Voeding is nodig sodat die liggaam al die nodige lewensfunksies kan uitvoer. Alle lewende organismes moet gevoed word.
Die wetenskap van voeding het te make met die wisselwerking van voedingstowwe met die liggaam en gevolglike versterking of belemmering van dié liggaamsfunksies. duimnael|'n Gebalanseerde dieet is nodig om die mens in staat te stel om behoorlik te funksioneer.
Voedsel is dus een van die mens se basiese behoeftes en is noodsaaklik om te kan beweeg, asem te haal, te dink en selfs te lees. Dit gee die boustof vir ons senuweestelsel, laat die hart en ander organe behoorlik funksioneer, die spiere saamtrek om beweging moontlik te maak en is die noodsaaklike brandstof om ook ander liggaamstelsels te laat werk.
Plantvoedsel is moontlik vanweë die energie van die son in kombinasie met die (vir mense ongewenste maar vir plante belangrik) gas koolstofdioksied, water en voedingstowwe in die grond. Plante soos groente, vrugte, graan, neute, kruie en speserye is die vernaamste voeding van mense en diere.
Voedsel wat van diere afkomstig is sluit in eiers en melk wat min verwerking vereis, as ook vleis, kaas en jogurt, wat mindere of meerdere verwerking vereis.
Vier redes waarom die liggaam voedsel nodig het duimnael|Rugby is een van die sportsoorte wat baie energie vereis. Energie. Voedsel is die liggaam se brandstof en voorsien energie aan al die selle sodat hulle hul funksies kan verrig. Gedurende die verteringsproses word koolhidrate in gewone suikers afgebreek en vette in vetsure en gliserol. In die liggaamselle word dié stowwe saam met suurstof en ander stowwe deur chemiese prosesse verwerk, wat insluit dat molekules tot nuwe materiaal verwerk word en deur ander reaksies tot energie verwerk word. Groei. Voedsel verskaf die boustowwe vir die vervaardiging van nuwe selle. Yster word byvoorbeeld benodig om die vorming van gesonde rooibloedselle moontlik te maak. Rooivleis is ’n goeie bron van yster maar veral vegetariërs maak ook op ander ysterbronne staat om voldoende yster in hul liggaam te hê. Beskerm teen siektes. 'n Verskeidenheid van voedsel is nodig om weerstand teen siektes te bied. Herstel en vervanging van beskadigde weefsel. Voedingstowwe word benodig om dooie selle te vervang en wonde te genees. Bene, spiere en ander liggaamsweefsel verloor deurlopend hul werkverrigting of hulle verweer en moet herstel word deur aanvulling van byvoorbeeld proteïene. Wat ons eet, het gevolglik ’n regstreekse uitwerking op ons gesondheid. Behoorlike voedsel help om sekere siektes te voorkom en herstelwerk van onder meer beskadigde weefsel te bespoedig; swak of onvoldoende voeding vergroot die risiko van verskeie siektes. Daarom is daar voedingsprogramme by skole in arm gebiede en beplande spyskaarte vir hospitaalpasiënte en ander siekes.
Dieet Die voedsel wat 'n mens eet, staan bekend as sy dieet. 'n Gebalanseerde dieet sal voedsel van al die voedselsoorte bevat asook die regte hoeveelhede daarvan. Die hoeveelheid voedsel wat ons benodig word bepaal deur die volgende faktore: Ouderdom; Geslag; Gesondheidtoestand; en Aktiwiteitsvlak.
Diëte verskil egter drasties van land tot land en selfs verskillende wêrelddele. So is die hoofvoedsel in Asië rys. Op die eilande in die Stille Oseaan vorm vis ’n belangrike deel van hul dieet. Vir Suid-Amerikaanse lande, soos Brasilië, Argentinië en Uruguay, is beesvleis op die spyskaart baie belangrik. En in Afrika word mielies en ander graansoorte gereeld geëet.
Dit maak sin dat mense in verskillende wêrelddele aangewese is op voedsel wat makliker beskikbaar is en uiteraard hoeveel geld hulle het. Tog speel gewoontes, kultuur, voedselvoorkeure en –afkere, leefstyl en selfs religieuse oorwegings ook ’n rol. Uiteindelik is die ideaal om ’n dieet te volg wat ’n redelike hoeveelheid insluit van die ses voedingstowwe koolhidrate, vette, proteïene, vitamiene, minerale en water. Laasgenoemde vorm saam met koolhidrate, proteïene en vette die vier makro-nutriënte. Vitamiene en minerale is mikro-nutriënte.
Water Voedingskundiges ag water as die heel belangrikste stof vir mens en dier. Nie alleen benodig ’n mens genoegsame hoeveelhede nie omdat die 50-75% van die mens se liggaam wat dit uitmaak gereeld aangevul moet word nie, maar die maksimum tydperk wat die mens daarsonder kan klaarkom, is een week. Water los al die ander voedingstowwe op en vervoer dit na die weefsel in die liggaam. Die waterige oplossing maak die chemiese reaksies moontlik wat die voedingstowwe in energie omskakel en weefsel bou. Die liggaam het daarbenewens die water nodig vir verkoeling en om die afvalstowwe uit te skakel: volwassenes benodig daagliks gemiddeld sowat 2,4 liter water (opgeneem as vloeistof maar ook water in voedsel) om behoorlik te funksioneer.
Dit is interessant dat mense voorheen gemaan is dat hulle sowat agt glase water per dag behoort te drink en dit is vroeër in gesondheidsopvoeding in skole as belangrik oorgedra. Navorsers het egter die latere jare hul benadering daaroor verander en waarsku selfs dat die opname van té veel water tot hiponatremie by onder andere ou mense en veral langafstandatlete kan lei. Dit is die mediese term vir lae (hipo-) bloedvlakke van natrium (Na), wat onder meer lusteloosheid, duiseligheid, spierkrampe, moegheid, hoofpyne en rusteloosheid tot gevolg kan hê. Langer hospitaalverblyf by sommige pasiënte is ook al weens hiponatremie in navorsing bewys.
Oorhidrasie is in gevorderde navorsing in gemiddeld 10% van langafstandatlete gevind, wat in ekstreme gevalle selfs tot die dood kan lei. Dit word “oefeninggegronde hiponatremie” (Engels: Exercise Associated Hyponatremia, of EAH) genoem. Die ideaal is om die vlakke van bloednatriumvlakke nie te veel van 135-145 mmol per liter te laat afwyk nie. Volgens navorsing is minstens 14 atlete in die onlangse dekades dood weens te veel water, insluitend tydens die Ystermankompetisie in Frankfurt in 2015. Dit is gevolglik belangrik om nie net te maan teen dehidrasie nie maar ook die teenoorgestelde te beklemtoon.
Koolhidrate Die mens het die grootste hoeveelheid van graan en graanprodukte nodig, omdat dit 'n onmiddellike bron van energie is wat nodig is vir ál die liggaamsfunksies. Die belangrikste koolhidraat vir die verskaffing van onmiddellike energie, is glukose. Glukose word in die vorm van stysel in graanprodukte geberg.
Koolhidrate sluit alle suikers (eenvoudige molekulêre struktuur) en stysels (komplekser molekulêre struktuur) in. Elke gram koolhidrate is verantwoordelik vir 4 kalorieë energie. Die gemiddelde mens benodig sowat 2 000-2 500 kalorieë per dag en daarvan kom sowat 60% van koolhidrate.
Baie voedselsoorte bevat koolhidrate: die hoofsuiker in voedsel is sukrose (gewone bruin- of witsuiker), fruktose (afkomstig van die meeste vrugte en verskeie groentesoorte) en dan is daar ook laktose (wat in melk voorkom). Stysel kom in onder meer graan, bone, aartappels en ertjies voor en dit bevat belangrike vitamiene, minerale, proteïene en ook water.
Proteïene Die drie hooffunksies van proteïene is: Dit dien as 'n boustof Vir normale ontwikkeling van spiere Herstel van seerplekke
Voorbeelde van voedselsoorte wat ingeneem moet word om proteïene aan die liggaam te verskaf, is vleis, vis, eiers, boontjies, ens.
Dit val op dat proteïene ook energie van 4 kalorieë per gram voorsien, soos die geval is met koolhidrate, maar dit is belangrik daarvan kennis neem dat dié voedingstof as een van die belangrikste boustowwe van die liggaam dien: vel, kraakbeen, spiere en selfs hare bestaan grootliks daaruit en selle bevat proteïene (ensieme) wat die chemiese reaksies versnel. Daarbenewens verrig proteïene belangrike werk as antiliggame wat siektes beveg en as hormone, oftewel chemiese boodskappers.
Proteïene is ingewikkelde molekules wat saamgestel is van kleiner eenhede, aminosure. Omdat die mens se liggaam slegs sowat genoeg van 11 aminosure kan vervaardig, is dit belangrik dat die ander 9 noodsaaklike aminosure deur ’n geskikte dieet verkry word. Melk en kaas, vleis, vis en eiers is die beste bronne, hoewel ’n kombinasie van bone, neute, graan en groente ook vir heelwat aminosure kan sorg.
Vitamiene Vrugte en groente is baie belangrike komponente van die dieet omdat dit vitamiene aan die liggaam verskaf wat die liggaam in 'n goeie, werkende toestand hou. duimnael|Piesangs en ander vrugte het heelwat vitamiene en ook minerale, soos kalium en magnesium. Die rol wat vitamiene in die liggaam speel, kan ook maklik onderskat word: hulle reguleer die chemiese reaksies waarmee voedsel in energie omskep word en is belangrik vir weefselvorming.
Vitamiene word in twee groepe verdeel, naamlik wateroplosbaar (B-kompleks en vitamien C) en vetoplosbaar (vitamiene A, D, E en K) en, al word klein hoeveelhede daagliks benodig, is dit belangrik vir goeie gesondheid. Die gesamentlike rol wat die 13 vitamiene speel, sluit onder meer in:
Gesonde vel en die ontwikkeling van sterk bene (vitamien A); Die omvorming van stysels en suikers na energie, chemiese reaksies, die vorming van rooibloedselle en gesonde senuweestelsel, selvoeding en om energie van koolhidrate te ontsluit (B-kompleks); Die onderhouding van ligamente en ander weefsel (vitamien C); Die gebruik van kalsium, die instandhouding van selmembrane en behoorlike bloed (vitamiene D, E en K).
Minerale Al het ’n mens daagliks slegs klein hoeveelhede minerale nodig, is dié mikro-nutriënte noodsaaklik vir die groei en instandhouding van die liggaam en ook selvloeistof. Dit is anorganies van oorsprong: plante neem dit in deur water en die grond en diere neem dit deur plante te eet of diere wat planteters is. Minerale sluit in magnesium, kalium, natrium, fosfor en kalsium.
Spoorelemente (minerale in klein hoeveelhede) soos yster, mangaan, koper en sink is ook belangrik en help om suurstof by die rooibloedselle te kry, die werking van ensieme en ander belangrike funksies.
Melk en melkprodukte, vleis, vis, neute en grane, bone en groente bevat verskeie minerale.
Vette Vette (lipide) is ’n hoogs gekonsentreerde energiebron en elke gram vet voorsien sowat 9 kalorieë. Dit is saamgestel uit gliserol en vetsure en kan versadig, mono-onversadig of poli-onversadig wees, met die laasgenoemde twee die meer “gesonde” vette. Belangrike vetsure (poli-onversadig) is nodig as die boustof van die membrane wat elke sel omsluit, omdat die mens se liggaam dit nie self kan vervaardig nie.
Voedingkundiges raai aan dat nie meer as 25%-30% van daaglikse kalorie-inname van vette afkomstig is nie. Die aanbeveling is ook dat onversadigde vette beperk word, onder meer omdat dit cholesterolvlakke kan verhoog en die voorkoms van hartsiektes kan verhoog.
Voedselsoorte wat die menslike liggaam benodig Voorbeeld van bronVoedselsoortFunksieVerteerde produkVleis, vis en eiersProteïene Dien as boustof Vir normale groei van spiere Herstel van seerplekkeaminosureBrood en lekkersKoolhidrate Belangrike energiebronGlukoseBotter en sonneblomolieVette en olies Reserwe energie Isolasie teen koue Beskerm organe, bv. die niereVetsure en gliserolVrugte en GroenteVitamiene Hou lewensstelsels in 'n goeie, werkende toestandVitamiene word nie verder verteer nieKaas, kool ens.Mineraalsoute Kalsium: Bou sterk bene en tande Yster: Vorm deel van rooibloedliggaampies wat suurstof vervoerMinerale word nie verder verteer nieVeselryke kosRu-vesel Laat voedsel maklik deur dermkanaal beweeg Voorkom sekere kanker bv. kolonkanker Voorkom hardlywigheidRu-vesel word nie verder verteer nieWaterWater Oplosmiddel vir voedingstowwe Afbreek van voedsel (verteringsproses)Water word net so benut
Voedsaamheid duimnael|Kitskos is meestal lekker maar nie noodwendig voedsaam nie.