duimnael|Infanterie was die eerste militêre magte in die geskiedenis. Hierdie krygerbeeldjie demonstreer dat militêre kultuur 'n belangrike deel van historiese samelewings was, c.480 v.C., Staatliche Antikensammlungen. Krygsgeskiedenis (of die militêre geskiedenis) is die vertakking van die wetenskap wat hom besig hou met die verskynsel van oorlog in die verlede. Die krygsgeskiedenis bemoei hom nie slegs met wat daar in die tallose oorloë gebeur het nie, want oorlog is geen geïsoleerde verskynsel nie - dit vloei voort uit ʼn sameloop van kragte in die samelewing. In die loop van die eeue verander die oorsake, doelstellings, verskyningsvorme en gevolge van oorloë voortdurend na gelang van die maatskaplike omstandighede van die betrokke tyd.

Op sy beurt het die oorlog weer 'n invloed op die samelewing. Oorlog kom in byna alle kulture voor. Die verskynsel het egter in die Weste die mees opsienbarende ontwikkelings deurgemaak, ontwikkelings wat in ander kulture eers heelwat later gevolg het. In die krygsgeskiedenis word dikwels 'n onderskeid gemaak tussen 'n land-, 'n see- en 'n lugoorlog. Tot omstreeks die middel van die 19 de eeu het die klem geval op landwaartse oorlogvoering, maar daarna het die tegnologiese ontwikkeling ʼn totale omwenteling in oorlogvoering teweeggebring.

In die 20 ste eeu het sekere van die groter konflikte wat omvang en verlies aan lewens en eiendom betref, in geen verhouding meer gestaan tot die doeleindes van die stryd nie; oorlog het dus minder funksioneel geword.

Inleiding Oorlog is die stryd tussen groepe mense, in die besonder tussen state, waarby daar sprake is van ʼn gewapende en georganiseerde kragmeting. Die een party probeer deur middel van sy militêre mag die ander party aan sy wil onderwerp of probeer verhinder dat die ander party die oorhand kry. Dit is nie moontlik om die ontstaan van oorloë aan ʼn algemene oorsaak toe te skryf nie. Die verklaring dat oorloë ontstaan het as gevolg van die "aggressiewe" natuur van die mens, het ook geblyk onjuis te wees.

Nog 'n verklaring, wat ook reeds verwerp is, wil dat die ontstaan van oorlog verband hou met die staatsvorm; totalitêre state sou byvoorbeeld meer geneig wees tot oorlogvoering as demokrasieë. ʼn Ander, meer genuanseerde teorie benadruk die graad van organisasie van groepe en state. As daar byvoorbeeld 'n toestand van anargie en botsing van bepaalde belange bestaan, dan is daar geen gesag om as bemiddelaar op te tree nie; een groep gryp na sy wapens en oorlog raak onvermydelik. Al hierdie teorieë het vir die beoefening van die studie van die krygsgeskiedenis te algemeen geblyk te wees.

Aan die uitbreek van 'n oorlog het meestal 'n kompleksiteit van oorsake ten grondslag gelê, waarvan sommige eerder die aanleiding tot as die agtergrond van die oorlog gevorm het. Afhangende van die tydperk het oorloë hul oorsprong gehad in godsdienstige, politieke, sosio-ekonomiese of kulturele konflikte, maar in bykans elke geval het daar, afgesien van 'n hoofoorsaak, ook ʼn aantal meer dieperliggende oorsake vir oorlogvoering bestaan.

Die doeleindes of oogmerke van oorlog verskil ook. Bekende militêre doeleindes was die verkryging van buit, voedsel, grondgebied, slawe, glorie, eer of prestige. Maar oorlog kan ook dien om die aandag van binnelandse probleme af te lei en emosies en aggressie na buite te kanaliseer. Die spanningselement was ongetwyfeld ook die doel van oorlogvoering: die oorlogvoering het 'n soort spel geword. Die karakter van oorlogvoering het deur die eeue aansienlik verander.

Daar word onderskei tussen oorlog tussen individue (die geveg van man teen man) en die afstandsoorlog (met pyl en boog, kanonne, missiele, ensovoorts). Meer fundamenteel is die onderskeid tussen die beperkte en die totale oorlog. Die beperkte oorlog speel hom af binne die raamwerk van die samelewing; dit is 'n instrumentele oorlog, 'n voortsetting van die politiek, maar met kragtiger middele. Daarenteen bedreig die totale oorlog die menslike voortbestaan; die politiek het sy oorheersende posisie verloor en die oorlog verloop volgens "eie" wette. Dit is in so ʼn situasie dat die doeleindes van die oorlog - soos hierbo genoem – nie slegs onduidelik word nie, maar selfs irrelevant. Dit is die geval wanneer die omvang van die stryd geensins meer verband hou met die doel daarvan nie.

Strategie 'n Afsonderlike studieonderwerp binne die krygsgeskiedenis is die geskiedenis van die denke oor oorlogvoering en die militêre strategie. Oor die doel van oorlog, die strategie en taktiek, dit wil sê die krygskuns self, is al baie nagedink en gefilosofeer, maar selde op 'n sistematiese wyse. Vroeër is die formulering van algemene beginsels vir oorlogvoering onnodig geag. Die krygstaktiek, die kuns van oorlogvoering, was die belangrikste oorweging.

Tydens die Renaissance het die belangstelling in die strategie begin toeneem, hoewel strategie en taktiek mekaar dikwels oorvleuel het. Die analise van strategie het nog altyd voortgespruit uit die verhouding tussen militêre strategie en die politieke doelwitte van ʼn groep of staat. In sy Dell’arte della guerra ("Oor die krygskuns"; 1520) was Machiavelli die eerste persoon wat 'n sentrale plek aan die probleem gegee het. Hy het tot die slotsom gekom dat 'n burgermag vir 'n staat baie meer beteken as huurtroepe omdat laasgenoemde net vir die geld veg. Meer sistematies strategiese ondersoeke is in die 18 de eeu begin. Carl von Clausewitz (1780-1831).

'n Pruis met ʼn skoling in die filosofie, word gewoonlik beskou as die vader van die strategie en die militêre wetenskap. In sy belangrikste werk, Vom Kriege ("Oor oorlog"), wat na sy dood verskyn het, definieer hy strategie as die kuns om veldslae te voer ten einde die vyand te verslaan en die oorlog te wen. Volgens Von Clausewitz het oorlogvoering geen eie funksie onafhanklik van die politiek gehad nie: "Oorlog is 'n voortsetting van die diplomasie (politiek) met ander middele."

Nog 'n uitspraak wat hierdie beginsel verder illustreer, lui: "Oorlog het sy eie grammatika, maar nie sy eie logika nie." Ondanks die omvang van Von Clausewitz se invloed op latere strategie en die opleiding aan militêre akademies, word die strategie steeds meer ontkoppel van die politiek. In die 19e, maar veral in die 20e eeu is oorlogvoering al hoe meer van die politiek geskei. Die militêre leiers van die verskillende groot moondhede ontwerp offensiewe en defensiewe stelsels wat slegs beperk word deur tegniese moontlikhede en nie deur landsbelange nie.

Daar kan met sekere voorbehoude gesê word dat die teorie van strategie en oorlogvoering eers na die Tweede Wêreldoorlog en die ontploffing van die eerste kernwapen weer begin verband hou het met maatskaplike vraagstukke. Daar is geprobeer om hierdie nuwe, breër benadering tot 'n aparte wetenskap, die polemologie of oorlogsleer, te ontwikkel: dit behels die studie van die oorsake van die ontstaan van oorloë en van die voorwaardes wat vrede sal verseker.

Prehistorie Inligting oor die krygsgeskiedenis voordat die skryfkuns ontwikkel is, is uiters skaars. Uit die argeologiese vondste is dit baie moeilik om vas te stel of spesifieke wapens vir die jag op diere of vir oorlogvoering gebruik is. Antropologiese studies gedurende die 19 de en die 20 ste eeu oor primitiewe stamme in die oerwoude van Nieu-Guinee en elders bied wel 'n mate van insig in die wyse waarop prehistoriese stamme oorlog gevoer het. By die primitiewe volke is daar geen sprake van streng georganiseerde groepe wat in gevegsformasie opgestel is en 'n veldslag gelewer het nie.

Onverhoedse aanvalle het gelei tot gevegte waarby baie mense betrokke was. Die uitputtingsoorlog het selde voorgekom: die primitiewe mens was geneig om hom terug te trek by die eerste teken van weerstand. Gevegte op 'n afstand, met wapens soos 'n pyl en boog, 'n werpspies of 'n blaaspyp, was die algemeenste. Gevegte waarin die deelnemers handgemeen geraak het, het blykbaar later geleidelik ontwikkel. Gewapende konflikte tussen stamme was dikwels bloedvetes en godsdiens- of seremoniële oorloë (die verkryging van gevangenes as offers aan die gode) en oorloë om vroue, voedsel en slawe as buit te bekom.

Die wil tot oorheersing, die oorlog as middel om groter eenhede (state en volke) te skep, was byna totaal afwesig. Aangesien die stamme klein was en die manlike lede deur hul deelname aan die stryd status verkry het, was krygsdiens sowel reg as plig: stam en leër het ʼn eenheid gevorm. Die opkoms van die landbou (ongeveer 8 000 v.C.), wat die keerpunt van die Neolitikum (of Nuwe Steentyd) was, moes 'n groot invloed gehad het op die verhoudings tussen die stamme. Daar het 'n nuwe soort konflik ontstaan tussen die stamme wat die akkerbou en veeteelt beoefen het en die nomadiese jagterstamme. Die gevestigde landboustamme moes versterkings bou om hulle teen die invallende nomade te verdedig. So het die kern van die vroegste vestingstede ontstaan.

Oudheid Soos in die geval van die prehistorie is die inligting oor oorlogvoering in die Oudheid (nagenoeg 2500 v.C. tot 500 n.C.) ook maar skaars, met uitsondering van die laaste deel van die tydperk, naamlik van omstreeks 500 v.C. af, waaroor daar meer inligting beskikbaar is. Sedert die opkoms van die groot beskawingsentra aan die oewers van die Nyl, die Tigris en die Eufraat (ongeveer 2500 v.C.) was daar 'n groot verskeidenheid vorme van oorlogvoering.

Benewens massaleërs was daar ook staande leërs (dit is leërs wat op volle sterkte gehou word, selfs in vredestyd). Die versterkings van hierdie tydperk toon dikwels ʼn verbasende tegniese vaardigheid. Verskeie beleëringsmetodes is aangewend. Die mure is byvoorbeeld met 'n storm ram, spesiale boorapparaat, of deur ondergrawing ineen laat stort. Deur tonnelgrawing kon verrassingsaanvalle gedoen word. Beleërdes is ook tot oorgawe gedwing deur 'n strategie van uitputting in 'n uitgerekte beleg.

Verdedigings- sowel as plunder of onderwerpingsoorloë is gevoer. Oorlog was beslis die hoofinstrument in die vorming van groot politieke eenhede soos die Assiriese Ryk (omstreeks 1000v.C.), die Nieu Babiloniese Ryk (omstreeks 600 v.C.) en Persië (omstreeks 500 v.C.). Daar word algemeen aanvaar dat Assirië die oorlogsugtigste staat van hierdie tydperk was. Die Assiriese gemeenskap was op 'n militêre grondslag georganiseer en hul wreedheid in stryd en oorheersing was kenmerkend.

Naas die grootskaalse slagtings is massadeportasies uitgevoer om onderworpe volke te verkneg. Die Assiriërs het in hul oorloë gebruik gemaak van die strydwa; die perd is waarskynlik in die 16e eeu voor Christus deur die Hetiete in die krygsverrigtinge ingevoer.

Eerste infanterie Vanaf omstreeks 1000 v.C. het daar verskille begin intree tussen die militêre organisasiemetodes van die Nabye Ooste en die van die Weste. In die Ooste is die ligte ruitery of kavallerie (getalryk en uiters beweeglik) oorwegend gebruik en die absolute heerser van die land was ook die opperbevelhebber van die strydmag. In die Weste het die swaar gepantserde infanterie (voetsoldate) wat op groot dryfkrag staatgemaak het, die strydtoneel tot met die ineenstorting van die Wes-Romeinse Ryk oorheers.

Die omvang van die gemeenskap het ook sy stempel op die organisasie van die krygsmag afgedruk. Die vroeë Griekse staatjies was te klein vir die instandhouding van die massaleërs. Die staatjies moes formasies opstel waarvan die krag nie in die (groot) aantal krygers gelê het nie. Die bergagtige gebied het ook 'n invloed gehad: die tandskap het hom nie geleen tot die ontwikkeling van die ruitery as hoofwapen in die stryd nie. Homeros beskryf in die Ilias en die Odussee die gevegte van die Helleense riddertyd (900 v.C.).