Brigitte Bardot (* 28 September 1934 in Parys - 28 Desember 2025 in Toulon ) was 'n Franse aktrise, fotomodel en sangeres. Sy het in die vyftiger- en sestigerjare internasionaal bekendheid verwerf as 'n sekssimbool en vinnig 'n legende geword. Van die flieks waarin sy te sien was, is: And God Created Woman en Le Mépris.HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013,

Nadat sy haar in die sewentigerjare aan die rolprentbedryf onttrek het, verwerf sy bekendheid as 'n politieke aktivis vir diereregte. Haar uitlatings oor immigrasie, Islam in Frankryk, rasvermenging en homoseksualiteit is steeds omstrede. Sy was een van die bekendste ondersteuners van Frankryk se Front National party.

Biografie duimnael|regs|Brigitte Bardot in 1968 Brigitte Bardot was die dogter van Anne-Marie Mucel (1912–1978) en Louis "Pilou" Bardot (1896–1975), 'n nyweraar van Lotaringe met 'n ingenieursgraad. Haar moeder het reeds vroeg begin om haar belangstelling in musiek en dans te bevorder, en op vyftienjarige leeftyd het sy 'n model vir die tydskrif Elle geword.

In 1952 het sy haar debuut op die silwerdoek met die rolprent Le Trou Normand gemaak. Sy is dieselfde jaar op agtienjarige leeftyd met die regisseur Roger Vadim getroud.

Brigitte Bardot het danksy ongekende mediadekking een van die bekendste Europese aktrises van die vyftiger- en sestigerjare geword en het saam met Marilyn Monroe 'n ideaal van vroulike seksualiteit vir gehore in Europa en oorsee versinnebeeld.

Haar rolprente was in die vyftigerjare hoofsaaklik romantiese dramas, wat soms ook historiese onderwerpe behandel het, en sy het veral as 'n soort sirene opgetree – 'n rol wat dikwels ontkleding ingesluit het. Haar Franstalige rolprente is vir die internasionale mark van onder meer Engelse en Duitse klankbane voorsien.

Vadim het egter meer gesoek as ligte vermaak. Die Nuwe Styl van die Franse en Italiaanse filmkuns en sy sterre was baie gewild op die internasionale mark, en dit was duidelik dat Brigitte Bardot meer ambisieuse rolle moes aanpak om as 'n ernstige aktrise erken te word. In Jean-Louis Trintignant se film Et Dieu... Crea la Femme ("En God...het die Vrou Geskep"), wat in 1956 vrygestel is, wys Brigitte haar slag as 'n ernstige aktrise. Die film oor die immorele gedrag van 'n tienermeisie teen die agtergrond van 'n fatsoenlike dorpsgemeenskap word 'n internasionale sukses, waarmee Bardot nader aan die hoofstroom van die destydse Europese filmkuns beweeg het.

duimnael|links|200px|Brigitte Bardot. Beeld in Búzios, (Brasilië - 'n strandoord wat danksy Bardot in die 1960's 'n gewilde vakansieoord vir stralerjakkers geword het) Haar gewaagde rolle was té sensueel vir die preutse Amerikaners, aangesien die filmnywerheid in Hollywood destyds nog deur aktrises soos Doris Day oorheers is. Erotiese rolprente uit Europa, soos Brigitte se Cette sacrée gamine (1955), was in Amerika beperk tot 'n klein mark. Haar beperkte kennis van Engels en haar sterk Franse aksent was eweneens hindernisse vir 'n loopbaan in Amerika.

Brigitte Bardot en Vadim het in 1957 geskei, en in 1959 het Brigitte met die akteur Jacques Charrier getrou, die vader van haar enigste seun, Nicolas-Jacques Charrier. Die paparazzi-fotograwe het haar nuwe huwelik probeer uitbuit met steeds nuwe foto's en berigte, terwyl daar heelwat onenigheid bestaan het oor haar verdere loopbaan. Haar rolprentprojekte het meer ambisieus geword, maar terselfdertyd het sy moeite gedoen om steeds ook erkenning as 'n gewilde glansmodel te geniet.

Die regisseur Louis Malle se rolprent Vie privée (1960) bevat outobiografiese elemente van Brigitte. Een van sy tonele, waarin die karakter wat sy speel, deur 'n skoonmaakster in die hysbak vurig aangespreek en 'n boemelaar en 'n flerrie genoem word, is op 'n werklike gebeurtenis gebaseer.

Bardot het haar kort daarna grootliks uit die openbare lewe onttrek en in Suid-Frankryk gevestig. In hierdie periode het sy verskeie selfmoordpogings oorleef. Die opspraakwekkendste selfmoordpoging was op haar 26ste verjaardag, toe sy 'n houer vol slaappille gesluk en haar polse gesny het.

Dwarsdeur die sestigerjare het sy glansrolle soos in Viva Maria (1969) gespeel, popmusiek as stokperdjie beoefen en nog steeds as glansmodel opgetree. Belangrike rolprentprojekte het Jean-Luc Godard se Le Mépris ("Veragting") en die Hollywoodproduksie Dear Brigitte (1965) met Jimmy Stewart ingesluit, waarin sy haarself gespeel het.

Brigitte is later met die Duitse miljoenêr Gunter Sachs (1966–1969) en in 1992 met Bernard d'Ormale, haar laaste eggenoot, getroud. Sy het daarnaas ook verhoudings met ander mans soos die Franse sangers Serge Gainsbourg en Sacha Distel gehad.

Die opwindende kulturele lewe van Europa in die sestigerjare het dié van Hollywood in baie opsigte oortref, en Brigitte is tot die "ere-seksgodin" van dié dekade aangewys. Net soos Marilyn Monroe en Jackie Kennedy het sy as 'n motief vir Andy Warhol se skilderye gedien. Die Franse beeldhouer Alain Gourdon het Bardot in 1970 as model vir sy borsbeeld van Marianne, die nasionale simbool van die Franse Republiek, gebruik.

Aktivisme Net voor haar veertigste verjaardag in 1974 kondig Brigitte Bardot haar aftrede aan. Nadat sy in meer as vyftig rolprente opgetree en 'n aantal langspelers (veral saam met Serge Gainsbourg) opgeneem het, besluit sy om haar bekendheid vir die beskerming van diereregte te gebruik.

In 1986 het sy die Brigitte Bardot-stigting vir die Welvaart en Beskerming van Diere gestig. Danksy die verkoop van haar juwele en ander persoonlike besittings het sy drie miljoen Franse frank ingesamel, wat vir die stigting gebruik is.

Brigitte Bardot tree onder meer as 'n teenstander van die tradisionele robbejag in Kanada op en het hierdie praktyk tydens 'n besoek aan dié land skerp veroordeel. Die Brigitte Bardot-stigting beywer hom tans vir 'n boikot van Kanadese produkte.

Filmografie 1952 — Le trou normand 1952 — Les dents longues 1952 — Manina, la fille sans voile 1953 — Le portrait de son père 1953 — Un acte d'amour (Contempt) 1954 — Tradita 1954 — Si Versailles m'était conté 1955 — La lumière d'en face 1955 — Futures vedettes 1955 — Le fils de Caroline chérie 1955 — Doctor at Sea 1955 — Les grandes manoeuvres 1956 — La mariée est trop belle 1956 — Helen of Troy 1956 — Cette sacrée gamine 1956 — Mio figlio Nerone 1956 — En effeuillant la marguerite 1956 — Et Dieu... créa la femme (And God Created Woman) 1957 — Une parisienne 1958 — Les bijoutiers du clair de lune 1958 — En cas de malheur 1959 — La femme et le pantin 1959 — Babette s'en va-t-en guerre 1959 — Voulez-vous danser avec moi? 1960 — L' affaire d'une nuit 1960 — La vérité 1961 — La bride sur le cou 1961 — Amours célèbres 1962 — Vie privée 1962 — Le repos du guerrier 1963 — Le Mépris 1964 — Une ravissante idiote 1965 — Viva Maria! 1966 — Marie Soleil 1966 — Masculin féminin: 15 faits précis 1967 — À coeur joie 1968 — Tre passi nel delirio 1968 — Shalako 1969 — L' ours et la poupée 1969 — Les femmes 1970 — Les novices 1971 — Boulevard du rhum 1971 — Les pétroleuses 1973 — Don Juan 73 ou Si Don Juan était une femme... 1973 — L' histoire très bonne et très joyeuse de Colinot Trousse-Chemise

Verwysings

Eksterne skakels

Fondation Brigitte Bardot (Brigitte-Bardot-Stigting) A Tribute to Gainsbourg, met 'n biografie van Brigitte Bardot 6 Brigitte Bardot Video

Kategorie:Geboortes in 1934 Kategorie:Sterftes in 2025 Kategorie:Franse aktiviste Kategorie:Franse sangers Kategorie:Diereregteaktiviste Kategorie:Modelle Kategorie:Franse aktrises van die 20ste eeu