Balgowan is 'n vallei in die KwaZulu-Natal Middeland in Suid-Afrika. Die naam Balgowan is afkomstig van die Skots-Gaelies naam Baile Ghobhainn, wat grofsmid beteken.

Balgowan self is nie veel meer as 'n ou winkel en 'n treinstasie waar plaaslikverboude hout opgelaai word nie. Balgowan is egter bekend as die tuiste van die Anglikaanse privaatkosskool vir seuns, Michaelhouse, wat as een van die topskole in Suid-Afrika beskou word. Die Sharks se losskakel Patrick Lambie is 'n oudleerling van Michaelhouse. Die Midlands Meanderroete op die R103, loop deur Balgowan.

Die bekende, vermoorde Suid-Afrikaanse historikus, David Rattray is op 1 Februarie 2007 in 'n eenvoudige dennehoutkis op Balgowan begrawe.

Die plaas Wilde Als Spruit is in die 19de eeu deur die Britse setlaar James Ellis en sy susters in Natal en Skotland gekoop en verdeel en hernoem as Lynedoch en Balgowan. Ellis het die bosse op die plaas vir hout begin ontgin. Nog 'n Britse setlaar, John King, wat met Ellis se suster getroud was, het Lynedoch tot een van die eerste Engelse-styl suiwelplase in die omgewing ontwikkel en kaas, botter en ander produkte aan die Pietermaritzburgmark verskaf.Shelagh O'Byrne Spencer, British Settlers in Natal, South Africa; 1824–1857 , besoek op 3 Februarie 2007

Die eerste vonkelwyn wat in KwaZulu-Natal gemaak word, Balgowan Bubbly, is na Balgowan vernoem. Die wyn word van Sauvignon Blanc-druiwe deur die Stables Wynlandgoed net buite Nottingham Road gemaak.The Stables Balgowan Bubbly , besoek op 3 Februarie 2007

Sien ook Lys van dorpe in Suid-Afrika David Rattray Patrick Lambie

Verwysings

Kategorie:Nedersettings in KwaZulu-Natal