Gliese 676 is ’n dubbelster met ’n skynbare magnitude van 9,59 sowat 54 ligjare van die Aarde af in die sterrebeeld Altaar. Dit bestaan uit twee rooidwerge wat sowat 800 AE van mekaar af is en ’n wentelperiode van meer as 20 000 jaar het. ’n Gasreus is in 2009 in ’n wentelbaan om die primêre ster ontdek en is in 2011 aangekondig. Daar was ook ’n sterk aanduiding van ’n metgesel; die tweede ster is in 2012 ontdek saam met twee veel kleiner planete.

Planeetstelsel Die eerste planeet (b), wat in Oktober 2009 ontdek is, is ’n super-Jupiter. Die ontdekking is amptelik in 2011 aangekondig, asook die eerste erkenning van ’n neiging wat nie aan die metgeselster toegeskryf kon word nie. Dit het gedui op die teenwoordigheid van nog planete, maar niks verder was toe bekend nie.

Ná ontledings in 2012 is planeet b bevestig en planeet c gekarakteriseer. Nog twee planete, een van minstens 11 aardmassas en ’n ander van minstens 4,5 aardmassas (’n superaarde), is ook ontdek.

Die stelsel hou die rekord vir die grootste variasie in die massa van sy planete en toon ’n hiërargie wat met die Sonnestelsel s’n ooreenstem, met die gasreuse ver van die ster af en die kleiner planete veel nader.

Verwysings

Eksterne skakels 15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia

Kategorie:Gliese-voorwerpe Kategorie:Altaar (sterrebeeld) Kategorie:Planetêre stelsels Kategorie:Dubbelsterre Kategorie:M-tipe hoofreekssterre