Hierdie artikel handel oor die huidige land binne die Verenigde Koninkryk. Vir die historiese koninkryk, sien Koninkryk van Skotland.

Skotland (Engels en Skots: Scotland, [ˈskɔtlənd]; Skots-Gaelies: Alba, [ˈal̪ˠapə], ; Latyn-Kelties: Caledonia) is 'n deelstaat in die noordweste van Europa en vorm een van die vier lande van die Verenigde Koninkryk. Die Skotse hoofstad Edinburg (Engels: Edinburgh) word net soos Glasgow, die grootste stedelike nedersetting in die land, onder die belangrikste finansiële sentrums in Europa gereken. Skotland beslaan 'n oppervlakte van 80 231 km² en het in 2022 'n bevolking van sowat 5,5 miljoen gehad.

duimnael|links|Die kasteel Eilean Donan teen sononder Skotland beslaan met 80 231 vierkante kilometer sowat een derde van Groot-Brittanje se oppervlakte en grens aan Engeland in die suide. Die grenslyn loop oor 'n afstand van 96 kilometer tussen die Tweedrivier aan die ooskus en die Solway Firth in die weste. In die ooste word Skotland deur die Noordsee begrens, in die noorde en weste deur die Atlantiese Oseaan, en in die suidweste deur die Noordkanaal en die Ierse See. Die eiland Ierland lê sowat 30 kilometer van Skotland se mees suidwestelike landtong af.

Naas die vastelandse gebied is daar meer as 790 eilande, waarvan die Shetland-, Orkney- en Hebride-eilande die bekendstes en belangrikstes is. Skotland beskik oor die grootste reserwes van ruolie in die Noordelike Atlantiese Oseaan en die Noordsee.

Die Koninkryk van Skotland het tot 1 Mei 1707 as 'n onafhanklike staat bestaan en het daarna volgens die Acts of Union 1707 ("Wet van Vereniging") met die Koninkryk van Engeland saamgesmelt om die Koninkryk van Groot-Brittanje te vorm. Keay, J. & Keay, J. (1994) Collins Encyclopaedia of Scotland. Londen. HarperCollins. Mackie, J.D. (1969) A History of Scotland. Londen. Penguin. Die Unie het ook die Parlement van Groot-Brittanje gestig wat beide die Parlement van Engeland en Skotland vervang het. Die Koninkryk van Groot-Brittanje het op 1 Januarie 1801 volgens die Acts of Union 1800 met die Koninkryk van Ierland saamgesmelt om die Verenigde Koninkryk van Groot-Brittanje en Ierland te vorm. Met dié Unie is die Parlement van Groot-Brittanje en die Parlement van Ierland verenig om die Parlement van die Verenigde Koninkryk te vorm.

Skotland het sy eie reg- en onderwysstelsel. Die eerste parlement sedert 1707 is in Mei 1999 verkies. Sy bevoegdhede sluit onderwys, gesondheidsake en die meeste interne aangeleenthede in.

Etimologie Die woord "Skotland" is ontleen aan Scoti, die Latynse naam vir die Gaele. Philip Freeman het bespiegel oor die moontlikheid dat 'n groep stropers 'n naam aangeneem het met die Indo-Europese wortel *skot en verwys na die ooreenkoms met die Griekse skotos (σκότος) wat "duisternis" of "somberheid" beteken. Die Laat-Latynse woord Scotia ("land van die Gaele") is oorspronklik gebruik om na Ierland te verwys, en eweneens is die Ou Engelse Scotland gebruik vir Ierland. Teen die laaste in die 11de eeu is Scotia gebruik om te verwys na (die Gaelies-talige) Skotland noord van die Forthrivier, langs Albania of Albany (albei is afgelei van die Gaeliese Alba. Die gebruik van die woorde "Skotte" en "Skotland" om alles in te sluit wat nou Skotland is, het in die Laat Middeleeue algemeen geword.

Geografie duimnael|links|Loch Ness met die kasteel Urqhart in die voorgrond duimnael|links|Die hawe van Arbroath Die Skotse vasteland bestaan uit drie landskapsvorme: Die Skotse Hoogland in die noorde, die Sentraal-Skotse vlaktes en die heuwelagtige Southern Uplands in die suide. Die Hoogland is 'n bergagtige streek met die Great Glen as sentrale vallei. Die hoogste bergpieke van die Verenigde Koninkryk maak deel uit van die Skotse Hoogland, soos byvoorbeeld Ben Nevis naby Fort William, die hoogste piek in die land met 1 344 meter.

Die vlaktes van Sentraal-Skotland vorm die digbevolkte hartland met die stad Glasgow in die weste en die hoofstad Edinburg in die ooste. Hier is ook die belangrikste nywerheidsgebiede van Skotland saamgetrek.

Die heuwelland van die Southern Uplands strek oor 'n afstand van naastenby 200 kilometer van Stranraer aan die Ierse See tot by Oos-Lothian en die Noordsee. Hierdie streek speel 'n kleiner rol as toeristebestemming, maar is nogtans 'n mooi berggebied met talle bergpieke soos die Merrick in Galloway met 'n hoogte van 843 meter. Hy bied 'n pragtige uitsig oor die noordelike Hoogland, die plato van Noord-Ierland in die weste en die Engelse Lake District (Meer-distrik), die Pennines-bergreeks en die eiland Man in die suide.

Daar is meer as 790 eilande langs die Skotse kus, met die Shetland-, Orkney- en Hebride-eilande (wat onderverdeel word in die Binne- en Buite-Hebride) as die drie belangrikste eilandgroepe. 'n Groot aantal eilande lê ook in die riviermondings Firth of Clyde en Firth of Forth. Sint-Kilda is die mees afgeleë van altesaam 130 bewoonde eilande en lê meer as 160 kilometer van die vasteland af.

Skotland is ryklik geseën met natuurlike waterbronne. Meer as 30 000 lochs (soos mere in die plaaslike Gaeliese taal genoem word) en meer as 5 000 riviere met 'n totale lengte van 60 000 kilometer bedek die land. Die grootste riviere is Clyde, Dee, Don, Forth, Spee, Tay en Tweed, die mere met die grootste oppervlakke is Loch Lomond (71 km²), Loch Ness (56 km²) en Loch Awe (39 km²). Die laasgenoemde is ook die langste met 41 kilometer. Skotland se mere, wat gedurende die ystydperk deur gletsers diep in die grond gegrawe is, behoort tot die diepste binnelandse waterliggame ter wêreld. Loch Morar is die diepste meer in Skotland met 371 meter. Susanne Tschirner: Schottland. Ostfildern: DuMont 2010, bl. 12

Klimaat duimnael|Ben Nevis, die hoogste berg, lê in Lochaber, die natste distrik van die Britse Eilande Skotland staan bekend vir sy nat en koel, maar matige klimaat, wat veral deur die oseaan beïnvloed word. Die meeste laedrukstelsels, wat oor die noordelike Atlantiese Oseaan ontwikkel, beweeg ooswaarts oor Skotland. Dikwels word hierdie laedrukselsels deur 'n hoëdrukstelsel oor die Asore-eilandgroep in noordwaartse rigting gedwing. Ses van die tien natste graafskappe in die Verenigde Koninkryk is in Skotland geleë. Reënbuie is nogtans gewoonlik van kort duur.

Die land trek ongeag sy subarktiese ligging voordeel uit die warm Golfstroom en het baie warmer temperature in vergelyking met ander Europese gebiede, wat op dieselfde breedtegraad lê soos byvoorbeeld die omgewing van die Noorse hoofstad Oslo.

Die weer is dikwels onvoorspelbaar, en temperature is ondanks die matige Golfstroom-invloed laer as in die res van die Verenigde Koninkryk. Die gemiddelde maksimale temperatuur in die winter is 6 °C, terwyl die hoogste gemiddelde temperature in die somer tot sowat 18 °C styg. Die gemiddelde jaarlikse temperatuur op die berg Ben Nevis is vriespunt.

Wes-Skotland is danksy die oseaniese strome gewoonlik warmer as die ooste, wat deur die kouer temperature van die Noordsee beïnvloed word. Tiree op die Hebride-eilande word as die sonnigste plek in die land beskou; hier is in 1975 300 sonskyndae aangeteken.

Die gemiddelde jaarlikse reënval varieer in die verskillende streke; die westelike hoogland is die natste gebied met meer as 3 000 millimeter reën per jaar, terwyl die reënval in die vlaktes meesal tot minder as 800 millimeter beperk bly. Hoër geleë gebiede word in die winter deur koue en sneeuval gekenmerk. Die dorp Braemar het sowat 59 sneeudae per jaar, terwyl die kusgebiede sneeuval gewoonlik op minder as tien dae per jaar het.

Geskiedenis Vroeë geskiedenis duimnael|Die Muur van Hadrianus vorm die grenslyn tussen die historiese Romeinse provinsie Britannia en Skotland Die eerste groep van jagters en versamelaars het hulle sowat 11 000 jaar gelede in Skotland gevestig, nadat die yslaag van die laaste ystydperk begin terugwyk het. Die eerste permanente huise is sowat 9 500 jaar gelede opgerig, en die eerste noemenswaardige dorpe het sowat 6 000 jaar gelede ontstaan.

Die geskiedskrywing van Skotland het in die Romeinse tydperk begin, toe die Romeine Engeland en Wallis verower en as provinsie Britannia by hulle ryk ingelyf het. 'n Gedeelte van Suid-Skotland het 'n tyd lank onder Romeinse invloed gekom, tog het die Romeine die noorde van Skotland, wat as Caledonia bekend gestaan het, nooit verower nie. Caledonia was destyds die tuisland van die Pikte, terwyl die Gaeliese stamme van Dál Riata (wat volgens sommige oorlewerings oorspronklik vanaf Noord-Ierland na Skotland gekom het, of, soos uit moderne argeologiese navorsing blyk, 'n gemeenskaplike beskawing gevorm het) Argyll bewoon het.

Ná die einde van die Romeinse heerskappy in Brittanje het Skotland tussen die 4de en 10de eeu uit vier koninkryke en beskawings bestaan: Dál Riata in die noorde; die ryk van die Pikte, wat noord van die Firth of Forth gelê het; Strathclyde, die ryk van die Britoniese Kelte; en Bernicia, die ryk teen die Tweedmonding, wat deur die Germaanse Angele bewoon is. Die Wikings was die vyfde etniese groep wat hulle in Skotland gevestig het.

Die eerste vier groepe was teen die vroeë 11de eeu in 'n gemeenskaplike koninkrykryk verenig wat suidwaarts tot in die huidige Engeland gestrek het, terwyl dit in die weste en noorde aan gebiede gegrens het wat onder Noorse invloed gestaan het. Sally M Forster: Picts, Gaels and Scots. Early Historic Scotland. London: B T Batsford / Historic Scotland 2004, bl. 7

Wikings in Skotland duimnael|Die Noorse koning Harald Harfågre het Orkney in 875 by sy magsgebied ingelyf In die laat 8ste eeu het die Wiking-aanvalle op die Keltiese klooster Iona die beginpunt van die Skandinawiese magsuitbreiding na Skotland gevorm, en binne enkele jare het Nordiese setlaars tot 'n beduidende magsfaktor in die politieke lewe ontwikkel. Die noordelike eilandgroepe van Orkney en Shetland is selfs tot by die middel van die 15de eeu deur Skandinawiese bewoners oorheers.

Die eerste Wiking-aanval op die klooster Iona in 795 was net die begin van 'n reeks aanvalle wat tot in 825 voortgeduur het. Veral die noordelike eilandgroepe Orkney en Shetland het 'n teiken vir die Wikings geword, en ook die Pikte aan die Skotse Noordseekus, wat 'n vryheidsstryd teen die Skotte uit die weste gevoer het, is deur Wiking-aanvalle tot so 'n mate verswak dat hulle uiteindelik 'n nederlaag gely en in 841 met die Skotse ryk verenig het.

Orkney en Shetland is omstreeks 800 by die Noorse magsgebied ingelyf, en binne 'n dekade het ook vastelandse gebiede tot by Caithness en Sutherland in die suide en tot by die Hebride-eilande in die weste in die Noorse magsfeer beland. Konstam, Angus: Die Wikinger. Geschichte, Eroberungen, Kultur. Wene: tosa/Carl Ueberreuther 2007, bl. 138 Die Nore het hulle ná die inlywing van die Pikteryk by Skotland veral op magskonsolidasie in die verowerde gebiede gekonsentreer, maar nogtans verskeie kere regstreeks by die Skotse politiek ingemeng. Die Nordiese koning Olaf van Dublin het in 860 oorlog in Sentraal-Skotland gevoer, en die Skotse Wikings het tot by die 10de eeu verskeie kere rooftogte in die suide uitgevoer om skatte en slawe as 'n buit weg te voer. Afhangende van die politieke situasie het Noorse of Nordies-Ierse krygers daarnaas militêre steun aan óf die Skotse monarge óf hul teenstanders verleen.

Onder die heerskappy van Malcolm I van Skotland (943–954) het 'n Nordies-Ierse leër in die naam van die Skotse koning teen die Saksers geveg en 'n nederlaag gely. Kenneth II (971–995) het 'n Deense inval in die ooste van die land afgeweer. Sy nasaat Malcolm II (1005–1034) het sy dogter met graaf Sigurd die Dikke van Orkney laat trou om die noordelike grens van Skotland te beskerm. Alhoewel Skotse en Nordiese adellikes onder mekaar vir die oorheersing van die Skotse hoogland en die eilande gebaklei het, was die verhouding tussen Skotte en Nore in hierdie periode deur 'n vreedsame naasbestaan gekenmerk.

Kwynende Nordiese invloed