Die Jesiede (Koerdies: Êzidî, [eːzɪˈdiː]) is 'n Irannese etnies-godsdienstige groep inheems aan Koerdistan van Noord-Irak, Noord-Sirië en Suidoos-Turkye. Hulle praat die Noord-Koerdiese dialek van Koerdies, ook Koermandsji genoem. Sommige Jesiede beskou hulself as Koerde, terwyl ander hulself as 'n aparte etnies-godsdienstige groep beskou. In Armenië en Irak word hulle egter as 'n eie etniese groep erken. Baie Jesiede beskou Jesidisme as 'n etniese en 'n godsdienstige identiteit.

duimnael|links|Jesidiese leiers ontmoet Galdees-geestelikes in Mesopotamië, 19de eeu duimnael|links|Die graf van Sjeik ʿAdī ibn Musāfir in die Irakse Lalisjvallei Hul samelewing word deur 'n streng endogamie (ondertrouery) gekenmerk en lidmaatskap word uitsluitlik deur geboorte verkry, indien albei ouers Jesiede is. Die huwelik van 'n Jesid (albei geslagte) met mense van ander gelowe lei tot uitsluiting van die godsdienstige gemeenskap.

Die Jesiede se godsdiens, Jesiedisme, is 'n monoteïstiese, sinkretiese geloof wat nie op Heilige skrifte gebaseer is nie. Dit kombineer aspekte van verskeie monoteïstiese godsdienste soos Zoroastrisme, Islam, Christendom en Judaïsme. Jesiede glo aan God as skepper van die wêreld wat hy onder die sorg van sewe heilige wesens of engele geplaas het, waarvan die hoofengel Melek Taus ("Engel Pou") is. Die Engel Pou as wêreldleier veroorsaak dat beide goeie en slegte dinge individue raak en hierdie ambivalente karakter word in mites van sy eie tydelike val uit God se guns weerspieël, voordat sy berouvolle trane die brande van sy heilige tronk uitblus en hy met God versoen. Die belangrikste aspekte van hul godsdiens is Melek Taus ("Engel Pou"), Sjeik ʿAdī ibn Musāfir (ca. 1073–1163) asook die sewe misteries. Die graf van Sjeik ʿAdī in die Irakse Lalisjvallei is die belangrikste heiligdom van die Jesiede en bestemming van 'n jaarlikse pelgrimstog gedurende die herfs.

Die gemeenskappe in Armenië, Georgië, Turkye, Irak en Sirië gaan sedert die 1990's agteruit as gevolg van aansienlike migrasie na Europa, veral Duitsland, waar die grootste diasporagroep bly. Van 2014 tot 2017 is die Jesiede deur die Islamitiese Staat met 'n volksmoord geteiken. Dié terroristiese organisasie het hulle as ongelowiges beskou en hulle is met vervolging, slawerny en moord geteister. As gevolg moes baie Jesiede uit hul voorvaderlike gebiede vlug en nuwe veilige tuistes soek. Die meeste Jesiede het na buurlande of Europa gevlug.

Verwysings

Eksterne skakels

Kategorie:Etniese groepe in Duitsland Kategorie:Etniese groepe in Irak Kategorie:Etniese groepe in Noord-Amerika Kategorie:Etniese groepe in Oseanië Kategorie:Irannese volke Kategorie:Monoteïsme Kategorie:Religieuse strominge