duimnael|230px|Die twee kante van ’n Mitraïstiese reliëfwerk. Rome, 2de-3de eeu v.C. (Louvre).

Mitraïsme of Mithraïsme, ook bekend as die Mitraïstiese misterieë, was ’n misteriegodsdiens wat gesentreer was om die god Mitras en van die 1ste tot die 4de eeu in die Romeinse Ryk beoefen is. Die god was ook bekend as Mithras, Mitra of Mithra.

Die godsdiens is geïnspireer deur die Iranse aanbidding van Mitra, hoewel die Griekse Mitras soms verbind word met ’n nuwe en aparte kultus; daar word gedebatteer oor die vlak van kontinuïteit tussen die Persiese en Grieks-Romeinse praktyk. Die misterieë was gewild onder Romeinse militêre.

Aanhangers van Mitraïsme het ’n ingewikkelde stelsel van sewe grade van inwyding en gemeenskaplike rituele maaltye gehad. Ingewydes het hulself syndexioi genoem: hulle "wat deur die handdruk verenig is". Hulle het in ondergrondse tempels bymekaargekom wat mithraea (enkelvoud: mithraeum) genoem is en waarvan baie bewaar gebly het. Dit lyk of die middelpunt van die kultus in Rome was.Lewis M. Hopfe, "Archaeological indications on the origins of Roman Mithraism", in Lewis M. Hopfe (red). Uncovering ancient stones: essays in memory of H. Neil Richardson, Eisenbrauns (1994), pp. 147–158. p. 156

Talle argeologiese vondste, insluitende vergaderplekke, monumente en artefakte, het bygedra tot moderne kennis oor Mitraïsme. Die ikoontonele van Mitras wys hoe hy uit ’n rots gebore word, ’n bul doodmaak en deelneem aan ’n banket saam met die god Sol (die son).

Materiaal oor die kultus is op sowat 420 terreine ontdek. Onder die voorwerpe wat gevind is, is sowat 1 000 inskripsies, 700 voorbeelde van die toneel waarin hy die bul doodmaak en sowat 400 ander monumente. Daar word geraam daar was minstens 680 mithraea in Rome. Geen geskrifte het bewaar gebly nie; beperkte inligting kan afgelei word van die inskripsies en kort verwysings in Griekse en Latynse letterkunde. ’n Vertolking van die fisieke bewyse is steeds problematies.

Die Romeine het gedink die misterieë het ’n Persiese of Zoroastriese oorsprong. Sedert die vroeë 1970's is verskille opgemerk tussen die Persiese aanbidding van Mitra en die Romeinse Mitraïstiese misterieë. In dié opsig word Mitraïsme soms beskou as ’n mededinger met die vroeë Christendom.

duimnael|230px|Mitras wat die bul doodmaak (omstreeks 150; Louvre). duimnael|230px|Mitras word uit die rots gebore, Rome.

Naam Die woord "Mitraïsme" is ’n moderne term. Skrywers uit die Romeinse tydperk het daarna verwys as die "Mitraïstiese misterieë", "misterieë van Mitras" of "misterieë van die Perse".Origen, Contra Celsus, Boek 6, Chapter 22. Moderne geleerdes verwys soms na die Grieks-Romeinse godsdiens as "Romeinse Mitraïsme" of "Westerse Mitraïsme" om dit te onderskei van die Persiese aanbidding van Mitra.

Ikonografie ’n Groot deel van Mitras se kultus is bekend uit reliëf- en beeldhouwerk. Verskeie pogings is al aangewend om die materiaal te vertolk.

Die mees algemene eienskap van die aanbidding van Mitras in die Romeinse Ryk was van die god wat ’n bul doodmaak. Ander werke beeld hom uit waar hy uit ’n rots gebore word of saam met Sol eet. Maar die beeld van waar hy ’n bul doodmaak, is altyd in die middelste nis. Tekste om dié toneel te verduidelik is baie skaars.Clauss, M. The Roman cult of Mithras, p.xxi

Dit lyk of die praktyk om die god uit te beeld waar hy ’n bul doodmaak, tot die Romeinse Mitraïsme beperk is. Volgens David Ulansey is dit "miskien die belangrikste voorbeeld" van duidelike verskille tussen die Iranse en Romeinse tradisies: "...daar is geen bewyse dat die Iranse god Mitra ooit iets te doen gehad het met die doodmaak van ’n bul nie".

Bultoneel In elke mithraeum was die middelste kunswerk ’n voorstelling van Mitras wat ’n heilige bul doodmaak, ’n daad wat "tauroktonie" genoem word. Dit kon ’n reliëf of vrystaande kunswerk wees, en soms is ander detail uitgelaat.

duimnael|links|240px|’n Romeinse tauroktonie-reliëf van Aquileia (omstreeks 175 v.C.; Kunsthistorisches Museum, Wene). Die kunswerk het Mitras uitgebeeld in Anatoliese drag en ’n Frigiese pet; hy kniel by die uitgeputte bulClauss, M., The Roman cult of Mithras, p. 77. terwyl hy dit met sy linkerhand aan sy neusvleuels vashou en met sy regterhand steek. Terwyl hy dit doen, kyk hy oor sy skouer na die figuur van Sol. ’n Hond en slang reik uit na die bloed. ’n Skerpioen gryp die bul aan sy geslagsdele. ’n Raaf vlieg daar rond of sit op die bul. Drie koringare kom uit die bul se stert, soms uit die wond. Die bul is dikwels wit. Die god sit op ’n onnatuurlike manier op die dier met sy regterbeen wat ’n hoef vaspen en met die linkerbeen gebuig terwyl dit op die dier se rug of sy rus. Twee fakkeldraers, Cautes en Cautopates, staan weerskante; hulle is nes Mitras aangetrek. Cautes wys sy fakkel na bo en Cautopates syne na onder.Clauss, M. The Roman cult of Mithras, p.98–99. Soms hou Cautes en Cautopates herderstawwe vas in plaas van fakkels.

Die toneel speel in ’n grot af waarheen Mitras die bul gedra het nadat hy dit gejag en gery het om dit uit te put.Clauss, M., The Roman cult of Mithras, p.74. Soms is die grot omring deur ’n sirkel waarop die 12 tekens van die diereriem voorkom. Buite die grot, links bo, is Sol, die son, met sy kroon van vlamme. ’n Ligstraal skyn dikwels op Mitras. Regs bo is Luna, die maan.L'Ecole Initiative: Alison Griffith, 1996. "Mithraism"

Soms is die sentrale tauroktonie omraam deur ’n reeks bykomende tonele links, bo en regs, wat gebeure in Mitras se verhaal uitbeeld: Mitras wat uit ’n rots gebore word, die waterwonderwerk, die jag en ry van die bul, ’n ontmoeting met Sol wat voor hom kniel, waar hy bladskud met Sol en ’n maaltyd met hom deel, en sy opstyging na die hemel in ’n strydwa. In sommige gevalle is die god naak. Van die reliëfwerke is so gemaak dat hulle om ’n as kan draai. Op die rugkant is ’n uitspattige feestoneel. Dit dui daarop dat die toneel waar die bul doodgemaak word, in die eerste deel van die fees gebruik is; daarna is dit omgedraai en die tweede toneel is vir die tweede deel van die fees gebruik.

Ander tonele duimnael|140px|’n Figuur met die kop van ’n leeu uit die mithraeum in Sidon, Libanon (500 v.C., Louvre).

Die belangrikste toneel naas die tauroktonie in Mitraïstiese kuns is die sogenaamde bankettoneel.Beck, Roger, "In the Place of the Lion: Mithras in the Tauroctony" in Beck on Mithraism: Collected works with new essays (2004), p. 286–287. Dit beeld Mitras en Sol uit wat ’n feesmaal geniet op die huid van die doodgemaakte bul.

In die geboortetoneel word gewys hoe Mitras uit ’n rots gebore word terwyl hy reeds ’n jeugdige is. In die een hand hou hy ’n dolk en in die ander ’n fakkel vas. Buiten ’n Frigiese pet is hy naak en hy staan met sy bene bymekaar. Daar is verskeie variasies van die toneel.

Een van die kenmerkendste eienskappe van die misterieë, maar waarvan min bekend is, is die beeld van ’n naakte man met die kop van ’n leeu wat dikwels in Mitraïstiese tempels aangetref word. ’n Slang (of twee, soos by ’n boodskapperstaf) is om sy lyf gedraai, met die slang se kop wat dikwels op dié van die leeu rus. Die leeu se mond is dikwels oop en dit gee die gesig ’n skrikwekkende voorkoms. Hy het gewoonlik vier vlerke, een of twee sleutels en ’n septer. Op een beeld kom die naam van die vier seisoene op die vlerke voor en ’n weerligstraal loop oor sy bors. Hoewel figure met die kop van ’n dier algemeen voorkom in Egiptiese en Gnostiese uitbeeldings van dié tyd, is niks soortgelyks al gevind nie.Von Gall, Hubertus. (1978). The Lion-headed and the Human-headed God in the Mithraic Mysteries. [in] Jacques Duchesne-Guillemin (red.) Études mithriaques, pp. 511

Uit inwydingsgeskrifte is dit bekend dat die figuur se naam Arimanius is; dit is ’n Latynse vorm van die naam Ahriman, ’n demoniese figuur in die Zoroastriese goderyk. Uit inskripsies is dit duidelik Arimanius was ’n Mitraïstiese godheid.Jackson, Howard M. (1985). "The Meaning and Function of the Leontocephaline in Roman Mithraism". Numen, Vol. 32, Fasc. 1, pp. 17–45 (Julie 1985) Verskeie ander gode as Ahriman word egter ook as moontlikhede genoem. Wat redelik seker is, is dat hy verbind is met tyd en seisoensverandering.Beck, R., Beck on Mithraism, pp. 94 duimnael|links|220px|’n Reliëfwerk met die oorspronklike kleure (ná opknapping), omstreeks 140-160 n.C.; uit Argentoratum (Musée archéologique (Strasbourg).

Rituele en aanbidding Ingewydes in die Mitraïstiese misterieë moes ’n eed van geheimhouding en toewyding aflê. In sommige grade het dit ingesluit die opsê van ’n katesisme, waarin die ingewyde ’n reeks vrae oor die inwydingsimbole korrek moes beantwoord.

Feitlik geen geskrifte of eerstehandse weergawes van die hoogs geheime rituele het bewaar gebly nie. Die mure van die mithraea was gewoonlik afgewit en vol graffiti. Dit, tesame met inskripsies op Mitraïstiese monumente, is die hoofbron van inligting oor die kultus.

Uit argeologiese vondste is dit duidelik die meeste rituele het met feesviering gepaardgegaan – eetgerei en kosoorblyfsels word meestal op die terrein van mithraea gevind. Dit sluit in dierebene en vrugtereste.Clauss, M., The Roman cult of Mithras, p.115. Vir hul feeste het die ingewydes op klipbanke gesitlê wat aan die lang sye van die mithraeum geleë was. Daar was gewoonlik plek vir 15 tot 20 mense; selde vir 40 of meer.Clauss, M., The Roman cult of Mithras, p.43. Die grootte van die tempels was egter nie ’n aanduiding van hoe groot die gemeentes was nie.

Elke mithraeum het op die verste punt, onder die uitbeelding van die tauroktonie, verskeie altare gehad. Daar was ook op ander plekke kleiner altare.Clauss, M., The Roman cult of Mithras, p. 49. Elke altaar het die naam van ’n ingewyde vertoon wat dit aan Mitras opgedra het uit dankbaarheid vir gunste wat ontvang is. Oorblyfsels van die ingewande van diere dui daarop dat die altare gereeld gebruik is. Daar is drie keer per dag tot die son gebid, en Sondae was besonder heilig.

Dit is te betwyfel of daar ’n deurlopende leerstelling was., p. 87. Dit kon van plek tot plek verskil het."Beck on Mithraism", op. cit., p. 16 Die ikonografie stem egter oral ooreen. Daar was geen sentrale gesag nie; elke tempel hy sy eie amptenare gehad. Namate ingewydes deur die grade gevorder het, kon hulle van tempel verwissel.Clauss, M., The Roman cult of Mithras, p.139.

Mithraeum duimnael|260px|’n Mithraeum wat in Italië ontdek is. duimnael|’n Rekonstruksie van 'n mithraeum.

Tempels van Mitras was onder die grondvlak en het geen vensters gehad nie. Hulle was meestal klein en sonder enige spesiale eienskappe van buite. Hulle was dikwels goedkoop gebou omdat die ingewydes verkies het om telkens ’n nuwe tempel te bou in plaas daarvan om bestaande geboue te vergroot. Die tempels het die grot verteenwoordig waarheen Mitras die bul gedra en waar hy hom doodgemaak het. Soms is die grotwande met pleister nagemaak. Die geboue was gewoonlik naby fonteine of strome geleë; dit lyk of vars water vir sekere rituele nodig was. Daar was meestal ’n wasbak in die gebou.Clauss, M., The Roman cult of Mithras, p. 73.

Mithraea wat bewaar gebly het, gee ’n aanduiding van die strukture. Daar was by die ingang en ook elders klein kamertjies waar goed gestoor of kos berei is. Mithraeum is ’n moderne term – Mitraïste het gewoonlik na hul tempels verwys as speleum of antrum ("grot"), crypta ("ondergrondse gang"), fanum ("heilige plek") en selfs templum ("tempel").

Grade van inwyding In die Bisantynse esiklopedie Suda, onder die inskrywing Mitras, word gestel dat "geeneen toegelaat word om daarin (in die misterieë) ingewy te word totdat hy homself heilig en standvastig bewys het deur verskeie gradetoetse te ondergaan nie".Clauss, The Roman cult of Mithras, p. 102. Die Sudaverwysing wat aangegee word, is 3: 394, M 1045 (Adler). Gregory Nazianzen verwys na die "toetse in die misterieë van Mitras".Clauss, The Roman cult of Mithras, p. 102. Die Gregoryverwysing is na Oratio 4.70 .