'n statige optog vir die inwydingsplegtigheid na die nuwe kerk beweeg. Onder hulle was die Wesleyaanse leraar en die leraar van die Episkopaalse kerk op Mowbray saam met sy kerkraad. Vooraan die stoet het ds. Philip Faure gestap en met 'n luide stem gedeeltes van Psalm 122, 123 en 125 voorgelees. Met die sleutel wat deur oud-diaken Gysbert Mostert, die seun van Sybrand Mostert, aan hom oorhandig is, het die leraar van Wynberg die deur oopgesluit. Terwyl die skare na binne gegaan het, het die bekende derde en vierde vers van Psalm 100 in die wintermôre opgeklink.

Nadat almal hul plek ingeneem het, het dr. Faure die kansel bestyg en die gebou plegtig, soos hy dit ten beste kon doen, aan die Allerhoogste opgedra. Treffend was sy woorde:

Groote Hemel Koning, Zie het huis hier aan; Neem het tot Uw Woning, Tot Uw Tempel aan.

Vervolgens het dr. Abraham Faure "met jeugdige kracht" (hy was toe al 68 jaar oud) 'n besonder indrukwekkende wydingsrede na aanleiding van Psalm 119:16 (Statebybel) gehou: "Ik zal mijzelven vermaken in Uw inzettingen; Uw woord zal ik niet vergeten." Ná die diens het 'n groot deel van die toehoorders na die gasvrye plaaswoning gegaan waar daar vir die heuglike geleentheid "een ware liefdesmaaltijd" aangerig was. Vreugdevol het hulle die beste gebruik gemaak van die goeie dinge op die tafels, om die middag "met gespanne aandacht" na die welsprekende prof. John Murray, hoogleraar van die Kweekskool, te gaan luister. Sy preek was oor Efesiërs 1:10 (Statebybel): "Om in de bedeling van de volheid der tijden, wederom alles tot een te vergaderen in Christus, beide dat in den hemel is, en dat op de aarde is." Die program van liedere wat tydens die inwyding gebruik is, is in Engels opgestel en die psalms in hul Skotse vorm gesing. Twee honderd van die blaadjies is gedruk, waarvan 'n eksemplaar of wat behoue gebly het.

Die leraars van Wynberggemeente het byna 30 jaar lank buitedienste in dié gebou gehou. Ná die afstigting van Rondebosch, wat tussen Wynberg en Mowbray geleë is, het die moedergemeente met sy gereelde wyksdienste op Mowbray gestaak en die kerkie het ander eienaars gekry. 'n Tyd lank is dit selfs gebruik deur 'n gemeente sonder status onder 'n afvallige leraar van die sendinggemeente Wynberg. Die mooi geboutjie het gestaan op die hoek van Rhodeslaan en Laanweg, terwyl die Van Reenens en Mosterts in die netjiese kerkhof onderkant die Rhodesgedenkteken teen die hang van Duiwelspiek rus.

Aanleiding tot afstigting Verstedeliking