Gustav Preller (1875 – 1943) was 'n toonaangewende figuur in Suid-Afrika. Hy was 'n joernalis, historikus, taalstryder, kultuurman, skrywer en literêre kritikus wat 'n leidende rol speel met die bevordering en erkenning van Afrikaans as taal. Sy dinamiese persoonlikheid sal altyd aan die Tweede Afrikaanse Taalbeweging en die erkenning van Afrikaans gekoppel bly. Hy is skrywer van verskeie werke oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis.
Lewe en werk duimnael|Tablet op Gustav Preller se graf, 'n huldeblyk van die "Skrywerskring". Die Skrywerskring (1934-) onder voorsitterskap van C.M. van den Heever, het deur hul jaarboeke (1936–50) die werkplan en strewes van Afrikaanse skrywers toegelig. duimnael|Preller se graf
Herkoms en vroeë lewe Gustav Schoeman Preller is op 4 Oktober 1875 op die plaas Klein Schoemansdal, wat tans Pretoria is ten noorde van Boomstraat tot teen die Apiesrivier, gebore. Hy was een van ses kinders. Die plaas was destyds die eiendom van sy grootvader aan moederskant, genl. Stephanus Schoeman. Genl. Schoeman was 'n bekende Voortrekker wat in die tyd van president M.W. Pretorius per geleentheid waarnemende president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal) was. Sy oorgrootvader aan vaderskant was oorspronklik van Duitsland. Hy was 'n natuurkundige wat hom in die Kaap vestig en is die stamvader van die Prellers in Suid-Afrika. Sy grootvader aan vaderskant word 'n veeboer in Natal, waar sy Friesbeeste die aandag getrek het. Sy vader het van Natal na die Vrystaat verhuis. Hy was kommandant Robert Clunie Logie Preller, wat tydens die Anglo-Boereoorlog onder generaal Koos de la Rey geveg het, en sy moeder was Stephanie Maria Aletta Schoeman.Geni: https://www.geni.com/people/Gustav-Schoeman-Preller/363396435980004992
Kort na sy geboorte trek sy vader vanaf Hammanskraal na die plaas Paardekop in die distrik Standerton, waar hy saam met sy broer boer. Op vyfjarige ouderdom is hy te perd saam met sy vader na die Swazilandse bosveld. 'n Paar jaar later (in 1886) verhuis die gesin na Rietspruit, waar sy vader een van die eerste telers is van volbloedperde en merinoskape. Sy ouers verlaat later die plaas en trek na Standerton ter wille van die kinders se skoolonderrig. Hier gaan Gustav op die ouderdom van twaalf vir die eerste keer skool toe aan die skool van mnr. Charles Coldrey. Na slegs drie jaar van skool word die skool gesluit wanneer die onderwyser wegtrek en begin Gustav in Paddon en Brock se winkel in die dorp te werk. Hier weeg en koop hy wol. Na 'n jaar verhuis die gesin in 1891 na Pretoria, waar hy 'n betrekking aanvaar in die winkel van J.D. Bosscher en Kie.
Loopbaan in die regte Sy ouers oortuig hom dan om liewer 'n prokureur te word, waarvoor hy eers die eersteklas onderwyserseksamen van die Republiek sou moes aflê. Hy word as prokureursklerk ingeskryf by die prokureursfirma James Berrangé en hy studeer privaat verder, maar hy staak sy regstudies om in Augustus 1893 as vyfde klerk by die Departement van Mynwese in diens te tree. By die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog is hy reeds eerste klerk in die Departement, 'n posisie wat hy vanaf November 1898 beklee. In hierdie betrekking is sy studies veral toegespits op die Goudwet, die werking van die Volksraadskommissies (waar hy lank as sekretaris gedien het) en die administrasie van die Mynwese.
Anglo-Boereoorlog Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog sluit hy by die Boeremagte aan en maak die eerste veldslag van Talana by Dundee, die veldslag van Modderspruit, die beleg van Ladysmith, die slag van Platrand en die veertiendaagse slag van Tugela mee. In Maart 1900 word hy terug geroep na Pretoria en as verantwoordelike amptenaar van die Departement is hy belas met die administrasie van sekere goudmyne, die uitbetaling vir oorlogsmateriaal en die munting van goud. Die nag voor die Engelse inname van Pretoria help hy vir generaal Jan Smuts om die staafgoud van die Regering in veiligheid te bring. Van hierdie goud is later die bekende veldponde geslaan. Hierdie eerstehandse kennis stel hom in staat om later telkens die gerugte van die Kruger-miljoene te weerlê. Hy gaan hierna na die front as lid van die derde battery van die Transvaalse Staatsartillerie en is ook oorlogskorrespondent vir De Volkstem en De Zoutpansberg Wachter. In hierdie tyd neem hy deel aan die slag van Dalmanathu op Berg-en-Dal en later aan die algemene aanvalle op die spoorweg en die aanval op Carolina. Hierna word hy saam met twee ander boodskappers deur generaal Louis Botha met inligting na generaal Koos de la Rey in die Lichtenburg distrik gestuur.
Preller het die Afrikaner gehelp om te ontwaak tot die belangrikheid van sy eie vaderlandse geskiedenis, waartoe hy ook 'n reuse bydrae gelewer het deur navorsing en geskiedskrywing. As historikus het hy sy volk ná die Driejarige Oorlog geleer om sy verlede en homself te respekteer en deur middel van sy eie taal homself te bly en sy toekoms uit te bou.
Slegs vier maande voor die einde van die oorlog word hy saam met sy hele eenheid naby Ermelo gevang en as krygsgevangene na Indië gestuur. In die kampe daar neem hy deel aan toneelaktiwiteite om die tyd te verwyl. Hy keer in Augustus 1902 eers weer uit Indië terug na die land, waar hy vind dat sy woning in Sunnyside in Pretoria verniel is en deur die owerhede as kantore ingeruim is. Sy besittings is vernietig en sy vrou was op daardie stadium as verpleegster werksaam by die Irene-konsentrasiekamp. Sy ou departement is van Pretoria na Johannesburg verskuif en hy gaan soontoe om sy ou posisie terug te vra, maar die nuwe hoof weier omdat hy kwansuis ses maande voor die vredesluiting daarvoor aansoek moes gedoen het.
Gustav Preller was ’n Suid-Afrikaanse Vrymesselaar. Preller was ’n ondersteuner van Louis Botha en hy het met die stigting van die Unie van Suid-Afrika in 1910 ’n lid van die Suid-Afrikaanse Party geword. Van 1910 tot 1922 was hy redakteur van die tydskrif Die Brandwag. Na Botha se dood in 1919 het sy lojaliteit gewankel en hy het in 1925 by die Nasionale Party aangesluit. Hy het redakteur van die party se mondstuk, Ons Vaderland, geword.
Gedurende sy tydperk as redakteur het hy historiese navorsing gedoen oor die geskiedenis van die Boere in Natal en die Transvaal, asook die Groot Trek en die Anglo-Boereoorloë.
In 1936 is Preller aangestel as die staatshistorikus, ’n pos wat hy tot sy dood beklee het.
Loopbaan in die koerantbedryf Hy oorweeg dit om saam met ds. Louis Vorster se groep in September 1902 na Argentinië te emigreer, maar wanneer Eugène Marais sy koerant Land en volk laat herleef, versoek hy Preller om die redakteurskap oor te neem.Esat: http://esat.sun.ac.za/index.php/Gustav_Schoeman_Preller Reeds voor die oorlog het Preller dikwels artikels geskryf vir die koerante en tydskrifte, in beide Nederlands en Engels, onder andere in The Moon en De Pers. Die eerste uitgawe van die hervatte Land en volk onder sy redakteurskap verskyn dan op 20 September 1902. In hierdie tyd is hy nog totaal onervare as joernalis, hy het geen ervare personeel nie en word bowendien deur wetgewing verbied om oor die politiek te skryf. Nogtans slaag hy daarin om aan sy lesers 'n toekomsblik te gee, waardeur die smarte en swaarkry van die oorlog agtergelaat kon word. Land en Volk word in 1903 by De Volkstem ingelyf en Preller is van November 1903 tot 1924 assistent-redakteur en van 1924 tot 1925 hoofredakteur van hierdie koerant, wanneer hy dr. F.V. Engelenburg opvolg.
Hy is medestigter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns op 1 en 2 Julie 1909. Vanaf die stigting van Die Brandwag op 31 Mei 1910 is hy saam met dr. W.M.R. Malherbe mederedakteur van hierdie tydskrif. Na ses maande is dr. Malherbe alleen redakteur, maar wanneer Malherbe na Stellenbosch toe gaan om die leerstoel in die Regte te aanvaar, word Preller weer redakteur en bly dit tot in 1922, toe die blad weens finansiële redes gestaak word. Vir die taalbeweging was Die Brandwag 'n belangrike blad en bekende skrywers soos Jochem van Bruggen, Leon Maré, E. de Roubaix, M.M. Jansen, Hettie Cillié en mevrou Izak van Heerden, die Tannie van Die Brandwag, is gereelde medewerkers. Preller het in De Volksstem van 19 April tot 14 Junie 1905 'n reeks artikels geskryf onder die opskrif "Laat 't ons toch ernst wezen", en sy optrede teen Nederlands gerig met die leuse: "Afrikaans schrijven en spreken, Hollands leren, albei lezen."A. de Villiers: Die Hollandse Taalbeweging in Suid-Afrika. Kaapstad, Nasionale Pers, 1936, bl 179
Kampvegter vir Afrikaans Ook haal Preller in 1905 in sy betoog ten gunste van die Afrikaanse taal, die Vlaamse skrywer Guido Gezelle aan. Preller het uitvoerig na die Vlaamse Taalbeweging verwys en skryf verder: "Zolang de Vlamingen getracht hebben om Nederlands te schrijven....zolang bleef hun literatuur stijf en gemaakt; zodra zij hun eigen taal op schrift gingen stellen, kwam er leven en ziel in de taal, leverden zij tal van beroemd geworden schrijvers op...En hier bij ons moet 't net zo gaan."R. Antonissen: Zuid-Afrika – Vlaanderen. Encyclopedie van de Vlaamse Beweging, Tielt: Lannoo, 2101–2112, 1975, bl. 2106 Preller was van mening dat die Vlaamse Beweging suksesvol sou wees. Gezelle het gestreef na 'n eie Vlaamse taal, maar die taal het nooit gekom nie. Die Vlaminge het by Nederlands as kultuurtaal gehou.
Preller het in sy propagering vir Afrikaans as skryftaal, gemeen dat die Afrikaners nie meer Nederlands gepraat het nie, en dat dit vir hulle 'n dooie taal geword het, terwyl Afrikaans onuitroeibaar in die Afrikaner gewortel was, en waarmee die Afrikaners met die meeste krag uiting kon gee aan gewaarwordinge, innerlike gedagtes en diepste gevoelens.P.H. Zietsman: Die Taal is Gans die Volk, woelinge en dryfvere in die stryd om die Afrikaner se taal. Pretoria: Unisa, 1992, bl. 97
Preller sou ook tydens 'n sinodesitting in Pretoria 'n aantal preke uit die mond van verskillende predikante in snelskrif laat afneem het. Preller het tot die gevolgtrekking gekom dat die Afrikaanse predikante Nederlands nie vlot magtig was nie.E.C. Pienaar: Die Triomf van Afrikaans: Historiese oorsig van die wording, ontwikkeling, skriftelike gebruik en geleidelike erkenning van ons taal. Kaapstad: Nasionale Pers, 1943, bl. 253
Preller speel 'n baie belangrike rol om Afrikaans aan te moedig. Op 6 Maart 1905 het J.H. Hofmeyr (Onze Jan) met 'n toespraak op Stellenbosch die vraag gevra Is’t ons ernst?, waarin hy 'n vurige pleidooi vir die handhawing van Nederlands maak. Vanaf 19 April 1905 publiseer Preller dan in antwoord 'n belangrike reeks artikels in De Volkstem onder die titel Laat ’t ons toch ernst wezen, waarin hy vir Afrikaans in stede van Nederlands voorbrand maak. Hierdie artikels kan gesien word as die begin van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging. In boekvorm word die artikels in 1960 deur P.J. Nienaber bestendig toe hy dit opneem in Pleidooie in belang van Afrikaans Deel II, wat hy saam met J.A. Heyl saamstel.