duimnael|Voorbeeld van 'n Webjoernaal.

'n Webjoernaal (ook bekend as 'n blog of weblog), is 'n webwerf wat gereeld – soms meer as een keer per dag – opgedateer word en waarop die inligting in chronologiese volgorde (volgens datum) weergegee word. Besoekers vind ook op die tuisblad die mees onlangse bydraes. Die outeurs skep in wese 'n logboek van inligting wat hulle wil deel met die publiek, die besoekers aan hul webjoernaal.

Gewoonlik bestaan 'n webjoernaal uit teks, maar kan ook foto's ('n fotowebjoernaal), video (vlog) of klank (podgooi) bevat. Weblogs bied hul lesers ook gewoonlik die geleentheid om reaksies op artikels te plaas of 'n reaksie via 'n terugspoor- (Engels: trackback) -meganisme agter te laat.

Dit is die persoonlike of juis die gespesialiseerde karakter wat webjoernale toenemend gewild maak vir besoekers.

Geskiedenis Kronieke, ekserpteboeke (Engels: commonplace books), dagboeke en perskrifte (Engels:perzines) kan beskou word as voorlopers van webjoernale.

Voor webjoernale gewild geword het, het digitale gemeenskappe verskeie vorme aangeneem insluitende Usenet, e-poslyste en bulletinbordstelsels (BBS'e). In die 1990’s, het internetforumsagteware soos WebEx, deurlopende gesprekke met gespreklyne (Engels: threads) geskep. Gesprekslyne is direk opeenvolgende inskrywings in 'n elektroniese tekskommunikasiemedium waarvan die onderwerp van bespreking verwant is aan en direk aansluit by vorige inskrywings.

1994–2001 duimnael|2006 Selfportret van Justin Hall Die moderne webjoernaal het ontwikkel van die aanlyndagboek, waarin mense 'n aaneenlopende rekord gehou het van hul persoonlike lewens. Meeste van sulke skrywers het hulself dagboekskrywers, joernaliste, of joernaalhouers genoem. 'n Paar het na hulself verwys as escribisioniste (Engels: escribitionists). Justin Hall, wat elf jaar van persoonlike webjoernaal in 1994 begin het toe hy 'n student aan Swarthmore Kollege was, word algemeen as een van die vroegste webjoernaalskrywers erken. Een van die vroegste voorbeelde van 'n webjoernaal in Frans is Montréal, soleil et pluie wat tussen 7 Junie 1995 en 9 Junie 1998 berig gedoen het oor die outeur se lewe in Montréal .

Ander vorme van joernale wat ook aanlyn bygehou is, het ook bestaan. 'n Bekende voorbeeld was die speletjiesprogrammeerder, John Carmack, se joernaal. Webwerwe, beide besigheids- en persoonlike tuisbladsye het dikwels "Wat is Nuut"- of "Nuus"-afdelings, dikwels op die indeksbladsy en georden volgens datum. Een voorbeeld van 'n nuusgebaseerde "webjoernaal" is die "Drudge Report" gestig deur die joernalis Matt Drudge. 'n Ander is die Institute for Public Accuracy wat begin het om nuusvrystellings te publiseer 'n paar keer 'n week gedurende die begin van 1998. 'n Ander voorloper vir die webjoernaal was die tong-in-die-kies persoonlike webwerf wat gereeld opgedateer is deur die Usenet-legende Kibo.

Jesse James Garrett, 'n redakteur van Infosift, begin met die byhou van 'n lys van interessante webwerwe wat hy besoek. Die lys met URL'e word gestuur na Cameron Barrett wat die lys publiseer op die webwerf Camworld. Meer persone begin met die instuur van interessante skakels. Jorn Barger het eerste die term webjoernaal (Weblog) op 17 Desember 1997 gebruik. Die korter vorm blog is deur Peter Merholz gebruik toe hy grapenderwys die woord weblog in die frase we blog op sy webjoernaal, Peterme.com, in April of Mei 1999 geplaas het.

Die vroeë webjoernale was dus bloot opgedateerde komponente van gewone webwerwe. Die ontwikkeling van sagteware om die produksie en onderhoud van webartikels makliker te maak, het publiseering op die web deur die minder tegnies ingestelde individue moontlik gemaak. Uiteindelik het dit gelei tot 'n spesifieke soort aanlyn publisering wat die webjoernale produseer wat ons vandag ken. Die gebruik van lesergebaseerde sagteware is nou 'n tipiese aspek om 'n webjoernaal in stand te hou. Webjoernale kan gehuisves word deur gespesialiseerde webjoernaalhuisvestingdienste, of dit kan aangedryf word deur webjoernaalsagteware soos WordPress, blogger of LiveJournal, of gehuisves deur 'n gewone webhuivestingdiens, soos Mweb.

Na 'n stadige begin het webjoernale se gewildheid begin toeneem: die webwerf Xanga, geloods in 1996, het slegs 100 joernale teen 1997 gehad, maar oor 20 miljoen teen Desember 2005. Webjoernale het veral sedert 1999 skerp begin toeneem en word verder gepopulariseer deur die skepping van die eerste gehuisveste gereedskap vir webjoernale:

Open Diary, geloods in Oktober 1998 en het gou duisende aanlynjoernale gehad. Open Diary het met sy leserkommentaar geïnoveer en sodoende die eerste webjoernaalgemeenskap geword waar lesers hul kommentaar kon byvoeg by ander skrywers se webjoernale. Brad Fitzpatrick het LiveJournal in Maart 1999 begin. Andrew Smales skep Pitas.com in Julie 1999 as 'n makliker alternatief om 'n "nuusbladsy" op 'n webwerf in stand te hou, gevolg deur Diaryland in September 1999 wat meer op die persoonlike dagboekgemeenskap gevestig het. Evan Williams en Meg Hourihan (Pyra Labs) loods blogger.com in Augustus 1999 (gekoop deur Google in Februarie 2003).

Webjoernale kombineer die persoonlike webwerf met gereedskap wat ten doel het om skakeling met ander webwerwe makliker te maak — spesifiek permanente skakels (permalinks), webjoernaalrolle (blogrolls) en terugspoor (trackback). Dit tesame met webjoernaalsoekenjins maak dit vir webjoernaalskrywers moontlik om skakels te volg na ander individue met soortgelyke belangstellings.

2001–2004 Teen 2001 was webjoernale reeds sodanig 'n fenomeen dat handleidings gepubliseer word. Die handleidings fokus veral op tegnieke. Die belangrikheid van die webjoernaalgemeenskap (en sy verhouding met die breë gemeenskap) het gou toegeneem. Gevestigde joernalistieke opleidingsentra het begin om navorsing te doen oor webjoernale en die verskille tussen hoofstroomjoernalistiek en webjoernale uitgewys.

In 2002 het Jerome Armstrong en sy vriend en besigheidsvennoot Markos Moulitsas Zúniga die webwerf DailyKos begin. Met tot 'n miljoen besoeke per dag gedurende belangrike gebeure, het dit nou een van die internet se mees besoekte webjoernale geword.

Die rol wat webjoernale gespeel het in die Verenigde State van Amerika om politieke druk te inisieer wat tot die bedanking van VSA Senaat se meerderheidleier, Trent Lott, in 2002 gelei het, het die groeiende politieke invloed van die webjoernaal geïllustreer.

Die impak van die storie het groter geloofwaardigheid aan webjoernale as 'n medium vir nuus en nuusvertolking verleen. Alhoewel webjoernale in die algemeen beskou word as partydig, speel hulle soms 'n rol om sleutelinligting tot die publieke domein toe te voeg. Sodanige inligting word deur die media geïdentifiseer en verder bekend gemaak. Dit bly egter meer algemeen vir nuuswebjoernale om kommentaar te lewer op dit wat in die hoofstroommedia gepubliseer word.

Sedert 2002 het webjoernale egter toenemend in die publieke oog beweeg vir hul rol om 'n nuwe dimensie aan nuusstories te verleen. Gedurende die eerste oorlog in Irak het sekere webjoernale soms passievolle en berekende standpunte ingeneem wat verder gegaan het as die tradisionele links-regs-verdeeldheid van die politieke spektrum.

Webjoernale bedryf deur politici en politieke kandidate om hul mening oor politieke vraagstukke te stel, het webjoernale se nuuswaardigheid gevestig. Intussen het 'n toenemende getal kenners ook webjoernale begin skryf wat tot gevolg het dat verskeie webjoernale bronne vir indiepte analise geword het.

Die tweede oorlog in Irak was die eerste "webjoernaaloorlog". Irakse webjoernaalskrywers het wye gehore gehad en 'n ene Salam Pax het selfs 'n boek gepubliseer gebaseer op sy webjoernaal. Webjoernale is ook deur soldate wat aan die konflik deelgeneem het, geskep. Sulke "oorlogwebjoernale" het lesers nuwe perspektiewe op die realiteite van oorlog gegee, sowel as dikwels verskillende uitgangspunte as dié van amptelike nuusbronne gehuldig.

Webjoernale vestig ook aandag op obskure nuusbronne. So het webjoernale byvoorbeeld skakels gepubliseer na die verkeerskameras in Madrid toe reuse anti-terrorismebetogings daar plaasgevind het na die bomontploffings van 11 Maart.

Webjoernaalskrywers is ook in 'n posisie om byna-oombliklike kommentaar op televisiegeleenthede te skep.

2004 – tans Sedert 2004 het die rol van webjoernale versterk met politieke konsultante, nuusdienste en politieke kandidate in veral die ontwikkelde wêreld sulke joernale gebruik as instrumente vir uitreiking en opinie beïnvloeding.

Die Columbia Journalism Review het begin om gereeld te fokus webjoernale en webjoernaalskrywers. Boeke oor webjoernale word uitgegee terwyl webjoernaalskrywers ook op radio en televisie begin verskyn. Merriam-Webster se woordeboek verklaar "blog" as die woord van die jaar in 2004.

In die VSA was webjoernale die belangrikste rolspelers om vals dokumente wat deur Dan Rather, 'n televisiejoernalis tydens 'n CBS program 60 Minutes belig is, te ontbloot. Die dokumente oor VSA-president George W. Bush se militêre diens is bevraagteken deur webjoernaalskrywers en CBS het verskoning aangebied vir "onvoldoende veslagdoeningtegnieke". Baie webjoernaalskrywers beskou hierdie skandaal as die begin van die massamedia se aanvaarding van webjoernale beide as bronne van nuus en mening sowel as 'n middel waardeur politieke druk toegepas kan word.

Sommige webjoernale was belangrike bronne van nuus gedurende die tsoenami van Desember 2004 soos Medecins Sans Frontieres. Net so was daar 'n paar webjoernale gedurende Orkaan Katrina in Augustus 2005 en die tydperk daarna wat vanuit New Orleans bestuur is, insluitende die Interdictor en Gulfsails, wat daarin geslaag het om krag en 'n internetskakel te handhaaf en inligting beskikbaar te stel wat nie gedek is deur die hoofstroommedia nie.

In Brittanje is die koerant The Guardian herontwerp in September 2005, wat onder andere 'n daaglikse opsomming van webjoernale op bladsy twee insluit. In Junie 2006 het BBC News 'n webjoernaal vir sy redakteurs geloods soos ook in ander nuusmaatskappye ingestel is. In Januarie 2005 het die tydskrif, Fortune agt webjoernaalskrywers gelys wat besigheidsmense "nie kan ignoreer nie": Peter Rojas, Xeni Jardin, Ben Trott, Mena Trott, Jonathan Schwartz, Jason Goldman, Robert Scoble, en Jason Calacanis.

Soorte webjoernale Nuuswebjoernaal 'n Nuuswebjoernaal is 'n aanlyn koerant waarin die interaktiwiteit toeneem.’n Nuuswebjoernaal word meer as een keer 'n dag opgedateer, fokus op aktuele onderwerpe en word gewoonlik onderhou deur verskeie redaksielede. Meningwebjoernaal 'n Meningwebjoernaal is 'n webjoernaal waarop daagliks menings, kommentare en/of satiese beskouings gepubliseer word oor aktuele aangeleenthede in die samelewing. Pretjoernaal (Funlog) 'n Pretjoernaal is 'n webjoernaal waarin alles wat verbandhoudend is met humor en/of waar bisarre nuusfeite 'n rol speel. Lewenswebjoernaal 'n Lewenswebjoernaal is 'n webjoernaal waarop gereelde berigte geplaas word oor gebeurtenisse in die lewe van die skepper van lewenswebjoernaal. Dit kan beskou word as ’n aanlyndagboek. Klubwebjoernaal 'n Klubwebjoernaal is 'n meer uitgebreide weergawe van 'n gasteboek van ’n klub of organisasie as werklik 'n suiwer webjoernaal. Dit is weliswaar nie 'n geslote joernaal nie en is vir enige persoon toeganklik, maar verreweg die meeste besoekers van 'n klubwebjoernaal sal egter deel uitmaak van 'n bepaalde klub, vereniging of organisasie waarvan die lede nuus en wetenswaardighede met betrekking tot hul klub publiseer. Skakelwebjoernaal 'n Skakelwebjoernaal bestaan uit 'n versameling url's (adresse op die internet) wat deur diegene wat die skakelwebjoernaal versorg as interessant bestempel word vir die leser van die betrokke webjoernaal . Selfoonwebjoernaal 'n Selfoonwebjoernaal is 'n webjoernaal wat bygehou word vanaf 'n selfoon (byvoorbeeld deur MMS of e-pos), selfs ook met foto's geneem op 'n selfoon. Musiekwebjoernaal