Perth (Engels: [pɜːθ], ; Noongar: Boorloo, [buɭu]) is die hoofstad van Wes-Australië, een van die federale deelstate in Australië. Die stad het 'n bevolking van meer as tweemiljoen mense (2024) wat Perth die grootste stad in die deelstaat Wes-Australië maak. Tot soveel as 'n driekwart van die deelstaat se bevolking woon in Perth en omliggende streke. Die stad het ook die vierde grootste bevolking in Australië. Die bevolkingsgroei van Perth is konsekwent hoër as die nasionale gemiddeld in Australië.
duimnael|links|Perth se stadsaal Perth is in 1829 deur Kaptein James Stirling as die politieke sentrum van die vrye setlaars van die Swanrivierkolonie gestig. Perth was sedertdien die setel van die regering in Wes-Australië.
Die metropolitaanse gebied is geleë in Suidwes-Australië in 'n gedeelte wat bekend staan as die Darling Range. Die sentrale sakekern en die woongebiede van Perth is aan die oewer van die Swanrivier geleë. Perth deel die vyfde plek op die tydskrif The Economist se ranglys van die wêreld se mees leefbare stede. Urban idylls, Economist.com.
Etimologie duimnael|links|Die Swanrivier in Perth met 'n Swartswaan-familie in die voorgrond Die stadsnaam is afgelei van die Skotse stad Perth ter ere van die Staatsekretaris van Oorlog en die Kolonies en parlementslid vir Perthshire in die Britse Laerhuis, George Murray. Murray se verbintenis met die stad is ingesluit in Stirling se proklamasie van die kolonie, wat geproklameer is op 18 Junie 1829 in Fremantle en afsluit met die verklaring: Given under my hand and Seal at Perth this 18th Day of June 1829. James Stirling Lieutenant Governor. ("Gegee onder my hand en Seël te Perth op hierdie 18de Dag in Junie 1829. James Stirling Luitenant-goewerneur.") Die enigste kontemporêre inligting oor die bron van die naam is Charles Fremantle se dagboekinskrywing op 12 Augustus 1829, wat beskryf dat hulle named the town Perth according to the wishes of Sir George Murray ("die stad Perth genoem het volgens die wense van sir George Murray").
Sedert 2019 dra die sentrale sakekern die Noongar-naam Boorloo, die plaaslike owerheidsgebied, of die hoofstad in die algemeen. In 1833 het Robert Menli Lyon die naam Boorloo aanvanklik as Boorlo opgeteken, wat geïnterpreteer is as "Perth, moontlik Point Fraser" ('n plek in Oos-Perth). Hy het ook die naam Byerbrup weergegee vir the highland stretching along from Mount Eliza through the centre of the town of Perth ("die hoogland wat strek vanaf berg Eliza deur die sentrum van die stad Perth"). In 1947 het Ludwig Glauert aangevoer dat Lyon moontlik sy bronne verkeerd verstaan het en dat "boorloo" of "belo" (nou getranskribeer as "bilya") bloot die Noongar-woord vir "rivier" is. Volgens 'n ander bron beteken Boorloo "groot moeras", wat die reeks mere beskryf waar die sentrale sakekern en Northbridge geleë is.
Geskiedenis Prehistoriese tydperk duimnael|links|Rottnest-, Carnac- en Garden-eilande Volgens argeologiese vondse uit die boloop van die Swanrivier is die gebied reeds vir meer as 40 000 jaar vóór die eerste Europese nedersettings gestig is, deur die Wadjuk Noongar-volk bewoon. Hierdie inheemse Australiese bevolkingsgroep van die suidwestelike hoek van Wes-Australië was versamelaar-jagters. Die mere op die kusvlakte het vanuit 'n liggaamlike asook geestelike oogpunt vir die volk 'n belangrike betekenis ingehou. Rottnest-, Carnac- en Garden-eilande het ook 'n belangrike rol by die Noongar gespeel. Ongeveer 5 000 jaar gelede was die seevlak laag genoeg dat mense daarheen kon loop.
Die gebied waar Perth tans lê, is Boorloo genoem deur die Aborigines wat daar geleef het tydens die eerste kontak met Europeërs in 1827. Boorloo het deel gevorm van Mooro, die stamgebied van die Yellagonga, een van verskeie groepe wat aan die Swanrivier gewoon het en gesamentlik as die Whadjuk bekend gestaan het. Die Whadjuk was deel van 'n groter groep van dertien of meer stamme wat die suidwestelike taalblok gevorm het en wat as die Noongar bekend staan.
Op 19 September 2006 het die Federale hof van Australië 'n uitspraak gelewer wat die Noongar se eiendomsreg op die metropolitaanse gebied van Perth herken, maar die beslissing is na appèl omgekeer.
Vroeëre Europese kennismaking duimnael|Goewermentshuis, Wes-Australië Om voordeel te trek uit die heersende winde en strome was in die vroeë agtiende eeu die voorkeurroete vanuit die Nederlandse Kaapkolonie na Nederlands-Indië (nou Indonesië) ooswaarts na die suidwestelike hoek van Australië pleks daarvan om noordwaarts oor Indië te reis. Die eerste gedokumenteerde waarnemings van die gebied is deur die Nederlandse kaptein Willem de Vlamingh en sy bemanning op 10 Januarie 1697 gemaak. Daarna is die gebied verskeie kere deur ander Europeërs besigtig en, soos in die geval van Vlamingh, is dit elke keer as 'n ongeskikte gebied vir landbou beskou, iets wat nodig sou wees om 'n nedersetting te ondersteun.
Die Swanrivierkolonie duimnael|links|Die Round House wat in 1830 gebou is, is die oudste gebou in Wes-Australië duimnael|The Foundation of Perth 1829 deur George Pitt Morison is 'n histories akkurate rekonstruksie van die amptelike stigtingsseremonie Die Britse Leër het in 1826 'n basis op King George Sound (op die suidelike kus van Wes-Australië, later bekend as Albany) gestig, in reaksie op gerugte dat die gebied deur Frankryk geannekseer sou word. Perth was egter die eerste volskaalse nedersetting deur Europeërs in die geweste. Die Britse kolonie was reeds in 1832 amptelik as "Wes-Australië" bekend, maar het informeel as die "Swanrivierkolonie" bekend gestaan.
Dit was James Sterling wat die stad sy huidige naam gegee het. Die enigste inligting oor die oorsprong van die naam kom uit Fremantle se dagboekinskrywing van 12 Augustus, waarin hy noem dat hulle die stad "Perth" genoem het, soos versoek deur George Murray, 'n Britse offisier. Murray is in Perth, Skotland, gebore en was in 1829 die Staatsekretaris vir die Kolonies en 'n parlementslid van Perthshire in die Britse laerhuis. Dit word daarom dikwels gereken dat die stad sy naam ter ere van Murray gekry het.
Vroeg in 1831 het die vyandighede tussen die Britse setlaars en die inboorlinge van die plaaslike Noongar-stam aansienlik toegeneem. Hierdie geweldadige periode van die streek se geskiedenis is op die spits gedryf deur 'n reeks gebeure waarin die Britte die inboorlinge oorkom het, insluitende die teregstelling van die Whadjuk-stamhoof genaamd Midgegooroo, die dood van sy seun Yagan in 1833 en die Pinjarra-menseslagting in 1834.
In 1843, toe die stamhoof Yellagonga gesterf het, het sy stam begin disintegreer nadat hulle grond rondom Perth van hulle ontneem is. Hulle het uitgewyk na die moerasse en mere noord van die nedersetting.
In 1850 is Wes-Australië oopgestel vir veroordeeldes op versoek van die plaas- en sakegemeenskap wat op soek was na goedkoop arbeid. Koningin Victoria het in 1856 stadstatus aan Perth verleen.
Federasie en daarna duimnael|St Georges Terrace in Perth, 1968 Na 'n referendum in 1900, het Wes-Australië in 1901 by die Federasie van Australië aangesluit. Dit was die laaste van die Australiese kolonies wat by die Federasie aangesluit het en dan ook eers nádat verskeie konsessies deur die ander kolonies toegestaan is, insluitende die bou van 'n transkontinentale spoorlyn tot in Perth (deur Kalgoorlie) vanaf die oostelike deelstate.
In 1933 het Wes-Australië in 'n referendum gestem om die Australiese Federasie te verlaat en was daar 'n meerderheidstem van twee tot een ten gunste van afstigting. 'n Verkiesing kort voor die referendum het egter die regerende pro-onafhanklikheidsparty uit die kussings gelig en die regering is vervang met 'n regering wat die federasie gesteun het. Die regering het egter die referendum eerbiedig deur 'n versoekskrif aan die Verenigde Koninkryk te rig, maar dit is eenvoudig geïgnoreer.
Perth se groei en relatiewe welvaart, veral sedert die middel 1960's, is die gevolg van sy rol as die hoof dienssentrum vir die deelstaat se hulpbronnywerhede, wat goud, ystererts, nikkel, aluminium, diamante en sandminerale, steenkool, olie en aardgas produseer. Hoewel die meeste mineraal- en petroleumproduksie elders in die deelstaat plaasvind, is die nie-basiese dienste verantwoordelik vir die meeste werkverskaffing en inkomste aan die inwoners van Perth.
Geografie Perth een van die mees geïsoleerde metropolitaanse gebiede op Aarde. Die naaste stad aan Perth met 'n bevolking van meer as een miljoen mense is Adelaide in Suid-Australië, wat 2104 km daarvandaan is en die naaste metropolitaanse gebied is Denpasar op die Indonesiese eiland Bali, 2580 km af. Distance from Perth to Adelaide, timeanddate.com Perth is geografies nader aan Oos-Timor, Singapoer en Djakarta in Indonesië geleë as wat dit aan Sydney, Melbourne en Brisbane is. Aangesien Honolulu op Hawaii ook 'n metropool en meer as 3700 km van die Amerikaanse vasteland geleë is, is Perth die mees geïsoleerde stad met 'n bevolking van meer as 'n miljoen. Daar is geen soortgelyke geïsoleerde stad met 'n vergelykbare grootte nie.
Sentrale sakekern Die sentrale sakekern van Perth word begrens deur die Swanrivier aan die suide en ooste met Kings Park aan die westekant en die spoorlyne wat die noordelike grens vorm. St Georges Terrace is 'n prominente straat in die gebied met 1,3 miljoen vierkante meter se kantoorruimte in die sentrale sakegebied. Hay Street en Murray Street het die meeste kleinhandel en vermaaklikheidsentrums. Die grootste gebou in die stad is Central Park, wat ook die sesde hoogste gebou in Australië is, alhoewel dit deur die BHP Tower in 2012 verbygesteek is. Met die huidige hulpbrongebaseerde snelle vooruitgang sal die stadshorison dramaties verander met ten minste elf nuwe geboue van hoër as 100 m wat tans in aanbou is of binnekort gebou gaan word.
1000px|duimnael|senter|Perth se stadshorison vanaf Kings Park in die namiddag afgeneem
Die woonbuurte aan die kus trek voordeel uit Perth se ligging langs die see en sy skoon strande. In die ooste word die stad begrens deur 'n lae bergreeks wat as die Darling Range bekend staan. Perth is op 'n plat, uitgestrekte terrein geleë – hoofsaaklik vanweë die sanderige grond en rotsbed wat baie diep lê.
Geologie duimnael|Nasa-satellietbeeld van Perth Perth is geleë aan die oewer van die Swanrivier, wat genoem is na die inheemse swart swane deur Willem de Vlamingh, die kaptein van 'n Nederlandse ekspedisie. Die stadskern en die meeste woonbuurte is geleë op die sanderige en relatiewe plat Swan-kusvlakte, wat tussen die Darling Range en die Indiese Oseaan geleë is. Die grond in die gebied is redelik onvrugbaar. Die metropolitaanse gebied strek tot by Yanchep in die noorde en Mandurah in die suide, 'n totale afstand van ongeveer 125 kilometer per pad. Vanaf die kus in die weste tot Mundaring in die ooste strek die stad vir 50 kilometer per pad uit. Dit beteken dat Perth 'n oppervlakte van 6 100 km² beslaan.
Klimaat Perth het 'n sterk seisoenale gemiddelde reënval. Die somers is gewoonlik warm en droog en duur vanaf laat Desember tot laat Maart, met Februarie wat oor die algemeen die warmste maand van die jaar is, wat Perth 'n klassieke voorbeeld maak van 'n mediterreense klimaat. Die somer is nie heeltemal sonder reën nie en daar kom sporadiese neerslae in die vorm van kortstondige donderstorms voor, koue fronte is matig en op seldsame geleenthede kom daar tropiese siklone voor wat beduidende reënval tot gevolg kan hê.